Gepubliseer in Joernaal

Kinderpret: Melkperd

Ek lag so baie vir kleinkind, en ek moet alles neerpen om eendag te onthou.

Ek het al vertel dat my jongste kleinkind aan dollatjie se kant vir my gesê het dat my wortelkoek laaste op sy lysie is. Sy ander ouma se kaaskoek en sjokoladekoek daarteen is eerste op sy lysie. En dat ek my nogal gewip het, al weet ek min mense hou van wortelkoek.

Dit het my laat besluit om my melttertkuns weer aan te pak. Nadat ek jare en jare en jare gelede ‘n melktert gebak het. Maar, ek weet, my melktert is altyd ‘n wenner. Dus het ek verlede week en Sondag, toe kleinkind hier is, besluit dat ek en hy ‘n melktert gaan bak.

Hy het by my gesit en stories kyk, en elke nou en dan seker gemaak dat ek die koek reg bak, met:

“Wat maak jy, ouma?”

En so is die tert in die oond en wil hy net kyk waar dit is en moet ek waarsku dat oonde warm is. Maar dit weet hy van sy mamma se oond af. O ja, die tert kon geflop het, want ek het toe sowaar net kaneelsuiker en nie ook kaneel in die huis nie. Maar, dit het nie, dit was naby aan perfek.

Toe dit uit die oond kom, wil hy net proe.

Aan sy melkPerd!

Ek verduidelik dit is melktert, maar hy sê melkperd.

Ek probeer toe met melk t…t…t. tert.

En hy na-aap my met: melk t … t … t .. perd!

Nou is dit melkperd en klaar.

Gister kom hulle hier aan, hy wil koek hê ouma. Maar ek kan nie koek bak as hy eers vyfuur hier aankom nie, dan gaan hy nie eet nie. En volgens mamma en pappa ‘n “sugar rush” kry en nie gou aan die slaap raak nie. Dus is ouma maar gehoorsaam.

Toe ek weer sien, is hy by die klein rooi yskas in die sitkamer waar ek die tert Sondag ingesit het. Handjies styf om die bak geklem, besig om dit uit die yskas te haal.

Dit is ‘n groot, swaar glasbak en ek hol om te gaan help dra. Hy “dra” aan die een kant en ek aan die ander kant na die tafel toe. En ek is bekommerd. Is die tert nog reg? Dit is vier dae later.

Maar, ja, dit is reg. Sy pappa moes proe, want ouma is nou klaar met enige iets wat nie laktose-vry is nie. En daardie melk was nie, dit is ‘n melktert.

En nou gaan ek my melktert kuns weer laat ontwikkel, want daar is sy nefie ouer as hy gaan moet weet. Hierdie ouma gaan nie sommer weer wil hoor haar koek (lees tert) is laaste op sy lysie nie.

Inteendeel, ek wil hê hy moet soos my kleinste kleinkind (seun se kind) in my huis in stap en vra: Ouma, kan ek melkPerd kry? Asof dit ‘n gegewe is dat daar melktert in my yskas wag …

Ek het lank gedink oor watter tert ek gaan bak. My yskastert is ‘n wenner, jongste aan dollatjie se kant weet dit net nie. Want ek het baie lanklaas my hand aan koek gewaag.

Noudat ek daaraan dink, ek bak ‘n sjokolade kolwyntjie wat almal laat eet, selfs al wil hulle nie. Nat en sappig lekker. Hy ken dit tog? Maar nee, ek het dit baie lanklaas gebak as hulle by is … en hulle bly al amper twee jaar in die Wes-Kaap. Vakansies bak hierdie ouma nie koek nie, veral nie as ek en oupa alleen is die meeste van die tyd nie.

Dalk doen ek beide. Melktert en sjokoladekoek?

My yskastert is ‘n absolute wenner, maar dit het room, roomkaas en gekondenseerde melk in. Te veel suiker vir kindertjies …

Nou ja, kom ons kyk hoe gaan dit?

Vir Saterdag se braai saam met seun en kleinkind vat ek ‘n yskastert saam. Maar ek dink ek moet ‘n klein melktert ook saamvat.

Vir my melkPerd kleinkind.

Terloops, ek dink sommige van my lesers dink dalk dat seun se kindjie my oogappel is. Dit is nie waar nie. Ek het ‘n punt in my hart vir elkeen van die vier seuntjies.

Die ding is net dat ek soveel meer oor seun se kindjie kan skryf. Omdat ek hom gereeld sien. Hy het dan 18 maande lank drie keer per week voldag by my gebly.

Daar is dan soveel stories om te vertel.

As ek in die Kaap is, kuier die drie ander kleindkinders by my, maar dan verf ons t-hempe en klippe en as ek weer sien, het ek geen foto’s geneem nie. Ons was te besig.

‘n Kuiertjie gaan so vinnig verby.

Hooffoto: My melkperd lyk so, presies … maar dit is nie foto van myne nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Kinderpret: Melkperd

  1. Haha melkperd, dis nou kostelik 😄! Wie kan nie ‘n sjokoladekoek weerstaan nie … ek dink ouma gaan die kinders een en almal uitboul met hierdie melkperd en daardie lekker sjokoladekoek waarvan jy praat!

    Liked by 1 person

  2. Ag dis mos nou lekker as hulle van oumie se lekker koek/tert hou. Die perd is te oulik
    Nou wil ek die resep he asb – yskastert is ‘n absolute wenner, maar dit het room, roomkaas en gekondenseerde melk in

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.