Gepubliseer in Joernaal

Ek pomp gewigte … en oefen gholf …

Ek weet, ek het dit al soveel keer gesê, ek sal nie met gewigte speel nie. En wat doen ek nou?

Ek pomp gewigte.

Dit het so gebeur. Ek en manlief gaan nou jaar lank gym toe, drie keer per week, maar ek sien nie resultate nie. Toe stel ek voor dat ons ‘n persoonlike afrigter kry om ons te wys hoe die masjiene werk.

So gebeur dit dat Ronnie ons twee ontmoet, en ons kry paartjie-afslag, een prys vir beide. R2400 per maand. Ek dog nog dit is te duur, toe is ons al sy kliënte.

Dit is môre een maand later.

Die man is ‘n liggaamsbouer, jonger as my seun. En hy dink ek kan gewigte beweeg wat vir my onmoontlik lyk.

Vir bene doen ek al so 29 kg, maar my linkerskouer kla as ek hoër as 5kg moet lig of lank vorentoe moet stoot.

Ek voel beter en slegter. My bene word styf, regtig, die spiere word opgepomp … Maar, hulle voel ook lam en tam. Seun sê dit is melksuur, ma moet beweeg. Ma is heel okay daarmee om drie keer per week te beweeg …. en vier dae te rus.

Maar nee, dit is ook nie so nie. In ‘n onbesonne oomblik het ek vir manlief gesê ek sal gholflesse neem as hy doen. En nou het ek mooi sak, baie stokke, handskoen, baie balle en kry ek gholflesse een keer per maand …

Dit gaan goed, ek leer mooi. Maar net as ek dink ek is nou kaatjie van die baan, slaan ek die bal dat hy baie skeef wegtrek, darem glad nie mis nie.

Dus is ek die afgelope twee maande besig, sommer baie besig.

Gewigte drie keer per week, een uur op slag. Gholfballe drie keer per week, soveel as wat ek kan slaan. Want ons het by Gholf Village aangesluit, en daar kan ek soveel balle slaan soos ek wil, soveel keer per dag soos ek wil. So het ek een baie seer skouerblad gehad nadat ek drie keer per week meer as 150 balle geslaan het …

Die gewigte doen my goed, my skouers word sterk.

Gaan ek op gholfbaan waag? Ek dink nie sommer maklik nie … Daarvoor moet ek eers gewoond daaraan raak dat mense kyk en stupid kommentaar lewer. Buitestaanders, manlief is besonder geduldig.

In elk geval, daar os rede vir die skielike lus om spiere te bou. Ek kan dit net nie hier vertel nie …

Terloops, ek mis almal, ek moet weer gereeld kom lees … Hoop dit gaan goed met jou!

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Ek pomp gewigte … en oefen gholf …

  1. nou het jy ons nuuskierig! Wil julle Kilimanjaro gaan klim? Of saam met Tarzan in die bome gaan rondswaai? Kunfu(* sp) fifhting gaan doen? Of salk aan marathon golfuitaginga gaan deelneem?

    Liked by 1 person

  2. Dis lekker om weer van jou te hoor. Ek het gedink jy’s baie besig met jou navorsing werk, maar dit lyk my jy kry darem tussendeur kans vir bietjie “speel”! Ek het ook ‘n gholf sak (wat in ons garage in Langebaan staan) en wanneer ons daar is, gaan speel ons nou en dan op die Mashie Gholf Course … dis darem nie so intimiderend soos ‘n groot gholfbaan nie. Ek geniet die stappie op die baan eintlik meer (veral as ek daar tussen die bosse moet ingaan om die verdomde balletjie te gaan soek)! Vir gewigte stoot sien ek nog nie kans nie – ek stoot maar die besem en mop rond 😊!

    Liked by 1 person

  3. Gholf is heerlik ontspannend. In my jong dae het ek en ‘n vriendin(wat my ma kon wees) gholf gespeel. Die tannie was ‘n swemmer op haar dag en baie fiks. Ons kon nie wag vir Woensdagmiddae nie. Daardie gewigte klink vir my ook maar ‘n harde oefening. Bly jy geniet dit.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op seegogga Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.