Gepubliseer in Joernaal,Resepte

Ongebakte kaastert resep

Ek dreig al so lank om die resep te stuur, en dan gebeur iets of maak ek nie die tert nie …

Hier is die resep:

Bestanddele

1 blikkie kondensmelk

1/2 kondensblikkie met suurlemoensap, vat meer as moet

2 bakkies gewone, gladde maaskaas (cottage cheese, smooth)

1 pakkie Tennisbeskuitjies

500 gram room (die soort op die foto klits maklik heerlik styf)

1 eetlepel botter of margarien

So maak mens

Die kors: Smelt die botter of margarien in die mikrogolfoond, so 30 sekondes is genoeg. Druk of kap die Tennisbeskuitjies fyn (Thermomix op nommer 8 vir 20 sekondes). Druk die kors liggies in ‘n tertbak vas. Laat dit afkoel.

Die tert: Klits die room styf en hou een kant. Meng die kondensmelk en suurlemoensap in ‘n ander bak om dik te word, gebruik meer suurlemoensap as dit nie dik genoeg is nie. Skep die maaskaas in ‘n ander mengbak, vou die kondensmelkmengsel in, en vou dan die geklitste room in die mengsel in. Moenie te veel karring nie, dit word maklik pap en dan stol dit nie weer nie. Skep die mengsel op die kors.

Versiering: Jy kan enige iets gebruik, ek gebruik die granadella pulp wat te koop is. Skep die granadella-pulp stadig en versigtig op die tert, anders sink dit maklik te diep in en dan is daar te min om die hele bokant te dek.

Stoltyd: Laat dit so 2 ure in die yskas staan om te meer te stol. Ek vind dat oornag beter is.

Geniet hierdie effens suur, heerlike remerige tert namens my. Ek was baie erg daaroor, nou mag ek nie eens proe nie, nie eens die lepel aflek nie. Bly dus ook maar ver weg as jy laktose-weerstandig is.

***

Terloops, dit is vir my gesin besonder lekker … hoe hou jy daarvan?

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Ongebakte kaastert resep

  1. Dit klink en lyk heerlik. Ons sukkel net om tennisbeskuitjies te kry want hul is die beste en lekkerste vir die kors. (word mos ingevoer van julle af en ond SA afdeling verkoop. Laaste tyd is daar net nie in voorraad nie.) Gaan resep beslis afskryf en kyk wat ek kan kry of dalk vervang. O ja, geen orlay whip ook nie hier nie, sug.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.