Gepubliseer in Akademies,Joernaal

En ek oorweeg sowaar …

Gister kyk ons op OR Thambo na vlugtye van inkomende binnelandse vlugte. Veral vlugte vanaf Port Elizabeth … ek gaan nie kommentaar daaroor lewer nie.

Maar, ek gaan gesels oor ‘n versoek op LinkedIn in my boodskappe. ‘n Uitnodiging om by die 2024 kongres van die Higher Education Teaching and Learning kongres te gaan praat.

Ek het iewers al geskryf dat ek klaar is daarmee. Ek gaan nie weer by ‘n kongres praat nie. Dit is nie lekker nie, ek stres so voor die tyd dat ek seker is dat ek gaan flou word. Dan het ek daardie veg-of-vlug gevoel, waar veg om te oorleef wen, maar vlug na die beste opsie lyk. As ek doodeenvoudig net in die gehoor sit, sal niemand eens weet dat ek die volgende sou wees nie.

Veg wen natuurlik, ek ly aan oudste-kind-sindroom, ons maak klaar wat ons beloof het om te doen, al is dit ook die laaste ding wat ons doen. Veral as jy oudste van vyf kinders is. Verantwoordelikheid vir al die susters na jou word in jou ingeoefen vandat tweede kind skaars na jou haar opwagting gemaak het. Ek was skaars een toe is tweede sus gebore en ons vyf sussies is binne agt jaar gebore. En as oudste dogter was ek veral verantwoordelik vir die twee jongste sussies.

In elk geval, hier sit ek op my bed. Ek loer nooit na LinkedIn nie. Of laat ek eerder skryf selde. Ek dateer nie daar op nie, lewer soms kommentaar op iets wat iemand skryf. Soos ene wat gister die grootste twak sit en praat het. Nie skryf nie, sommer praat, met die onderskrifte in Engels.

So lees ek dat sy van Chad G P G praat en nie ChatGPT nie. Goeie aarde, en sy wil vertel hoe mens dit in teaching and learning moet gebruik. Die klokkie hoor lui, maar geen idee waar die klepel hang nie. So wraggies, toe moet ek verder lees wat sy probeer vertel. En ek word al meer oortuig dat sy geen idee het waarvan sy praat nie. Regtig, die “plain” veld moet gelyk gemaak word en nie die “playing” field nie? En dan beveel sy aan dat werk moeiliker gemaak moet word, dat die “bar” gelig moet word omdat studente “Chad G P G” kan gebruik om hulle take namens hulle te doen! En toe gryp ek na my digitale “pen”, die vingers wat kan tik.

Iets soos: “Regtig? Chad G P G? Plain Field? Nee, die bar moet nie gelig word nie, dosente moet weet wat ChatGPT nie kan doen nie om geskikte leertake saam te stel.”

Net dit, niks meer nie.

Hoe de ongeluk verwag sy dat die “bar” gelig moet word as die fokus op alle vlakke van Bloom en andere se taksonomie moet wees. Ken, verstaan, toepas, evalueer en skep (en so aan}? Studente kan nie skep en evalueer en toepas en analiseer as hulle nie eers ken en verstaan nie. Dosente moet leer om leertake in plaas van assesseringstake te skep. Die fokus moet op leer wees en nie op assesseer nie. En daardie begrip het steeds nie ingesink nie – bykans 20 jaar later.

En nou lê die uitnodiging om te gaan praat in my boodskapboksie.

Het die organiseerders van die kongres daardie paar woorde raakgelees? Of het hulle een van my artikels gelees?

Nuuskierig klik ek op die skakel om te lees waaroor hierdie internasionale kongres gaan. Maar veral om te kyk waar dit is. Soms sal ek nogal gaan praat as ek graag die plek wil sien waar die kongres gehou word. Soos Hamburg, Duitsland. Of St Petesburg, Florida, Amerika. Toe het ek gegaan. Wat is die kans dat ek enige Suid-Afrikaners daar gaan raakloop?

En word ek verras. Dit is in Port Elizabeth – die stad met die naam wat verander het na iets onuitspreekbaar. Ek hou van Port Elizabeth.

Ek het mooi herinneringe aan hierdie stad. Was drie keer daar met die Suid-Afrikaanse seunshokkie kampioenskappe. Voorsitter van Noord-Vrystaat seunshokkie. Spanbestuurder van die Noord-Vrystaatse seunshokkiespan. Ma van een van die seuns. Ons het lekker in die stad seunshokkie gespeel. Ek het selfs my mond daar oopgemaak.

