Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kinderpret: Sondagkuier met kleinkind

So kuier kleinkind vandag by my. Pappa speel saam met oupa gholf. En mamma wil rus, sy is siek. Ding is, hulle is baie siek.

Kleuterskool kom met baie kieme. En as ons weer sien, is ons kleinkind siek, en dan steek hy pappa en mamma aan. Ouma en oups is immuun lyk dit ons, ons steek nie aan nie. Kleinkind word gou gesond, hulle vat baie langer om beter te voel.

Ons het skulpies gespeel, en toe gaan ry ons met die plastiek driewiel fietsie, daai goedkoop soort. Toe ons omdraai, is hy moeg. En wil hy hê ek moet hom ‘n entjie dra. Dit is nogal rof, die ou lyfie en die fiets. Want hy dra nog sak saam ook.

Toe wil hy gelukkig weer ry. Ry teen ‘n grasperk op en stop. Bel op sy handjie en sit die handjie teen die oor:

“Hallo”

Luister.

“Ja?”

Luister

“Okay”

Luister.

Ek wil by die huis kom, sê ons gaan moet stap om daar te kom, maar hy raas met my. Hy hou die foon na my toe uit, kan ek nie sien nie, vra die gesiggie. En dan:

“Ek praat op die foon!”

Voordat hy kastig weer verder luister …

Ons ry toe darem weer verder, ouma se horlosie moet punte maak vir die dag, kan nie te lank stop nie, die pols gaan te vinnig af as ek stop. Volgende keer pak ek vir my en hom ‘n piekniekmandjie. Ons gaan lank stop as hy wil rus.

Maar, ek dink ek raak oud, dit raak moeilik om alles saam te dra en niks te mors nie. Ek sal plan moet maak. Ons het dit altyd op die stootwaentjie gepak. Nou is daar nie ene nie.

Toe stop hy weer, handjie voor die oë, maak ‘n dowwe kliekgeluid.

Ek vra wat hy doen, hy sê hy het foto geneem.

“Kyk ouma, ek het foto van jou geneem!”

Die handjie word omgedraai dat ek die “voorkant” van sy “foon” kan sien.

Vir ‘n oomblik wil ek my een foon vir hom gee dat hy regtig foto’s kan neem. En toe stop my brein my in my spore.

Regtig? Hier is die kind se verbeeldig oop en bloot aan die werk in ‘n wêreld waar TV en fone en sulke goed ‘n armlengte weg is. Jy wat juis daarvan hou as die verbeeldig so ontwikkel.

En ek druk die foon terug in my romp se band. So dom kan ek net nie wil word nie!

Ek kyk en oe en a oor die mooi foto wat hy geneem het. En hy is hoogs beïndruk dat ouma dit sowaar gesien het. Op sy eie foon.

En ons vat die laaste stuk huis toe, hy weet waar dit is.

By een van die huise, waar hy altyd stop, is blomme in die boompies. Baie mooies. Hy stop en vra:

“Ouma, mag ek ‘n blommetjie pluk?”

Ek kyk rond in die straat, soos al die kere tevore, of daar iemand is vir wie ek toestemming moet vra. Die boompie het duisende blommetjies, twee weg gaan nie skade maak nie. Daar is heeljaar blommetjies aan een van die struike. Ek dink ek sal iewers vir die mense moet sê ek gee toestemming dat die kleinding tweetjies pluk. Maar dan weer, aan die ander kant, ek dink nie hulle gee om nie.

Ek gee nie om as hy my Amarillas en Sjinese struike se blommetjies pluk nie. Inteendeel, ek is mal daaroor. ‘n Blom in die tuin is nie so kosbaar soos ‘n kleine seuntjie wat blommetjies vir vrouens pluk nie.

Tuisgekom, moet hy slapies, ons het nou oor die tyd gegaan. En ek weet dat hy nie baie gelukkig is as hy nie geslapies het nie. Hy het mos 18 maande lank drie keer per week die hele dag lank by my gebly.

