Ek is die afgelope jaar nogal erg teleurgestel in die tyd wat dit neem vanaf indien van ‘n manuskrip – tot publikasie. Maar, veral die tydsduur vanaf indien tot terugvoer.
‘n Artikel wat ons dringend en binne ‘n baie kort tydsbestek by ‘n Engelse vaktydskrif moes indien, is 10 maande later eers gepubliseer. Ek het die probleem sien kom toe ek die webblad teen November gaan bestudeer om te sien dat een van die keurders se terugvoer reeds as laat aangedui is. Teen middel Desember was daar steeds geen beweging nie, al het ek klomp vrae gevra op die webblad. Teen middel-Januarie het ek e-posse na die belangrikes gestuur – wat gaan aan? Die tweede keurder se werk is maande laat! Toe kom skuiwe, iemand anders neem oor en is daar beweging, maar die artikel is eers Mei-maand gepubliseer, 10 maande nadat ek ingedien het. Ek het wel gedreig om te onttrek en na ander vaktydskrif te stuur … Wat my baie ontevrede maak, is dat ek toe erg aangejaag is tydens die prosesse, maar as daar terugvoer moes kom, was daar steeds geen haas nie … Die probleem is dat ek ‘n medeskrywer het – en dat dit my inkomste beïnvloed.
Dus het ek besluit om drie artikels voor Desember te publiseer, dat die eerste een nie so gat in my inkomste maak nie. Dit is noodsaaklik omdat die gebruik van ‘n medeskrywer my inkomste halveer.
Die tweede artikel is na ‘n ander vaktydskrif gestuur. Dit was in ‘n oorgangstydperk vanaf een persoon na ‘n ander. Eintlik ‘n hele paar oorgangstye want verskeie mense het oorgeneem in poste waar ek met die bestaandes se prosesse vertroud was. Die artikel is vyf maande later gepubliseer, twee maande langer in die prosesse gewees as vorige kere. Ek was opgestres en het nie weer kans gesien om by die betrokke afdeling in te dien nie … al is dit my spesialiteitsveld.
Die derde artikel is na ander afdeling gestuur, geen veranderinge daar nie. Ek het die doel aangepas om in die nuwe spesialiteitsveld in te pas. En myself gestrek om by te hou met ander idees. Maar, ek het net aanvaar dat dit beter sou gaan. Toe nie. Twee maande later, toe ek al begin uitkyk vir terugvoer van keurders, kry ek die onaangename verrassing. Die artikel is nog nie eens ingestuur nie, hulle het paar tegniese veranderinge voorgestel waarna hulle sal kyk voordat dit na die keurders gaan. Dit sluit die verandering van die ‘n se strepie om na die ander kant oor te lê. Ek het geen verwagtinge nie, ek neem aan ek gaan oor twee maande weer terugkry met – is ek tevrede met die veranderinge? En dan is dit onmoontlik om die artikel nog vanjaar gepubliseer te sien.
Dit skep geweldige probleme aangesien ek twee artikels per jaar gepubliseer moet kry. Voorheen het ek geskryf, en binne drie maande is ek deur die prosesse. Geen stres nie, ek weet mos hoe lank dit vat. Nou stres ek my dood, met geen vertroue in die stelsels nie. Eerste week in September, dus is die kanse net te groot dat hierdie artikel nie voor einde Desember gepubliseer sal wees nie.
Dus het ek agter my rekenaar ingevlieg, onderwerp gekies en binne een maand ‘n vierde artikel geskryf waarvan ek besonder baie hou. Gewoonlik duur dit tot vier maande voor ek indien, nou het ek ‘n dringende nood om dadelik nog ‘n artikel in die prosesse te kry.
Die artikel is spesifiek vir ‘n ou gunsteling vaktydskrif bedoel. Ek moes weer leer wat die tydskrif se vereistes is, vanaf die inteksverwysings tot hoe die bronnelys moet oyk. Daar is ook intussen nuwe voorskrifte vir formaat, maar ek het aangepas om by my styl te pas. Dit is nou nadat ek na die formaat van ‘n paar gepubliseerde artikels gaan kyk het … Waarom daar soveel verwysingstyle moet wees, weet ek nie. Dat dit mens erg deurmekaar maak, kan niemand ontken nie …
Ek het gister ingedien.
Maar, dit is eintlik waaroor ek vandag wil skryf.
Wat ‘n heerlike proses.