Daar was astro bane – met nagemaakte gras. Ek het, tot my seun hokkie begin speel het as laerskoolseuntjie, nie geweet wat ‘n astro baan is nie. Ons het grasvelde gehad. So is hy saam met sy spannetjie Durban toe vir mini-hokkie. En vertel hy my dat hy op astro gespeel het. Ek het hard probeer uitvind wat dit is. Want ek het net Astro’s geken, my gunsteling lekkers. En ek kon nie verstaan hoe ‘n hokkieveld en die veelkleurige lekkers by mekaar uitkom nie. Iedergeval. dit was wonderlik om deur te ry en te ontdek wat dit eintlik is. Ons seuns het nie sulke lekker bane in Welkom nie.

En dan was daar ‘n grond hokkieveld vir die seuns. Dit was van ‘n tipe van sand gemaak, en as ‘n vinger of hand of knie aan daardie skuurpapier geraak het, het die velle gewaai en moes ek bebloede hande en knieë skoonmaak, die korrels uit die seerplekke kry om die wonde skoon te kry.

Dit was vir my ongelooflik onregverdig om die seuns op die velde te laat speel, terwyl die “voorste” spanne (vorige jare) op die astro’s speel. Wat dan eerder van gewone grasvelde, waar die kinders nie so beseer word nie? My klagtes is aangehoor, hulle wou eers vir my vertel dat dit die voorreg van die beste provinsies van vorige jare was. Toe vertel ek vir die man hy moet dit vir die seuns gaan vertel. Dat daar teen hulle gediskrimineer word omdat vorige jare se seuns die keuse van die velde bepaal het. Die volgende jaar het al die seuns op astro gespeel – die veld is gelyk gemaak en het hulle baie goed gedoen – sonder bebloede hande en knieë.

Dus trek PE my soos ‘n magneet.

Lyk dit nog so daar? Die promenade, die strande?

Dit was 2003-2005. Bykans twintig jaar later.

Het die stad verval? Of gaan dit wees soos ek dit onthou?

Die tema trek my – ek het al ‘n hoofstuk vir ‘n boek geskryf oor hoe studente vir die werksplek gereed gemaak kan word as die fokus verskuif word vanaf assessering na leer. En as mens hulle dus leer om voortdurend te leer eerder as vir een eksamen waarna die kennis in en dadelik weg is nadat die pen neergesit is.

Ek dink sowaar daaraan hoe ek my navorsing in die tema kan laat inpas – hoe ChatGPT omarm kan word eerder as om studente te probeer uitvang wat dit gebruik.

Dit is naby, dit gaan nie duur wees om te gaan praat nie. Dit is in PE!

Maar nee, ek sien nie vir die pratery kans nie. Ek verkies om my woorde neer te pen …

Al trek PE my soos een baie, baie groot magneet.

Nie te ver van ons seehuisie nie.

Vyf ure kan maklik kafgedraf word.

Maar nee, ek ry eerder sommer reguit see toe, nie met ‘n ompad PE langs nie.

Of gaan ek dit oorweeg?

Blogvriendin bly daar, sy en haar man. Sê nou ek kan ‘n koffie inpas? Nee, sowaar, dan ry ek vir die koffie PE om en verder aan see toe …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “En ek oorweeg sowaar …

  1. Interessant hoe sekere plekke uit ons verlede ons bly aantrek, Christa. PE was nog altyd een van my gunsteling stede, en tog was ek net nog 2 keer daar.

    Liked by 1 person

  2. Port Elizabeth – ja, daar is min mense wat die naam Gqeberha gebruik – is ons naaste groot dorp. Ons gaan daar omtrent twee or drie keer per jaar 🙂 Daar is min vlugte in of uit die dorp; jy het dit seker al uitgevind. Doen wat in jou hart vir jou die regte ding is, Christa.

    Liked by 1 person

  3. Ons ry elke keer net daar deur oppad na ‘n ander bestemming. Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar dit lyk beter as toe ons ‘n jaar laas deur PE gery het (ek sukkel om die nuwe naam korrek te spel, maar ek hoor hulle noem dit nou deesdae GQ). Ek vermy die goed wat my benoud laat – die lewe is te kort daarvoor. Maar jy sal weet wat die regte ding is om te doen … en dit lyk my jy weet reeds.

    Liked by 1 person

  4. Ons was in Januarie vanjaar in PE, heel skaflik gewees. Gaan roomys koop by die ikoniese padkafee/roomyswinkel in Summerstrand, en selfs op die prominade gaan stap. Dalk sal jy dit ook geniet om weer daar te draai

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op seegogga Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.