Gepubliseer in Reisjoernaal

Tyd vir vere regskud in nr 17 Rebusfontein

Hierdie skryfstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur. Die ander hoofstukke kan hier gelees word

Ek het reeds vertel dat ons besig was om te toer toe die nuus inkom: Rebusfontein, ons skilderagtige dorpie in Suid-Afrika, het, net soos hy verskyn het, weer in die niet verdwyn.

***

Maar toe begin ons so huiwerig daaroor gis. En ons babbel en gesels in ons WhatsApp groepe en op die kommentaar van die hoofstuk waarin Rebus verdwyn het. En ons besef:

Dit is mos nie hoe dit werk nie. Dit is juis die lekker van ons vervolgverhale.

Elkeen bied aan om ‘n hoofstuk te skryf, afhangende van jou eie omstandighede. Soms het mens nie tyd nie, ander kere het jou muse so bietjie ruskans nodig. Ek maak tyd en dan raak die spanning in ons huis hoog as ek sukkel om werk binne sperdatums klaar te maak. Maar, towerinne altyd eerste as dit my beurt word.

Iemand gebruik elke keer die geleentheid om ‘n kinkel in die kabel te maak. Wat die skryfster na jou noodsaak om haar hoofstuk aan te pas wat reeds ver beplan was.

***

Toortsie, ons towerin wat haar nie deur inperkings laat hiet en gebied nie, het eerste met die nuus gekom, Rebusfontein is nie weg nie, dit het net tydens die inperking vreeslik verwaarloos. Ons is mos al maande in ons regte huisies vasgevang. In so mate, dat Rebus verwaarloos het. Siesa vir ons!

Sy en haar man het die nodige briewe en toestemming gekry om Rebus te mag besoek. As sy alleen was, was dit easy peasy, maar dit is so effens van ‘n probleem om die mans van een plek na die ander te vervoer. Hulle wil self bestuur.

Hulle wou gaan groet, afskeid neem, en wat ontdek hulle twee? Broodina het die brief geskrryf, niemand anders nie. Sy het ons vir ‘n aap gevat. Of soos die Kaapse mense sê, vir ‘n pop. Ampertjies het ons almal haar geglo!

Rebus se huisies was net leeg, want almal was of op toer, of ingeperk.

Seegogga het nie op haar laat wag nie, sy is dadelik in die pelikaan se bek saam met meneer Krap na Rebusfontein.

En sy het skoongemaak en die allermooiste hoofstuk geskryf oor hoe sy haar huisie gaan regpak het.

Una het vir ‘n vale gaan werk, mens sal nie sê sy is op die oomblik ‘n baie besige vrou nie. Maar sy het dit terdeë geniet, niks so lekker soos om op Rebusfontein te gaan skoene uitskop, hare los te maak en in vriendskappe te belê nie.

En twee nuwe inwoners het die dorpie binnegeval, letterlik, want ons het hulle op die toere raakgetoer. En ek dink ek bewoord almal se gevoelens as ek sê dat ons twee hartsmense bygekry het. Soms wen mens vriendskappe, soms verloor jy weer. Hierdie twee gaan sommer gou agterkom. In Rebus wen mens meestal vriendskappe … ons vriendskappe is nie duur nie.

Dit is die absolute lekker om deel van die towerinne te wees. Hierdie groepie vrouens kan met woorde toor. Die woord sal seker nog in die woordeboek opgeneem word? Dit is ‘n nuutskepping wat verwys na vrouens wat met woorde kan toor en ‘n hele dorpie met sy inwoners laat verskyn. Maar meer nog

Ons vriendskappe is regtig egtig. Eg.

Ons leef ons ook in mekaar se werklike lewe in. Daar waar ons die towerin mantels afskud om kykies in ons ander lewens te bied. ‘n Groepie vrouens wat vir mekaar omgee, mekaar se gevoelens in ag neem en saamvoel as iemand seer het. Ons troos waar ons kan, ons lag saam, ons het ongelooflik baie pret saam.

En dit is heerlik. Want, ek sukkel met vriendinne wat soos stekelballetjies is. Jy weet, daardie soort wat jy graag wil koester, maar watter aanslag jy ookal probeer, kry hulle wel ‘n kans om ‘n seer steek in te kry.

Ek besef sulke mense het iewers seer, maar daardie steke is soos turksvy dorings. Jy sukkel om die dorinkies daarna uit te kry. Goeie les by my suster se kind geleer toe hy nog ‘n kleuter was. Tannie, ek kan nie nou praat nie, ek is te kwaad. Soms moet mens egter juis die kwaad weggesels, uitredeneer. Dit is nie baklei nie, dit is groei. Omdat mens onwetend op baie seer tone kon getrap het. En moet aanvaar dat jy ook verkeerd kon wees.

Vriendskap gaan nie oor reg of verkeerd nie, ook nie oor kante kies nie. Dit gaan oor ons is vriende … ten spyte van … en ons gesels dit uit ter wille van groei en nuwe hoogtes in die vriendskappe.

Iemand sê onlangs dat vriendskap duur is. Ek heg geen monetēre waarde aan vriendskap nie. Vriendskap is vir my kosbaar, en ek sal soms agter die gordyn werk om vriendinne weer te laat onthou dat hulle vriendinne is … Oudste sustersindroom …

Dus, liewe vriendinne, dankie vir die vensters Toortsie, die huis ruik sommer weer vars. Dankie dat jy die goggas verjaag het, jy weet hoe bang ek vir hulle is. En ek weet hoe bang jy is. Ek is jou ewig dankaar, die spinnerakke het gelig …

Appeltjie en Aalsie, ek geniet die manier waarop ek julle twee leer ken. Dit is absoluut heerlik om julle twee as buurvrouens te hê. Veral omdat ek so aangemoedig word om my huis te kom regmaak.

Positief, ek het heerlik saam met jou gaan kuier toe jy jou huisie gaan regskud het.

Kameel, Auf Wiedersehen, ek skat jy gaan nie te lank kan wegbly nie. Daar is dinge om te doen, plekke om te sien.

Tannie Frannie, ek hoop die seer is sommer gou oor. Gelukkig het die donkie jou nie weggevat nie. Ek was bekommerd toe hy so weghol, maar hy het jou mooi teruggebring.

Perdebytjie, Woordnoot, Scrapy, Virgo, Bondels en Sonell, dit is lekker om saam met julle in Rebusfontein te bly. Wanneer kom julle vir ‘n vinnige kuier?

Ek het so pas ingevlieg, dit was ‘n besonder lang reis met al die reëlings op lughawens. Het nooit geweet dit kan so sleg wees om te reis nie.

Dan gaan ek persente uitdeel …

Dan gaan ek aan die werk moet spring, daar is ‘n huisie wat ‘n regskud nodig het.

Tyd vir verandering, groei is belangrik, ontwikkeling ook.

Ontwikkeling beteken egter nie dat ek bereid is om my vriendskappe te verwaarloos nie. Dus is dit lekker om te sien hoe ons vriendskappe hegter geword het. Daar is niks so lekker soos om in vriendskappe te belê en saam te groei nie.

