Gepubliseer in Joernaal

Skrik ek vir my kleinseun se woorde …

Ons was die naweek van die 13de Maart by ‘n kusdorpie in die Wes-Kaap om huis te soek. aangesien dollatjie naby woon, het hulle en ons elke dag saam gekuier.

En so met die saamkuiery het oudste kleinseun iets gesê wat my hart amper laat staan het.

Dit het so begin.

Dollatjie wou weet of ek prentjies sien as ek aan iets dink. En nee, ek doen nie. So kom dit uit dat ek en sy die enigstes is wat niks sien nie, al die mans sien prentjies in hulle brein.

Natuurlik glo ek nie die mans en seunskinders toe nie. As ek en dollatjie niks sien nie, is daar nie so iets nie. So eenvoudig soos dit. Toe soek ek vinnig op terwyl ons gesels.

En vind uit dit is ‘n wêreldwye verskynsel, daar is selfs ‘n naam vir ons 10% van die wêreldbevolking wat nie prentjies sien nie.

Afantasia.

Soos daar staan, kan ek ook nie klanke, reuke of aanraking onthou wanneer ek die “prentjie” sien nie. Tog weet ek in my gedagtes van alles, kan dit beskryf, sien dit net nie. Wat mense laat dink dat ek wel prentjies sien. Ek doen nie. Ek sien swart as ek my oë toemaak.

Daar word aangeneem dat afantasia deur ‘n brein besering veroorsaak kan wees, maar medici is nie seker nie. Ek twyfel ernstig, want beide ek en dollatjie sien nie prentjies nie. Dus is dit eerder geneties … as ek nou mense kan glo wat beweer dat hulle die prentjies sien.

En natuurlik is ek nuuskierig, ek is altans die opvoedkundige navorser in die gesin. Maar ook ‘n oud-onderwyseres en lektrise. Dus moet ek inligting insamel en assesseer.

Middelste kleinseun is egter seker daarvan hy sien my as hy aan my dink en sy ogies toemaak. En juffrou Christa toets. Hoe lyk ek? Ouer? Jonger? En hy antwoord dat ek lyk soos ek lyk.

Oudste kleinseun sit en teken en val skielik by die gesprek in. Ek sien ook vir ouma. Natuurlik vra ek weer hoe ek lyk. En die antwoord stuur rillings teen my ruggraat af:

Ouma is in ‘n doodskis.

Dollatjie raas met hom, sê hy is nie snaaks nie en mens sê nie so iets nie. Ek is egter vaalgeskrik en wil vra vrae wat ek moet weet. Wil vrae Hoe oud is ek? Wanneer? Wat sien hy nog …

En jy gaan seker wonder waarom ek so geskrik het?

Wel, ons kyk die afgelope ruk Manifest op Netflix. Dit handel oor ‘n vlug 828 wat deur die weerlig getref word en dan land met die veiligheidspolisie al om die vliegtuig.

Toe hulle in Jamaika opgestyg het, het die ouma en oupa, die ma en dogter (deel van tweeling) met die eerste vlug teruggegaan. En die man, sy suster en seuntjie (deel van tweeling) met die tweede vlug. Dit is nou 828.

Die rede waarom die polisie daar is, is dat 828 5 jaar later geland het.

En almal wil weet waar hulle was. Die onnnatuurlike is dat die mense nie weet dat hulle 5 jaar weg was nie en dat hulle ook nie ouer geword het nie.

In die 5 jaar het baie gebeur, die vrou is weer in ‘n verhouding, die ouma en oupa is oorlede en die skoonsuster se amper verloofde het met haar beste vriendin getrou. Verder is die dogter baie groter as haar tweelingboetie …

Ek gaan nie meer vertel nie, dalk wil jy kyk. Maar hierdie reeks het die rillings teen my ruggraat laat afloop tydens ons gesprek.

Die mense wat op 828 was, kry “callings” of flitsbeelde oor iets wat gaan gebeur en dit help hulle om ander mense te help. Die seun (deel van die tweeling) kry deegliker callings en sit dan teken dit, in besondere detail want hy wil nie daaroor praat nie.

Verstaan jy nou?

Kleinseun het gesit en teken toe hy te vertelle het dat hy my in ‘n doodskis sien.

Ons het toevallig ‘n paar ure tevore gelees dat Kulula op die grond gehou word, maar dat dit teen Sondag weer in die lug sou wees. En ek het net geweet dat ek nie die volgende dag in die lug wou wees op pad huis toe nie. Ek het net veel veiliger nader aan die aarde gevoel.

Dit is dan die rede waarom ek versoek het dat ons huis toe ry toe ons op die lughawe kom en Kulula ons inlig dat ons op eie koste by die huis moes kom.

