Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Om deel van ‘n aanlyngroep te wees

My studieveld is verhoudinge en hoe mense verhoudinge bou om ‘n doel te bereik, veral as dit gaan om oor saamleer. Want dit is eintlik waaroor dit gaan, as daar nie ‘n doel is nie, is dit nie die moeite werd om deel van ‘n groep te wees nie.

Op Facebook kan ek sien wie op my plasings reageer, en as die groep baie groot is, soos in die geval van RSA Onderwysers, kan ek op die persoon se naam kliek en die persoon beter gaan leer ken. Deur wat hy of sy daar deel. Soms kry mens ‘n skok, die meeste van die kere is jy verras. Dit is mos iemand waarmee jy baie in gemeen het, iemand met wie jy graag sal wil kuier. Indien nie, kan jy die persoon selfs blok. Jy kan die groep ook verlaat as hulle boelies is.

Ek hou van Facebookgroepe, kry min tyd om iets anders te lees omdat my navorsing my besig hou. Facebook herinner my daaraan dat my vriend met sy of haar naam iets gesê het oor iets wat ek gesê het. Dan kan ek besluit of ek wil gaan lees wat die persoon geskryf het.

As dit naaste familie, ‘n goeie vriend of vriendin is, los ek alles om eers te gaan kyk wat hy of sy daaroor te sê het. Vriende dra my belange op die hart, sal my beslis nie in die openbaar verneder nie. Omdat vriende noe so iets doen nie, daarvoor is privaat boodskappe.

As dit iemand anders is, kan dit maar eers wag. Ek is nou besig. Dit kan maar wag, want ek hoef nie oor boeliegedrag bekommerd te wees nie, ek verlaat sulke groepe sodra ek agterkom dat die groep ‘n klomp gemene mense is.

Ek wonder of mense ooit die impak van gemeenheid in groepe sal verstaan?

Dit is vir my baie erger as gemeenheid in ‘n fisiese groep, behalwe as die groep gewelddadig is.

Eerstens kliek mens op die boodskap om te gaan kyk wat geskryf is en dan slaan daardie woorde teen jou vas. Anders as in die fisiese omgewing kan jy dit weer en weer lees, om so die gevoel van verslaentheid te versterk. Jou hart weer en weer te ruk. In die fisise omgewing is die kans dat jy nie presies gehoor het nie, dalk verkeerd kan wees. Maar nie in sosiale media nie, dit staan tot jy die gaan uitvee om jou te beskerm.

Tweedens, tref dit jou dat jy moet uitvee, voor jou vriende sien. Jy wonder ook hoeveel van jou vriende en vreemdeline gelees het sonder om kommentaar te lewer? Dit laat jou dan soos ‘n buitestaander voel – die geboeliede een. Dan moet besluite geneem word, gaan jy deel van die groep bly en stilbly sodat jy nie geboelie word nie. Omdat jy aangesluit het om iets te leer? Of is jou siel meer werd as die bietjie leer wat jy op ‘n ander plek ook kan doen. Dan loop jy, dit is nie waarom jy aangesluit het nie. Jou dag was goor, en dit is so pas goorder gemaak. Baie goorder, niemand met wie ek kuier is ooit in persoon so gemeen met my nie. Facebook klik nie as jy loop nie …

Die besluit word maklik gemaak want daar is baie groepe waar jy kan aansluit, jy kan selfs jou eie groep begin.

Soos wat ek met RSA Onderwysers gedoen het. Die boeliegedrag in een van die grootste Suid-Afrikaanse groepe is deur die admin aangevuur. Nou maak ek en drie spesiale vriendinne in RSA Onderwysers seker dat onderwysers mekaar respekteer en mooi met mekaar praat. Om ‘n groter doel te bereik – om ‘n professionele leergemeenskap te vorm.

Dit is die doel van die groep, en ons het al vername mense uitgegooi oor hulle vloekend aan gesprekke deelgeneem het, geboelie het as onderwysers van hulle verskil. Sommer persoonlik geraak. Iets wat mens nie van professore in Opvoedkunde sou verwag nie, maar ja, dit is ‘n realiteit.

WhatsApp is anders, miskien omdat die aanname gemaak word dat jy die persoon ken. Die nommer moes tog op jou foon gewees het om die persoon by die groep te voeg. Anders moes joune op sy foon gewees het om jou by te voeg. Dan ken jy die mense en die gesels is maklik, maar nie altyd nie, hang af wie die lede van die groep is.

Dit is egter ook so dat jy by ‘n groep vreemdelinge gevoeg kan word.

