Kyk, my jongste kleinkind het mos so pas drie geword. En hy is mos soos ‘n sponsie. Dus speel ek lekker met hom terwyl ons ry.
So sit ek agter in die kar met hom as ek en oupa hom by die skool gaan haal. En dan speel ons:
Ek: “Ek sien ‘n boom …”
Hy: “Nee, ek sien ‘n boom.”
Ek: “Eksien ‘n wit kar.”
Hy: “Nee, ek sien ‘n wit kar …”
Nou die dag besluit ek dit is nie goed dat hy die hele tyd stry nie, anders kan dit ‘n gewoonte raak. Dus speel ek met my papegaaitjie:
Ek: “Baie wit is …”
Hy: “Baie wit is …”
Ek: “Spierwit!’
Hy” Spierwit”
Ons is so vier keer daardeur, en toe word dit:
Ek: “Baie wit is spierwit”
En hy herhaal. Ons gaan deur die makliker intensiewe vorme vir: Rooi, geel, wit en groen. En toe die moeiliker intensiewe vorme vir swart en blou.
‘n Week later speel ons weer, en hy ken grasgroen, goudgeel, spierwit en bloedrooi. Swart en blou sukkel nog, hy wag dat ek die antwoord gee.
Gisteraand ken hy dit. Dit is vasgelê. Mens sien hoe die breintjie in rat kom, en dan gee hy vir my al die intensiewe vorme wat ons geleer het!
Sy ouers oefen dit nie in die week met hom nie, hulle weet nie eens dat ons leer nie. Dus was hulle tot in hulle mateloos beïndruk gisteraand toe hy die intensiewe so uitspoeg as ouma vra.
En nou vra ek: Waarom presteer leerders van ander lande soveel beter as ons leerders wanneer taal getoets word?
Is dit nie omdat die kurrikulum nie in ag neem hoe vinnig kleintjies leer nie? Want ek is doodseker daarvan dat daar kleuterskool- of laerskooljuffrouens is wat hier gaan lees en vra: “Hoe de ongeluk kan ek die kind intensiewe leer op drie-jarige ouderdom?”
En die antwoord is eenvoudig.
Die beste tyd om taal uit te brei is juis so vroeg as moontlik! Nog voor hulle skool toe gaan.
Hy leer maklik, hy onthou alles. Waarom nie sy taal uitbrei nie? Ons doen dit speel-speel. Daar is nie ‘n stelsel wat sê: “Oeps, jy is verkeerd, 50% vir jou wanneer ons twee speel nie. Ons leer net speel-speel, sonder geen verwagting van prestasie.
Ter afsluiting: Ek het ‘n honneursgraad in begaafdekindonderwys. ‘n Meesters wat gefokus het op die selfbeeld van die begaafde seun wat in graad 9 onderpresteer. Hulle onderpresteer nie omdat hulle vroeg aan intensiewe vorme blootgestel is nie.
Inteendeel.
Gaan hy verveeld wees in die klas as hy dit reeds ken en die ander nie?
Ek twyfel ernstig. Hy gaan eerder bevestiging kry dat hy reg is, dit is die intensiewe vir die woorde.
Tog is dit nie waarom ek so met hom speel nie. Ek speel bloot om die tyd om te kry tot ons by die huis is. Want dit is ver vir ‘n ou seuntjie. En voor hy weet is ons tuis … en is sy woordeskat aangevul.
As ek so daaraan dink, dit is ‘n baie mooi woord.
Woordeskat
Skatkis vol woorde wat gesels en skryf soveel makliker maak.
Buitendien, sy skatkis is reeds met skakerings van kleure gevul. As ek ‘n kleur vra wat hy nog nie ken nie, dan antwoord hy: donkergrys, donkerbruin. Hy weet dus vanself dat daar skakerings is … Ons leer net nuwe woorde aan.
Ek het so gesukkel met hoērskoollleerders om intensiewe te leer, hy doen dit soos wat hy alles om hom leer ken, speel-speel.
Speel-speel is hoe die kleintjies so maklik leer. Woordeskat is nog ‘n woord wat hier vir my uitstaan: ek glo vas dat dit ons kinders help om in enige vak te vorder as ons hulle woordeskat kan uitbrei. Twee van my kleinkinders (6 en 9) praat nie net vlot Engels en Duits nie, maar hulle woordeskat is wonderbaar. Hulle ouers lees vir hulle, praat met hulle, en hulle luister na audio-boeke op die lang rit skool toe. Ek stem saam met jou: doen wat ons kan om kleintjies bloot te stel aan alles – hulle sal absorbeer (?) wat hulle kan, maar die fondament is daar.
LikeLiked by 1 person
Stem so saam, Anne, hulle wys vinnig as hulle nie wil nie. Maar sponsies is hulle beslis.
LikeLiked by 1 person
Jy’s reg – woordeskat is ‘n mooi woord! Ek stem saam, om ‘n kind speel-speel te leer is ‘n prettige manier om eintlik daardie belangrike vroee fondasie neer te le. En jou kleinseun het ‘n wonderlike leermeester in sy ouma 😉.
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, ek geniet die leer so speel-speel baie meer as wat ek dit geniet het toe ek juffrou was …
LikeLiked by 1 person
Stem volkome saam met jou. Hoekom dit nie doen terwyl die breintjie nog oop is vir allerhande woorde. Ek en Beatrix kan ook lekker sit en gesels met woorde wat sy nog nie gehoor het en wat ons dan herhaal en gebruik en verduidelik. Dis heerlik om so met hul te werk. Amelia wat amper drie is is ook soos ‘n spons, Sy leer BAIE maklik en vinng speel-speel. Doet so voort Ouma!
LikeLiked by 1 person
Jy verstaan! Miskein omdat ons juffrouens was?
LikeLike
Ons is opgelei as onderwysers om kinders/ander op te leer.
LikeLiked by 1 person
Ons verstaan hoe – groot of klein.
LikeLike
Beslis. My laaste twee jaar toe ek jaar 1, 2, 3 in selfde klas gehad het het ek ook altyd een of twee voorskoolse kleintjies gehad wat ek in tussentyd leer Engels praat het. Was’n swart privaat skool, kinders moes net in Eng werk. Baie veeleisend maar ook bevredigend omdat mens agterkom wat hul geleer het omdat hul rou inkom.)
LikeLiked by 1 person
Jy weet dan
LikeLiked by 1 person
Ek het dit ook met my kinders gedoen Christa, my seuntjie het binne n maand Engels baas geraak omdat hy moes om by die voorskool te kon verstaan. Dit was die enigste skooltjie in die plek waar ons gebly het.
LikeLiked by 1 person
Hulle is indrukwekkende leersponsies, dit besef ek elke keer as ek met vrouens gesels
LikeLike