Gepubliseer in Reisjoernaal

Tyd vir vere regskud in nr 17 Rebusfontein

Hierdie skryfstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur. Die ander hoofstukke kan hier gelees word

Ek het reeds vertel dat ons besig was om te toer toe die nuus inkom: Rebusfontein, ons skilderagtige dorpie in Suid-Afrika, het, net soos hy verskyn het, weer in die niet verdwyn.

***

Maar toe begin ons so huiwerig daaroor gis. En ons babbel en gesels in ons WhatsApp groepe en op die kommentaar van die hoofstuk waarin Rebus verdwyn het. En ons besef:

Dit is mos nie hoe dit werk nie. Dit is juis die lekker van ons vervolgverhale.

Elkeen bied aan om ‘n hoofstuk te skryf, afhangende van jou eie omstandighede. Soms het mens nie tyd nie, ander kere het jou muse so bietjie ruskans nodig. Ek maak tyd en dan raak die spanning in ons huis hoog as ek sukkel om werk binne sperdatums klaar te maak. Maar, towerinne altyd eerste as dit my beurt word.

Iemand gebruik elke keer die geleentheid om ‘n kinkel in die kabel te maak. Wat die skryfster na jou noodsaak om haar hoofstuk aan te pas wat reeds ver beplan was.

***

Toortsie, ons towerin wat haar nie deur inperkings laat hiet en gebied nie, het eerste met die nuus gekom, Rebusfontein is nie weg nie, dit het net tydens die inperking vreeslik verwaarloos. Ons is mos al maande in ons regte huisies vasgevang. In so mate, dat Rebus verwaarloos het. Siesa vir ons!

Sy en haar man het die nodige briewe en toestemming gekry om Rebus te mag besoek. As sy alleen was, was dit easy peasy, maar dit is so effens van ‘n probleem om die mans van een plek na die ander te vervoer. Hulle wil self bestuur.

Hulle wou gaan groet, afskeid neem, en wat ontdek hulle twee? Broodina het die brief geskrryf, niemand anders nie. Sy het ons vir ‘n aap gevat. Of soos die Kaapse mense sê, vir ‘n pop. Ampertjies het ons almal haar geglo!

Rebus se huisies was net leeg, want almal was of op toer, of ingeperk.

Seegogga het nie op haar laat wag nie, sy is dadelik in die pelikaan se bek saam met meneer Krap na Rebusfontein.

En sy het skoongemaak en die allermooiste hoofstuk geskryf oor hoe sy haar huisie gaan regpak het.

Una het vir ‘n vale gaan werk, mens sal nie sê sy is op die oomblik ‘n baie besige vrou nie. Maar sy het dit terdeë geniet, niks so lekker soos om op Rebusfontein te gaan skoene uitskop, hare los te maak en in vriendskappe te belê nie.

En twee nuwe inwoners het die dorpie binnegeval, letterlik, want ons het hulle op die toere raakgetoer. En ek dink ek bewoord almal se gevoelens as ek sê dat ons twee hartsmense bygekry het. Soms wen mens vriendskappe, soms verloor jy weer. Hierdie twee gaan sommer gou agterkom. In Rebus wen mens meestal vriendskappe … ons vriendskappe is nie duur nie.

Dit is die absolute lekker om deel van die towerinne te wees. Hierdie groepie vrouens kan met woorde toor. Die woord sal seker nog in die woordeboek opgeneem word? Dit is ‘n nuutskepping wat verwys na vrouens wat met woorde kan toor en ‘n hele dorpie met sy inwoners laat verskyn. Maar meer nog

Ons vriendskappe is regtig egtig. Eg.

Ons leef ons ook in mekaar se werklike lewe in. Daar waar ons die towerin mantels afskud om kykies in ons ander lewens te bied. ‘n Groepie vrouens wat vir mekaar omgee, mekaar se gevoelens in ag neem en saamvoel as iemand seer het. Ons troos waar ons kan, ons lag saam, ons het ongelooflik baie pret saam.