Daardie huisie moet mooigemaak word om my so bietjie aan Qazaqstan te herinner. Dankie vir die idees …

En dankie vir die opneem van ons motto, wat Bondels as ek dit reg onthou, die eerste keer tydens een van ons onlangse reise gebruik het. Ek sien ek was verkeerd, ek het dit by Woordnoot raakgelees.

All for one!

Uitgebrei na Brakkenjan se stelling: Een vir almal en almal vir een …

Hoe laat dit my nou na my kinders se kinderstories van toentertyd verlang? Toe ek die kenwysie van ‘n spesiale nuwe vriendin kry, het ek dadelik daarop aan die dans gaan. Ek kan my lekker in stories inleef …

Die lewe is goed en mooi en reg.

One for all and all for one …

Foto: My BB met ‘n doek om die mannetjies van haar weg te hou. Algehele vrede in die huis gewees, dan stuur die twee mannetjies, wat haar kinders is en so bietjie vergeet, nie hulle klaagliedere die hele wye wêreld in nie. Sy gaan elke keer saam Rebus toe, Shilo en Sobek ook.

Gepubliseer in Joernaal

2020 se kerstafel by Rebusfontein …

Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne/Goue Vroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en  onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/1109950914194acc97921a784266b3ec

***

Hierdie jaar het vol belofte begin. Ons was expats (wat ‘n lelike naam), ons was pas terug van kersfees in Suid-Afrika, ons sou Maart weer huis toe kom om ons jongste kleinkind te ontmoet. Die ses vlugte was reeds bespreek. Hy is op die laaste dag van Maart gebore. En toe gebeur die ondenkbare … alle lande in die wêreld sluit hulle grense. Ons ses vlugte heen en weer word gekanselleer. En ons sit tot 4 Oktober 2020 vasgevang in Kazakhstan. Eintlik moet ek skryf dat ons tot 3 weke voor die 4de Oktober nie geweet het of ons vir kersfees 2020 sou kon huis toe kom nie.

Die eerste twee maande na 17 Maart 2020 was soos iets uit ‘n bangmaakfliek.

Ons het kaartjies gekry wat ons toegelaat het om ewe dae uit ons huis te gaan. Net om kos en medisyne te koop. Wat minder as 500 m van ons af beskikbaar was. Naweke was ons opgesluit in die stad. Polisie het seker gemaak dat ons nie die stad verlaat nie. En niemand van die platteland kon in die stad kon inkom nie.

Ust’-Kamenogorsk – ala Öskemen – het ons tronk geword.

Mens was bang om in ‘n hysbak te wees. Het skielik nie meer mense gegroet nie. Ons moes met maskers loop. En ons hande oral laat skoonmaak. Dit was sowaar skrikwekkend om in ‘n apteek te wees. As iemand hoes. Want die virus was onbekend.

Later kon ons enige dag winkels toe gaan. Maar naweke was winkels gesluit. En nog later was winkels naweke oop, maar vakansieplekke steeds toe. Dit was ‘n anderste tyd. Ons was basies vry om te doen wat ons wil. Behalwe om oor die grens huis toe te gaan. Suid-Afrika se grense was steeds toe.

Einde Junie het ons Almaty toe getrek. En kon ek oor die stad uitkyk tot diep in die binneland in. Vanuit die vensters van ons woonstel op die 14de verdieping.

Toe bid ek by my oop venster terwyl ek oor die stad uitkyk:

Vader, help ons om kersfees te wees waar ons hoort. By ons kinders en kleinkinders.

En so val alles in plek sodat ons permanent huis toe kon kom. My hart loop van dankbaarheid oor. Anders as wat ek verlede jaar gedink het, sal kersfees nooit vir my vol sneeu moet wees soos in Kazakhstan nie. Ek soek geen wit kersfees nie.

Ons het ons eerste kersete Donderdagaand die 17de Desember in Umdloti gevier. Soos elke jaar as al my kinders nie kersdag by my kan wees nie.

En my tafel was maar karig gedek. Met wat in die gastehuis beskikbaar was. Ons het, anders as gewoonlik, potjie geëet. Geen kalkoen, geen gammon, geen klappers, geen kersboom met liggies. Ons was maar versigtig om winkelsentrum toe te gaan.

Want daar is stories dat matrieks ‘n groot fees in Umhlanga gehou het. En ‘n gogga laat versprei het. Ek is siek vir die naam daarvan, daarom net gogga. En daarom moes ons maar versigtig wees. Dis geen lersversierings gekoop nie.

Ek wou goed saamvat, maar ons het in Julie 2019 ons huis opgepak dat hy kan verkoop. En ek weet nie in watter boks die kersfeesgoed by die rivier verpak is nie.

Ons gaan kersfees saam met dollatjie en ons drie kleinseuns by die rivier hou. Seun en baba en skoondogter is steeds by die see, kom eers net voor nuwe jaar terug. Daar is wel kersversierings by die rivier. En dollatjie sal haar liggies saamvat.

***

En toe kry ek die skok van my lewe.

Mede-towerin en goue vrou Una dink ek is netjies en georganiseerd. En stel my sowaar aan om die kerstafel by Rebusfontein vir ons Goue Vroue te dek.

Wel, Una, ek het ‘n skok wat op jou/julle wag. Want hierdie vrou is nie so georganiseerd as wat jy/julle dink nie. Ek ly wel aan oudstekindsindroom, daarom sal die tafel gedek word. Ek waarsku net dat dit ‘n wilde rit – ek bedoel tafel – gaan wees ..

***

Eerste goed eerste.

Alhoewel Toortsie en Appeltjie die manne in hulle lewe saamgevat het Rebus toe net nadat dit kastig in die niet verdwyn het, word die kerstafel gedek sonder plek vir mans. Dit is tyd om te gesels sonder om aan mans se fiemies oor kos te dink. Dié tafel is net vir vrouens gedek.

Vroegoggend is ek reeds op om die tafel te gaan dek. Boerboelmodel Markus gevra om my net na vyf te kom wakker klop. Wie kan nou sukkel om wakker te word as hy voor my na die meent stap?

Mensig, ek hou baie van die Boerboel kleertjies wat hy dra. Veral omdat dit van voor nie so styf sit soos van agter nie …

Hy dra een massiewe ronde tafel op sy skouers, soos my pa altyd ‘n sak mielies oor sy skouer kon gooi. Ek dra die sakke met besonderhede waarmee die tafel versier gaan word. Daarna dra hy die messegoed en breekgoed aan.

Terwyl ek die bloedrooi tafeldoek in die lug opgooi dat die briesie dit oor die tafel kan sprei.

Dié takie moes ek meer as een keer herhaal omdat hy my aandag aftrek as hy wegstap om nog goed te gaan haal. Dan land die tafeldoek op die grond en nie oor die tafel nie.

Daarna is daar nie meer tyd om te ginnegaap nie. Die tafel moet gedek word. As die goue vroue aka towerinne opstaan, moet die tafel vir hulle wag.