Ja, Airlink en FlySafair het nie plek op vlugte gehad voor Dinsdag nie en ja, ek was ontevrede omdat hulle hulle pryse so opgejaag het. Ek twyfel of ek ooit van een vn die twee skelm lugrederye se dienste gebruik sal maak. Kulula gaan ons eers 00r 8-10 weke terugbetaal, dus bykans drie maande nadat ons vlug gekanselleer is. Alhoewel dit rede is om ook nie weer op hulle knoppie te druk nie, sal ek eerder weer met hulle vlieg. Ek neem aan hulle het die drie maande nodig om verliese op te maak om ons wel terug te kan betaal … hulle bied nie soos skelms aan om ‘n gedeelte terug te betaal nie.

Ek was dus doodgelukkig dat ons moes teruggry na kleinseun se openbaring …

Natuurlik het ek soveel vrae: Het hy hom snaaks gehou? Waarom sal ‘n 10-jarige so iets kwytraak? Kyk hy flieks of lees hy stories waarin dit gebeur? Is dit ‘n goeie ding dat hy boeke soos Harty Potter kafdraf? Is hy nie te jonk om dit te lees nie? Beïnvloed die boeke wat hy lees sy woorde?

En natuurlik is daar geen manier waarop ek wil glo dat hy ‘n “calling” of openbaring gehad het nie. Altans nie toe nie.

Twee weke later pla dit minder, het die besige lewe dit na die agtergrond geskuif.

Tog was ek glad nie lus om vir ‘n ander vliegtuig te wag nie, was ek werklik dankbaar dat Kulula gehok is en dat ons per motor huis toe kon kom. As dit dan my tyd is – volgens kleinseun se woorde wat ek nie die tyd van weet nie – wil ek net graag baie nader aan die aarde wees …

Aan die een kant wil ek vir dollatjie vra om vir hom te vra of hy dit regtig gesien het. Aan die ander kant wil ek nie weet nie …

Dus gaan ek sommer vra of jy lus is om saam te gesels. Hoe sou jy voel? Sou dit jou ruk? En sien jy prentjies in jou gedagtes?

Ek dink natuurlik nie dat ek iets mis as almal prentjies sien en ek nie.

Die emosionele gevoelens wat ek ervaar as ek aan ‘n slegte oomblik dink, is genoeg van ‘n ongemaklikheid. Ek wil dit regtig nie sien ook as ek daaraan dink nie.

Dit laat my wonder of ek dalk as kind prentjies kon sien wat my banggemaak het.

Goed wat gebeur het oor en oor gesien het. Dinge wat ek na die buitenste deel van my brein wou uitskuif en nie weer wou sien nie. En dat ek my brein so geprogrammeer het om nie prentjies te sien nie? Ek neig om oor en oor en oor oor goed te wil praat tot ek dit uit my gestel het. Dalk was dit so toe ek klein was en wou ek dit nie sien ook nie?

Want ek weet ek het vreeslik met nagmerries gesukkel. Soms wakker geword omdat dit voel of ek val en val en val. Dalk was dit so realisties dat ek my brein geleer het om nie te kyk nie?

Maar dan wonder ek steeds of mense nie jok as hulle sê dat hulle prentjies sien nie. Wil ek hulle uitvra tot ek alles oor die oomblik weet en kan gaan vergelyk met wat in die werklikheid gebeur het.

En dan wonder ek oor die impak daarvan op die regstelsel – want 90% van die mense jok dan mos vreeslik as hulle vertel hulle kan nie detail onthou nie. Die prent is daar … dwing hulle dan om oë toe te maak en te ontspan en te vertel wat hulle sien. En elke boef kan so agter die tralies wees.

Goed, ek weet dit is oorvereenvoudig. Mens kan jou brein verhoed om na traumatiese gebeure terug te gaan.

Gelukkig.

Op die hooffoto: Tweeling (seuntjie onder), die vrou, haar man, sy suster, haar amper verloofde wat met iemand anders getrou het en nog ‘n passassier.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

27 gedagtes oor “Skrik ek vir my kleinseun se woorde …

  1. Ek kyk ook Manifest. En ek sien ook nie prentjies nie. Ek kan jou hele ongemak met dit verstaan. Ek sou presies dieselfde gedoen het…terug gery het. Maar haal asem……anders sal dit te moeilik raak.

    Liked by 1 person

    1. Dankie, Woordnoot, ek waardeer dit regtig. So, ek is darem nie ‘n uitsondering nie, ek sien werklik niks nie. Ek haal weer asem, maar ek was nogal skrikkerig op die pad. Veral omdat dit die hele tyd gereën het. En ons in die naf in gery het. Ek haat dit, wil sien wat voor aangaan.