Ek het al vergeet hoe maklik dit gaan. Jy dien alles aanlyn in, maar toe kry ek dit nie reg nie omdat ek nog nie as skrywer gelaai is nie. Een e-pos, waarop ek nie ‘n dadelike antwoord verwag het nie, is dadelik beantwoord. En toe ek weer sien, is ek gelaai as skrywer en dien ek in – op 18 September 2023. ‘n Week nadat ek artikel 3 teruggestuur het … Dit gee my so drie en ‘n halwe maand tot einde Desember vir hopenlike publikasie.
En nou vir die wag. Vir die eerste keer in my lewe het ek twee artikels gelyk in die proses. En ek het ‘n sterk vermoede dat die een wat ek gister gelaai het, eerste gepubliseer gaan word – al is dit twee maande later eers ingedien.
Ek weet hoe maklik die taalversoring deel werk. Artikel twee was vir die eerste keer baie lank in die “ry” vir taalversorging. Hierdie tydskrif het nie ‘n enkele taalversorger nie, ek weet, ek het vir hulle taalversoring gedoen. Die voorstelle word na taalversorgers gestuur, hulle aanvaar ‘n kort tydperk om die werk te voltooi, en dan gebeur alles net. Jy werk direk met die taalversorger, en as julle twee tevrede is, daan dit weer terug na die redakteur toe. Ek weet dus dat die tydsduur by taalversorgers ook beperk is.
Een groot lekkerte is dat ek die proses aanlyn kn dophou. Ek hoef nie eers moed by te skraap om navraag te doen nie, ek kyk sommer net aanlyn waar alles in die proses is, taalversorging ook.
Soos ek skryf, nou vir die wag … Dalk is ek reg? Dalk is ek verkeerd?
Wat ek wel weet, is dat beide goed genoeg is om aanvaar te word. Daarvan maak ek eers baie seker voor ek indien – die artikel moet by die tema van die tydskrif in-as, nuwe studieveld dek, dringend geag word weens nuwe bydrae in veld … dan is die kans groot dat dit aanvaar sal word.
Vraag is, in watter jaar dit gepubliseer gaan word. Want 2023 is noodsaaklik, 2024 is ontstellend.
Dit is moeilik om te aanvaar dat die proses na indiening van ‘n artikel so lank kan neem.
LikeLiked by 1 person
Dit is regtig nie lekker nie, veral as jou werk daarvan afhang. Ek moet maar net in die vervolg seker maak dat ten minste vier in die proses is, sodat twee hopenlik gouer gaan ….
LikeLiked by 1 person
Sjoe, ek het glad nie besef dit kan so lank neem nie (en dat daar deur soveel hoepels gespring moet word nie)! Sterkte – ek hou duim vas vir ten minste einde van hierdie jaar (en sal dit nie gaaf wees as dit die geval met beide kan wees nie)!
LikeLiked by 1 person
Lag ek lekker, ja, hoepels nmoet gespring word … dit gaan eers na redakteur, wat ja of nee kan besluit. Gewoonlik gaan dit dan na keurders, daarom is ek nogal gefrustreerd met die een wat na twee maande eers teruggekom het met die ‘n se strepie wat na die ander kant moet lê, dus ‘n. Ek het ook nou sommer gevra hoe, want ek sukkel my elke keer dood. Nou tik ek ook so, control + die ‘ twee keer, dan is dit reg. Leer myself nou sommer om dit so te doen. Dan kan keurders so 6 weke neem om terugvoer te gee (my keerdatum is altyd 1 maand, dus gaan ek bietjie druk dat ek ook 6 weke kry as ek ses weke moet wag), dan kan hulle veranderinge vra, wat gedoen kan word – of nie. Hulle sien gewoonlik goed raak waar ek my leser mis, dan gaan dit na proeflesers, wat ook lyk my nou meer as ‘n maand kan vat, dan kom dit terug en moet ek goedkeur. Dan gaan dit weer in, en dan wag mens weer, vir die mense wat uitleg doen. Dan kom dit terug, moet jy aandui of jy tevrede is en dan eers gaan dit in om gepubliseer te word ….
LikeLike
Ding is, dit het nog nooit so lank gevat nie, dus stres ek goed as maande verby gaan …
LikeLike
Kan dink hoe frustrerend dit kan wees
LikeLiked by 1 person
Dit is nogal, ek moet bietjie rondkyk en vra waar dit beter gaan. Ek stres nou heeltemal te veel
LikeLiked by 1 person
Dis n goeie idee, doen dit
LikeLiked by 1 person