Hy moet slapies, weet dit, maar wil op ons bed lê. Dan pla die waaier, kan hy dit afsit? Oupa se kind, hy koop waaiers maar kan dan kastig nie slaap as dit aan is nie. Ek kan weer nie slaap as hy snork nie, maar, ek stem nogal saam. Die heelnag lank eentonige klank van die waaier maak my gek as hy weg is en ek alleen moet slaap.

Dan staan ek op en sit ek af.

Hy wil toe in “sy eie kamer” gaan lê, stap spaarkamer toe, maar ek moenie saam nie.

Ek kyk in en besluit hy gaan nie slaap nie en sê ons gaan net entjie ry.

Laat sy sitplek se rug effens sak. En sê hy moet sy ogies toemaak, ons gaan doedoe.

Dan begin ek ry, en sê net saggies:

“Maak jou ogies toe.”

Eers knyp-knyp hy, en maak weer oop.

Dan sê ek net saggies dat hy ogies moet toemaak en dan bly die ogies toe. Hy gee altyd so een rustige uitblaas van die asem as hy aan die slapies raak. Iets soos, ok, ek gee oor, ek is moeg, ek moet so bietjie slapies.

Voor ek vier straatblokke weg is, is die man vas aan die slaap.

Draai ek om en kom ek terug.

“Lekker slapies, ouma se kindjie. sê ek toe ek hom saggies op sy bedjie neerlê.

Toe hy wakker word, moet ons maatjies gaan speel. En ouma het soveel keer beloof volgende keer dat ek net moet instem. Veral toe ek vra wat hy wil eet en hy sê dat hy hoender wil eet.

Ons klubhuis maak die lekkerste hoenderstrokies met slap skyfies vir kinders. Ons gaan beslis eers met maatjies speel.

Toe speel hy alte lekker, kom net elke keer by my stoel aan om kossies te eet, en dan is hy weer weg om te speel. En om seker te maak ouma is daar!

Toe oupa en pappa amper klaar is, besluit ek om te hoor hoe ver hulle is, sê vir die ou dingetjie dat ons op oupa se karretjie gaan ry en is hy dadelik reg om die maatjies te groet.

Hy ken oupa se rygoed.

Die “karretjie” is oups se gholfkarretjie en hy is altyd gereed om saam te ry.

Die “trok” is oupa se spiksplinternuwe Amarok.

Dit is massief teen die vorige model wat hy isn 2018 gekoop het. Langer en ek dink ook hoër. Die eerste keer toe ons hom daarmee gaan oplaai, staan hy dit so en kyk. Die volgende keer vra ek: “Waar is oupa se kar?” toe ek en hy na oupa toe stap in die parkeerarea.

Toe kyk hy my so en sê:

“Daar is oupa se trok.”

Trok gaan die Amarok wees, dit is nog altyd vir my ‘n vreemde naam vir ‘n bakkie. So reg uit die Zoeloekraal, met hulle amabokke en alle ander amas, is dit alte vreeslik op die oor om te hoor ama-rok (erg vroulike naam vir die massiewe ryding).

Amatrok sou soveel beter gewees het …

Nou is dit oupa se trok en basta.

Hooffoto: Die bakkie het nie sulke tekeninge op nie, lyk dus selfs nog groter. Ek lyk soos klein kind daarteen as ek wil in en uit klim …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Kinderpret: Sondagkuier met kleinkind

  1. Ek het nog nooit eintlk gedink oor die naam Amarok nie … nou, na jou skrywe, gaan ek altyd aan ‘n vrou se rok dink as ek weer een sien 😄. Maar jy’s reg, Amatrok klink soveel beter! Jy en kleinseun het omtrent ‘n vol dag gehad – maar wat ‘n seen is dit nie! Ek hou van die kamma foon en foto’s neem – daai verbeelding wil mens nie dooddruk nie!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.