Gepubliseer in Joernaal

Agt ure in ‘n kamer in ‘n kasteel …

Una het dit begin, en toe het Woordnoot met haar kers-verjaardagpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie in die hand gegee en ons saamgenooi na ‘n Learjet wat saggies op Rebusfontein kom land het en ons voor hierdie lieflike kasteel kom neersit het. In ons pakkies was daar vir elkeen ‘n sleutel …

Lees voort “Agt ure in ‘n kamer in ‘n kasteel …”

Gepubliseer in Joernaal

Sosiale media bring glorie vir Rebusfontein se sirkus ster

Die Цирк is in Ust. Lees ek Vrydag teen ‘n bushalte muur. Ek sukkel eers om die woord te lees. Dan besef ek ek lees reg. Tsirk! Sirkus! Ek moet gaan kyk, ‘n Russiese sirkus. In ons dorp.

En so wraggies, daar gesels die towerinne ook oor sirkus! Ek lees die nuus, soos dit van nuutste af inkom, wat veroorsaak dat ek die kat aan die stert beetkry. En soos ek verder lees verstaan ek waarom hulle wil een van ons aan die sirkus wil afstaan.

Ek lag my slap, lag soos ‘n heks vir hulle manewales. En toe ek weer sien, word Ego, dit is nou my alterego wat in Rebusfontein woon, uitgedaag om die verhaal verder te skryf. Want onse tannie Frannie het nie tyd nie. Sy is besig.

Ek laat weet ek sal vandag, want ek moet groot skoene volstaan as ek by ‘n towerin wil oorvat en verder skryf.

Toe ek vanoggend opstaan, het tannie Frannie haar deel reeds gedoen. En my in beheer van sosiale media gestel.

Ego sal dus verder vertel.

———————-

As jy hierdie inskrywing beter wil verstaan, moet jy die ander towerinne s’n dalk eers lees. Jy kan maar kliek, van bo na onder, jy sal daarvan hou. Dit is in die mooiste Afrikaans geskryf. En dit is pret. Gaan oor ‘n dag of twee se pret. In die towerwêreld van Rebusfontein.

Bondelsgedagtes: Wakkerword op Rebusfontein

Una: Geheime en Rebusfontein

Kameel: Die Sirkus kom Rebus toe

Woordnoot: Una en mnr Barnum

Hester: Una se beenhare plaas ons op die soustrein

Toortsie: Besturende Agent van…

Tannie Frannie: Perssensuur op Rebusfontein

—————-

Nou goed, tannie Frannie, laat ek verder vertel.

Ons Suid-Afrikaanse media is mos maar lekker toe. Dink hulle kan skryf wat hulle wil. En ons lesers is te dom om self te dink. O my jitte, daardie media waarna tannie Frannie verwys is pure poniepers. Hulle pas sowaar sensuur toe!

Sommige koerante, sien tannie Frannie se inskrywing, het Una, die langbeenhaar-aanwins van Mnr Barnum se sirkus, erg laag gevat.

Moet sê, ek het self geskrik toe ek hierdie towerin se foto sien. Haar eers jammer gekry, weet nie wat ek sou doen as myne so lyk nie.

Sukkel klaar genoeg om my haredos op my kop blink te hou. En die statiese elektrisiteit hier is erg, hare lê nooit plat nie.

Hou beenhare dus in toom, somer en winter. Hier trek mens soveel lae aan dat ek nie nog kans sien om beenhare ook in kouse gedruk te kry nie. En as ek dit nie doen nie, gaan my rokke so in die lug waai as ek op die gras op Rebusfontein probeer lê!

Sien julle ook die vrou wat op haar rug in die lug sweef, lang wit rok?

My rok sal so staan van statiese elektrisiteit. Is nie noodwendig sleg nie, maar in die winter gaan ek koud kry as die rokkies so weg staan.

Sies, sommige van die koerante het sommer vreeslike goed oor Una en Rebusfontein kwytgeraak. Dankie tannie Frannie, ek hou van die brief wat jy vir die Son geskryf het.

Daai naam moet verander na die Nag! Hulle sien nie die son oor arme Una skyn nie. Mis die dag op Rebusfontein met daardie beledigings!

Ek het gesimpatiseer, maar Kameel en Woordnoot en Hester het dadelik ‘n sirkus en ‘n piramideskema gesien. En weer word ek aan die sirkus in Ust herinner.

Ons stuur Una sirkus toe en maak almal saam geld deur die bemarking daarvan.

Hulle het eers die koerante en radio probeer. Maar ai tog, hulle doen meer skade as goed. En is so stadig met die verspreiding van nuus.