      Like

  2. En hier het ek gedink dis normaal dat almal prentjies sien ☺️. Ek kan my oe net toemaak (of soms nie eens nie), dan kom prentjies in my kop op … ek droom selfs net in kleur (en kan my drome goed onthou – ek is seker ek kan ‘n boek skryf oor my prentjie-drome)! En as ek iets bekend ruik (veral van my kinderjare), dan sien ek die prentjie van waar ek op daardie stadium was toe ek die reuk gehad het … gaats, nou klink ek selfs vir myself effe vreemd 😬.
    Maar jy sal my nie vang om na iets soos “Manifest” te kyk nie … ek vermy enige sulke programme soos ‘n steeks donkie (hoe minder ek hiervan weet, hoe beter) … nou klink ek nes die spreekwoordelike volstruis!
    Dit sou my beslis gepla het as iemand my in ‘n doodskis gesien het – ek verstaan nou hoekom die nat pad oppad huis toe so ‘n moeilike rit was. Maar weet jy, dalk moet ons tog maar die silwer randjie hier sien … ons gaan almal eendag in ‘n doodskis wees (of dan, ons liggame gaan daar wees – ons siele sal op ‘n heeltemal ander heerlike plek wees) … so, die “doodskis-storie” hoef mos nie noodwendig nou te wees nie, dan kan oor baie jare eers wees … of altans, dis hoe ek dit vir myself sou vertel het 😌.
    Gaan koop vir jouself ‘n mooi bos blomme (sommer ‘n mooi storie boek ook) en gaan dan huis toe, maak ‘n lekker koppie tee en lees jou lekker storie 💌.

    Liked by 2 people

    1. Dit is sulke lieflike raad. Ek is in ‘n mate maar bly ek sien niks in prentjies nie. Maar reuke, kleure en aanraking vat my dadelik na waar ek dit geruik het. Net sonder die prentjies. As ek egter foto’s sien, weet ek presies waar dit geneem is, hoe ek gevoel het, of ek gelukkig was en of ek hartseer was. Selfs waarom ek van aanraking hou (of nie). Ek is heel ok daarmee, dit was net toe erg voorop in my gedagtes. Kyk net minder na Manifest en vertel myself dit is klomp nonsies, mense kan nie in die toekoms sien nie.

      Liked by 1 person

  3. Christa, dit maak nie saak hoe oud ons eintlik is nie, maar vir ‘n 10-jarige kind lyk ons almal oud. Meskien vergelyk hy oud met baie oud met iemand in ‘n doodskis. Ek onthou toe ek twintig was het ek gedink mense van 70 was al baie oud – ek glo dit nie meer nie want ek voel nie nou soos daardie mense van 70 toe vir my gelyk het nie. Neem die goeie raad van wetanddustyroads em lees ‘n boek wat jou sal ‘weg vat’.

    Liked by 1 person

    1. Dankie, Anne. Ek het dit al lankal vergeet, ons het net gisteraand weer daaroor gesels toe ons gesin met skoonfamilie gekuier het. Dit was egter daardie twee dae baie sterk op die voorgrond van my gedagtes. Ek dink die boeke wat hy lees kon invloed he. Ek dink ook nie hy weet regtig wat dood beteken nie omdat almal om hom springlewendig is.

      Like

  4. Ek het ook gedink dat almal prentjies kan sien as geluide, kleure en geure sommer hulle aan goed herinner. Nes Corna onthou ek selfs goed so van my kinderjare af.
    Ek kyk ook nie sommer na programme soos Manifest nie.
    Kan dink dat wat jou klein seun gese het jou geskok het, maar hulle leef ook in hierdie modern tye waar hulle aan soveel goed op TV blootgestel word. Corna se raad is goeie raad!

    Liked by 1 person

    1. Hi Aletta, ek het dit sommer net neergeskryf omdat dit iewers bly vassteek en ons gisteraand daaroor gesels het. Maar dit pla my nie meer nie, ek moet een of ander tyd in een ingaan. Gelukkig weet ek nie wanneer nie, kan jy jou voorstel hoe ek dan sou sukkel om alles klaar te maak wat ek begin het?

      Like

  5. Ek kan met sekere dinge prentjies sien, reuke, musiek, sê goed kan my net so terugvat en sal prentjie in my kop sien. Droom.. laaste paar jaar kan ek bitter min onthou of ek wel gedroom het. Het altyd verskriklik vivid gedroom, was eintlik skok om wakker te word en te besef was net ‘n droom. Kinders sien baie meer as wat ons dink, dink ook hulle lyne blur tussen nou en dan, soos in timelines. Dit moes baie upsetting gewees het Christa, kan regtig dink hoekom dit jou geruk het. Moeilik om te sê of jy verder moet vra of nie. Ek het Manifest geniet, soms baie soos ons is, dat daar baie goed is wat ons nie kan verduidelik nie glo ek en meen nie gebeur nie of is nie waar nie. Ek is net bly julle is veilig, julle was in die mooie Kaap en weet sommer julle gaan pragtige huis kry. Geniet dit, moenie teveel dink aan pak en dinge nie, dit sorteer altyd, geniet die soek en familie tyd🌻

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.