WhatsApp-groepe is anders as Facebook-groepe. Jy sien wie bygevoeg word as jy die nommer op jou foon het. As jy nie het nie, is dit bloot ‘n nommer. Geen idee wie dit is nie, sien soms ‘n foto, maar jy kan nie daarop kliek om meer oor die mens te wete te kom nie. Dit maak gesels moeilik. Anders as in die geval van Facebook, kliek WhatsApp dadelik as jy die groep verlaat. Wat ‘n gemors!

Daar is twee soorte WhatsApp groepe waarvan lidmaatskap moeilik is.

Familiegroepe, omdat jy die mense intens ken, en groepe met vreemdelinge.

Ons gesinsgroep is ‘n groep waar ons mekaar se lief en leed deel, gewoonlik is dit lief. Ons is lief vir mekaar en gun mekaar net die beste. Om die waarheid te sê, ons bid vir mekaar se veiligheid. Ons sê nooit iets leliks vir mekaar nie, wat sou die doel van so ‘n groep wees as gesinslede mekaar boelie?

As my foon piep dat iemand iets gedeel het, is ek onmiddellik daar om eers te kyk. My liefdestenk vol te maak terwyl ek lees en luister en kyk wat my gesin in die groep gedeel het – en dus indirek met my spesifiek. Ek het hulle boodskaptoon verander, dat ek dadelik weet dit is een van hulle as my foon piep.

So het die kinders met ons nuweling in die gesin se geboorte, WhatsApp gebruik om ‘n video-oproep te maak waaraan almal kon deelneem en mekaar se gesiggies sien om in die fees te vier. Baba se gesiggie was op die een deel van die skerm, wat beteken het dat hy redelik na aan die foon moes wees. Ons het gelag en geklets en oupa het ewe laf hard handegeklap om hom wakker te maak. Ouma het sommer dadelik geraas, die arme poppie is skaars gebore, dit is vreeslike geluide op sy oortjies.

Maar baba het nie omgegee nie, nie eens ‘n bekkie opgesit nie. Wat dalk te verstane is, as ons klompie saamkuier, is dit lag en gesels en spot en terg en die drie kleinkinders wat reeds gebore was, het lekker hard saamgesels. Dié baba het geweet waarin hy hom begewe het, hy het vier woewe se geblaf ook gehoor, so saam met die gekuier, nog lank voor hy gebore is.

Ons het ook met dollatjie se verjaarsdag so in die beperkte tyd ‘n groepvideo gedoen en heerlik gesels, selfs saam gelukkige verjaarsdag gesing en hande geklap.

Daai twee groepoproepe was spesiaal, want ons het dit in die jaar hier in die vreemde vir die eerste keer probeer.

Ek is nie deel van uitgebreide familiegroepe nie.

Met familie werk persoonlike WhatApp-boodskappe beter …

Ek is gereeld met my ouers in gesprek, minder gereeld met susters, neefs, niggies, ooms en tannies. Ek is ook gereeld in gesprek met swaertjie aan manlief se kant en sy vroutjie. Eintlik is ek nie in gesprek met my ooms en tannies nie, ek het grootgeword in ‘n era toe kinders gesien en nie gehoor is nie. Daarna is ons ook al hoe minder gesien, want almal is al getroud. Dit was die sientyd nadat ons grootgeword het.

Ek is deel van ‘n groep van sestien of meer dames wat ek deur my blog ontmoet het. Vrouens wat my by hulle groep ingetrek het omdat ons almal blog, die meeste is self oumas en ons verstaan die lewenstydperk. Om ouma te wees, kinders al uit die skool, alleentyd saam met manlief, of alleen omdat paaie uiteen geloop het. Hierdie groep is lewendig, ons lag en gesels, deel grepies uit ons lewens en moedig mekaar aan om voluit te leef. Daar is geen jaloesie nie, ons verstaan mekaar se diepste wesens, dit is ‘n tyd van ons lewens wat ons geniet. Ten spyte van die lewe se draaiballe. En ons lewer kommentaar op mekaar se blogs, die gesprekke is hemels.

Hulle maak die inperking interessant.

Ek is ook deel van die die groep vir die vier dames wat RSA Onderwysers bestuur, hoe kon ek dit vergeet? Miskien omdat ons so stil-stil die werk gedoen kry dat ons selde in die groep oor die bestuur van die groep hoef te gesels. ‘n Groep vrouens wat die taak onbaatsugtig uitvoer. Vir elkeen van hulle is ek baie lief, ons het al ‘n harde pad saamgestap toe ons meer mense by die groep gevoeg het op hulle versoek. Hulle is weer weg en nou is daar vrede in die groep. My oase groep.