Die piepklein kersboompies word in die middel van die tafel geplaas. Wittes, om my aan die sneeu te herinner wat nou dikker as ‘n meter in Öskemen (Ust’-Kamenogorsk) in Kazakhstan lê. En my daaraan te herinner dat my kerstyd nie weer so sal lyk nie. Dankbaar dat die Here my gelei het om in die vlees in Suid-Afrika te wees. Kersgety te vier saam met my gesin en die goue vroue.

Vrolike plekmatjies word gedek vir al die goue vroue wat reeds aangekom het, wie se liggies in hulle huisies gebrand het toe ek gisteraand gaan loer het. Feestelike prentjies wat die kersverhaal uitbeeld op elkeen gedruk. ‘n Wegneemgeskenkie vir my maters.

Nadat ons van die piekniek af terug gekom het, het ek probeer seker maak wir almal daar gaan wees. Ekke, Una, Toortsie, Appeltjie, Aalsie, Trommeltjie, Positief, VirgoC, Woordnoot, Seegogga, Sonell.

Ek weet ook Frannie wil bitter graag saam wees, maar sy is steeds in Amerika vasgevang. Ander het ook nog nie na Rebus teruggekeer nie. Die matjies vir die wat nie daar kan wees nie, word op ‘n tafel geplaas waar Toortsie die kos gaan uitpak. Dalk verras hulle ons?

Daarna volg die wit borde, vrolike rooi servette, ragfyn silwer servette om die rooies af te rond. ‘n Stukkie luuksheid wat ek ons gun na die jaar wat ons vir ‘n lang ruk vn ons geliefdes geskei het.

Die silwer messegoed met die fyn goue afwerking in die stele daarvan het ek spesiaal van Kazakhstan gebring. Asook die glase met die goue afwerking aan die rande daarvan.

In die middel van die tafel word plek gemaak vir die lemonades wat ek reeds gemaak het. Sitrus, met die lemoenstukke en gemmer en naeltjies wat daarin dryf om die smaakkliere te prikkel. Veselperske, wat ek vir die eerste keer probeer maak het, ek wonder hoe dit gaan proe. Komkommer, mint en gemmer is ook ‘n eerste probeerslag, dit herinner my aan die hitte van hierdie mooie land van ons. Peer, appel, bessies en aarbeie, elkeen met sy eie geheime bestanddele om die goue vroue te betower. Dit is soveel anders as die Suid-Afrikaanse lemonades, min gas, baie geur. Hulle staan in my yskas en wag om later uitgebring te word.

Oor elkeen van die stoele word kersvaderbaadjies gedrapeer, met die bande wat dit om die stoele hou. Dan word ‘n kersvadermussie oor die stoele gedrapeer.

Markus staan saam met my na die tafel en kyk.

Laat hom na die plaas verlang, het hy te vertelle. Kersfees saam met sy gesin. Dan raak hy haastig, hy moet sy ma en ouma gaan help tafels rondskuif.

Die tafel is gereed vir die goue vrouens wat netnou sal ontwaak. Toortsie sal vir die kos sorg.

Wel, Una, ek hoop jy hou daarvan. Ek het lekker gespeel met gedagtes.

Gepubliseer in Joernaal

Hoofstuk 18. Die sondes van die vaders

‘n Volgende hoofstuk in die gesamentlike blogverhaal van die Towerinne. My tweede hoofstuk. Die vorige hoofstukke kan hier gelees word.

***

‘n Hele aantal geraamtes is ontdek en daar is verklaar aan wie elkeen behoort. Tannie Frannie het in die vorige hoofstuk verklaar waarom die twee kinders se geraamtes in ‘n kis in die tonnel onder die herehuis Eden was. Hier volg my hoofstuk.

***

My drie Miniatuur Schnauzers het in die toring van Frannie se huis saam geluister, en bly luister lank nadat ons klompie towerinne huiswaarts is om die nuutste ontknopings te verstaan. Ons koppe het gedraai.

Una, Kameel en Vuurvliegie het my woewe aangemoedig om mooi te luister wat die ander woewe en katte kon uitvind. Sodat ons die geheime vir eens en altyd kon uitpluis. Virgo C, Hester en Positief het gesê dat hulle sukkel om alles te verstaan, ons moet rus ook.

Toortsie en Trommetjies het saam met my huis toe gestap. Toortsie omdat sy ook vir die donker bang was. Trommeltjies omdat sy geweet het dat ons twee vir die donker bang was. Ek moes egter die laaste deel van die paadjie alleen stap, maar het gesien dat Lorenzo op ‘n afstand saamstap. Dus het ek op ‘n wolkie huis toe gestap. Mooie man daai ene!

Die volgende oggend was die towerinne dou voor dag uit die bed. Almal het op my huisie se stoepie kom plek soek om te sit.

Sommiges het maar lekker deur die blare gelyk, hulle hou mos van sonsondergang, die son kom vir hulle heeltemal te vroeg op. Lekkervurig en Perdebytjies was amper laat. Perdebytjie het haar kamera vergeet. Seegogga het gegaap, maar dit probeer wegsteek. Bondels het weer prentjies geteken, sy kan die werk van die tekenaars in die hof oorneem, so vinnig doen sy dit. Scrapy het haar aan die prentjies sit en verwonder. Frannie was angstig, sou my woewe so goed soos hare geluister het? Woordnoot het aangemoedig, kom nou BB, ons wil nou weet! almal is hier.

***

BB het soos gewoonlik grootmejuffrou op my skoot kom sit. Half bo-oor my, soos sy gewoonlik maak. Sobek het oor my een hand kom staan sodat ek hom kon krap, en Shilo oor die ander een. Hulle het geluister hoe hulle ma vertel. Soms reggehelp as sy van die spoor afgedwaal het. En dan het sy haar eers vreeslik gewip. Ongeskikte kinders!

En so het ons towerinne verder gehoor wat daardie laaste dae op Eden gebeur het.

***

Sophia was baie omgekrap omdat meneer Hardy die geheim oor die kinders so ongenaakbaar op Klara se sestiende verjaarsdag bekend gemaak het. Ook dat hy hulle oupa is en die kok hulle ouma. Koel en berekenend. Watter soort oupa doen dit?

Jou ma is nie jou ma nie, Charlotte is. Jou pa is jou pa. En ek en tannie Marks is jou ouma en oupa.

Klara was platgeslaan. Het na haar toe gehardloop. Om getroos te word. Sy kon nie jok nie.

So? Haar pa is ‘n rondloper. Hy en Charlotte was haar ouers. En nie Sophia en hy nie. Die vrou in die kelder was haar ma! Wat al die jare lank vir haar weggesteek het dat sy haar ma is. Watter soort vrou doen dit?

Vir haar moes sy van haar verjaarsdagkoek vat. Gif sou dalk beter werk. Maar sy is af, het die koek gevat. Op haar sestiende verjaarsdag.

