Soms moet mens groot dokumente deel, maar weier jou rekenaar om dit te stuur, of jy kry ‘n foutboodskap van die ontvanger se eposstelsel omdat sulke groot lêers nie toegelaat word nie. Daar is egter ‘n aantal keuses beskikbaar om die probleem te oorkom. My top 10 keuses in alfabetiese volgorde word vervolgens bekendgestel.
Adobe Send & Track laat gebruikers toe om die Adobe webwerf of die Acrobat Reader toep te gebruik om groot lêers met verskeie ontvangers te deel, ten spyte van die tipe toestel wat hulle gebruik. Geen limiet op die grootte van die lêers of die aantal dokumente word genoem nie, maar die diens is nie gratis nie en kan jou meer as R200 per jaar kos. ‘n Aantal soorte lêers kan ook nie gedeel word nie. Dit is egter baie handig om die dokument te kan volg (track) om duidelik te sien of dit oopgemaak is of nie.
Dropbox is ‘n wolkgebaseerde oplossing en laat jou toe om dokumente deur middel van ‘n skakel te deel. Die persoon aan wie die skakel gestuur is, hoef nie ‘n Dropbox-rekening te hê om toegang tot die dokumente te kry nie, hulle kan dit direk van die webgebaseerde toepassing aflaai. Gebruikers kan die toepassing gratis (2G limiet) gebruik en meer spasie verdien as hulle ander aanmoedig om die toepassing te gebruik, maar daar is ook ‘n betaalde opsie wat gebruikers toelaat om teen so R150 per maand 1TB spasie aan te koop. Hierdie opsie laat gebruikers toe om wagwoorde te skep. Dropbox werk goed met Windows, Mac, Linxus, iPad, iPhone, Android, en Blackberry en gebruikers kan ook aflyn toegang tot hulle dokumente verkry.
FTP (File Transfer Protocol) is ouskool teenoor die wolkgebaseerde voorbeelde, maar bied steeds die betroubaarste metode om groot lêers op en af te laai. Alle rekenaarstelsels ondersteun FTP en verskeie webwerwe en toevoegsels ondersteun die op- en aflaai binne ‘n webblaaier, byvoorbeeld FireFTP (vir Firefox). Windows en Mac gebruikers kan ook die gratis rekenaartoepassing Cyberduck gebruik. Die nadeel is dat mens toegang tot ‘n server benodig, maar maatskappye soos DriveHQ bied wel gratis stoorplek. Die pryse vergelyk ook heel goed met dié van wolkovoorsieners.
Google Drive bied gebruikers geleentheid om dokumente groter as 25MB te stuur aangesien gmail ‘n limiet van 25MB het. Groot dokumente kan egter in Google Drive geplaas en so gedeel word. Google Drive bied 15 GB gratis stoorplek en dié dokumente kan enige tyd en plek oopgemaak word. Lêers en dokument van tot 15GB kan so gedeel word, dus kan dit uitgevee word om plek te maak vir volgende lêers en dokumente. Geberuikers kan kies om ‘n skakel te deel of om ‘n skakel na sekere mense per epos te stuur.
Hightail (voorheen YouSendIt) is komplekser en vereis ‘n rekening, maar lêers van tot 250Mb kan gestuur word. Gebruikers het 2GB stoorplek en kan 5 e-handtekeninge skep. Hierdie toepassing stuur ontvangserkennings en bied toegang op rekenaars en mobiele toestelle. Dit is geskep om besighede te steun, daarom kan gebruikers spesiale ‘spasies’ vir verskeie lêers en projekte skep wanneer hulle die rekening skep en dit kan met ander gedeel word. Die ‘PipPoints’ eienskap laat gebruikers toe om notas op te neem terwyl hulle saam met ander aan die dokumente werk. Die gevorderde weergawe kos ongeveer R200 per maand, wat onbeperkte stoorplek insluit.
MailBigFile laat gebruikers toe om tot 2GB dokumente te stuur en gebruikers kan ook meer as een dokument gelyktydig oplaai. Die sleep-en-laatval eienskap maak dit nog makliker om te deel. Dit is nie so maklik en mooi soos WeTransfer nie, maar dit is gratis en doen die werk effektief.
Maildrop bied aan Mac-gebruikers die geleentheid om groot lêers te stuur. Wanneer die aanhegsel, wat deur Apple Mail gestuur word, te groot is, neem Yosemite oor en bied aan die gebruiker die keuse om dit eerder met behulp van Maildrop te stuur. Die pos kom by die ontvanger as ‘n aanhegsel aan sonder dat die ontvanger weet dat dit deur maildrop gestuur is. Daar is ‘n paar beperkinge, maar ek beskou maildrop as ‘n baie goeie toepassing, wat die stuur van groot lêers vanaf Mac rekenaars maklik maak.