En dit is heerlik. Want, ek sukkel met vriendinne wat soos stekelballetjies is. Jy weet, daardie soort wat jy graag wil koester, maar watter aanslag jy ookal probeer, kry hulle wel ‘n kans om ‘n seer steek in te kry.

Ek besef sulke mense het iewers seer, maar daardie steke is soos turksvy dorings. Jy sukkel om die dorinkies daarna uit te kry. Goeie les by my suster se kind geleer toe hy nog ‘n kleuter was. Tannie, ek kan nie nou praat nie, ek is te kwaad. Soms moet mens egter juis die kwaad weggesels, uitredeneer. Dit is nie baklei nie, dit is groei. Omdat mens onwetend op baie seer tone kon getrap het. En moet aanvaar dat jy ook verkeerd kon wees.

Vriendskap gaan nie oor reg of verkeerd nie, ook nie oor kante kies nie. Dit gaan oor ons is vriende … ten spyte van … en ons gesels dit uit ter wille van groei en nuwe hoogtes in die vriendskappe.

Iemand sê onlangs dat vriendskap duur is. Ek heg geen monetēre waarde aan vriendskap nie. Vriendskap is vir my kosbaar, en ek sal soms agter die gordyn werk om vriendinne weer te laat onthou dat hulle vriendinne is … Oudste sustersindroom …

Dus, liewe vriendinne, dankie vir die vensters Toortsie, die huis ruik sommer weer vars. Dankie dat jy die goggas verjaag het, jy weet hoe bang ek vir hulle is. En ek weet hoe bang jy is. Ek is jou ewig dankaar, die spinnerakke het gelig …

Appeltjie en Aalsie, ek geniet die manier waarop ek julle twee leer ken. Dit is absoluut heerlik om julle twee as buurvrouens te hê. Veral omdat ek so aangemoedig word om my huis te kom regmaak.

Positief, ek het heerlik saam met jou gaan kuier toe jy jou huisie gaan regskud het.

Kameel, Auf Wiedersehen, ek skat jy gaan nie te lank kan wegbly nie. Daar is dinge om te doen, plekke om te sien.

Tannie Frannie, ek hoop die seer is sommer gou oor. Gelukkig het die donkie jou nie weggevat nie. Ek was bekommerd toe hy so weghol, maar hy het jou mooi teruggebring.

Perdebytjie, Woordnoot, Scrapy, Virgo, Bondels en Sonell, dit is lekker om saam met julle in Rebusfontein te bly. Wanneer kom julle vir ‘n vinnige kuier?

Ek het so pas ingevlieg, dit was ‘n besonder lang reis met al die reëlings op lughawens. Het nooit geweet dit kan so sleg wees om te reis nie.

Dan gaan ek persente uitdeel …

Dan gaan ek aan die werk moet spring, daar is ‘n huisie wat ‘n regskud nodig het.

Tyd vir verandering, groei is belangrik, ontwikkeling ook.

Ontwikkeling beteken egter nie dat ek bereid is om my vriendskappe te verwaarloos nie. Dus is dit lekker om te sien hoe ons vriendskappe hegter geword het. Daar is niks so lekker soos om in vriendskappe te belê en saam te groei nie.

Daardie huisie moet mooigemaak word om my so bietjie aan Qazaqstan te herinner. Dankie vir die idees …

En dankie vir die opneem van ons motto, wat Bondels as ek dit reg onthou, die eerste keer tydens een van ons onlangse reise gebruik het. Ek sien ek was verkeerd, ek het dit by Woordnoot raakgelees.

All for one!

Uitgebrei na Brakkenjan se stelling: Een vir almal en almal vir een …

Hoe laat dit my nou na my kinders se kinderstories van toentertyd verlang? Toe ek die kenwysie van ‘n spesiale nuwe vriendin kry, het ek dadelik daarop aan die dans gaan. Ek kan my lekker in stories inleef …

Die lewe is goed en mooi en reg.