Charlotte het nie geweet dat meneer Hardy vir haar vertel het nie. Sy het die trappies skoorvoetend afgeklim. Wou die koek net neersit en loop. Het niks gehad om te praat nie.

Maar Charlotte wou nie hoor nie. Moes toe probeer om haarself te verontskuldig.

Dit was probleem daardie tyd, Klara, het nog in haar ore geklink toe sy teen die trappies op gehardloop het.

En toe is Charlotte se hand op haar skouer. sy wou haar keer om weg te hardloop. Sy kon die gevoel nie verdra nie, het tyd nodig gehad om dit te verwerk. En toe stamp sy haar weg. Sy het gehoor hoe Charlotte val, maar nie omgedraai om te kyk nie. Sy moes daar wegkom, sy het tyd nodig gehad om te dink.

Haar ma was so ‘n goeie mens. Soms wens sy sy was nie so ‘n goeie mens nie. Klara was die hele week daarna in ‘n toestand. Wou nie uit haar kamer nie. Toe stuur haar ma haar om vir Charlotte te gaan kuier. Op daardie noodlottige dag.

Sy het ja gesê, maar haar hele wese het daarteen geskree. Sopia is haar ma.

Sophia het eers vir haar, Klara, buite-egtelike dogter van haar man Joseph, as haar eie grootgemaak. En toe ook die tweede buite-egtelike kind, ‘n seun, haar boeta Thomas.

Ek haat Charlotte en ek haat my pa! Ek is dankbaar hy is nie nou hier nie.

Toe is sy af kelder toe. Wat daarna gebeur het, is reeds vertel. Behalwe dat Klara, toe sy die vrou in die vreemde posisie op die kelder se vloer gesien het, geweet het dat dit haar skuld is. Haar skuld dat Charlotte dood is. En toe het sy waansinnig geword.

Intussen is Sophia na die skape toe. Daar was ‘n skaap wat gehelp moes word. Die mans was nog weg, maar sy het geweet wat om te doen. Sy was bekommerd oor Klara.

Wat sy nie weet nie, dink Sophia, is dat die twee van die babas ontslae wou raak, dit het vir hulle net oor die lyflike plesier gegaan. Vriende met voordele. Sophia kon dit nie toelaat nie. As plaasmeisie het sy gehelp om baie diertjies in die lewe in te bring, te versorg en groot te maak. Sy kon nie self kinders kry nie. Sy sou nie toelaat dat hulle ‘n menselewetjie neem nie.

Haar son het lank agter ‘n digte wolk verdwyn, maar die blondekop babadogtertjie het ‘n liggie laat opflikker. Sy het haar Klara genoem. Haar sonskynkind. Klara, het so helder en mooi geklink. En so was haar poppie se laggies tot op haar sestiende verjaarsdag.

Terwyl sy Klara versorg het, was sy salig onbewus van die verhouding wat steeds aangaan. Sy het Joseph aanvanklik geglo. Dat hy lande toe was. Sy was so besig met die babatjie.

Maar sy moes geweet het ‘n jakkals verander nie van streke nie. Hoe sê hulle: Een maal ‘n egbreker altyd een. Sy was nie eens geskok toe die twee egbrekers ‘n jaar of wat later aankondig dat nog ‘glipsie’ gebeur het nie. En weereens het sy haar eie hartseer en skok en ongeloof diep gaan bêre. Die seuntje se naam het haar diep getref.

Thomas. Wat die naam ookal vir ander die ander beteken het, vir haar was dit met ongeloof verbind. Hy was nie ongelowig nie, sy was. Sy het Joseph daarna verfoei, met haar take aangegaan, hom haar kamer verban.

Die butler en die kok het geweet, maar sy het nie omgegee nie.

Sy het saans gehoor hoe sy kamerdeur oopgaan, hoe hy in die gang afsluip om na sy loslyf te gaan. Waarom dit ‘n liefdesnessie genoem word, sal sy nooit kan raai nie. Liefde is tussen twee mense wat trou aan mekaar beloof het. Wellus is ‘n beter beskrywing. Wellusgrot? Dit sou beter beskrywing vir die plek van hulle dade wees.

Lief soos sy vir die plaas is, was sy doodbang vir die tonnels onder die huis. Die kinders gereeld gewaarsku dat hulle nie in die tonnels moet speel nie, wie weet watter gevaartes kan van die waterval se kant af in die tonnels inkom?

Later het sy aangedring op ‘n deur in die kelder om die kinders te keer om in die tonnels te speel as sy nie naby is nie. Vir hulle sou sy ‘n leeu kaalhand vermoor. Haar kinders beskerm soos net ‘n leeuwyfie kan. Die twee rondlopers het die deur egter gereeld oopgelos.

Sy het twee sleutels laat maak. Joseph het die een aan ‘n kettinkie om Charlotte se nek gesit. Die ander een het sy self aan Joseph se stel sleutels, wat altyd in sy sak was, vasgemaak.

‘n Week na Klara se sestiende verjaarsdag het haar grootste vrees waar geword.

Sy het van buite ingekom, dit was ‘n moeilike geboorte maar die lammetjie is gered..

Dit was grafstil in die huis. Meneer Hardy en die kok was ook nêrens te sien nie.

Sy het eers weer na buite gehardloop, oral gesoek. Geroep en later geskree. Almal was in rep en roer. Die kinders was weg.

Sy is af na die kelder, sy het mos vir Klara gestuur om haar ma te gaan besoek.

In afgryse het sy na die lyk van Charlotte gestaar, haar neks was gebreek, die hangertjie met die sleutel was om haar nek.

Toe sien sy dat die tonnel se deur oopstaan.

Sy het meneer Hardy eers gehoor en toe in die bek van die tonnel gesien. Hy het hygend en skreeuend geslaan en geslaan. By sy voete was die verminkte lyf van ‘n swart slang. Mamba? Die adder was lankal vermorsel, maar hy het steeds geslaan.

Agter hom het sy ‘n kermende vrouefiguur uitgemaak. Die kok? Mevrou Marks? Wat maak sy in die tonnel?

Hulle het haar nie gesien nie. Gekerm oor testamente en slange en die kinders.

Die kinders? Sy sien hulle nie.

Waar is die kinders? het sy geskree.

Weer en weer en weer. Tot hulle opkyk.

Sy het nie die waansin in meneer Hardy se oe gesien toe hy opkyk nie. Eers die gevaar besef toe hy die yster in die lug swaai. Op pad na haar toe …

***

Die Towerinne het na hulle asem gesnak!

Seegogga het opgewonde op en af gespring. Uiteindelik was dit haar beurt om verder te vertel.

Gepubliseer in Joernaal

Christa: Hoofstuk 8 – Lady in red …

Hier is die agtste hoofstuk van storie oor die Towerinne en Coronanmouna. Soos gewoonlik by ‘n vervolgverhaal, moet almal wat wil deelneem ‘n inskrywingsvorm voltooi – kry die vorm hier: https://forms.gle/spN3EwV1kt5wGW9F9. Bloggers skryf in die volgorde waarin hulle inskryf – kyk na HIERDIE vorm (spreadsheet) wat outomaties op datum gehou word om te sien wanneer dit jou beurt is om te skryf.

