Gepubliseer in Joernaal

Nog nie tyd om Shilo te laat gaan nie …

Ek het onlangs geskryf dat dit tyd is om Shilo te laat gaan. Toe nie, hy is steeds springlewendig by my.

Maandag was Shilo siek. Hy het opgegooi en sy magie het sommer net uitgeloop daar waar hy gelê het. Manlief was by die werk en ek het geSignal. Shilo is sterwend, ons gaan hom moet vat vir die inspuiting.

Ek het die veearts geWhatsApp, gevra wat dit kos en laat weet dat ons die aand kom. Shilo kan nie meer verder nie.

Ek het ‘n tuinier gaan kry en gevra om die gat te grawe, die beste raad wat ek gekry het is om die lyfie in my tuin te begrawe en daar vir my ‘n plekkie te maak waar ek met hom kan gaan gesels as ek verlang.

Shilo het in die mandjie by my gelê en ek het aan ‘n artikel gewerk. Sy mamma (BB) het op hom kom lê met haar koppie op sy benerige ribbekas. Sy stiefboeta het ook by hulle gelê.

Die veerarts het gebel en ek het met haar gesels. Die man kan nie verder nie. Shilo het sy kop gelig, my in die oë gekyk en met sy mondjie gevra: “Help!”

Ek het verduidelik dat hy baie siek is, dat dit die einde is, dat sy lyfie nie meer kan nie en dat hy my nie moet vergeet nie, ek sal eendag kom soek na hom as ek ook moet gaan. Ek het vir hom vertel dat Nevan ook daar is, maar hy was nie beïndruk met my nie.

Hy en Nevan was nie noodwendig vriende nie.

Hy het sy koppie laat sak en op die kussing gelê en planne maak.

Teen die tyd wat manlief van die werk af gekom het, was Shilo weer vol lewe. Hy het hom aangekyk en manlief het gesê ons moet tot die volgende dag wag, dit sou en gaan nie maklik wees om te begrawe nie.

Ek was bly.

Die aand wit ons en TV kyk toe Shilo vir die eerste keer in weke na ons toe kom in die sitkamer en teen my been kom lê.

Ek en manlief het mekaar aangekyk en net geweet, dit is nog nie sy tyd nie.

Hy praat met ons … hy wys dat hy nog nie gereed is om te gaan nie. Hy stap op die beentjies wat al effens sleep, hy is nog nie gereed om te groet nie.

Die gat is gegrawe, die sand lê op die grasperk.

Ons gaan seker maar weer toegooi, gaan mos makliker wees om volgende keer oop te maak.

Ons kan dit nie doen terwyl Shilo WIL lewe nie …

Hooffoto: My Shiles staan voor en kyk terug na my. Desember was hy nog perfek!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Nog nie tyd om Shilo te laat gaan nie …

    1. Hy wil eet, hy wil by ons wees. Hy loop met die bene wat hom in die steek laat. En hy kla nie, al dink ek ek maak hom dlk seer as ek hom moet bad. Nou stort hy maar. Die water loop oor die lyfie en spoel hom skoon sonder dat ek onnodige moet trek en buig. Ai Seegogga, my hart waardeer hoe hy wil lewe. Omdat ek soms sukkel met goed wat onnodig pla.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.