Gepubliseer in Akademies,Joernaal

En net so donder een week soos ‘n wilde perd verby

Genugtig, die weke vlieg te vinnig vir my, al voel dit soos ‘n ewigheid wat ek wag vir terugvoer nadat ek ‘n artikel ingedien het.

Iedergeval, ek wou eintlik gesels oor weke wat soos wilde perde verbydonder. Ek verwys nou na die klank van die hoewe, nie na die krasser betekenis van die woord nie.

My een PhD-student het die jaar min gewerk en wou stop omdat sy steeds nie ‘n voorstel gereed het nie. Maar, toe sê ek vir haar ek is dag en nag beskikbaar, probeer het. Sy doen, en so vlieg tien dae verby waarin sy en ek heen en weer stuur tot ek amper tevrede is, maar dink dat dit goed genoeg is om nie afgeskiet te word nie. Sy moes Maandag aanlyn met ‘n groep daaroor gesels, en sy is goedgekeur. My nerwe het sowaar nie aan skerwe gehang nie, al was dit my eerste rodeo om ‘n student van die begin af alleen te begelei. Ek is ook alleenstudieleier vir my ander PhD nadat die hoofstudieleier afgetree het en my as sy opvolger voorgestel het – ek was medestudieleier, maar nie van die begin af nie … So het tien dae gevlieg …

Ek het mos ook so baie artikels geskryf omdat ek gestres het dat ek nie twee volle artikels vir die jaar gaan hê nie. Wel, ek het verniet gestres. Die artikels tel blykbaar op twee maniere. Dit tel vir my as twee vir die jaar, mar as dit by betaling kom, net as 1 1/2 omdat ek medeskrywer gehad het. Dus het ek verniet gekommer.

Nou het ek drie in die stelsel, wat ook natuurlik gelyk by my kan aankom vir die eerste stappe. Interessant genoeg het die een van die drie wat eerste ingestuur is, tweede teruggekom …

Die een wat ek laaste ingestuur het, het reeds ‘n antwoord gekry. Dit is nie heeltemal in die perke van Computers & Education nie, maar hulle het dit namens my na drie ander vaktydskrifte gestuur en al drie het laat weet dat ek na hulle kan oorplaas, dit is binne hulle veld wat hulle dek! Dus is my eerste internasionale artikel reeds deur die eerste fase van keuring, moet dit nou na keurders uitgaan. Ek mag ook aaraan verander, maar moet dit met track-changes aandui omdat die redaksie dit reeds as geskik aanvaar het …

Die eerste een het teruggekom met die beste kommentaar wat ek nog vir ‘n artrikel gekry het. Ek is ongelooflik beīndruk daarmee, voel geseënd. Ek het hard daaraan gewerk, dit so geskryf dat dit buite Opvoedkunde ook aanvaar sou kon word, en dit is. Hoe lank dit nou tot publikasie gaan neem, weet ek nie. Ek het reeds teruggestuur met die enkele veranderinge wat hulle aanbeveel het. Enkeles! Maar, daar is twee en ‘n halwe maande oor, dit behoort in 2023 gepubliseer te word.

Toe skryf ek gister vir ‘n kursus in wat vanaf 18-20 Oktober elje dag van een tot vyf aangebied sal word. AtlasTI, iets wat ek al baie, baie lankal wil doen. By Unisa is ek geweier, ek moenie so windgat wees om te dink dat ek kursusse mag doen wat vir personeel aangebied word nie. Kovsies nooi my uit, maar ek woird by hulle as deel van die personeel aanvaar, sonder baie van die voordele omdat ek ‘n kontrakwerker is. Ek mag egter alle kursusse bywoon, hulle ontwikkel hulle navorsers. Hoe lekker is dit nie?

Die meeste kursusse is in persoon, dus kan ek nie. Bloem is darem net te ver daarvoor. Maar, aanlyn kan ek ek doen ek as ek belangstel.

Dus skryf ek in, sien dat ek gevra kan word om te betaal as ek nie gaan nie, en dink nog waarom sou iemand inskryf en los.

Toe ek besef daar is slegs twee ure oor voor dag 1 begin. En ek het die program nog nie eens op my rekenaar nie.

Dit is die vinnigste wat ek al ‘n program gaan soek het om af te laai, langste wat ‘n program al afgelaai het as ek haastig is. Ek moes dit die hele tyd dophou, as ek wegkyk, stop dit, dan moet ek die knoppie druk dat dit verder aflaai. Irriterend, maar mens doen wat mens moet doen.

En toe is ek in die kursus en is die eerste uur te lank na my smaak. Sy vertel net wie sy is en wat sy doen en bietjie meer oor die program.

Toe begin ons en gaan ‘n wonderwêreld voor my oop. Dit is een indrukwekkende program. Ek gaan my kwalitatiewe data soveel makliker kan ontleed en sommer ook interessanter voorstel.

Anders as die ander kursusgangers, het ek met my eie data gewerk, haar net gevolg oor hoe om dit te doen. Hulle het met haar data gewerk, en kon dus nie mooi verstaan hoe om die kodes te skep nie.

Dus kan ek nie eintlik kla oor die weke so verbydonder nie, ek doen die meeste van die werk self om die tyd te laat vlieg.

As ek ook daaroor begin wonder hoeveel tyd mens oor het, as ek skielik in van die oudste groepe pas as ek ‘n vraelts beantwoord. 60 Plus. Darm nog nie 65+ nie, maar ek is goed op pad soontoe ook. Reeds oor die halfpad streep.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “En net so donder een week soos ‘n wilde perd verby

  1. Hoe is dit dat tyd so stadig verby gegaan het toe ek op skool was en noudat ek (heelwat) ouer is, voel jare skielik soos maande! Jy ken daardie gesegde: “Time flies when you’re having fun” … ek dink dis presies hoe dit met jou is, jy het hopeloos te veel pret met al jou skryfwerk 😁.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op wetanddustyroads Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.