As kleinseun hier is< gryp hy die boude vas en hol, met die roep: “Ouma, kom, ek moet poef.”
Dan jaag ons resies badkamer toe, hy een pad om en ek die ander een om. Daar gekom, word die voorbereiding gedoen. Dit is nou die leertjie waarmee hy opklim, die broekie af en dan sit hy. Die prentjie is soortgelyk …

En kan ons gesels.
Verlede week sit ny die toiletpapier so en afrol tot amper op die vloer. Weet nog nie dat hy dit ongemerk moet doen as hy iemand anders die skuld wil gee nie. En toe sê hy: “Ouma, kyk wat het die elfie gedoen!”
Elfie is ‘n prettige popspelery wat rondom kerstyd in die twee kinders se huise vir my kleinkinders geskep word. En die elfie doen soms stoute dinge, soos byvoorbeeld om al die messegoed uit die laai te haal. Hulle is vroeg op om te probeer kyk waar die elfie stout was. En as die ouers vergeet het, word daar geskep, hulle kan nie teleurgestel word nie.
Kleinseun (seun se kant) het een dag blykbaar sy elfie by die kamervenster uitgegooi en die venster mooi toegemaak. Gelukkig het sy mamma gesien en die elfie gaan red, die skaaphond sou dit verflenter het. Rede: Die mamma het gesê die elfie gaan vir haar vertel as hy nie slaap nie, toe word die ooggetuie verwyder.
Ek kan die rede verstaan. Kleinseun het elke keer uit sy eie reg gemaak waar elfie verbrou het. Dus is ‘n klikkiebek nie ‘n goeie speelmaat nie.
Iedergeval, ek vra toe wat gaan hy daaromtrent doen? Die papier tot op die vloer. En hy sê elfie se boud moet pak kry.
My kinders maak met min pak groot, ek het eintlik ook. Maar, ek het meer pak gegee. Soms dink ek dit was onnodig, maar dan kyk ek hulle so en besluit hulle het mooi uitgedraai, ek is nie skaam vir hulle nie.
Iedergeval, ek is verras. Dus vra ek wie sy boud slaan?
Dit is nou kleinseun se boud.
En hy antwoord dadelik: Niemand.
Wat nie heeltemal die waarheid is nie, sy pappa het al sy boud gewiks.
Ek vra toe hoekom nie?
Hy sit so, draai die koppie skeef en dink en dink. Druk eers nog ‘n poefie uit.
Ek kan die ratte behoorlik sien draai in sy ogies.
En toe antwoord hy:
“Want dit stink!”
Ek het gelag hoor, soos ‘n heks. Dit is maklik die snaaksste ding wat hy al gesê het. Goeie rede om nie op daardie oomblik ‘n boud te slaan nie. Ouma is self lus om neus toe te druk …
Oulikste sê-goed wat hierdie kleinman mee voorendag kom, Christa.
LikeLiked by 1 person
Ai Una, dit is seker waarom oumas nie moet werk as hulle so klein is nie. Ek het so baie tyd vir hom.
LikeLiked by 1 person
Haha, hy’t hom mooi uit hierdie dilemma gekry! Klein klits, hy’s baie pittig!
LikeLiked by 1 person
Daai breintjie werk baie vinnig
LikeLiked by 1 person