NB! Hierdie uitnodiging is oop vir alle bloggers op alle platforms – ons soek altyd “nuwe bloed” om deel te neem aan ons uitdagings. As jy in Afrikaans skryf, sluit gerus aan by die Towerinne en neem deel aan hulle avonture. As jy nog nooit deelgeneem het aan een van ons uitdagings nie, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Onthou ook die addisionele reëls vir vervolgverhale – (1) wag jou skryfbeurt af, (2) wanneer ‘n nuwe blog geplaas word en jy is volgende aan die beurt – gee net eers ‘n dag of wat kans sodat almal die blog kan lees en kommentaar lewer voordat jy jou bydrae plaas en (3) plaas jou bydrae binne die volgende drie tot vyf dae sodat ons nie die vloei van die verhaal belemmer nie.

https://fresh.inlinkz.com/p/c0342166738644c9875c54b4f5669017

Om my hoofstuk te verstaam moet jy dakies net eers die vorige sewe lees. Volh hierdie skakel om hulle te lees: https://fresh.inlinkz.com/p/c0342166738644c9875c54b4f5669017

HOOFSTUK 8

Ek sit in my huisie nr 17 Towerinstraat Rebusfontein en is sommer baie spyt dat ek die Towerinne vertel het dat ek doodbang vir spinnekoppe is. Hoekom het ek nie maar gemaak soos in my eerste jaar as juffrou nie? Dan was ek nou saam met hulle. Tussen hulle.

Ek het by Hoërskool Noordheuwel begin, rykmanskool in Krugersdorp gewees daardie tyd. Ek vermoed dit is steeds. Die hoof het ons klompie groentjies gewaarsku. Wees maar versigtig, die kinders se speelgoed op die oomblik is Tarantulas.

Ek wou die apiestuipe kry. Ek het ‘n heilige vrees vir die goed. Alle agtpotiges. Het gevoel hoe die warm Januarie my bene nog meer laat sweet, druppeltjies teen my binnebene laat afgly. En nee Una, dit was darem nie piepie nie. Daardie tyd het alle knypers nog baie goed gewerk. Ek het in my lang rompe vergaan van die hitte. Ons moes nog sykouse en hofskoene dra.

En toe is dit sewentig keer erger. Spinnekoppe. Grotes, hariges. In ons land. Tarantulas?

Ek het besluit om te ‘fake it till you make it.” En dit het al my wilskrag gekos. Om van Tarentulas te vergeet. Want geen vervlakste kind sou uit my mond hoor dat ek vir ‘n spinnekop bang is nie. So het ek verskeie kere deur die dag kollegas hoor gil en dan baklei. En dan is kinders verby my deur – aan die ore – kantoor toe gesleep.

Tarantula in die laai. Tarantula op die stoel. Tarantula in die handsak.

Ek was veilig. Wat sou die grap daarin wees om my bang te maak? Maar my oë het geweet waar elke spinnekop in die klas was. Elke kind is deurgekyk as hy of sy in die klas in stap. Ek sou weet as een losgelaat word.

En nou is ek stoksielalleen in my huisie … En ek wens ek was nie bangjan nie. Want dit is donker. Almal wat my ken, weet dat ek die bobbejaan agter die berg gaan haal.

Ek wou al soveel keer ‘n boodskap gestuur het om net te hoor hoe dit gaan. Maar veel eerder om te weet wat hulle sien. Doen. Ek moes gereed wees.

Is hulle veilig?

Maar dan is hulle aandag nie op die pad nie. Nie op die kerse nie. En ek wil maar net nie dink wat gaan gebeur as die kerse doodwaai nie.

Dan wag ekke maar.

Ek het, toe dit wil donker word, oorweeg om saam met Kameel en Lorenzo te gaan. Maar sy was nogal kwaad. Toe bly ek liewer om brandwag te speel. Vir ‘n histeriese gil elke keer as ek ‘n spinnekop sien, sien sy dalk nie kans nie.

Spinnekoppe is donker. En so vervlaks klein dat mens hulle nie gou genoeg sien nie.

“Yeah right” Tot die een vir Una weggedra het. Ek verkies om by my huis te bly. Deure toe, ek dink nie hulle kan deure oopmaak nie. Hulle is te groot om by skrefies in te kom. Ek sit in elk geval met ‘n watergeweer vol Domestos gereed. Iets moet help as Doom hulle laat lol, gaan Domestos hulle laat gly? En haarspray. Om pote gommerig te maak.

Waarom die towerinne hulle wil gaan vang en steriliseer en wegbêre weet ek nie. Hoekom Perdebytjie vir spinnekoppe lief is, weet ek nie.

Ek skat daar is drie van ons wat hulle dood verkies. Ek soek hulle dood. Vir my is die enigste goeie spinnekop ‘n dooie spinnekop. Ek is bly ek het my Schnauzers by die huis gelos. BB sou hulle nie los nie… Dan moes ek gaan red.

Skielik hoor ek ‘n geritsel. Wat al harder word. Skoon witgeskrik probeer ek die gedagtes uit my kop gooi. Ja, ek wou hulle mos doodwens. My beurt?

Die geristsel klink nie soos ‘n mens met sy twee bene of ‘n dier met sy vier bene nie. Dit is nie die towerinne nie?

Ook nie soos ‘n voël met sy twee vlerke of die muisagtige vlermuise met lelike, benerige vlerke nie. Darem ook nie soos ‘n duisendpoot met sy 1000 (Hmmm) pote nie.

Ek hoor ses pote. Amper soos die gallop van ‘n perd. Net met die ekstra trippel tussen-in. Met my hart in my keel luister ek verder.

Ses pote, ses pote, ses pote, ses pote …

Sjoe, nou kan ek weer asem haal. Spinnekoppe het agt pote, ek hoor keer op keer net ses.

Diere met ses pote is nie so erg soos die met agt pote nie. Troos ek myself.

Mier? Nee liewer nie, hulle is altyd in hordes bymekaar. Ek hoor nie hordes nie. En ek is moeg baklei teen miere.

Ek verwonder my skielik aan my nuwe gehoor. Man, manlief gaan bly wees. Ek kan nou sowaar ‘n mier of iets buite hoor stap.

Ek skat ek gaan ‘n aanwins vir die sirkus wees. Die vrou met die supersoniese gehoor. Ek hoor al: Dames en here (so uitgerek) verwelkom hierdie towerin in die arena. Sy sal kan hoor as ‘n mier onder jou stoel stap … Dit help om die bang weg te hou.

In ‘n waan van superkragte maak ek die voordeur oop. Miere is klein. En ek kan hulle nou hoor.

Eers sien ek niks nie.

Dan begin dit vorm aanneem.

Poot vir poot vir poot vir poot vir poot vir poot.

Ses pote. Pilare vir pote. Takhaarpote!

Ek kyk op en op en op en dan verstar ek.