One for all and all for one …

Foto: My BB met ‘n doek om die mannetjies van haar weg te hou. Algehele vrede in die huis gewees, dan stuur die twee mannetjies, wat haar kinders is en so bietjie vergeet, nie hulle klaagliedere die hele wye wêreld in nie. Sy gaan elke keer saam Rebus toe, Shilo en Sobek ook.

Gepubliseer in Joernaal

2020 se kerstafel by Rebusfontein …

Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne/Goue Vroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en  onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/1109950914194acc97921a784266b3ec

***

Hierdie jaar het vol belofte begin. Ons was expats (wat ‘n lelike naam), ons was pas terug van kersfees in Suid-Afrika, ons sou Maart weer huis toe kom om ons jongste kleinkind te ontmoet. Die ses vlugte was reeds bespreek. Hy is op die laaste dag van Maart gebore. En toe gebeur die ondenkbare … alle lande in die wêreld sluit hulle grense. Ons ses vlugte heen en weer word gekanselleer. En ons sit tot 4 Oktober 2020 vasgevang in Kazakhstan. Eintlik moet ek skryf dat ons tot 3 weke voor die 4de Oktober nie geweet het of ons vir kersfees 2020 sou kon huis toe kom nie.

Die eerste twee maande na 17 Maart 2020 was soos iets uit ‘n bangmaakfliek.

Ons het kaartjies gekry wat ons toegelaat het om ewe dae uit ons huis te gaan. Net om kos en medisyne te koop. Wat minder as 500 m van ons af beskikbaar was. Naweke was ons opgesluit in die stad. Polisie het seker gemaak dat ons nie die stad verlaat nie. En niemand van die platteland kon in die stad kon inkom nie.

Ust’-Kamenogorsk – ala Öskemen – het ons tronk geword.

Mens was bang om in ‘n hysbak te wees. Het skielik nie meer mense gegroet nie. Ons moes met maskers loop. En ons hande oral laat skoonmaak. Dit was sowaar skrikwekkend om in ‘n apteek te wees. As iemand hoes. Want die virus was onbekend.

Later kon ons enige dag winkels toe gaan. Maar naweke was winkels gesluit. En nog later was winkels naweke oop, maar vakansieplekke steeds toe. Dit was ‘n anderste tyd. Ons was basies vry om te doen wat ons wil. Behalwe om oor die grens huis toe te gaan. Suid-Afrika se grense was steeds toe.

Einde Junie het ons Almaty toe getrek. En kon ek oor die stad uitkyk tot diep in die binneland in. Vanuit die vensters van ons woonstel op die 14de verdieping.

Toe bid ek by my oop venster terwyl ek oor die stad uitkyk:

Vader, help ons om kersfees te wees waar ons hoort. By ons kinders en kleinkinders.

En so val alles in plek sodat ons permanent huis toe kon kom. My hart loop van dankbaarheid oor. Anders as wat ek verlede jaar gedink het, sal kersfees nooit vir my vol sneeu moet wees soos in Kazakhstan nie. Ek soek geen wit kersfees nie.

Ons het ons eerste kersete Donderdagaand die 17de Desember in Umdloti gevier. Soos elke jaar as al my kinders nie kersdag by my kan wees nie.

En my tafel was maar karig gedek. Met wat in die gastehuis beskikbaar was. Ons het, anders as gewoonlik, potjie geëet. Geen kalkoen, geen gammon, geen klappers, geen kersboom met liggies. Ons was maar versigtig om winkelsentrum toe te gaan.

Want daar is stories dat matrieks ‘n groot fees in Umhlanga gehou het. En ‘n gogga laat versprei het. Ek is siek vir die naam daarvan, daarom net gogga. En daarom moes ons maar versigtig wees. Dis geen lersversierings gekoop nie.

