Gepubliseer in Bloguitdagings,Joernaal

Kersfees tyd, geskenke en wense

Dit is weer tyd vir kersfees. ‘n Tyd wat my altyd na aan die hart lê, die liggies, geskenkies, die feestelike stemming.

Vanjaar gaan ek ook by Rebusfontein in;oer, my Kazakhhuisie het darem liggies kry en ‘n versiering op die voordeur. Ek sal my maaskaastert saamvat, en versnaperinge wat nog nie op die tafel is nie. Dalk moet ek dumplings vat, dit is ‘n Kazakh gunsteling. En sushi? Ek sien uit na ‘n kuier saam met vriendinne wat my net die beste toewens. Soos ek vir hulle. Wat meer kan mens vra?

Carien het van ver gekom, al die pad van die sandland af. Una ook, maar nader aan die RSA. Toortsie en Letty-Anne en die meeste van die ander is daar. Ek moet gou gaan loer wie het nog aangekom. My siel het dit gemis …

Ek bly net nie vir kersdag nie, ek en manlief gaan see toe, en die jaar gaan ons alleen, die kinders is by hulle skoonfamilies kersdag.

Ons gesin het ‘n tradisie. Kalkoen, gammon, en res van hoofgereg my en sy werk. Voorgereg en nagereg die twee kinders s’n, kan kies wie maak wat.

Vanjaar gaan ons dit nie doen nie, te veel kos vir ons tweetjies. Maar, ons hou twee vooraf kersetes, een saam met seun en skoondogter en kleinseun volgende Donderdagaand, voor ons ry. Met gammon en als, maar ons twee maak ook alles. En een oukersaand saam met dollatjie en skoonseun en drie kleinseuns – by die see, maar by ons huis. Beide etes gaan met kersboom en geskenkies saam. Maar, ons het onlangse tradisies verander.

Iewers het dit begin gebeur dat ons spoke kies, en die spook koop net vir sy spook. Dit is moeilik, want dan is daar mense by die boom wat geskenke kry, maar nie daar is nie. Of, ons moet gaste inreken en vir mense geskenkies koop wat ons nie regtig ken nie.

Nou is ons terug by die ou stelsel, maar aangepas. Elke paartjie koop vir die twee ander paartjies iets. Dit het prysbeperking. En, ons kry dus ons geskenkies reeds voor kersdag by die twee verskillende kersbome.

Ek en manlief sien vreeslik uit, die goed en geskenkies is die naweek al gekoop en toegedraai. Die tafel is amper gereed, die spyskaarte klaar uitgewerk. So terloops, ek doen dit wel vir kersetes … die beplanning. Seker laas jaar se groot skrik op Stilbaai toe die winkels toe was en ons goed moes soek …

Ons kersdag gaan nie uit kosmaak bestaan nie.

Ons gaan vroeg oggend opstaan, kerk toe gaan en dan gaan ons ‘n piekniekmandjie pak en af gaan strand toe om op die strand te sit en eet terwyl ons die see bewonder. Geen swaar maag daarna nie, net genoeg om nie honger te ly nie …

Jy weet, Stilbaai se weer is baie wispelturig. Vanjaar was dit koud as ons daar aankom, wind het gewaai en ons was nie regtig lus om op die strand te loop nie. Dwarsdeur die jaar. Junie toe ons Shilo aan die slaap laat maak het, was dit so ysig. En dit was ook so die ander kere.

Desember is anders, die weer was laas jaar goed. Ons was net min op die strand, Altans, ek was min. Gaan wou ek gaan, maar dan sou ek alleen moes gaan …

Geskenkies? Wel myne is soortgelyk aan my blogvriendinne s’n. Ons plekkie se naam is StilTeVrede. Dus Stil & Tevrede, of Stilte & Vrede. Beide sal vir my siel goed wees na hierdie baie besige jaar. Ek is op, emosioneel uitgeput en lam. En dink ek ly aan post traumatiese stres, wat nie weggaan nie omdat daar elke keer weer iets is wat die spanning maande lank hoogty laat vier.