‘n Massiewe kop, en een nog massiewer maag is aan die bokant van ses pote. Una se beenhare van die sirkus lyk kort teen die hare wat van die maag en bene afhang. Swart hare, met bietjie rooi daarin. Rooi vir gevaar. So onder die straatligte skitter dit.

Die voorpote is ingevou soos ‘n mens s’n. Een wat iets in sy arms dra. Soos ‘n babatjie vashou.

Een massiewe spinnekop kom na my huisieaangestap.

Ek wil gil, maar kan nie. Ek soek ook nie sy aandag nie, dankie. Hy sal vinniger by my wees as wat ek by die deur kan invlieg en toemaak.

Buitendien, wie gaan my hoor? Lorenzo is ook weg agter die Towerinne aan.

En dan hoor ek die lied wat die spinnekop begin sing, en dan net verder neurie:

I’ve never seen you looking so lovely as you did tonight

I’ve never seen you shine so bright

 

[As jy dit nie ken nie]

My hart wil gaan staan, het die ding koekoes geraak? Daai is een van my gunsteling liefdesliedjies. Hy kyk na die iets in sy twee voorpote en probeer sien. Hoe lyk sy oë? Dit is belangrik … Kwaai? Vriendelik?

Die lied en die spinnekop trek my soos ‘n magneet, hou my voete en hande vasgevang waar ek staan. Ek kan nie beweeg nie. Voel amper die spinnerakke my wil vasklou.

Wil hy dit beskerm? Of wil hy dit eet?

Hy sien my nie, net nou en dan kyk hy af op die iets in sy arms. Iets wat soos ‘n baba gedra word.

Dan skyn die straatlig vol op die iets in sy arms.

My mond gaan oop om te gil, maar niks kom uit nie. My hart pomp so vinnig dat ek hom hoor.

Liewe hemel, dan kan die spinnekop dit ook hoor? Ek druk op my bors om die klank te probeer demp,

Want – ek het my asem weggeskrik.

Toortsie lê opgekrul in sy arms.

Dit is Toorts met die rooi kopdoek.

Dan sien ek Kameel se sexy rooi bloes, rooi romp em rooi skoene …

Altwee lê ‘happy go lucky’ in sy harige voorpote opgekrul

In die straatlig sien ek hoe Toortsie haar kop oplig, vir die spinnekop glimlag en dan vir Kameel. En haarself opkrul. Terwyl sy die spinnekop se beenhare uit haar gesig hou. Kameel lag en lê soos in ‘n hangmat, bene wat oor die voorpote afhang en op die maat van die musiek swaai.

Betower daardie lied hulle ook? Hoe het hy geweet?

En hy sing van Lady in red …

Wat het hy met hulle aangevang? Verlam?

Is Toortsie en Kameel dronk? Toorts is met witblits hier weg. Drank doen dit aan my, maak my bene lam en dan wil ek net slaap …

Want die Toortsie wat ek ken, sal nie so vir ‘n spinnekop glimlag nie. Selfs nie eens met liters witblits in nie.

Buite sing die spinnekop ‘n nuwe liedjie wat my beenhare, armhare en selfs my tande laat rys.

Hierdie selfisolasie het te lank geduur. Gaan baie langer duur. Ek het koekoes geraak. Of het die spinnekop koekoes geraak?

Ons is gedoem …

Die stemming, alles het buite verander. Die manier van loop ook. Terwyl die woorde van Anton Myburg hard saamgesing word:

Sy is mooier as mooi
elke man is haar prooi ha-ha
En orals waar sy gaan
het die manne tou gestaan ha-ha

Jou nommertjie is op
by die wyfie spinnekop ha-ha
Ja sy gaan eers met jou speel
en dan vreet sy jou op ha-ha

Sy is mooier as mooi
elke man is haar prooi ha-ha
En orals waar sy gaan
het die manne tou gestaan ha-ha

Sy span haar spinnerakke
van die vloere tot die dakke
vir jou
En raak jy daarin verstrengel
dan verskyn sy soos ‘n engel
en vreet jou op

Sy span haar spinnerakke
van die vloere tot die dakke
vir jou
En raak jy daarin verstrengel
dan verskyn sy soos ‘n engel
en vreet jou op ha-ha

Ahoema (14x)

En as sy jou eers kan soen
is daar niks wat jy kan doen ha-ha
Want haar gif is in jou are
en jy droom oor haar vir jare ha-ha

Sy span haar spinnerakke
van die vloere tot die dakke
vir jou
En raak jy daarin verstrengel
dan verskyn sy soos ‘n engel
en vreet jou op

Sy is mooier as mooi
elke man is haar prooi ha-ha
En orals waar sy gaan
het die manne tou gestaan ha-ha

Sy span haar spinnerakke
van die vloere tot die dakke
vir jou
En raak jy daarin verstrengel
dan verskyn sy soos ‘n engel
en vreet jou op

En raak jy daarin verstrengel
dan verskyn sy soos ‘n engel
en vreet jou op

Tickets vir jou pappie

[As jy dit nie ken nie moet jy hierdie skakel https ://youtu.be/VtbLo7vgKI4 kopieer en in jou webblaaier plak. Vee net die spasie tussen die https en die : uit, ek moes dit insit om die skakel te kan deel dat jy dit kan sien. Die prentjie van die video lyk soos onder, Anton laat ongelukkig nie toe dat dit op ander webwerwe speel nie.]

Sy rek en trek die Dit is tickets met jou pappie lank uit terwyl sy vir die twee towerinne kyk. Hulle sien niks, hoor niks, is heel gelukkig in hulle harige hangmat!

Ek was verkeerd! Mans dra nie goed so nie!

Dit is ‘n wyfiespinnekop. Hoe kon ek dit miskyk?

En sy is baie, baie kwaad vir die twee dames in rooi.

Haar hele houding wys sy is kwaad. Sy sing die woorde oor en oor soos wat sy aangestap kom. Marsjeer op die maat van sy lied.

En Toortsie lyk nie bang nie. Kameel lyk nie bang nie. Hulle sien nie die oë nie. Hulle glimlag vir die ding!

Nou kyk, toe kan ek dit nie meer hou nie. Verder gaan ek nie kyk nie.

Toorts en Kameel is, soos ek, bedwelm.

Toe haar kop verby is, vlieg ek die huis in. Sluit die deur. Staan en bewe omdat ek nie kans sien om my vriende te red nie.

Uit die lied verstaan ek waarom sy vir Camilla het. Sy is Rebus se sekskatjie. Maar waarom is Toortsie ook by? Die vrou vrees spinnekoppe, geen mannetjiesspinnekop sou gedink het dat sy aanlê nie!

En tik bewend die boodskap in die Towerinne se WhatsAppgroep. Moet honderd keer uitvee omdat my bewende vingers nie die knoppies kry nie. Oorweeg voice note, maar hulle gaan die vrees hoor. As ek my stem gewerk kan kry.

SOS. S.O.S.