Vandag se nuus word eers oormôre vertel. En dan het dit lankal stertjies gekry. Of is dit al ou nuus!

En nou is ek uitgedaag om die nuus na die sosiale media te vat.

Dadelik geplaas. Versprei vinniger as ‘n veldbrand oor kontinente! Geen see keer dit nie.

Maar, waar sal die beste plek wees om te begin?

Twitter? Dit kan werk? Ek het vinnig ingehardloop, haar foto gedeel, met die byskrif:

Una, die langhaarprinses van Rebusfontein!

Met ‘n skakel na die sirkus se blad. En die hutsmerk #Unadielangbeenhaarsirkusdier.

Die dier is ‘n verkorting vir dierbaar. Dierbare Una wat ons ryk gaan maak. Anders is daardie hutsmerk heeltemal te lank!

Dit sal beslis goed versprei. Sommiges sal wonder hoe lank die hare onder die handdoek is en verder deel. Ander sal dankbaar wees dat ‘n vrou vir haar regte opstaan en dit verder deel. Die mislikes, is daai nou reg gespel? sal aanstuur om spot te dryf, maar dit is ook goed! In die lug is enige nuus goeie nuus! En ons wil die nuus vinnig versprei. Dus is die hutsmerk noodsaaklik.

WhatsApp? Miskien? Ek het dieselfde boodskap as die Twitter een gebruik en dit na al my vriende gestuur, hulle sal wel verder versprei.

Instagram? Beslis, die Qazaqs ken nie van Facebook nie. En die hutsmerk is goed. Sal dalk net moet vertaal ook. Nee wag, laat ek hulle eerder Afrikaans leer? Dan kan ons die hutsmerk ook hier gebruik as bemarkingstrategie.

Want hier in Ust is ‘n mooie amfie teater. Waar Una maklik by almal kan gaan spog met haar haredos! In hulle sitplekke!

Ek deel sommer ‘n video daarvan, as Instagram net wil saamspeel. Vandag is sy al weer ‘n toonbeeld van ‘n media waarvan ek nie hou nie. Sukkel as ek werk het! Volg dan maar cvanstaden op Instagram. Dalk mag ek môre deel? Nou mors sy tyd!

Facebook? Daar gaan ek dit met RSA Onderwysers deel. My groep met lieflike onderwysers. As die amper 20 000 onderwysers dit in hulle skole deel, kan ons die mark met duisende uitbrei. En Una sommer so globaal bekend maak, hulle is oor die aardbol versprei.

En elke juffrou wat haar sout werd is, sal hulle beenhare saam sal laat groei.

Uit meegevoel met Una.

Maar ook omdat ons ons winste graag deel. En watter beter bemarking kan daar wees as ‘n langbeenhaar juffrou in die somer?

Dan nooi ons almal om foto’s van hulle beenhare op Pinterest te deel. En kies ‘n wenner om vir Una in te staan. Wanneer sy saam met ons op Rebusfontein wil rus ….

Wil jy saamspeel en saamvertel?

Skryf dan jou deel van die storie en las dit by hierdie skakel waar jy al die stories in volgorde kan lees:

https://fresh.inlinkz.com/p/556868f82eae403d9143258e74ee97b1

Gepubliseer in Joernaal

‘n Rok vir Rebusfontein se sirkus

Hierdie inskrywing vorm deel van ‘n uitdaging om ‘n blogreeks van die towerinne van Rebusfontein aan die gang te hou.

Die vorige blogs kan hier gelees word.

Ek het al vertel dat die sirkus een van Rebusfontein se inwoners aangestel het. Omdat sy sulke lang beenhare het.

Nou is ons genooi om die openingsaand by Carnival City te gaan bywoon. En natuurlik moet ons ‘n rok vir die geleentheid hê.

Die ander towerinne het rooi en geel en swart en nog pragtige kleure gekies. Pragtige rokke.

Die een wat ek kies, is lankal op my radar, daar was nog net nie ‘n geleentheid daarvoor nie. Heeltemal te mooi vir die geleenthede waarheen ek gewoonlik genooi word!

Hoop julle hou van die rok.

Ek moeg byvoeg dat grootte nie op Rebusfontein saakmaak nie, dus sal ek in die rokkie kan pas.

Foto: Ek gaan moet soek om krediete vir die foto te gee. Was op Pinterest.

Gepubliseer in Joernaal

Die VVVTT vat ons vir kuier op Rebusfontein

Scrapy vertel die week van haar woef wat nierstene het en ek vra hoe weet mens. Nog voor sy kan antwoord, bel seun met die nuus.