Ek was nou soort van reg, maar toe kry ek WhatsApps van ‘n vrou wat my siel aan stukke gekerf het. En niemand wil verstaan waarom dit my so tref nie. Ek ken haar mos goed, vat dit van wie dit kom. Dit is nie so maklik nie. Ek is ‘n juffrou, ons glo mense leer uit hulle foute.

Toe nie. Ek het egter wel besluit om nie te reageer nie. Maar, ek moet byvoeg, daar is ‘n nooit weer nie. Die getalletjies kan maar by haar naam ophoop, ek sal nie weer kyk wat daar staan nie … Ek kan nie.

Wat wens ek vir jou?

‘n Vakansie en feestyd soos wat jou hart begeer en nodig het. Alleen, met ander saam, maar net soos jou siel dit nodig het. Met baie meer daarby … En natuurlik, met die seën van die Here oor almal. Dit is wat ek ook graag wil vra.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

25 gedagtes oor “Kersfees tyd, geskenke en wense

  1. Dumplings. Nou probeer ek dink wat dit nou weer is?
    Ons het vir jare al die gewoonte om al vroeg in Desember ‘n groot familiekersfees te hou sodat almal wat na skoonfamilie toe moet gaan, maar kan gaan. Dan bepaal ons ‘n bedrag en elkeen koop een geskenkie vir iemand soos hy (man of vrou). Maar ouma koop natuurlik mos maar vir al haar nasate.
    Sterkte met die een wat jou hart so aan flarde het.

    Liked by 2 people

    1. Dumplings is sulke deeg goetertjiies wat mens met goedjies vul. Soos vleis, aartappels of selfs soetgoedjies. Dan dompel jy dit in kookwater tot gaar. Of so iets. Hier kan mens dit by Sjinese plekke koop, ek dink Indiērplekke ook? Maar, ek vertrou hulle nie met wat binne-in
      is nie. Ek sou leer maak, toe vlieg die tyd en tref die pandemie ons.

      Liked by 1 person

    1. Dankie Frannie. Die een by die river was Vaal-de-Vrede, dus vrede langs die Vaal. Toe voel Stil de Vrede nie so lekker vir die een by Stilbaai nie. En maak ek Stil-te-vrede, wat StilTeVrede geword het, om die woorde meer as een keer vas te vang

      Liked by 1 person

  2. Ek en my man sou alleen gewees het, maar nou kom my seun vanuit Skotland! My dogter en haar familie kom eers later so ons sal hierdie jaar ‘n tweede kersfees hou want haar kinders is nog klein.

    Liked by 1 person

  3. Dis ‘n pragtige Kersfees wens waarmee jy afsluit. Geniet die vooraf etes saam met die kinders en kleinkinders en veilige reis na julle see-huis. Ek is super opgewonde oor Kersfees hierdie jaar … my broer, sy vrou en hulle twee kinders kom vir die eerste keer sedert 2018 weer uit die UK by ons kuier. Dit gaan ‘n heerlike samesyn wees. En ek vermoed die kos tafel gaan dalk net kreun onder al die lekkertes, want beide Berto en my broer maak graag kos. Ek dink dus daar gaan ‘n mengsel van boerekos en Engelse kos wees!

    Liked by 1 person

      1. Baie dankie, die lekkerste van so ‘n vakansie is daardie laataand om die vuur en die “onthou jy nog” stories. Ek gaan beslis regstaan met die kamera wanneer daardie manne in die kombuis toor met hulle lekker disse – en ek sal kom verslag lewer 🙂

        Liked by 1 person

  4. Sjoe Christa, dankie vir die mooi wense. Gelukkig het jy n span blogmaters wat daai mes uit jou rug sal trek en Virgo sal dit dokter. Die families wat nog tradisioneel kan Kersfees hou is min maar geseënd. Maar ek glo julle twee sal n heerlike dag hê.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.