Ek is onlangs by ‘n kerkgroep gevoeg. Buitelede. Mense wat nie meer gereeld in die kerk kan wees nie omdat ons ver bly, ek skat ek bly die verste. 10 000km. Die groep is deur die virus aangespoor dat dominee met ons kontak kan hou. Sy boodskappe kan stuur deur die admin van die groep. Die admin deel die boodskappe in ‘n tyd van nood, pitskos vir die siel omdat ons nie kerk toe kan gaan nie. Die res van die gemeente ook nie.

Ek ken die ander lede nie, die meeste van hulle is ‘n nommer op die groep. Hulle praat ook nie. Lidmaatskap van die groep is vreemd.

Die admin plaas preke, maar behalwe vir my, reageer slegs een van nega ander lede daarop. Wat in ons soort kerksituasie seker te wagte kan wees.

Ons gaan Sondae kerk toe, dominee preek en ons gaan huis toe.

Daar is die meeste van die tyd koek en tee na die tyd, maar ons bly nie agter nie. Ons het ‘n paar keer, maar dit is vreemde gesprekke met vreemde mense, al is ons lede van een gemeente. Ons ken mekaar nie op sosiale vlak nie en loop mekaar nie op straat raak nie. Ons bly ver van die kerk, ry daarheen omdat ons dominee Sondae met ons harte praat. Maar wanneer ons Sondae in die kerk sit, is ons een. Die gemeente.

Tog voel lidmaatskap van ‘n groep met 10 mense anders, so asof ons mekaar moet leer ken. Intiemer. Dit gebeur egter nie, die groeplede praat nie met mekaar nie.

Tog is dit hemels om deel van hierdie groep te wees. Ek weet dat mense ophou deel as hulle nie reaksie kry nie, want jy weet dan nie of dit gedeel moet word of nie. Daarom sê ek gereeld dankie nadat ek na die boodskap geluister het. En ook waarom die boodskap vir my spesiaal was. Ek hoop dat dit sal help dat die boodskappe steeds gedeel word. Want dit gee ‘n anker in hierdie onseker tyd in ‘n vreemde land.

Dominee het byvoorbeeld in die een kort boodskap op 1 April oor fools gepraat, fools op die aarde en ook fools in die Bybelse tyd. Ek het nog nie so aan hulle gedink nie, maar is dit nie waar nie?

Adam en Eva het ‘n appel gekies, een wat hulle uit die paradys na ‘n fool’s paradise gevat het. ‘n Paradys wat vandag deur die toedoen van fools bedreig word. Tog is dit wonderlik om te aanskou dat die aarde asem skep terwyl die mens belet word om sy motor te gebruik. Ons dominee praat soms kaalvuis oor dinge waaraan aandag gegee moet word.

Tans dink ek dat die virus reggekry het wat geen ander iets op aarde kon regkry nie. Die mens gedwing om stil te staan, karre in die garages te los en die aarde kans gee om asem te skep nie.

Die bewyse is daar, ons vernietig die aarde. Niemand wou help nie. Gaan ons hierna iets daaraan doen?

As die virus van ‘n ietermago afkomstig is, voel dit of die Here ons tot stilstand geruk het om iets aan die probleem van smokkelhandel te doen.

Hierdie diertjies word gesmokkel omdat dit verbode is om hulle oop en bloot te verhandel.

Dominee vertel in die een boodskap dat hulle nou Vietnam toe sou gaan en dat ietermago op die spyskaart is, duurste gereg op die spyskaart van een van die restaurante. En die diertjie word voor die eter geslag om te bewys dat dit wel ietermago is. Daar is geen manier waarop ek sou kon staan en kyk hoe dit in ‘n restaurant gedoen word nie.

Liewe hemel, hoe wreed kan die mens wees?

Ek dink dit is ‘n goeie rede vir straf. Niemand staan teen die smokkel van die diertjies en baie ander op nie.

‘n Vriend vertel dat hy in Sjina in ‘n mark gestap het. Dat die verkopers skilpad aan hom wou verkoop het, en selfs wou verduidelik hoe mens hierdie diertjies doodmaak wat honderd jaar oud kan word – om te eet.

Is dit nie tyd om oor te slaan na groente en vrugte nie?

Ek wonder natuurlik wat die impak gaan wees. Van die inperkings.