Ek wou goed saamvat, maar ons het in Julie 2019 ons huis opgepak dat hy kan verkoop. En ek weet nie in watter boks die kersfeesgoed by die rivier verpak is nie.

Ons gaan kersfees saam met dollatjie en ons drie kleinseuns by die rivier hou. Seun en baba en skoondogter is steeds by die see, kom eers net voor nuwe jaar terug. Daar is wel kersversierings by die rivier. En dollatjie sal haar liggies saamvat.

***

En toe kry ek die skok van my lewe.

Mede-towerin en goue vrou Una dink ek is netjies en georganiseerd. En stel my sowaar aan om die kerstafel by Rebusfontein vir ons Goue Vroue te dek.

Wel, Una, ek het ‘n skok wat op jou/julle wag. Want hierdie vrou is nie so georganiseerd as wat jy/julle dink nie. Ek ly wel aan oudstekindsindroom, daarom sal die tafel gedek word. Ek waarsku net dat dit ‘n wilde rit – ek bedoel tafel – gaan wees ..

***

Eerste goed eerste.

Alhoewel Toortsie en Appeltjie die manne in hulle lewe saamgevat het Rebus toe net nadat dit kastig in die niet verdwyn het, word die kerstafel gedek sonder plek vir mans. Dit is tyd om te gesels sonder om aan mans se fiemies oor kos te dink. Dié tafel is net vir vrouens gedek.

Vroegoggend is ek reeds op om die tafel te gaan dek. Boerboelmodel Markus gevra om my net na vyf te kom wakker klop. Wie kan nou sukkel om wakker te word as hy voor my na die meent stap?

Mensig, ek hou baie van die Boerboel kleertjies wat hy dra. Veral omdat dit van voor nie so styf sit soos van agter nie …

Hy dra een massiewe ronde tafel op sy skouers, soos my pa altyd ‘n sak mielies oor sy skouer kon gooi. Ek dra die sakke met besonderhede waarmee die tafel versier gaan word. Daarna dra hy die messegoed en breekgoed aan.

Terwyl ek die bloedrooi tafeldoek in die lug opgooi dat die briesie dit oor die tafel kan sprei.

Dié takie moes ek meer as een keer herhaal omdat hy my aandag aftrek as hy wegstap om nog goed te gaan haal. Dan land die tafeldoek op die grond en nie oor die tafel nie.

Daarna is daar nie meer tyd om te ginnegaap nie. Die tafel moet gedek word. As die goue vroue aka towerinne opstaan, moet die tafel vir hulle wag.

Die piepklein kersboompies word in die middel van die tafel geplaas. Wittes, om my aan die sneeu te herinner wat nou dikker as ‘n meter in Öskemen (Ust’-Kamenogorsk) in Kazakhstan lê. En my daaraan te herinner dat my kerstyd nie weer so sal lyk nie. Dankbaar dat die Here my gelei het om in die vlees in Suid-Afrika te wees. Kersgety te vier saam met my gesin en die goue vroue.

Vrolike plekmatjies word gedek vir al die goue vroue wat reeds aangekom het, wie se liggies in hulle huisies gebrand het toe ek gisteraand gaan loer het. Feestelike prentjies wat die kersverhaal uitbeeld op elkeen gedruk. ‘n Wegneemgeskenkie vir my maters.

Nadat ons van die piekniek af terug gekom het, het ek probeer seker maak wir almal daar gaan wees. Ekke, Una, Toortsie, Appeltjie, Aalsie, Trommeltjie, Positief, VirgoC, Woordnoot, Seegogga, Sonell.

Ek weet ook Frannie wil bitter graag saam wees, maar sy is steeds in Amerika vasgevang. Ander het ook nog nie na Rebus teruggekeer nie. Die matjies vir die wat nie daar kan wees nie, word op ‘n tafel geplaas waar Toortsie die kos gaan uitpak. Dalk verras hulle ons?