Julle moet kom help! Een ma se spinnekop is nou net hier in die straat af. Groot soos my huis. En sy is op pad iewers heen. Met Toortsie en Kameel in haar arms.

Perdebytjie gaan verder vertel …

Verwysing: https://muzikum.eu/en/123-15244-220284/anton-myburgh/spinnekop-lyrics.html#ixzz6ORbLZQol

Gepubliseer in Reisjoernaal

Nommer 17 Rebusfontein word Welgevonden

Hierdie skryfstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur. Die ander hoofstukke kan hier gelees word

***

Ons nuwe vervolgverhaal is iets in ‘n klas van sy eie, ons herdoop ons huisies in Rebusfontein. Want sien. Die straat het te lank geword en ons huisies staan eintlik glad nie soos soldaatjies in ‘n ry nie. Inteendeel.

Dit is towerhuisies het in ‘n tipe van sirkel beweeg in een van die vorige hoofstukke, om ‘n cul de sac te vorm. Met twee bome in die pad, wat net oopskuif as jy die wagwoord ken. Om die dorpie so klein bietjie misterieus te maak.

Ek het verlede jaar ongeveer hierdie tyd vinnig ingetrek. Nommer 17 is aan my toegeken. En dit is steeds my nommer, ek hou daarvan. My verjaarsdagdatum. ‘n Leë erf waarop ek my eie huisie moes bou. My huisie se beskrywing ‘n jaar gelede. So twee weke gelede was daar skuiwe in Rebusfontein en ek het so bietjie gesukkel om n die huisie te gaan.

Ek dink ek het haar nie na my smaak gebou nie. Min beskryf, een slaapkamer, rekenaar om my werk by my te hou. Ek ‘n poniestertvrou. Om sommer vinnig en maklik by ‘n nuwe avontuur in te spring. Nou weet ek waarom die poniestert.

Mens. Dit is droog in Qazaqstan hierdie tyd van die jaar, ook in Almaty. My hare staan in alle windrigtings en ek het sowaar nou begin om my hare soos in my kinderdae op te doen. Poniestert, draai krulle met die vingers en steek vas, in ‘n soort van bolla. Hou nogal daarvan, wonder waarom ek dit nie lankal probeer het nie? Ek hou nie so baie van vassteek met versierde knippies, daardie soort wat soos knypers werk … al kan ek hulle glad nie weerstaan nie. Ek koop gereeld …

Iedergeval, ek het besluit om die huisie wat ek aanvanklik gebou het, in ‘n gastehuis te omskep. Om my nuwe huisie effens agtertoe te plaas, op ‘n hoogtetjie in die bos en oor die rivier wat in die dam inloop. Sodat ek bo-oor die gastehuisie kan kyk. Op die binneplein van die dorp wat Woordnoot begin beplan het (sien vorige hoofstukke). Maar ook om ‘n uitsig oor die wêreld om my te hê.

Vir baksteenbou het ek nie weer kans gesien nie, want ek het die wonderlikste soort huisies in Qazaqstan ontdek. Yurts.

Die materiaal vir my yurt (groot foto), het ek per lugvrag na Kaapstad gestuur, waarvandaan dit per bakkie na Rebusfontein gevat is. Ek en die materiaal het so saam-saam in Rebus aangekom. Toortsie het die materiaal (groot foto onder) so staan en bekyk en toe die vraag gevra wat op almal se lippe is. Wat is dit?

Waarvoor is die skip se stuurwiel? wil Virgo weet.

Dit is die materiaal vir ‘n yurt, Toortsie, het ek geantwoord. En dit is nie ‘n stuurwiel nie, dit is die boonste opening van die yurt. Ek dra sommer die wikipedia beskrywing voor:

A traditional yurt or ger is a portable, round tent covered with skins or felt and used as a dwelling by several distinct nomadic groups in the steppes of Central Asia. The structure consists of an angled assembly or latticework of wood or bamboo for walls, a door frame, ribs, and a wheel possibly steam-bent. Wikipedia

Ja, vertel ek verder, yurts is kenmerkend aan Sentraal-Asië se nomades wat die Steppe bewoon het. Ek kry nie ‘n Afrikaanse woord nie, neem aan dit is in Afrikaans ook ‘n yurt. Yurts is ‘n tradisionele vorm van behuising in Qazaqstan. Hierdie tenthuise kan opvou in klein eenhede wat maklik getrek kan word. Vir die nomades wat so van plek tot plek trek. Om iewers anders weer vinnig opgeslaan te word.

Wil jy dan vinnig kan weggaan, Christa? Toortsie lyk bekommerd, en ek sien dit is die ander se vraag ook. Nee, ek gaan nêrens heen nie, ek bly het hier.

Die towerinne wil nie wag tot dit opgeslaan is nie, hulle wil eers weet hoe een lyk. Dus stuur ek sommer my foon om met ‘n paar foto’s van voorbeelde van yurts om.

Oe, vra Positief, watter prentjie het jy gekies?

Nee, wat, verduidelik ek. Ek het maar so neutraal as moontlik gebly. Groen mure om by die omgewing aan te pas en wit dak (hooffoto). Ek kon nie ‘n mooi houtdeur weerstaan nie.

Almal wil help om die yurt op te slaan, dus sit ons sommer op Seegogga se stoep na die so-maak-mens video en kyk.

Hier is ‘n korter video’tjie …

Ek dog dit gaan ure vat, maar nee.

En toe begin ons werk. Die mans wat die yurt kom aflaai het, het die vloergedeelte (hooffoto) oor die sloot wat as garage vir die boot dien reg neergesit en vasgekap. Toe is hulle daar weg. Dus was ons net vir die opslaan gedeelte verantwoordelik. En dit was pret.

Ek het soms so bietjie gejippo, dan het ek van ver af gekyk hoe almal dit geniet. Dit is ander as karavaanopslaan, tentopslaan en kampplek opslaan. Dit is vet pret.

Ek het gesorg dat die deur op die regte plek is. Virgo se stuurwiel het ons so saam saam die lug ingestoot. Ons het die pale op die houtmuur gerus en dan in die gaatjies in die stuurwielopening ingedruk, eers twee wat teenoor mekaar staan en dan nog twee en so aan tot almal ingesteek was. Ons het die ring op twee lere laat rus toe hy in die lug gestoot kon word om die dakopening te vorm.

Ook hier het ons sirkusdae gehelp, die pale is netjies ingedruk. Woordnoot het hare die maklikste reggekry.

En toe vat die towerinne net oor en ek moet seker maak dat alles op die regte plekke is.

Appeltjie en Aalsie het die opslaan van die mure die meeste geniet. Ek vermoed dit is omdat hulle musiek so baie geniet. Die uitrek van die gaas en strek om die rondtes van die vloer van die yurt het groot pret verskaf.

Perdebytjie en Una het soos wafferse sammajore die muurgedeelte van die yurt se een sy aan die deur vasgemaak en toe al giggelend om die raam van die muur gehardloop om die ander sy aan die ander kant van die deur vas te maak. Ons sirkus avonture het toe gehelp.