MediaFire is ‘n gratis toepassing wat 10GB stoorplek bied. As die gebruikser sy of haar Facebook en Twitter rekeninge konnekteer en die mobiele toep installeer, verdien hulle 40GB stoorplek. Dokumente kan direk van die rekenaar of web opgelaai word en dan word die skakel aan ander gestuur om dit direk vanaf die MediaFire webwerf te stuur. Betaalde opsies is beskikbaar teen sowat R40 per maand en sluit 1TB stoorplek in. Daar is ‘n 20GB limiet op die grootte van lêers. Daar is ook eenmalige skakels beskikbaar wat verseker dat die lêer net een keer afgelaai kan word.
OneDrive, voorheen bekend as SkyDrive, is soortgelyk aan Dropbox and Google Drive. Gebruikers het 15GB stoorplek en verdien 500MB vir elke vriend wat verwys word. gebruikers kry ook 15GB as hulle hulle fone se kamerarolle deel. Die belangrikste voordeel is dat enige lêer met die druk van die deelknoppie gedeel kan word.
Resilio Sync, voorheen BitTorrent Sync, gebruik BitTorrent protocol wat ontwerp is om groot lêers direk tussen toestelle soos fone en rekenaars te deel. Dit skep veilige skakels sodat jy jou lêers met jou kontakte kan deel, wat impliseer dat beide toestelle aanlyn moet wees. Hierdie sagteware is gratis en daar is geen limiet op die lêers wat gedeel kan word nie.
7-zip bied een van die maklikst oplossings, naamlik om dokumente saam te pers om dit so kleiner te maak. Gebruikers kan meer as een dokument in ‘n lêer plaas en dit kan saampers. Die sagteware is beskikbaar vir Windows, Mac en Linux. Lêers kan in die gewone ZIP formaat saamgepers word, maar ook in die effektiewer 7ZIP formaat. Die meeste rekenaarstelsels kan hierdie tipe lêers sonder addisionele sagteware oopmaak. Gebruikers kan ‘n wagwoord skep om lêers veilig te deel.
SugarSync is ongelukkig nie meer gratis nie, maar daar is ‘n 90-dae beperkte plan beskikbaar wat gebruikers toelaat om 5GB gratis te stuur, met ‘n onbeperkte aantal toestelle te konnekteer, en werk aanlyn te rugsteun. Gebruikers an ook ‘n betaalde opsie 30-dae lank toets en so toegang tot al die eienskappe kry, behalwe die vermoë om lêers vanaf ‘n afstand uit te vee. Lêergrootte is nie beperk nie, lêers kan met of sonder toestemming gedeel word, en ‘n publieke skakel na enige lêer of dokument kan op Facebook, Twitter, epos en so aan gedeel word. Die ontvanger kan die lêers aflaai sonder om te registreer. SugarSync laat gebruikers toe om toegang te verkry tot lêers op Windows (XP, Vista, 7, 8), Mac OS X, iPhone, iPad, iPod Touch, Android toestelle, Kindle Fire, en Blackberry 7 – en bied so effens meer as wat Dropbox bied. Ongelukkig is dit daarna duur.
TransferBigFiles is gratis en laat gebruikers toe om groot lêers, tot 20GB, te deel. Gebruikers moet ‘n rekening skep. Die dokumente word in die lêerpaneel gedeel en ‘n nuwe deelbladsy word geskep. Die gebruiker kan die lêer gelyk met meer as een ontvanger deel en ook ‘n boodskappie stuur. Lêers kan ook met behulp van ‘n wagwoord beskerm word en vervaldatums kan geskep word. Daar kan ook besluit word of die lêer met ander gedeel mag word. Die bladsy kan verpersoonlik word en oplaai toepassings kan gebruik word om dokumente na webwerwe op te laai. HD videos kan direk vanaf fone gedeel word en gebruikers word ingelig wanneer hulle lêers afgelaai word.
WeTransfer is een van die maklikste toepassings wat gebruik kan word om groot lêers te deel. ‘n Paar klieke en die lêer is gedeel. Lêers is net vir ‘n paar dae beskikbaar. Gebruikers kan vir ongeveer R130 per maand na ander opsies oorskakel om toegelaat te word om 20GB op ‘n slag te stuur, en 100GB stoorplek bied. Gebruikers kan wagwoorde skep en die webwerf verpersoonlik. WeTransfer kan stadig wees, maar die maatskappy moedig gebruikers aan om vroeg of laat te stuur om die probleem te voorkom. Lêers is net vir sewe dae beskikbaar, maar indien dit binne die sewe dae afgelaai is, is dit vir altyd op rekenaars en toestelle beskikbaar.
Die keuse hang waarskynlik van persoonlike voorkeure af. Ek verkies om nie my Drive dokumente met vreemdelinge te deel nie, dus is iets soos Wetransfer ‘n geskikte keuse wanneer ek dokumente met vreemdelinge moet deel. Ek verkies ook dat mens moet inskakel, dit bied na my mening meer gerustheid dat daar veiligheid in plek is.10 beste