Daarna volg die wit borde, vrolike rooi servette, ragfyn silwer servette om die rooies af te rond. ‘n Stukkie luuksheid wat ek ons gun na die jaar wat ons vir ‘n lang ruk vn ons geliefdes geskei het.

Die silwer messegoed met die fyn goue afwerking in die stele daarvan het ek spesiaal van Kazakhstan gebring. Asook die glase met die goue afwerking aan die rande daarvan.

In die middel van die tafel word plek gemaak vir die lemonades wat ek reeds gemaak het. Sitrus, met die lemoenstukke en gemmer en naeltjies wat daarin dryf om die smaakkliere te prikkel. Veselperske, wat ek vir die eerste keer probeer maak het, ek wonder hoe dit gaan proe. Komkommer, mint en gemmer is ook ‘n eerste probeerslag, dit herinner my aan die hitte van hierdie mooie land van ons. Peer, appel, bessies en aarbeie, elkeen met sy eie geheime bestanddele om die goue vroue te betower. Dit is soveel anders as die Suid-Afrikaanse lemonades, min gas, baie geur. Hulle staan in my yskas en wag om later uitgebring te word.

Oor elkeen van die stoele word kersvaderbaadjies gedrapeer, met die bande wat dit om die stoele hou. Dan word ‘n kersvadermussie oor die stoele gedrapeer.

Markus staan saam met my na die tafel en kyk.

Laat hom na die plaas verlang, het hy te vertelle. Kersfees saam met sy gesin. Dan raak hy haastig, hy moet sy ma en ouma gaan help tafels rondskuif.

Die tafel is gereed vir die goue vrouens wat netnou sal ontwaak. Toortsie sal vir die kos sorg.

Wel, Una, ek hoop jy hou daarvan. Ek het lekker gespeel met gedagtes.

Gepubliseer in Reisjoernaal

Nommer 17 Rebusfontein word Welgevonden

Hierdie skryfstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur. Die ander hoofstukke kan hier gelees word

***

Ons nuwe vervolgverhaal is iets in ‘n klas van sy eie, ons herdoop ons huisies in Rebusfontein. Want sien. Die straat het te lank geword en ons huisies staan eintlik glad nie soos soldaatjies in ‘n ry nie. Inteendeel.

Dit is towerhuisies het in ‘n tipe van sirkel beweeg in een van die vorige hoofstukke, om ‘n cul de sac te vorm. Met twee bome in die pad, wat net oopskuif as jy die wagwoord ken. Om die dorpie so klein bietjie misterieus te maak.

Ek het verlede jaar ongeveer hierdie tyd vinnig ingetrek. Nommer 17 is aan my toegeken. En dit is steeds my nommer, ek hou daarvan. My verjaarsdagdatum. ‘n Leë erf waarop ek my eie huisie moes bou. My huisie se beskrywing ‘n jaar gelede. So twee weke gelede was daar skuiwe in Rebusfontein en ek het so bietjie gesukkel om n die huisie te gaan.

Ek dink ek het haar nie na my smaak gebou nie. Min beskryf, een slaapkamer, rekenaar om my werk by my te hou. Ek ‘n poniestertvrou. Om sommer vinnig en maklik by ‘n nuwe avontuur in te spring. Nou weet ek waarom die poniestert.

Mens. Dit is droog in Qazaqstan hierdie tyd van die jaar, ook in Almaty. My hare staan in alle windrigtings en ek het sowaar nou begin om my hare soos in my kinderdae op te doen. Poniestert, draai krulle met die vingers en steek vas, in ‘n soort van bolla. Hou nogal daarvan, wonder waarom ek dit nie lankal probeer het nie? Ek hou nie so baie van vassteek met versierde knippies, daardie soort wat soos knypers werk … al kan ek hulle glad nie weerstaan nie. Ek koop gereeld …

Iedergeval, ek het besluit om die huisie wat ek aanvanklik gebou het, in ‘n gastehuis te omskep. Om my nuwe huisie effens agtertoe te plaas, op ‘n hoogtetjie in die bos en oor die rivier wat in die dam inloop. Sodat ek bo-oor die gastehuisie kan kyk. Op die binneplein van die dorp wat Woordnoot begin beplan het (sien vorige hoofstukke). Maar ook om ‘n uitsig oor die wêreld om my te hê.

