Gepubliseer in Joernaal

BB, Shilo en Sobek kuier op Rebusfontein

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein.

Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.

Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.

Rebus is ons wegloopplek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.

As jy ooit lus het om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

Lees voort “BB, Shilo en Sobek kuier op Rebusfontein”

Gepubliseer in Reisjoernaal

Die towerinne van Rebusfontein

Hierdie skryfstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur. Die ander hoofstukke kan hier gelees word

My drie Miniatuur Schnauzers sou kom. Ek was besig met al die papierwerk toe seun sê, ma moenie, ek koop huis, daar is plek vir ma se woewe saam met ons woef en die kat. My hart was in twee stukke geskeur.

Dit is beter vir my woewe om nie te vlieg nie, hoe gaan ons ses maande in ‘n woonstel oorleef as ek te bang is om op die sneeu uit te gaan? Die sneeu het begin smelt, dit was op plekke soos seep. As jy nie mooi kyk nie, trap jy op swart ys, en dan is jou voete onder jou uit. Hulle sou my maklik ‘n been of arm laat breek as ek vir hulle kyk en nie vir die pad nie.

Ek sou ‘n drieling woewe waentjie koop, hulle daarin sit, afvat en ver buite stoot en dan laat pieps. Maar sou hulle dit kon vat? Is dit regverdig teenoor my honde? Om te kom? of om te bly? Seun het egter gewen. Ons kom nie vir altyd nie en dit gaan weer fortuin kos om hulle in asuid-Afrika te kry. Buitendien, Suid-Afrika het die belaglikste reëls oor woewe, hulle moet met ‘n waybill of iets op ‘n vragvlug gaan. In Qazaqstan ry hulle saam met my in die vliegtuig, ek kry hulle as ons stop.

Dus het woewe gebly, en moes ek die pad alleen in vreemde land stap waar niemand my verstaan nie. Toe begin ek ons belewenisse op FB vertel en my skoolmaats moedig my aan om ‘n boek te skryf. Daarvoor het ek nie kans gesien nie, toe begin ek blog.

En mense antwoord op my blog. Ek dink Sonelle was my eerste blogvriendin. En ek lees haar werk en sy myne en ons gesels in die kommentaar. So lees ek ander bloggers raak en ‘n storie oor ‘n kamma-reis van ‘n groep towerinne wat die hoofrolle in hulle eie stories speel.

En ek lewer kommentaar. En Una nooi my om saam te skryf. Eerste opdrag was om my voor te stel. (Kliek om res te ontmoet)

Junie 2019.

En ek was bang om sommer net so in te val en ‘n huisie te kry. Intussen stel almal hulle aan my voor. En ek moet nog kophou van elkeen se troeteldiere, waarvan hulle hou en voor ek weet, was ek deel van hierdie groep Afrikaanse blogvriendinne wat my uitdaag om saam aan hoofstukke van vervolgverhale te skryf, waarvan hulle/ons die hoofkarakters is.

***

Ons was juis die maand in ‘n vreemde vlieënde tent, besig om die wêreld vol te reis. Toe ons ‘n brief kry van een van die towerinne.

Ons het gedink sy is saam met ons, maar iemand het haar plek gevat. Sy was alleen in Rebusfontein. Die saniteerders het gekom om alle goggas dood te maak. En net so, voor haar oë verdwyn Rebusfontein in die niet.

My huisie het eerste in die slag gebly. Iets soos daai Last In, First Out besigheidsgesegde. En ek was tot in my tande geskok.

Hoe kon dit gebeur? Almal was so besig met hulle planne vir die volgende stop waarheen hulle ons sou neem. Juis omdat ons tans nie mag vlieg nie. Nērens heen nie. Ek kan ook nie huis toe gaan nie.

My storie oor die volgende plek waar ons met die tent sou stop, was amper klaar geskryf. Ons sou in die Tweede Wēreld Oorlog land. In Rusland. Stalingrad. Tussen die Duitsers en die Russe. Aan die einde van die oorlog. Dat hulle kan voel hoe koud winter in Rusland is …

En woeps, weg is ons huisies …

Ek het gevoel soos die ou in Uno met die wenkaart, moet net neersit, toe kry ek ‘n +4 kaart. Om op te tel, meer as wat ek wou hê. Met ‘n half voltooide storie …

***

Maar, dit was nie waar nie. Lees gerus hoe die ander die dorpie weer herontdek. Ek het gevra dat hulle dit in die kommentaar deel.

As hulle skakels deel, kan jy daarop kliek om hulle stories te lees ook.

Gepubliseer in Joernaal

Ek sien uit na rus op Rebusfontein

Hierdie inskrywing is anders as my normale inskrywings. Dit vorm deel van die towerinne se verbeeldingstogte na ‘n denkbeeldige dorp in die Karoo, Rebusfontein. Lees dus met ‘n knippie sout.

