Afrikaans laat haar nie onderdruk nie, dit is juis dan wat sy mense verplig om van haar kennis te neem. In hierdie artikel verwys ek na drie groot internasionale tegnologie-huise wat hul tegnologie in Afrikaans beskikbaar stel, naamlik Google, WordPress en Firefox. Daarmee word professor AP Grove se voorspelling in 1981 dat ‘n taal, wat nie vir akademiese literatuur oplewer nie, gaan uitsterf, besweer.
Tans word Afrikaans as akademiese taal uitgefaseer, iets wat twintig jaar gelede onmoontlik gelyk het. Afrikaans lewer die afgelope paar jaar bykans geen meesters- en doktorale geskrifte nie. Teen die tyd wat ek my doktorale studies aangepak het, was ek verplig om nuutskeppings te skep weens gebrek aan Afrikaanse woorde vir nuwe konsepte. Tydens my gradeplegtigheid by die Universiteit van Johanneburg was ek dan ook die enigste student wat in Afrikaans aangespreek is, vandat ek op die verhoog gestap het tot ek weer afgestap het. Dit was ‘n skreiende teenstelling met my eerste gradeplegtigheid by Tukkies in die 1980’s, waartydens ons almal in Afrikaans aangespreek is Terwyl die taal as akademiese taal doodgesmoor word aan Suid-Afrikaanse universiteite, maak internasionale tegnologie haar egter ‘n gerekende wêreldtaal.

Google stel aan my die keuse om dié tegnologie in Afrikaans te gebruik.
Daar is vertalings vir “starred email” (Gester) en “drafts” (konsepte) wanneer ek my epos klassifiseer.

Ek kan ook my instellings (settings) verander om ‘n webblad “gemaklik” of”knus” te besigtig. Dit dui op keurige taalversorging en nie blote vertaling nie.

Vanoggend vertel my Mac my dat die Firefox-blaaier opgedateer moet word omdat sy lank in die tand is en ‘n opdrag nie kan uitvoer nie. En watter verrassig kry ek? Firefox is ook in Afrikaans beskikbaar.

En so word Firefox ook ‘n blaaier van keuse.

WordPress is lankal in Afrikaans beskikbaar, daarom gebruik ek dit in Afrikaans.

Ek moet wel vinnig dink om “voeg koppelaar by” te verstaan, maar dit is lekker om die tegnologie in Afrikaans te gebruik.

Hierdie drie voorbeelde wys dat Afrikaans nêrens gaan nie, selfs al is daar minder akademiese literatuur op die rakke. In die 1980’s was universitêre onderrig die alfa en omega. Tans word beredeneer dat universiteite studente nie vir beroepstoetreding voorberei nie, gevolglik vind aanlynopleiding aanklank by al meer studente terwyl Janalleman die taal oor landgrense heen lewendig hou. Dit laat mens dink aan Totius se Vergewe en Vergeet:
Daar het ‘n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlangs
‘n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.
“Jy het mos doringstruikie
my anderdag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”
Die ossewa verdwyn weer
agter ‘n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.
Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.
Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ‘n teken
wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.
Solank as wat Afrikaans internasionaal belangrik genoeg geag word dat tegnologie in Afrikaans beskikbaar gestel word, gaan sy beslis nêrens. Inteendeel, dit is juis tegnologie wat Afrikaans as akademiese taal kan bevorder omdat Afrikaanse hoër onderwys met behulp van tegnologie aangebied kan word. Daarom wil ek voorspel dat hoër onderwysinstellings, wat Afrikaans minag, hulself in ‘n oorlewingstryd gaan bevind.