Vir baksteenbou het ek nie weer kans gesien nie, want ek het die wonderlikste soort huisies in Qazaqstan ontdek. Yurts.

Die materiaal vir my yurt (groot foto), het ek per lugvrag na Kaapstad gestuur, waarvandaan dit per bakkie na Rebusfontein gevat is. Ek en die materiaal het so saam-saam in Rebus aangekom. Toortsie het die materiaal (groot foto onder) so staan en bekyk en toe die vraag gevra wat op almal se lippe is. Wat is dit?

Waarvoor is die skip se stuurwiel? wil Virgo weet.

Dit is die materiaal vir ‘n yurt, Toortsie, het ek geantwoord. En dit is nie ‘n stuurwiel nie, dit is die boonste opening van die yurt. Ek dra sommer die wikipedia beskrywing voor:

A traditional yurt or ger is a portable, round tent covered with skins or felt and used as a dwelling by several distinct nomadic groups in the steppes of Central Asia. The structure consists of an angled assembly or latticework of wood or bamboo for walls, a door frame, ribs, and a wheel possibly steam-bent. Wikipedia

Ja, vertel ek verder, yurts is kenmerkend aan Sentraal-Asië se nomades wat die Steppe bewoon het. Ek kry nie ‘n Afrikaanse woord nie, neem aan dit is in Afrikaans ook ‘n yurt. Yurts is ‘n tradisionele vorm van behuising in Qazaqstan. Hierdie tenthuise kan opvou in klein eenhede wat maklik getrek kan word. Vir die nomades wat so van plek tot plek trek. Om iewers anders weer vinnig opgeslaan te word.

Wil jy dan vinnig kan weggaan, Christa? Toortsie lyk bekommerd, en ek sien dit is die ander se vraag ook. Nee, ek gaan nêrens heen nie, ek bly het hier.

Die towerinne wil nie wag tot dit opgeslaan is nie, hulle wil eers weet hoe een lyk. Dus stuur ek sommer my foon om met ‘n paar foto’s van voorbeelde van yurts om.

Oe, vra Positief, watter prentjie het jy gekies?

Nee, wat, verduidelik ek. Ek het maar so neutraal as moontlik gebly. Groen mure om by die omgewing aan te pas en wit dak (hooffoto). Ek kon nie ‘n mooi houtdeur weerstaan nie.

Almal wil help om die yurt op te slaan, dus sit ons sommer op Seegogga se stoep na die so-maak-mens video en kyk.

Hier is ‘n korter video’tjie …

Ek dog dit gaan ure vat, maar nee.

En toe begin ons werk. Die mans wat die yurt kom aflaai het, het die vloergedeelte (hooffoto) oor die sloot wat as garage vir die boot dien reg neergesit en vasgekap. Toe is hulle daar weg. Dus was ons net vir die opslaan gedeelte verantwoordelik. En dit was pret.

Ek het soms so bietjie gejippo, dan het ek van ver af gekyk hoe almal dit geniet. Dit is ander as karavaanopslaan, tentopslaan en kampplek opslaan. Dit is vet pret.

Ek het gesorg dat die deur op die regte plek is. Virgo se stuurwiel het ons so saam saam die lug ingestoot. Ons het die pale op die houtmuur gerus en dan in die gaatjies in die stuurwielopening ingedruk, eers twee wat teenoor mekaar staan en dan nog twee en so aan tot almal ingesteek was. Ons het die ring op twee lere laat rus toe hy in die lug gestoot kon word om die dakopening te vorm.