My BB moet Maandag vir ‘n operasie gaan. Sy het nierstene ontwikkel. En ek is regtig so dankbaar sy bly by seun en skoondogter, ek wonder of ek sou agtergekom het dat sy so baie piepie. My arme kindjie, sy moet seker vreeslik pyn verduur. Maar kla sal sy nooit nie kla nie. My prinsessie tussen al die manne op die erf.

Ek is deur ‘n virus vasgavang in Qazaqstan. En ek moes dringend by die huis kom. Dus het ek die noodsein uitgestuur, ek moet dringend by die huis uitkom. Iemand moes die V(Vlieënde)V(irus)V(lugtende)T(owerin)T(ent) stuur om my te kom haal.

Ek misbruik darem nie die geleentheid om die VVVTT te gebruik nie, want een van my towerinmaats het die week in Rebusfontein aangekom. En ek moet daar aangaan om met my towerinmaats te gesels.

Dus het ek vir Toortsie ‘n boodskap gestuur. Moenie oor afstof of vuil komkommer nie, stuur asseblief die VVVT, ek moet dringend huis toe gaan.

Toortsie het nie op haar laat wag nie, toe ek weer sien, hang die tent voor die venster van ons woonstel in Almaty. Wat opo die veertiende vloer van ‘n wolkekrabber is.

Ek het gou geloer, maar manlief was soos gewoonlik besig met sy foon, ek wou nie pla nie. Kan vanaand boodskap stuur, hy sal verstaan. Dalk selfs bly wees dat hy bietjie alleen kan wees. My BB is siek en ek moet daar wees om haar handjie, ek bedoel pootjie, vas te hou.

Dus wip ek sonder om te groet of te dink op die vensterbank en by die venster uit. In die tent in. Want ek dink liewe Toortsie weet nie dat ek doodbang vir hoogtes is nie.

En ek word verras. Om my staan die towerinne wat tyd kon maak om saam te kom. Letty-Ann, Appeltjie, Seegogga, Frannie, Una, Positief, Woordnoot en Sonell. Toortsie is agter die beheerpaneel, sy verander vinnig die buitekant van die tent dat dit soos ‘n wolk lyk. Ons wil nie in die moeilikheid kom nie, ons is heeltemal te veel vrouens by mekaar. En weg is ons. Terwyl die towerinne babbel oor die mooi land waarin ek bly.

Watse groot wiel is op die berg agter jou? wil Seegogga weet. Ja, beaam Una, daar is ‘n groen kenteken waarop Kok Tobe staan.

Kok Tobe is ‘n aantrekkingskrag met restaurante en mens kan allerhande snuisterye daar koop. Mens kan met ‘n bus teen ‘n kronkelpaadjie opgaan, met jou eie motor opry, of jy kan met die kabelkarretjies opgaan.

Snuisterye? wil Woordnoot weet. Soos Russiese poppies? Jy wil so graag een kry wat uit 5 poppies bestaan.

Ek grou in my sak en haal die twee poppies uit. Wel, Woordnoot, jy moet enetjie kies. En sy het geskiedenis hoor, sy is Vrydagaand bo-op die berg by Kok Tobe gekoop.

Ons is die middag op die berg, sal ander dag meer van die plek vertel. En ek wys so paar foto’s om hulle vir daardie bloginskrywing in die toekoms lus te maak.

Sonell, Una, Positief, Letty-Ann, Frannie en Appeltjie kyk egter nie na die foto’s nie. Hulle weet mos ek sal weet vertel. Hulle staan by die vensters en vergaap hulle aan die berg agter Almaty. Wat Qazaqstan van Krygystan en Sjina skei.

Toortsie vat die pad oor Dubai en Afrika, dat ons darem ook aarde. kan sien en nie net see nie. En toe ons weer sien, land ons op Rebusfontein.

Dit is nag en almal is na hulle huisies, Frannie na haar Toringhuisie wat so pas ‘n naam gekry het.

Ons moet slaap, want Seegogga het ons oorgenooi om daar te kuier. En dit gaan ‘n lang, uitgerekte kuier wees. Al die towerinne is mos nou so saam met my in die VVVTT. Ons gaan ‘n hond uit ‘n bos kuier. Want Frannie en ek het lekker ver gekom vir ‘n goeie kuier.

Dan gaan ek al die bestanddele saamvat om hulle te leer om tee te drink soos ons dit hier in Qazaqstan leer drink het. Ek het onthou om heel gemmer en lemoene en suurlemoene en verskeie pakkies tee saam te vat. Ek sien so uit om hulle te leer dat tee baie, baie lekker is.