Gepubliseer in Joernaal

‘n Spook in my huis? Of ‘n internetdief?

Sondagaand toe ons in die bed lê, vra manlief vir my wie op my rekenaar tik. Ek het die tikgeluide ook gehoor, maar my nie daaraan gesteur nie. Hy kan mos sien daar is niemand voor my rekenaar nie.

Maandagoggend (gister) kry ek die verrassing van my lewe. Ek vermoed daar is by my WhatsApp ingebreek. Daar is heelwat boodskappe wat “ek” aan verskeie mense gisteraand gestuur het terwyl ek in die bed is. En ek het nie een daarvan gestuur nie.

Ek het Sondag middag met ‘n buurvrou op WA gesels oor haar garage deur wat oopstaan. En sy het in die gesprek onder andere die volgende te sê gehad oor die deur wat oop is.

Hierdie antwoord is na verskeie van my kontakte – wat vriende, kennisse, ‘n WA-groep, my woefkinders se “groomer” en mense insluit wat vir ons kwotasies gegee het.

Kan jy jou die ongemak voorstel waarmee ek vir die mense moes laat weet dat ek nie die boodskap vir hulle aangestuur het nie? Almal het gelag en sommiges het gesê hulle is ook besig daarmee.

Ander het hierdie gedeelte van die gesprek gekry:

Kan jy jou die verwarring voorstel. Sommiges het laas week gehoor ons gaan Stilbaai toe, nou lees hulle ek was drie weke in Duitsland! En dat ek nog nie “tuis” is nie!

Buurvrou het ‘n foto van my man gekry waar hy langs die pad by die gebreekte sleepwaentjie sit. Ek het net jammer gesê, nie vertel dat ons skade gehad het nie. Net jammer, dit was nie ek nie.

Die betrokke foto het ek verlede Saterdag met die kinders in ons WA-groepie gedeel toe ons sleepwaentjie se wiel uitgeval en ons langs die pad gelos het.

Sommiges het eeen van die boodskappe gekry, ander het al die bogenoemde gekry.

Die meeste het daarna hierdie foto gekry – en dit was nie aangestuur nie, dit het gelyk asof ek dit gestuur het:

Dit het my aanvanklik nie gepla nie, dit is nogal ‘n mooi prentjie. Die agtergrond het egter vasgesteek in my brein.

Toe ek van naderby kyk, het ek koud geword: Kyk die agtergrond waarop die prentjie geplak is. Dit is ons sleepwaentjie langs die pad. ‘n Foto wat ek ook vir die kinders gestuur het.

En dit laat my hare regop staan!

Ek het dit nie gedoen nie. Tog lyk dit asof ek die prent gestuur het. Ek weet nie eens hoe mens so ‘n prent maak nie. Dit lyk of die meisie soos ‘n pleister opgeplak is?

Ek het nog geen idee wat dit beteken nie. Ek weet nie of kunsmatige intelligensie hier aan die werk was. En of iemand my WA ge”hack” het nie. Ek weet wel dat dit soort van soos ‘n boodskap voel.

Die waentjie wat gebreek het en die meisie gesig met die rooi hartjie en die hartjies wat sy met haar hande wys, voel darem nie skrikaanjaend nie.

Net baie, baie verdag. Want, dit word nie vir my gestuur nie, maar eerder na kontakte op WhatsApp.

Ek het wel vandag uit my maag gelag toe ek vir manlief daarvan vertel. Tot en met die prentjie is dit snaaks. Maar waarom sou my vriende en kennisse en groepe die meisie kry met die gebreekte sleepwaentjie as agtergrond?

Wat maak jy daarmee?

My brein wil nie verklaring vind nie.

Dit voel net soos ‘n boodskap …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “‘n Spook in my huis? Of ‘n internetdief?

  1. My mond hang oop, Christa! Wat op aarde!?!? Die wêreld maak my bang. Manlief het iets online bestel vir ons battery stelsel, via ‘n “secure” betaalpunt soortgelyk aan paypal. Die R1000 transaksie is 70 keer gedoen op sy kredietkaart. R70000. Mens is nerens meer veilig nie. Absa het ‘n fraud-case oopgemaak, maar eis dat ons maandeliks R3000 moet inbetaal. Die betaalpunt sê dis nie hulle fout nie. Ons vlg roete is nou ombudsman.

    Liked by 1 person

    1. Goeie aarde, ek wou nie like nie. Dit is belaglik. En ABSA is baie onbehulpsaam. Het al met my op Paypal gebeur, darem net transaksie wat boef gedoen het. En Paypal het my geld dadelik teruggegee. Die betaalpunt moet die geld teruggee.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.