Daarna het Sonell op die leer gestaan en Bondels het die dak se verskillende lae aangegee sodat Sonell dit deur die opening kon gooi om soos ‘n tafeldoek oor die dak se pale te vou.

Ek het omgedartel en seker gemaak dat die dak se flapgedeelte oor die mure vou om goggas en water buite te hou. Vanaand gaan ek die slaap van ‘n moeë, maar gelukkige vrou slaap.

Ek het omgestap en die seile by die vensters oopgemaak dat lig instroom, sagte lig wat deur die bome om die yurt omring se blare syfer. Hemel op aarde. So in ‘n ronde tenthuisie.

Toortsie en Seegogga het binne seker gemaak dat alles op hulle plekke bly.

Ek het lemonade met lemoen, gemmer en mint gemaak en ons het laggend op die dek se rand gaan sit, met ons bene oor die rand gevou, skoppend terwyl ons oor die pret met die opslaan van die huisie van my gesels.

Virgo wou net sien hoe die sauna opgeslaan word, dus het sy vir Positief opgekommandeer om te help opslaan. Virgo het gesê sy gaan nie sauna nie, sy kry genoeg stoombad as sy in Aby Dhabi buite rondstap. En ek neem haar so wraggies nie kwalik nie, ek sou ook nie nog stoom wou kry nie.

Woordnoot het my gehelp om die buitestort op te slaan. Sy sou dit eerste kom toets, maar al towerinne het besluit om almal die aand te kom toets. Virgo moes ook maar net inval.

Ek het by die tafeltjie gesit, lemonade gedrink en die sterrehemel bewonder. Dit is salig om so klomp jolige vriendinne te hê. Ek sauna nie self nie, maar myne staan oop vir almal wat van stoom hou. Ek haat dit …. Toe ek weer sien, sit ‘n paar van die huisies se feëtjies saam met my en lemonade drink. Hulle kon die aarbeie, gemmer en mint net nie weerstaan nie.

Toe is ons klaar opgeslaan.

Aan die agterkant van my huisie is die rivier lekker breed, die ski-boot staan gereed om ons vinnig oor die rivier te neem as ons kos wil gaan koop. Hy staan gewoonlik onder die dek …

En daar is ‘n berg aan die anderkant van die rivier.

Môre kom die inhoud van die huisie, vanaand slaap ek in die gastehuisie wat dei erf met Welgevonden deel.

En ek kan nie help om te wonder of die towerinne ooit kon droom dat ek soveel in die huisie kan pak nie. My studeerkamer is bo, die bed is onder dat ek na die sterre kan kyk voor ek aan die slaap raak … met ‘n byna 360 grade uitsig op Rebusfontein.

***

Na die sauna gesels ek en die towerinne oor die naam van my huisie. Die aankmgewery was nogal so ewe op die uwe se aandrang. Om so seker te maak dat oud-inwoners kan terugkeer na hulle genommerde huisies, sonder dat nuwe inwoners wonder waar hulle huisies nou eintlik mag staan. Ons huisies kan vorentoe en agtertoe skuif, die op die rand het feëtjies in wat die huisies vir die oud-inwoners oppas.

Ek het dae aaneen geloop met idees vir my huisie se naam. Wat kan dit wees? Vryheid? O nee gaats, daardie naam is reeds gekies.

Yurt? Almal weet nou wat ‘n yurt is, dus sal dit ook nie werk nie. Christa se yurt sal wel soos Toortsie se plek kanwerk, maar dit is dan na-apery.

Ons huisie op die wal van die Vaalrivier se naam is Vaal-de-Vrede. Vrede langs die Vaal. En ons beleef dit al soveel jare lank daar. Ek hou daarvan. Die naam kan ek egter nie kies nie, dan gaan ‘n hele paar mense dink ek praat van die huisie by die rivier.

Rus & Vrede? Dit klink so wonderlik, maar terselfdertyd so voorspelbaar. Voorspelbaar omdat ek dan gaan dink dat daar nie rus en vrede is nie as die onvoorspelbare towerinne weer ‘n ding in die dorp aanvang. Soos om arme Una aan die sirkus te verkwansel. Of het ons haar net geleen?

Welgedacht? Sjoe, daardie ene klink lekker. Nee, nou weet ek. Ek gaan dit na oupa Fourie se plaas vernoem.

Welgevonden. Dit gaan my huisie se naam wees.

Dit herinner my aan die plaas, bloekombome in ‘n laning waarlangs mens moes ry tot by die opstal. Bome waaronder ons tussen al die plaasgereedskap deur gespeel het. Ons vyf dogtertjies en baie, baie niggies.

In ons familie aan my pa se kant was daar vier ander niggies wat saam my ouderdom was: Rika van oom Hennie Fourie van Bethal, Ansie van oom Piet Fourie van Meyerton, Anita van tannie Sannie Malan, my pa se sus, Santie van oom Daan Fourie en ek, dogter van Jan Fourie, eers van Modderfontein en daarna van Ermelo. Ons was groot maatjies, ons vyf niggies. Ek voel eintlik sleg dat ek nie kan onthou of my sussies saamgespeel het nie. Ek neem aan almal het niggie maatjies gehad.

Ons niggies was op soek na insinkgaatjies wat soos tregters lyk. Om die toktokkies met stokkies uit hulle gaatjies te lok. Sodat ons die volgende een kan gaan soek. Ons het niks aan hulle gedoen nie, maar hulle wel soms op ‘n handpalm getel. Om te kyk hoe lank ons kon stilstaan met ‘n goggatjie wat met spookasem sagte pootjies oor ons hande loop. As hy egter probeer om ‘n gaatjie te maak, is hy gou teruggesit.

Ons het daar manna opgetel. Ek wonder altyd of dit proe soos die manna in die Bybel. Seker maar? Dit was sag en soet en lekker. Soms bietjie harder. En net soms het voëltjies ons vir ‘n pop gevat. Dan het jy dogtertjies vinnig sien spoeg.

Die naam is ook gekies omdat ek die dag toe ek ‘n blogverhaal van die towerinne raakgelees het en besluit het om kommentaar te lewer, ‘n goeie vonds gemaak het.

Goed, my huisie het ‘n naam: Welgevonden.

Ek het ‘n groeiende groepie blogvriendinne raakgelees wat in hierdie dorpie saamwoon en wonderlike avonture beleef, gereeld aan hulle huisies timmer om dit mooi te maak en my uitdaag om buite my gemaksone te beweeg om dieselfde te doen.

Dit was inderdaad Welgevonden …

Ek bring manlief nie saam nie, sy verbeelding werk nie so lekker nie …

Fotokrediet: Al die foto’s is geleen op Google, die videos is van Youtube gedeel.

Gepubliseer in Joernaal

Verwelkom nuwe inwoner op Rebusfontein

Tyd vir Rebusfontein, my fantasiedorpie. Die een waar die goue vroue bly.

***

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.
Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.
Rebus is ons wegloop-plek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.
As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.
Lees voort “Verwelkom nuwe inwoner op Rebusfontein”