Ek het ‘n Facebook-groep begin om onderwysers aan te moedig om bymekaar te leer. Alhoewel ek die onderwysers aanmoedig om hulle vrae daar te vra, kry ek gereeld privaatboodskappies waarin hulle my mening oor ‘n saak vra.
Interessante briefie wat ek vanoggend van ‘n lid van die groep gekry het, lui dat ‘n ouer vir ‘n onderwyseres wat nie huiswerk in Afrikaans gee nie, kom vertel dat sy lui is. Nou ja toe, dan was ek ook besonder lui. Ek daag so ‘n ouer uit om te bewys dat daar ‘n positiewe verband bestaan tussen aantal huiswerkopdragte en prestasie.
Ek het, as taalonderwyseres, nie onnodig huiswerk gegee nie. Ek het nuwe werk verduidelik, ‘n opdrag uitgedeel en kans gegee dat die werk in die klas, onder my toesig, gedoen word. Diegene wat nie kon klaarkry nie, moes dit tuis voltooi. Selfs dan is my dag nag gemaak met verskonings wat wissel van eers laat by huis gekom na sport tot dat hulle tot laat in die nag Wiskunde of ‘n dergelike vak se huiswerk gedoen het. En die wat nie werk nie se ouers het sowaar gekla dat ek te veel huiswerk gee. Kan ‘n taalonderwyser ooit wen?
Huiswerk impliseer nie dat ‘n leerder gaan slaag nie. Net so getuig ‘n gebrek aan huiswerk nie dat ‘n leerder gaan druip nie. Aan diegene wat steeds aan tonne huiswerk glo, navorsing by ‘n laerskool in Kaapstad wys dat leerders beter presteer nadat huiswerk weggeneem is. Oormatige steun op huiswerk laat kinders dink dat hulle nie in die klas hoef op te let nie. Wanneer kinders besef dat hulle geen huiswerk gaan hê as hulle in die klas werk, begin hulle goeie gewoontes aanleer.
Min tuiswerk getuig eerder dat taalonderwysers verstaan dat leerders, wat swak in Wiskunde vaar of intens op die sport- en kulturele gebied betrokke is, nie tyd kry om Afrikaanse huiswerk te doen nie. Ons weet ook dat kinders iewers moet rus, tyd moet kry om aan hulle persoonlike belangstellings en ontwikkeling aandag te gee en tyd moet kry om kind te wees. Ons beraam eerder planne om kinders tegemoet te kom.
As ‘n ouer dan wil hê dat haar kind nog iets moet doen, gee raad oor hoe die ouer jou kan help om haar kind te help. Opstelle, briewe en lang skryfstukke tel ongelooflik baie punte en verg van leerders om die taal met gemak te hanteer. En daar kan ouers help om hul eie kinders aan goeie Afrikaans bloot te stel.
My raad? Versoek ouers om seker te maak dat hul kinders gereeld goeie Afrikaans lees en hoor sodat hulle woordeskat uitgebrei kan word. Vra hulle om so nou en dan ‘n briefie te stuur waarin hulle aandui waarmee die kind sukkel. Versoek hulle om na Afrikaanse radiostasies en TV te luister sodat die kinders die taal kan hoor. Vra vir hulle vrae oor hulle voorgeskrewe boeke om seker te maak dat hulle die taal verstaan. Laat hulle toe om saans van 6-8 na sepies soos Suidooster, Getroud met Rugby en Binnelanders en die Nuus te luister. Dit is verstommend hoe goed die taal in die sepies en nuus gebruik word. Moedig ouers aan om te vereis dat die taal reg gebruik word sodat die kinders die taal gereeld inoefen – onder hulle toesig. Dis hoe mens die nodige woordeskat aanleer om puik opstelle en briewe te skryf, om begripstoetse te verstaan en om taalvrae met gemak te beantwoord.
‘n Taalonderwyser se werk is nie om taak op taak te bepunt nie. Ons werk is eerder om ‘n liefde vir die taal te bevorder, tyd te gee om die lewe te leef en ervaring op te bou sodat hulle wel iets het wat hulle in skryfstukke gebruik kan word. En dit gaan ons nie regkry as ons kinders met tonne huiswerk oorlaai nie.
So van die punt af: Soms kan mens weier om huiswerk te doen! Ek het baie kuis grootgeword. En toe kom ek op Tuks met Komas uit ‘n Bamboesstok en Sewe dae by die Silbersteins as voorgeskrewe boeke. Onsmaaklik en iets wat nie in ordentlike geselskap hoort nie. Ek het geweier om die boeke te lees, dit het my vuil laat voel. Tog het ek die vak geslaag, bloot deur te luister na dit, wat die dosent in die klas gedeel het. Om aandag te gee as die onderwyser werk verduidelik is baie belangriker as om saans tot laat te sit om huiswerk te doen. Om die waarheid te sê, ek dink die waarde van huiswerk word oorskat!