Gepubliseer in Joernaal

Ekke … in ‘n neutedop

Ek word soms pienk getiekel oor hoe mense my opsom. En aanvaar hulle is reg, daarom vertel ek bietjie meer.

Ek hou van mooi aantrek, maar ek koop nie by die duurste winkels nie. En ek maak al my rompe self. Omdat dit lekker is. Ek trek altyd netjies aan as ek dorp toe gaan en mense besoek en ek trek mooi aan vir kerk. Dit is hoe my ma my groot gemaak het. Ek maak ook my aandklere, ek wil nie by plek opdaag met ‘n rok presies soos ‘n ander vrou s’n nie. Interessant, want ek was op skool baie skaam en wou altyd kamoefleer om nie aandag te trek nie. My aandklere moet mooi en anders wees.

Ek hou nie van oë op my ontblote lyf nie. Daarom loop ek nie in nagklere en swemklere voor vriende of familie nie. Maar, op ‘n strand sal ek nogal in ‘n bikini kan loop, as niemand maar niemand my ken nie. Sodra ek weet daar is ‘n bekende, is die lyf mooi toe.

Ek hou van hoë hakskoene, of altans, het daarvan gehou. Tans dra ek baie, baie plat skoene. Ek het met my lengte vrede gemaak … Maar, sodra ek in my huis ingestap het, is die skoene uit tot die volgende dag. Kaalvoet op die strand, wat is lekkerder as sandstap? Kaalvoet is ek op my gelukkigste, sedert my vroegste herinneringe. Kaalvoet in poeletjies water op die plaaspad, kaalvoet in modder, op my tone want duwweltjies het seer gesteek en beeste poef mos juis in die voetpad. Kaalvoet op my eie huis se vloer. In die somer, in die winter dra ek dik stewels. Dan mis ek Kazakhstan se warm huise waar ek heel jaar kaalvoet kon loop.

Ek hou van kampeervakansies. Ons het al met drie tente en ‘n Venstersleepwaentjie van Welkom, Potch oor, tot teen die Namibiese grens aan die Weskus, af tot by Kaapstad en terug na Welkom gekamptoer. In my nuwe rooi Hyundai Elantra, wat saam met die tente en die waentjie ‘n sirkel gevorm het. Met groot karavane en tente rondom ons. En abblusieblokke wat ek saam met baie ander gebruik. Ons het nie bespreek nie, gery tot waar ons kom, plek gekry, kampplek gemaak, gebraai en geslaap. Ons het lank laas gekamp.

Ek hou van ons 4×4 bakkie waarmee ons Kaap toe en terug ry, tot 17 ure op die pad. Ek voel baie klein teen hom, en moet half uit die sitplek wip. Hy is mooi toegerus, ons het ‘n yskas wat in bakkie pas en ons koeldranke en kos koud hou, verskeie soorte koelsakke een ‘n vrieskas wat agterop die bakkie pas. Daarmee vat ons vleis al die pad Kaap toe, weet jy hoe jaag vakansiedorpe hulle vleispryse vakansies op?

Ek hou van karavaanvakansies. Ons was meer as twintig jaar lank karavaners, wat Suid-Afrika met ons Penta deurgetoer het. Meestal see toe, enige see, maar verkieslik die Natalse noord- en suidkus. Verras dat ons in die Wes-Kaap gaan koop het? Ek ook … daardie tyd het die snobs in die Kaap gaan vakansie hou. Nou is dit skoon en veilig, goeie redes om in die Kaap te koop.

Ek hou van ons rivierhuis. Redelik primitief omdat daar nie hangkaste is nie. Maar, dit is ons vakansieplek. En daar kan ek dra wat ek wil, kaalvoet loop en koes vir vlermuise … waarvan ek mos glad nie hou nie. Het jy al so ‘n vlieënde muisgesig dier van naderby gesien, een wat om jou kop vlieg en oral pie en poef … wel, daar is my redes.

Ek hou nie van pamperlang en bederf nie. Haat dit om te voel dat ek mense dink dat ek bederf moet word. Ek dink nie ek word bederf as ek in ‘n peperduur hotel ingeboek word, of met ‘n spa “bederf” word nie. Dit bederf my pret. Ek sien nie die waarde vir geld nie. As ek vakansie gaan hou by ‘n ander plek, kan my vakansieplek kan maar vaal wees, ek slaap mos net daar.

Ek hou daarvan om self kos te maak as ek vakansie hou, daarom is uiteet eerder ‘n bederf as ‘n moet. As ek self kos maak, hoef ek nie te wonder of daar kaas, melk of botter in my kos is nie. Maar, ‘n uiteet is ook lekker.

Ek hou nie daarvan om moeite te wees nie, dus eet ek eerder niks as om te vra vir laktose-vry. Omdat ons dekades lank gekamp het, geniet ek braaivleis en pap die meeste wanneer ek op vakansie is. Maar, ons eksperimenteer ook met ander kos.

Daarom word ek dikwels verras oor mense se sienings van my.

Ry jy fiets? Ek kan seker nie verras wees nie, want ek het hokkie – vir seuns – met hoëhakskoene afgerig. Wat my by vorige stelling bring – my lengte het my altyd gepla, veral as ek tussen matriekseuns staan. Of gestaan het, nou het ek vrede daarmee, wil net nie korter word nie. Daarom oefen ek my lyf en spiere. Hulle moet rugwerwels mooi anker.

Ja, ek is goed gekwalifiseerd, sou nou al ‘n proffie gewees het as ek in die akademie gebly het. Maar, my titel kwalifiseer my nie.

Dit dan in ‘n neutedop.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

3 gedagtes oor “Ekke … in ‘n neutedop

  1. ‘Pienk getiekel’ … ek het nog nooit so ‘n uitdrukking gehoor nie (maar ek’s mal daaroor)! Ek het nog altyd gedink dat jy iemand is wat moeiteloos mooi sal aantrek, maar ek het nie geweet dat jy van kamp hou nie! Dankie dat ek jou beter kon leer ken.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.