Terug by die huis is dit sleg om te weet Shilo kom nie terug nie. Ook om te weet dat ek die besluit moes maak.
Ek het die slaapbedjie en beddegoed gewas. Want die ander twee ruik daaraan, soek hom, loop neus op die grond deur die huis, soekend na Shilo. Dit is asof ek oral was en skoonmaak, om Shilo so uit my gedagtes te verban.
Ek het die raad gekry dat hulle twee aan die dooie Shilo moes ruik om te weet. Ek kon nie. En, ek moet byvoeg, ek sal eerder doof raak as om weer na mense se raad te luister. Veral diegene wat gesê het dat ek by moet wees wanneer Shilo die laaste inspuitings kry. Ek kry nagmerries daaroor, en ek het geweet dit sou so wees.
My pa het al ons sussies gedwing om ‘n hoender se kop af te kap. Vir my omdat ek vir hom gesê het dat ek nie ‘n moordenaar is nie. Ek kon kies, pak of kap. Toe kap ek sonder om te kyk wat ek doen. En los die hoender om afkop rond te hardloop tot hy val. Ek dink dit het ‘n knou gelos, ek sal eerder gras en blare eet as om dit ooit weer te doen.
Die hoender was sommer net ‘n werfhoender, nie my geliefde Shilo nie.
Ek het die vorige dag by die veearts gesê ek kan dit nie doen nie. Ek kan nue bystaan nie. En hulle het gesê dit is reg, hulle verstaan. Toe ek daar by die tafel met Shilo staan, het die veearts uitgegaan, teruggekom en Shilo in die boud gespuit.
Voor hy gespuit het, wou ek vlug. Maar toe sê die man wat almal sê: “Shilo wil my daar hê.”
Regtig?
Ken hulle my?
Ken hulle Shilo?
Ek was byna buite my verstand, maar hulle het verduidelik dat hy net gesedeer word, die ander inspuiting kom nog.
Toe gaan die man uit, kom terug en kyk na Shilo se oop ogies. Sê vir my hy is weg. Wat hy daarmee bedoel het, weet ek nou nog nie. Want Shilo se voorpote het so effens gebewe toe ek en hy nog alleen was. Ek dog hy dommel nog weg, sy ogies is dan oop. Toe maak hy Shilo se mond oop en trek sy tongetjie uit.
Ek kon dit net nie verduur nie.
En toe vlug ek uit die vertrek. Die vrou was nie daar nie. Hulle het blatant vir my gelieg. Ek het twee dae later ‘n e-pos aan hulle gestuur. En hulle presies vertel hoe verkeerd hulle opgetree het. Maar ook dat ek hulle nooit weer sal vertrou nie. En eerder Riversdal toe sal ry as my twee ander ‘n veearts nodig kry.
Ek vorder deur die stadiums van rou. Al voel ek dit is belaglik om te rou as ek die een is wat Shilo na die veearts geneem het. Hoe kan ek huil en treur as ek daardie laaste besluit geneem het? Dit is mos tweegesig, is dit nie?
Maar, nee dit is nie. Dit weet ek ook. Shilo kon nie gered word nie, ek het duisende rande bestee om sy lewe makliker te maak, soos met die oulike nie-weggooibare doeke wat ek gekoop het vir die lang pad Kaap toe hy nou skaars gedra het voordat hy weg is.

Eerste ry: Baba Shilo en een van die min foto’s waar ek sy ogies kan sien. Dit is mos altyd agter ooghare versteek. Tweede ry: Shiles slaap by die see saam met Bekka. Kyk net die oulike doek. Hy het sowaar probeer staan dat ek die doek kan aansit. En die laaste foto. Afskeid op die strand. Hy het geweet wat ek gaan doen, want ek moes hom vertel.
Ek het soveel keer gesê ek is jammer, ek hoop hy verstaan en vergewe my. Ek kon, met medisyne en liefde vyf maande by sy lewe voeg na die verdoemende uitslag.
En ek moet glo dat Shilo nou beter af is. Daarom plaas ek hierdie foto van Shiles. Toe hy nog sy agterbene kon gebruik. Ek dink hy is beslis nou een van Jesus se beste dieremaats daar bo.

Laggende Shiles as ek hom roep wanneer hy in die tuin gespeel het. So wil ek hom onthou. Nie soos wat ek gedwing is om te kyk nie.
Tot weersiens, liewe Shilo. Speel lekker met Nevan en ook met Katryn en Kobus (Anja se woefkinders). Jy het groot gat in my hart agtergelaat.
Hooffoto: Shiles het niks van die quads gehou nie, maar as ek ry, sou hy wel bly sit. Om by my te wees.
Christa…..😭😭😭
LikeLiked by 1 person
My hart is so seer, ek sukkel omdat ek die besluit moes neem.
LikeLiked by 1 person
Sulke mooi foto’s en ek hou veral van die laaste foto waar hy so heerlik hardloop. Dis ook hoe ek ons honde onthou – gesond, laggend en blaffend 🙂.
LikeLiked by 1 person
Dit is so, vriendin, hardlopend kon hy nie meer wees nie. Dankie, ek het soveel foto’s wat soveel herinneringe meebring dat ek ‘n plakboek gaan maak. Dalk help dit om daai prent by die veearts uit my kop te stoot?
LikeLiked by 1 person
Dis so jammer dat dit jou ervaring was. Ek het gekies om te bly, het self my liefkat se ogies toegemaak, haar toegedraai, opgetel en huis toe geneem. Vir my was dit n verlossing vir haar en n tot siens sê. Sterkt vir jou
LikeLiked by 1 person
Dankie, ek dink mense verskil te veel om een reg vir almal te laat geld.
LikeLike
Jy is heeltemal reg.
LikeLiked by 1 person
Ek is baie jammer jy het so ondervinding gehad. Sterkte vir julle💜
LikeLiked by 1 person
Dankie vriendin, dit was baie, baie sleg. Ek weet nie hoe ek dit met die twee ander gaan hanteer as dit eendag ook so vir hulle moet uitdraai nie.
LikeLike
Ai, dis moeilik vriendin ❤️
LikeLiked by 1 person
Moeilik, maar ek dink ek is nog te diep in die rouproses om nugter oor alles te dink.
LikeLike
Presies 💞
LikeLiked by 1 person
Ek los net ‘n groot hartjie vir jou. 💔 Woorde is soms leeg.
LikeLiked by 1 person
Dankie, en ek verstaan. Net empatie, dit is al wat my nou help.
LikeLiked by 1 person