Kyk, daar is min goed wat my my so laat wip as mense wat dink dat hulle my vir ‘n pop kan vat.
Ek hou van hierdie stelling van die kleurlinggemeenskap – om te dink dat iemand so dom is dat hulle vir jou streke sal val. Slagoffers van jou kinderagtigheid.
So kry ek hierdie week ‘n e-pos in my e-posadres by die universiteit dat daar ‘n kuberaanval was. En dat ek ‘n dokument moet aflaai om my rekenaar te beskerm met nuwe sagteware. Die dokument is ‘n Word dokument, wat waarskynlik nie ‘n exe-kode kan bevat nie. En … al sou dit, laai ek niks wat ander – wat ek nie ken nie – vir my aanstuur op my rekenaar af nie.
Dit is my persoonlike rekenaar, ek besluit wat daarop kom en wat nie. En as ek moet opgradeer weens ‘n kuberaanval, doen ek dit vanaf ‘n tegnologiese webwerf wat ek vertrou.
Ek het die e-pos wel oopgemaak, want dit het IT gesê. Maar, toe ek na die e-posadres kyk, het ek besluit dat dit definitief nie van die universiteit kon kom nie.
Die e-posadres het verdag gelyk. Dus het ek dit na die regte IT gestuur, en gevra of hulle dit wel gestuur het. Natuurlik verwag ek ‘n antwoord, maar dit was nie wat ek verwag het nie.
Die e-pos was van iemand anders. Weereens ‘n e-posadres wat ek nie ken nie. Maar die inhoud het my witwarm onder die kraag gemaak.
Volgens die persoon het ek vir ‘n “mock phishing” e-pos geval, en daarom is nou gekies om ‘n kursus oor “phishing” te doen. dit gaan blykbaar vreeslik “fun” wees.
Regtig?
Om my in die eerste plek met ‘n “mock” e-pos te irriteer. In so mate dat ek dit vir die regte IT aanstuur om na die e-pos te kyk, om dan genomineer te word om ‘n kursus by te woon? En o ja, ek moet op ‘n skakel in die e-pos klik om na die kursus geneem te word!
Natuurlik is dit wat mens nie moet doen nie, om op skakels in e-posse te klik. Dus het ek die e-pos uitgevee, die grap is op die een wat dink dit is ‘n grap om my op ‘n dag wat ek regtig baie siek voel, vir ‘n pop te vat. Op sulke dae moet mens liewer van my spoor af gaan tot ek weer beter voel!
Ek gaan dus alle verdere e-posse van IT ignoreer, uitvee voor ek dit lees. Eintlik sommer verban, dat ek dit nie kan sien nie.
Dit laat my aan my jonger dae dink …
Manlief was nog skaars uit die universiteit op die myn, ‘n mynertjie wat heel onder moes begin – graad en al. Soveel anders as die ge”wine en dine” toe ons nog studente was, het die myn ons heel onder laat begin, soos hulle vloerlappe behandel. Ek was onaangenaam verras.
Manlief was deel van die proto span van die myn. As daar ‘n ondergrondse vuur is, word hulle dag of nag uitgeroep om te gaan blus. Dan hoor mens nie van hulle nie, dit was voor selfone, hulle het sommer in die kleedkamers geslaap tussen skofte. En die vure kon ook in ander dorpe gewees het. Ons het nie eens geweet waar nie.
Die geld was goed, ek wou nie daaraan raak nie. Ek het my opgestres tot my man vuil en moeg terug by die huis was. Eers as ek sien hy is veilig, het ek ontspan.
Maar, hulle het ook een keer per maand (of was dit langer) opleiding gehad. En dan het hulle te veel gedrink, laat by die huis gekom. Manlief het net een keer gewaag om met blomme voor hom by die huis op te daag. Daarna moes hy mooi besluit of hy geld wil uitgee vir blomme wat in die asblik land – as dit omkoopblomme was. Verjaardag is ander saak…
Nog ‘n rede waarom ek nie van proto gehou het nie.
