Gepubliseer in Joernaal

Waar kry hulle die manne?

Julle, ek gaan dit vra, want dit tiekel my pienk. Waar kry ouer, afgetrede vrouens die manne?

Laat ek eers duidelik stel. Ek soek nie ene nie, ek wil net weet. Want ek is nuuskierig. Ek kan ook nie altyd vra nie.

Gister moet die ou tannie wie se huisie ons gekoop het, pos kom haal. Sy vra of sy haar vriend kan saambring, en ek kan nie help om te sê: “Sjoe, tannie klink stuitig nie.” Haar stem het verklap dat die oompie baie, baie belangrik is.

So vertel sy hoog in haar noppies dat die oom oorkant haar bly waar nou sy woon. En dat die ander tannies van die kompleks wil weet hoekom hy haar gekies het, hulle bly almal al lankal daar. Maar toe sy intrek, het hy oē vir haar! Ok, so is my vraag oor haar beantwoord. Sy het die man ontmoet waar sy nou woon – en hulle as is al meer as ‘n jaar saam!

Bid jou aan. Sy het dus skaars daar ingetrek, toe is hulle ‘n paartjie! Want, sy het 18 maande gelede hier uitgetrek!

So is daar iemand anders, en dit is eintlik haar liefdeslewe wat my tot hierdie skrywe bring. Sy het onlangs afgetree, maar sy het in hierdie jaar reeds ‘n derde liefie. Die mans is ook glad nie sleg op die oog nie, inteendeel. Ek het twee van hulle ontkoet, en ‘n foto van nommer drie gesien.

My vraag, wat ek nie kan vra nie omdat ek haar nie wil afskrik nie, is waar sy al die mans ontmoet. Hulle is nie oud-kollegas nie, dit weet ek ten minste. Ek weet sy gaan gereeld kerk toe, maar sy kuier ook nie in kuierplekke nie. Sy is eintlik stillerig. Sy bly in haar eie hyis, dus is daar ook nie kompleks-oompies wat sy kan ontmoet nie.

Ag, ek dink die vraag wat ek eintlik wil vra, is waar hulle krag of lus kry om ‘n tweede man te wil leer ken. Volgens die ou tannie is sy al meer as tien jaar ‘n weduwee. Dus het sy lank genoeg gerou en ek dink ook nie mens wil eensaam wees nie. Kinders het hulle eie lewens, kleinkinders hou kinders besig. Na tien jaar sien mens seker daarna uit om ‘n ou liefie aan jou sy te hê. Ek dink sy het lang genoeg gerou om te weet wat sy wil hê.

Die jonger vrou se saak staan anders. Ek dink nie mens kan drie ernstige verhoudings in ses maande hê nie. Ek dink werklik mens moet eers stilstaan, eers oor ‘n verbrokkelde verhouding rou – en lank genoeg deur die rouproses gaan om weer sterk te wees. Dan eers kan mens ‘n volgende liefie kry. Anders gaan onverwerkte emosies elke nuwe verhouding beïnvloed. Natuurlik dink ek ook mens moet die man eers baie goed ken voordat hy jou hart steel.

Dit is natuurlik my eie mening.

My vraag was eintlik waar hulle die manne opspoor.

Nie dat ek wil weet nie, dit is eintlik ‘n retoriese vraag.

Want, ek twyfel ernstig of ek na my manlief weer by ‘n man betrokke sal raak. Diegene wat ek ken, is vol kaf. Of hulle so was, weet ek nie. En of hulle na hulle vrouens se smaak verander is, en toe laat staan is omdat die vrouens nie van hulle produkte gehou het nie, weet ek ook nie.

Wat ek wel weet, is dat ek nie dink dat ek na my manlief weer ‘n man aan my sy wil hê nie. Dalk om saam iets te gaan doen, maar saans wil ek in my eie huis wees, sonder enige aanhangsels wat my aandag verg.

Ek luister so na die omie. Hulle het nou die dag nie krag gehad nie, toe maak die tannie vir hulle tweetjies kos. Dalk is dit dit wat my afskrik? Om weer te leer van watse kos ‘n man hou en nie hou nie. Of om dalk gereed te staan as hy honger is – en ek nie?

Nee wat, ek dink ek ken die rede. Nie,and gaan maklik in my manlief se skoene kan staan nie. Dus hoop en bid ek dat ons twee saam oud gaan word, maar veral dat, wanneer die dag kom om die aarde te verlaat, ek die onbekende paadjie eerste sal aandurf.

Sonder hom gaan die lewe vaal wees, dit weet ek wanneer hy vir ‘n week land uit gaan. Dan weet ek egter hy kom terug. Ek is nie alleen nie.

Natuurlik is daar vir my mooi mans. Ek het Google gevra vir ‘n foot van ‘n mooi ouer man en hierdie ene gekry. Nie sleg nie. Maar, mooi vergaan en deug bly staan. My manlief is vir my mooi, sommer baie. Ek deel net nie nou sy foto nie …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Waar kry hulle die manne?

  1. Ek wonder ook waar mense mekaar ontmoet. Deesdae werk baie mense nog van hulle huise af en kanse om mense net raak te loop en met hulle te gesels raak al hoe minder.

    Liked by 1 person

  2. Ek dink jy sal verbaas wees, tussen Tinder, Facebook, vriende wat dates reel en toevallige ontmoetings kan jy iemand ontmoet as jy wil. Ek stem saam met jou oor die rouproses, dit was ‘n harde les en een wat ek nie weer wil leer nie.

    Liked by 1 person

    1. Dit is natuurlik waar. Noudat ek daaraan dink, sy het tweede man op dating site opgespoor. Ek is heeltemal te sinies, glo mense kan agter skerms skuil en voorgee dat hulle geloofwaardig is. Ai vriendin, noudat ek daaraan dink, jy het dit daai tyd genoem – moes eers deeglik deur die rouproses gaan. Ek het dit dalk in my onderbewuste onthou?

      Liked by 1 person

  3. As ek net dink toe ons na ‘n nuwe plek verhuis het laasjaar, hoe moeilik dit was om nuwe vriende te maak … dan wil ek nie eens dink watter uitdaging dit moet wees om weer op ‘n ouer ouderdom ‘n nuwe maat te wil ontmoet nie. Het ek die krag daarvoor? Gaats, ek weet darem nie 😉.

    Liked by 1 person

  4. Tiekel my pienk – jy laat my glimlag! Ja-nee, mooi is mooi. En ek het ook nog my liefie. Maar ek kan my nie indink dat ek weer deur al daardie aanpassings by iemand wil gaan nie. Die ander vroue kan maar vat.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.