Ook hier het ons sirkusdae gehelp, die pale is netjies ingedruk. Woordnoot het hare die maklikste reggekry.

En toe vat die towerinne net oor en ek moet seker maak dat alles op die regte plekke is.

Appeltjie en Aalsie het die opslaan van die mure die meeste geniet. Ek vermoed dit is omdat hulle musiek so baie geniet. Die uitrek van die gaas en strek om die rondtes van die vloer van die yurt het groot pret verskaf.

Perdebytjie en Una het soos wafferse sammajore die muurgedeelte van die yurt se een sy aan die deur vasgemaak en toe al giggelend om die raam van die muur gehardloop om die ander sy aan die ander kant van die deur vas te maak. Ons sirkus avonture het toe gehelp.

Daarna het Sonell op die leer gestaan en Bondels het die dak se verskillende lae aangegee sodat Sonell dit deur die opening kon gooi om soos ‘n tafeldoek oor die dak se pale te vou.

Ek het omgedartel en seker gemaak dat die dak se flapgedeelte oor die mure vou om goggas en water buite te hou. Vanaand gaan ek die slaap van ‘n moeë, maar gelukkige vrou slaap.

Ek het omgestap en die seile by die vensters oopgemaak dat lig instroom, sagte lig wat deur die bome om die yurt omring se blare syfer. Hemel op aarde. So in ‘n ronde tenthuisie.

Toortsie en Seegogga het binne seker gemaak dat alles op hulle plekke bly.

Ek het lemonade met lemoen, gemmer en mint gemaak en ons het laggend op die dek se rand gaan sit, met ons bene oor die rand gevou, skoppend terwyl ons oor die pret met die opslaan van die huisie van my gesels.

Virgo wou net sien hoe die sauna opgeslaan word, dus het sy vir Positief opgekommandeer om te help opslaan. Virgo het gesê sy gaan nie sauna nie, sy kry genoeg stoombad as sy in Aby Dhabi buite rondstap. En ek neem haar so wraggies nie kwalik nie, ek sou ook nie nog stoom wou kry nie.

Woordnoot het my gehelp om die buitestort op te slaan. Sy sou dit eerste kom toets, maar al towerinne het besluit om almal die aand te kom toets. Virgo moes ook maar net inval.

Ek het by die tafeltjie gesit, lemonade gedrink en die sterrehemel bewonder. Dit is salig om so klomp jolige vriendinne te hê. Ek sauna nie self nie, maar myne staan oop vir almal wat van stoom hou. Ek haat dit …. Toe ek weer sien, sit ‘n paar van die huisies se feëtjies saam met my en lemonade drink. Hulle kon die aarbeie, gemmer en mint net nie weerstaan nie.

Toe is ons klaar opgeslaan.

Aan die agterkant van my huisie is die rivier lekker breed, die ski-boot staan gereed om ons vinnig oor die rivier te neem as ons kos wil gaan koop. Hy staan gewoonlik onder die dek …

En daar is ‘n berg aan die anderkant van die rivier.

Môre kom die inhoud van die huisie, vanaand slaap ek in die gastehuisie wat dei erf met Welgevonden deel.

En ek kan nie help om te wonder of die towerinne ooit kon droom dat ek soveel in die huisie kan pak nie. My studeerkamer is bo, die bed is onder dat ek na die sterre kan kyk voor ek aan die slaap raak … met ‘n byna 360 grade uitsig op Rebusfontein.

***

Na die sauna gesels ek en die towerinne oor die naam van my huisie. Die aankmgewery was nogal so ewe op die uwe se aandrang. Om so seker te maak dat oud-inwoners kan terugkeer na hulle genommerde huisies, sonder dat nuwe inwoners wonder waar hulle huisies nou eintlik mag staan. Ons huisies kan vorentoe en agtertoe skuif, die op die rand het feëtjies in wat die huisies vir die oud-inwoners oppas.