So is dit weer opleiding. ‘n reënerige dag. Ek en dollatjie is tuis, kan nie onthou of boeta al daar was nie. Ek was bitter jonk.
Ek het die middag van die skool afgekom.
Die foon lui, dit is die hoof van die proto. Hy soek my man dadelik, daar is ‘n vuur. Kan ek hom roep?
Natuurlik kan ek nie, hy is nie tuis nie. Maar, ek kan ook nie vra of hy nie by die man is nie. Ek kan mos nie my naam of my man s’n so weggooi nie. Maar, manlief sou lip kry as hy by die huis kom. Hy het vir my gejok, hy was nie by proto-opleiding nie!
So ry ek myn toe, soek sy kar. Dit is nie daar nie. Ry gholfbaan toe, hy is nie daar nie. Ry in die strate, soek my man. Kry hom nie.
Terug by die huis, is ek baie ontevrede, manlief is nêrens, hy het vir my gejok. Ook nie by die restaurant waar hulle altyd uitgehang het nie..
Later lui die foon weer.
Kan ek asseblief vir manlief roep? vra die protohoof.
Weereens kry ek my kind, klim in die kar om hom te gaan soek.
Maar daar is geen reaksie nie. Ek het die ligte aan vergeet. Ek vra buurman oorkant die straat om te help, al het ons nog nooit eens met mekaar gepraat nie. Hy stoot en die kar vat, ek soek weer by die plekke waar ek gedink het hy kon wees.
Kry hom nie en ry weereens huis toe.
Hy kan maar in die moeilikheid kom, ek en dollatjie gaan bad en slaap.
Later lui die foon weer:
Kan hy nou asseblief met manlief praat?
Ek het genoeg gehad en sê hy is nie by die huis nie, ek weet ook nie waar hy is nie.
Om ‘n dronk ou ballie aan die ander kant te hoor lag:
Hahahahaha – hy weet, hy is by hom. Hulle eet en drink nog lekker.
Ek was verby kwaad. Ek was smoorkwaad!
Het die foon in sy oor neergeplak, en toe hy weer bel en weer, het ek die foon laat luit tot dit ophou lui.
Ek is nie ‘n dronk man se speelding nie. Ek het ‘n moeilike dag agter die blad met my dollatjie wat net moes in en uit. Met ‘n motor wat nie wou werk nie. Ek het my man probeer beskerm, en hulle dink ek is ‘n grap.
Toe manlief later by die huis kom, vra hy om verskoning. die ou ballie het eers later vir hulle vertel wat hy gedoen het …
Ek het nie dadelik afgekoel nie.
So week later bel die ou ballie weer.
“Good afternoon, may he speak to my husband. There is a fire!”
Ek het in sy oor gelag en die foon in sy oor doodgedruk.
Regtig?
Is ek onnosel?
Hy het later weer gebel, en ek het weer gelag en doodgedruk.
En weer.
En weer.
Kan die onnosel nie die boodskap kry nie?
Wel, daar was toe ‘n vuur. Hy moes sukkel om my man self te kontak, ek het hom nie geglo nie.
By die jaareindfunksie staan die man op vir sy toespraak. En toe word ek uitgesonder.
Weet julle hoe skaam ek is?
Ek ken nie die mense nie, ek en die vrouens het nie maats gemaak nie, ek werk, hou heeldag skool. Was nie huisvrou nie. Hulle geniet dit as die mans op vure uit is en “opleiding” het, hulle drink harder as die mans. Het ek die aand ontdek.
En toe vra hy daar voor almal om verskoning. Dit sal nie weer gebeur nie, dit was ‘n dom grap.
***
Ek trap nie twee keer in dieselfde strik nie.
Hier vra ek kyk asseblief, ek dink dit is verdagte e-pos. Net om te hoor ek is nou “uitgevang” en daarom moet ek ‘n kursus doen.
