Gepubliseer in Joernaal

Verdomde spinnekoppe in my huis

Ek het so rukkie gelede sommige van my vriende onstel met my beskrywing van hoe manlief ‘n baie groot spinnekop in my kamer moes doodmaak.

Wel, hierdie keer moes nog een dood wees, maar manlief is anderkant die grense van die land. En selfs al bel ek nou, wat ek nie kan nie, is hy onder die grond – diep waar daar gewerk word – en sal hy nie binne baie, baie ure kan kom red nie.

Maar, laat ek by die begin begin.

Ek stap vanoggend al geselsend in ‘n stemboodskap by my agterdeur uit. Om met ‘n gil in my spore gestuit te word toe ek deur ‘n sterk, klewerige spinnedraad stap. Ek is toe, steeds geselsend na die gil kamer toe om te kyk of die een wat dit gespin het, in my hare of op my slaapklere is. Gelukkig was dit nie.

Dus sluit ek die gesprek af en is ek terug kombuis toe om die spinnerakmaker op te spoor.

En daar sit hy bokant my agterdeur, op die raam van die skuifdeur, met sy voorpote lank na voor uitgestrek.

Ek dog eers ek verbeel my dit is een, maar, toe ek my foon gaan haal en die foto op ‘n afstand neem, is dit wel een massiewe spinnekop, sy lyf met die twee uitgestrekte pote strek van die een kant van ‘n halwe baksteen na die ander kant. Ek wil nie eens weet hoe groot die ding is as hy al agt bene uitstrek nie.

Ons het Doom gekoop nadat ek die blik die vorige keer nutteloos op die vorige indringer uitgespuit het. Dus hou ek my oog op die indringer en loop en agteruit tot by die kas onder die wasbak waar dit behoort te wees.

En toe terug na indringer wat sit waar hy sit al het ek sy spinnedraad per ongeluk gebreek. Ek sal dit nooit, ooit aspris doen nie, daarvoor is ek te versigtig om een op my lyf te voel val …

Ek het gespuit, en hy het bene oopgegooi en na buite probeer vlug. Juis een ding wat my doodbang vir die goed maak, hy het net buite sig gegaan en toe enk ophou spuit, het die lang bene weer om die bakstene begin krul.

Ek het weer gespuit en toe geloop om my foon te kry, ook agteruit deur die kombuis, my oog op die indringer.

Toe ek op die trappie staan, kom hy weer agter die baksteen uit en hang daar in die lug. Wat my natuurlik mak maak, hy is na aan dood?

Toe nie, toe ek nader kom, spring hy na my kant toe en swing weer terug na die deur toe. So ja, daar is geen video nie, net een lang gil en ‘n kamera wat oral afneem deur die vertrek, maar nie waar die verdomde spinnekop is nie.

Toe klim hy stadig teen die kant van die deur af. En ek besluit dat ek nie so tevrede is met die evolusie van spinnekoppe nie, hy voel vere vir die gif.

Die deur stamp in die gleuf vir hom in die muur in. En vanwaar hy is, kan hy nie op my spring nie.

Toe vlieg ek soos blits die trap af, en skuif die deur in sy gat in. Ek dink dit was redelik hard …

Toe ek weer asem in die kombuis kan kry, staan ek ver van die muur af en trek ek die deur met ‘n spoed oop. Om niks te sien nie.

Maar, ek was verniet beangs, die spinnekop het op ‘n trappie laer opgekrul gelê, steeds baie groot vir ‘n spinnekop.

Dood, want een deel van hom het wel in die gleuf van die deur agtergebly.

Dus was die ding massief!

Ek gaan soveel keer per dag by daardie deur uit, maar ek sal dit nie weer doen sonder om die mure te bestudeer nie. Daarvoor is ek te maklik in ‘n stewige spinnedraad verstrengel …

Ek kan dit nie help nie, ek en ‘n spinnekop gaan nie ‘n huis deel nie. Buite sit gaan nie werk nie, die plakkers het klaar besluit dat ek ‘n baie lekker huis het …

Nota: By die see is nie spinnekoppe nie, na ‘n jaar het ek nog nie een plakker gekry nie. Of wag, ek jok! Ek moes een by my opwas buite die agterdeur doodmaak wat met ‘n rug vol kleintjies teen die plafon in ‘n web gelê het. Daardie vertrekkie het sommer ‘n skuifdeur gekry, dit is seker nou moeiliker om in te kom?

Maar, daar is gevaarlike slange ….

En nee, die spinnekop is nie so groot soos die een op my foto nie, as ek so groot een raakloop, sal ek dit nie oorleef nie. Hy kan maar toespin, ek sal klaar die gees gegee het …

Dalk moes ek nooit Spiders gekyk het nie, ek dink my vrees kom van daar af … Die spinnekoppe het mense maklik snags toegespin … sommer in hulle motors ook. En … hulle was nie massief nie, net besige spinnedraders …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “Verdomde spinnekoppe in my huis

  1. Dit was meskien ‘n Streeppoot-Goue Wawielwebspinnekop. Hulle spinnerakke is gewoonlik groot, nogal sterk en taai en is klewerig. Die spinnekop is in elk geval vroulik – hulle vreet die mannetjie 🙂

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.