Ek het dae aaneen geloop met idees vir my huisie se naam. Wat kan dit wees? Vryheid? O nee gaats, daardie naam is reeds gekies.

Yurt? Almal weet nou wat ‘n yurt is, dus sal dit ook nie werk nie. Christa se yurt sal wel soos Toortsie se plek kanwerk, maar dit is dan na-apery.

Ons huisie op die wal van die Vaalrivier se naam is Vaal-de-Vrede. Vrede langs die Vaal. En ons beleef dit al soveel jare lank daar. Ek hou daarvan. Die naam kan ek egter nie kies nie, dan gaan ‘n hele paar mense dink ek praat van die huisie by die rivier.

Rus & Vrede? Dit klink so wonderlik, maar terselfdertyd so voorspelbaar. Voorspelbaar omdat ek dan gaan dink dat daar nie rus en vrede is nie as die onvoorspelbare towerinne weer ‘n ding in die dorp aanvang. Soos om arme Una aan die sirkus te verkwansel. Of het ons haar net geleen?

Welgedacht? Sjoe, daardie ene klink lekker. Nee, nou weet ek. Ek gaan dit na oupa Fourie se plaas vernoem.

Welgevonden. Dit gaan my huisie se naam wees.

Dit herinner my aan die plaas, bloekombome in ‘n laning waarlangs mens moes ry tot by die opstal. Bome waaronder ons tussen al die plaasgereedskap deur gespeel het. Ons vyf dogtertjies en baie, baie niggies.

In ons familie aan my pa se kant was daar vier ander niggies wat saam my ouderdom was: Rika van oom Hennie Fourie van Bethal, Ansie van oom Piet Fourie van Meyerton, Anita van tannie Sannie Malan, my pa se sus, Santie van oom Daan Fourie en ek, dogter van Jan Fourie, eers van Modderfontein en daarna van Ermelo. Ons was groot maatjies, ons vyf niggies. Ek voel eintlik sleg dat ek nie kan onthou of my sussies saamgespeel het nie. Ek neem aan almal het niggie maatjies gehad.

Ons niggies was op soek na insinkgaatjies wat soos tregters lyk. Om die toktokkies met stokkies uit hulle gaatjies te lok. Sodat ons die volgende een kan gaan soek. Ons het niks aan hulle gedoen nie, maar hulle wel soms op ‘n handpalm getel. Om te kyk hoe lank ons kon stilstaan met ‘n goggatjie wat met spookasem sagte pootjies oor ons hande loop. As hy egter probeer om ‘n gaatjie te maak, is hy gou teruggesit.

Ons het daar manna opgetel. Ek wonder altyd of dit proe soos die manna in die Bybel. Seker maar? Dit was sag en soet en lekker. Soms bietjie harder. En net soms het voëltjies ons vir ‘n pop gevat. Dan het jy dogtertjies vinnig sien spoeg.

Die naam is ook gekies omdat ek die dag toe ek ‘n blogverhaal van die towerinne raakgelees het en besluit het om kommentaar te lewer, ‘n goeie vonds gemaak het.

Goed, my huisie het ‘n naam: Welgevonden.

Ek het ‘n groeiende groepie blogvriendinne raakgelees wat in hierdie dorpie saamwoon en wonderlike avonture beleef, gereeld aan hulle huisies timmer om dit mooi te maak en my uitdaag om buite my gemaksone te beweeg om dieselfde te doen.

Dit was inderdaad Welgevonden …

Ek bring manlief nie saam nie, sy verbeelding werk nie so lekker nie …

Fotokrediet: Al die foto’s is geleen op Google, die videos is van Youtube gedeel.

Gepubliseer in Joernaal

Verwelkom nuwe inwoner op Rebusfontein

Tyd vir Rebusfontein, my fantasiedorpie. Die een waar die goue vroue bly.

***

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.
Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.
Rebus is ons wegloop-plek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.
As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.
Lees voort “Verwelkom nuwe inwoner op Rebusfontein”