***

Gisteroggend land Una se boodskap in my posbus. Sy is op ‘n gekleurde bus met ‘n meernindeur. Op pad Rebusfontein toe. En sy wil weet wie kom saam.

‘n Hele paar towerinne voel soos ek, lyk dit my? Want sy het sommer vinnig begin om die bus vol te maak.

Ek het amper nie plek gekry nie, want o wee, ek moes eers van lae klere ontslae raak voor ek kon hardloop.

Eers moes dik handskoene af, kappie van die jas af, gevoerde mussie af en toe die serp.

Daarna moes die dik jas en die onderbaadjie af.

Toe moes die skoene met warm, dik binnekante uit.

Daarna die langbroek en die paar 250 den sykouse uit, daai sykouse sal kraai nie sal laat gaap nie, hulle sal sommer omkap van die hitte!

Toe die kort mohair sokkies wat onder die sykouse was en dan die dun voetsykousies wat onderaan aangetrek is. Alles om my voete warm te hou.

Want sien, dit was gister -18C hier by ons na ‘n dag se sneeu.

Daarna moes die dik t-hempagtige bloes uit. En die onderhemp wat gemaak is om temperatuur te reguleer.

Na alles uit en af is, was ek nogal moeg! Maar byna kaalbas.

Toe moes ek sandale onder in die kas gaan soek, ‘n kort rompie en ‘n koel bloes. ‘n Sonbril om die skerp sonlig af te weer en ‘n hoed. My ma sal trots wees om te hoor dat ek nou hoede dra, die somerson hier bak my vinnig geel.

En toe eers het ek vir die hardloop na die bus kans gesien.

Ai tog, die Suid-Afrikaners weet nie hoeveel ons moet doen voor ons uit kan gaan nie!

***

Terug in die hede.

Mens moet beplan. Deeglik beplan wat jy gaan aantrek en wat nie. Dit moet in lagies op jou lyf gedra word. Dat jy kan afskil soos jy aangaan en warmer kry.

En glo my, jy kan jou maar preuts hou en jou jas probeer aanhou. Dit werk nie.

Sodra jy uit die ysige koue in oorverhitte winkelsentrums instap, begin jy onwillekeurig verklee.

Eerste waai die mussie. Ek het nooit mussies gedra nie, dus het ek ook nie geweet hoe warm dit mens maak nie. Dit moet eerste af.

Dan die handskoene en die serp. Wat veroorsaak dat jy met ‘n handvol goed staan.

Sommige jasse se sakke is diep. Dan kan die handskoene en die mussie daarin gedruk word. Om soos twee balle teen jou bene te druk.

Dan word die jas oopgezip. Dit help, maar nie genoeg nie. En dan waai die jas. En soms die onderbaadjie of ligte truitjie ook.

So stap ons Saterdagaand in Traktier in. Klein restaurantjie, baie lekker atmosfeer. So bietjie Engels op die menu.

Groet die vriende saam met wie ons sou uiteet so van die deur. Maar word in ander rigting beduie, hulle ken mos net Russies en Qazaq in hierdie land.

Wys na vriende en toe besef ons eers. Die jasse en mussies en hoed en handskoene moet ingegee word. Dit is mos weer daardie tyd van die jaar.

Wanneer die restaurante spesiale kamers het waar jy jou jas ingee. En ‘n nommer kry om dit terug te kry wanneer jy wil uit.

***

Gelukkig was ek tuis toe Una se bus die toeter druk. En kon ek vinniger uit en aantrek as in die openbaar.

Vir daai ene sien ek wel kans. As ek oorverhit raak. So het ek in Abu Dhabi in die stap van die swart rok en serp ontslae geraak. As ek nie het nie, sweer ek, sou ek van hitte-uitputting omgekom het.

So Una, ek is op die bus. Ek neem aan hy gaan ‘n paar Kaapse draaie gooi voor ons by ons huisies aankom. Maar dit is ook goed.

Ek het dit nodig.

***

Hier stap ek waar ek wil wees. Blokke ver. Maak my hoslosie maklik haar 10 000 treë per dag.

Nou stap ek net versigtig. Klein tree vir klein tree.

Oë op die grond. Soekend na blink stukkies op die pad, wat as swartys bekend staan. En selfs met die versigtigheid het ek gisteraand so amper op my alie gesit.

Mia het gister geval. En kan nie val nie. Wil nie nou iets skeur of breek nie. Want dit sal my aan die huis kluister.

***

Dus, liewe Una, is ek op die bus. Waarheen ry ons?

Foto: halfses gisteraand op pad na apteek om meds vir my en manlief te koop. Ysig. In hoofletters.