Verlede week is ons by die see toe manlief ‘n oproep van die “bank” kry. Het hy hierdie en hierdie en hierdie betalings gedoen? Groot bedrae.
Natuurlik skrik hy groot, ons het so pas R10 000 betaal om ‘n sleepwaentjie reg te maak wat ons langs die pad gelos het.
Hulle bel om te help. Sluit sy kredietkaart dadelik. Hy moet net die laaste twee nommers van die kaart bevestig, en sy ID-nommer vir “veiligheid en sekuriteit” verskaf.
Dit klink vir my verdag, van wanneer af bel ABSA mens as jou geld gesteel word? Hulle was uiters onbeholpsaam toe Facebook geld uit my rekening gesteel het. Gelukkig was PayPal dadelik op die saak, het hulle my geld onmiddellik teruggegee.
As ek manlief se oë vlamme wil laat skiet, moet ek inmeng as hy praat. Maar, dit voel vir my verdag, en ek vra: “Het jy op jou toep gekyk? Is daar regtig sulke bedrae uit?”
Hy kyk my kwaai aan, maar maak tog seker terwyl die vrou praat en praat en praat. Nee, daar is niks weg nie.
Hy sê vir haar hy het gekyk, daar was nie sulke transaksies nie. Maar, sy is gereed met ‘n antwoord, sy kan dit wel “sien” aan die bank se kant.
Ek sê vir hom hy moet neersit, dit is ‘n kuberdief. En die bank self bel. Hy wip hom, sê vir die vrou sy moet net ‘n oomblik wag want sy vrou meng in. Ek wip my, maar loop nie ver weg nie. Hier is potensiële gevaar.
Sy is besig aan haar kant, en verduidelik dat hy ‘n OTP gaan kry. Ek sê hy moet asseblief nie die nommer vir haar gee nie, die bank sal dit nooit vra nie.
Hy kry die OTP met die boodskap dat dit iets met Samsung Pay te doen het. Verdag! Hy sē dat hy niks met Samsung te doen het nie en sy verduidelik dit is die kuberdiewe se goed. Sy is besig om alles op die stelsel reg te maak.
Ek smeek, sit net die foon neer asseblief.
Hy hou aan terwyl hy ‘n muurprop vir my regmaak.
En toe vra sy die nommer. Hy sê uiteindelik vir haar dat hy dit nie gaan gee nie, daar staan duidelik dat die bank dit nie sal vra nie. Sy sê sy roep dan maar haar “baas”.
Manlief wag, maar toe ‘n swart man die foon antwoord, is hy uiteindelik soort van oortuig dat dit ‘n scammer is weens sy aksent. Hemel tog, gelukkig was dit nie ‘n wit man met ‘n boere aksent nie. Ook nie ‘n swart man met ‘n Suid-Afrikaanse aksent nie.
Hy sit die foon neer en ek vra of hy die nommer agter op sy kaart vir haar gegee het.
Hy het.
Ek sê bank sal dit nooit vra nie.
Hy is uiteindelik oortuig. Ek is reg en hy het my nie geglo nie.
Ek soek die AbSA bedrog nommer, maar hy is reeds besig om te bel. Hy vertel wat gebeur het. Sy vra of hy die nommer agter op die kaart gegee het. Hy antwoord ja, en sy bevestig wat ek gesê het. Die bank sal nooit die nommer agter op die kaart vra nie.
Hy verduidelik dat sy sy bankkaart nommer gehad het, hy moes net die laaste twee syfers bevestig.
Binne sekondes is sy kaart gestop, ‘n nuwe een is op pad.
Ons kon rot en kaal gesteel gewees het as ek nie bly inmeng het nie.
Hierna sal manlief hopenlik versigtiger wees.
En ek?
As die “bank” bel en persoonlike inligting vra, gaan ek ‘n hokkie fluitjie wat nou by my rekenaar lê, hard en oorverdowend in sy of haar oor blaas. My frustrasies uitblaas.
So ‘n bietjie teruggee aan skelms … en hulle ook versigtig maak om kuberdiefstal te pleeg. Hulle moet mekaar sommer waarsku: Mens weet nooit wat anderkant die “draad” op jou ore wag nie.
Wens ek kon so veldtog begin, ‘n veldtog wat mense help om kuberdiewe die skrik op die lyf te jaag. Soos hulle doen met mense wat hulle vertrou het.
Mens moet vreeslik versigtig wees!
LikeLiked by 1 person
Dit maak mens sommer boos. Ek is al so dat ek nie sommer my foon antwoord nie – dit is nou die een waavoor ek betaal.
LikeLike
Dis mos nou sulke oproepe wat mens weer van voor af laat twyfel aan die “goodness of humanity” 👀👀. Ek’s bly julle kon sonder skade uit hierdie een kom!
LikeLiked by 1 person
Ek ook, dit is nogal baie stresvol as mens mense die hele tyd moet beoordeel. Veral as jy oproepe kry, hulle het dan jou nommer.
LikeLiked by 1 person
Sjoe, dis baie erg! Gelukkig het jy volgehou!
LikeLiked by 1 person
Ek is net so dankbaar ek kon my man uiteindelik oortuig.
LikeLiked by 1 person
Die skelms is erg besig.
LikeLiked by 1 person
Jy weet dan. En dan is ek nog nuuskierig oor die gogga op my WA. Shame, dit het niks gekry wat bruikbaar is nie.
LikeLiked by 1 person
Ek antwoord glad nie meer ‘n onbekende nommer nie, nie eers ‘n sel nommer nie. Ek het ook so tyd terug ‘n oproep gekry van ‘n konsultant van Absa ,Dit was baie verdag want ek het al vir 7jaar nie meer ‘n rekening nie en hoe meer ek probeer hoe harder probeer die dame my oortuig om inligting te gee. Maar hulle is gewetenloos. En sommige mense skrik so dat hulle wel die inligting gee. Gelukkig is my ou beskeie rekeninkie nou van so aard, daar is die minimum in!
LikeLiked by 1 person
Myne ook, hulle kan maar probeer steel. Die ding is net dat dit in die bein van die maand net genoeg het, en as dit gesteel word, is ek in die knyp.
LikeLiked by 1 person