Hulle gaan baie, baie lank wag dat ek op die skakel moet klik. Nogals voor die 10de. Gee my nogals twee dae daarvoor.
Ek het doodeenvoudig die “swipe left” funksie gebruik en die lastigheid uitgevee.
Soos wat ek met alle opvolg e-posse gaan maak …
Ek sal my ongelooflik vererg as ek moet hoor ek moes nooit op die skakel geklik het nie …
So, voor ek ‘n e-pos vir ‘n hoof stuur – die keer my eie ene – om hom in te lig dat ek nie die grappe waardeer nie, vee ek dit bloot uit.
***
Terloops, ons almal moes nou die dag “opleiding” oor die poppie wet ondergaan. Ek het op skakel geklik, dit het nie my personeel e-pos gevat nie, het na my persoonlike ene verander – Microsoft raak ongelooflik irriterend en in my gesig vir tegnologie wat gebruik moet word en nie self moet dink nie.
Toe los ek, kry boodskappe dat ek dit moet doen, sukkel, los dit en toe ‘n aanmaning.
Jy sal dit doen!
Ek het, maar met elke sukkel stap het ek ‘n skermskoot gemaak en hulle ge-epos, maak fout reg cat ek kan aangaan. So oor twee dae is die probleem opgelos, na die twee video’s geluister en die vrae beantwoord.
Ek gaan ook nie maklik weer daardie proses nie …
‘n Grap is ‘n grap slegs as albei dit so kan insien. Andersins is dit geensins ‘n grap nie. Ai ek voel saam met jou hieroor, Christa. Mense het my al baie daarvan beskuldig dat ek die lewe te ernstig opneem, maar dis nou maar eenmaal wie ek is. Mense vang my ook nie met sulke grappe nie.
LikeLiked by 1 person
Dankie, ek kan glad nie die grap insien nie, waarskynlik omdat die drank gepraat het. Maar dankie, ek voel soms ek word te gou kwaad.
LikeLike
Daardie IT ou het maar ‘n flou grap gemaak … ek sal my ook vererg! Dis amper asof hulle ‘n mens wil laat dom lyk. Ek lag maklik vir ‘n goeie grap, maar ten koste van iemand anders? Nooit, dis nie snaaks nie!
LikeLiked by 1 person
Dit is waar! Ek dog ek help hulle en toe maak hulle of ek onnosel is. Dit is wat my wange laat gloei!
LikeLiked by 1 person
Al hierdie fop-eposse en fop-mense kan my net so irriteer. Hierdie klomp buitelandse mans wat mens wil “befriend” op Instagram en Faceboek. “Hello dear, how are you?” Dis die gouste wat ek iemand uit my lewe uit blok en verban tot in ‘n duisend jaar na my dood.
LikeLiked by 1 person
Oe, ek geniet daardie een – tot ‘n duisend jaar na my dood. En selfs langer, kan jy glo? Ek is so ontevrede daarmee, en ek weet ek moenie so kwaad word nie.
LikeLiked by 1 person
😎
LikeLike
Iemand het my verlede week gevra wat my die kwaadste maak. Toe sê ek 1. as iemand my sonder respek hanteer en 2. as iemand dink ek kan nie sien wat hy probeer doen nie. So, ek is met jou…
LikeLiked by 1 person
Dankie vriendin. Ek kry toe vandag ‘n aanmaning, ek moet die kursus doen. Toe skryf ek terug. Ek het verdagte e=-pos gesien en julle gevra om te kyk. Toe word ek vertel dat ek vir scam geval het en ‘n kursus moet doen. Moet net op die skakel klik. Toe klik ek nie, hackers se e-posse vra klik op skakel. En sommer ook terloops, ek gebruik die e-pos selde en werk op my eie persoonlike rekenaar. Dus gaan ek ook nie op skakels klik nie … nou wag ek om te sien wat gaan gebeur …
LikeLiked by 1 person
Laat weet ons!
LikeLiked by 1 person