Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

‘n Hoender wat nie tackle nie …

Ons het kleinkind weer Vrydag by die skool gaan haal. Later as gewoonlik, ek moes oupa eers by Gautrein stasie afhaal.

Ons het tradisie wat nie verbreek mag word nie, dus moet ouma kophou voor sy in die kar klim.

Rooi Disney kosblikkie met drie afdelings in?

Verskillende goed in die drie afdelings?

Glasie met strooitjie met appelsap in?

Want, as hy in die kar klim is dit: “Hallo my oupa! Ouma, het jy vir my kossies gepak?”

Dit moenie kossies wees nie, dit moet chippies, lekkergoedjie en koekie wees. Ek sit suigstokkie of klein pakkie Smarties in. En Oreos wat sy pa se gunsteling was.

En dan gesels ons, of sing hy ‘n liedjie of vra ek oor intensiewe vorme. Hy ken al ‘n hele lysie daarvan.

Gister eet hy chippies, breek elke een in drie babadeeltjies en oupa moet hand na agter hou vir sy chippie. Ek sê dan dit is in sy hand, want dit is so klein oupa voel nie eens hy kry kos nie …

En toe begin hy sing:

‘n Hoender wat nie kan tackle nie

Se eiers is nie lekker nie

Ahoelala

Ahoelala –

… met so diep stemmetjie en ronde lippies in die herhaalgedeelte.

So Google ek: “n hoender wat nie tackle nie, maar kry ek ‘n hoender nie kekkel nie se woorde – sanger Jakkie Louw. Soek die liedjie en sit dit aan en word beloon met die hardste lag wat ek al gesien het.

Hierdie ouma ken sy liedjie, sy het dit opgespoor. Ek sing ‘n hoender wat nie kan kekkel nie en word reggehelp: ‘n hoender wat nie kan tackle nie, met die koppie wat op die maat van die musiek van kant tot kant skud.

Oupa moet ook later luister, word ook reggehelp toe hy probeer leer dat dit kekkel is.

Ouma keer, sy weergawe is baie, baie beter, so tydens die wêreldrugbybeker. Hy het juis sy springbokhempie aan – hulle moet Vrydae soos Bokke aantrek.

So wonder ek – leer die juffrouens dalk juis tackle en gaan die liedjie op die konsert in November gesing word?

Ekke dink so …

Hier is Jakkie se liedjie as jy dit nie ken nie …

Hier is die skakel as jy nie hier kon kyk nie.

https://music.youtube.com/watch?v=huy-BN-dmlg

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “‘n Hoender wat nie tackle nie …

  1. Ek het nou lekker gelag vir kleinkind se ‘tackle’ 😄. Ek ken nogal die liedjie, so het onmiddellik gedink dis eintlik ‘kekkel’, maar nou sal ek dit ook sommer as ‘tackle’ sing, dis te oulik! En Jakkie se video is ook snaaks!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.