Gaan die aarde in ‘n malle gejaag na wind oopmaak?

Gaan die gejaag groter wees om verliese uit te wis?

Tyd sal leer …

Vir nou weet ek dat die gejaag na wind nie die moeite werd is nie.

Ons het geleer hoe vinnig goed op die aarde verander, vliegtuie op die aarde moet bly, lande hulle grense sluit en jy nie na jou geliefdes kan gaan om spesiale dae te vier nie.

Dit bring my by een punt wat mens soms wil vergeet omdat jy so ver vooruit kan beplan:

Die mens wik, maar God beskik.

My ma en pa stel dit altyd so as hulle iets beplan: As dit die Here se wil is, sal hulle op vakansie gaan. Nooit net ons gaan met vakansie nie.

Hooffoto: Hierdie pragtige plekkie, wat soos die ronde tente (jurts) lyk waaraan Qazaqstan gekenmerk word, met die nagemaakte gras staan op Central Square, Öskemen. Vandale het dit blykbaar verlede somer beskadig en dit is afgeslaan en reg gemaak. Terloops, ek was verstom, hier is die mense vredeliewend en wetsgehoorsaam. Dit is vir die viering van die lente verlede naweek opgeslaan, maar die virus het veroorsaak dat geen feeste gevier mag word nie. En noudat die stad sedert gister ingeperk is, gaan dit so verlate en sonder kiinders staan tot die virus ingeperk en vernietig kan word. Hoop dit gebeur voor die somer …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Om deel van ‘n aanlyngroep te wees

  1. Ek is deel van twee heerlike geselsgroepe wat toevallig op dieselfde dag gestig is. Die een is almal wat saam in ons klas was op skool. Die ander die Towerinne. Beide is hemels.

    Like

  2. Hallo dr. Christa.
    Dis altyd interessant om jou kort skrywes te lees…leersaam….deesdae kry ek en ek dink meeste van ons nie regtig tyd om ñ boek te lees nie. Ek dink jy’t dit mooi opgesom…en dat dit regtig waarde toevoeg tot ñ mens se menswees. Dis baie dinamies. Groepe kan heel dikwels ook ñ “oorlas” raak en dan moet mens besluit…wil ek nog betrokke wees of nie…dra ek iets positiefs by? Dis vir my belangriker. Ekt begin wegbeweeg van die negatiewe …want mens kan maklik oorweldig en verswelg word deur al die negatiewe dinge rondom ons alledaagse bestaan.
    Die mens….is ñ sosiale wese…aanpasbaar.
    Elkeen kan die grense vir homself in plek kry soos sy / haar tyd of omstandighede dit toelaat.
    Ons kan dit met verantwoordelikheid toepas en n verskil in iemand anders se lewe maak.
    Nogmaals dankie.

    Like

    1. Dankie Philip, jy verstaan wat ek nie geskryf het nie. Negatiwiteit in groepe maak mens moeg, jou siel dood. Daar is ook ander soorte negatiwiteit, die waar mens iets skyf en niemand reageer daarop nie. Dit gebeur darem nie in RSA Onderwysers nie, daar is altyd reaksie, dalk omdat mense vrae vra?

      Like

    1. Beslis, Hester, op my ouderdom het ek geleer dat daar mense is wat nooit gaan verander nie, as mens oor 50 is en nog nie het nie, is die kanse zero. Daarom moet mens maar besluit of mens vir “abusive” verhoudings kans sien. En ek moet eerlik wees, ek doen nie.

      Liked by 1 person

  3. Dit was baie interessant om te lees hoe jy groepe beleef.
    Daar is baie etiket rondom hierdie groepe wat mense net ignoreer. En ag, die geblits oor alles wat die deelnemers “irriteer”. Die lelik in mense regeer op baie van die groepe. Mooi dat julle die boelies regsien.
    Ek wonder ook hoe hierdie tyd die mens in sy psige sal verander. Of sal ons net verder ons harte verhard en hierna soos sal altyd voort- jaag?

    Like

  4. Terwyl ek alles lees wat hier bo staan en die komentaar van elkeen, kan ek nie anders as om te wonder hoe sou lock down gewees het in ‘n tydperk waar tegnologie nie so vrylik beskikbaar was nie. As dit met ons ouers sou gebeur het wanneer ons nog self kinders was, hoe geisoleerd sou hulle nie gewees het nie? Ons het al hierdie toegang tot sosiale media en ons kan met mense ander kant die wêreld gesels enige tyd van die dag in die gemaklikheid van ons eie huis.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.