In die week kry ek twee boodskappe van gewapende roof in ons kompleks se groepie. Beide in Centurion. My omtes.
Die een by die winkelsentrum die naaste aan my (Mall@Reds) en die ander een by Centurion winkelsentrum, wat heelwat groter is. En mens skrik nie meer nie, ons is seker al immuun daarteen?
Die gewapende roof by Mall@Reds het blykbaar by Pep Stores plaasgevind. Die een waarby ek ‘n dag later twee keer verby gestap het toe ek by Woolies ‘n paar goedjies gaan koop het. En eers toe ek die tweede keer verbystap, besef ek met ‘n soort van ligte skok dat dit presies is waar die roof plaasgevind het.
En waar is ek die volgende dag?
Seun het daaroor gespot: In Amerika word duur klerewinkels beroof, hier val hulle die goedkoopste klerewinkel binne.
Die gewapende roof by Centurion winkelsentrum laat mens tog skrik, want dit is die tweede roof sedert ons hier woon. Dus sedert 1 Augustus. Die eerste keer is ‘n juwelier voor sy vrou doodgeskiet vir juwele. Hoe onregverdig is dit nie? En die tweede keer was die roof blykbaar iewers naby of in Incredible Connection. Daar sal die buit beslis net so groot of selfs groter as by ‘n juwelierswinkel wees. En tog maak dit my nie bang om te weet dat dit oor ‘n maand of drie my naaste winkelsentrum gaan wees nie.
Leon Schuster se mond is stil, die man wat mos met alles kon spot, maar dit nie kan verdra as daar met hom gespot word nie. Hy wat oor gangster’s paradise gesing het … sing en spot nie meer nie. Ek wonder waarom nie?
Die lirieke van sy een lied wil-wil vanaand in my geheue kom lê. Die woorde van Gautvol in Paradise, waarin hy oor Gangster’s Paradise sing …

Terloops, my Engelse lesers, dit is ‘n Engelse liedjie.
Want dit is wat hy jare gelede oor gangster’s in Gauteng gesing het – en dat Pick n Pay beroof word. En dat dit mens lus maak om Australië toe te vlug. Dit is die een land waarheen ek nou nie sommer sal trek nie, die regering daar tree op die oomblik ongenaakbaar teenoor die inboorlinge op.
Amerika sal ek tans beslis oorweeg, Florida om presies te wees. Anders as in Australië, word inwoners tans nie onder druk geplaas nie. Ek was al in Florida, St Petesburg om presies te wees. Dit was aan die ooskus van Florida. Daar sal ek my hart kan verloor. Ons het sommer so gou-gou van die oos- na die weskus van Florida gery en terug. Sommer ‘n oggenduitstappie. En dink ek sal daar gaan woon as ek ooit moet emigreer.
Vir nou voel ek nogal soos my kinders – dit is ons land, ons is hier gebore, ons oupas en oupagrootjies ook. Dit is my land.
Kyk tog wie is almal op die omslag geteken – dit voel soos ‘n ewigheid gelede wat hulle bekendes was: Van links na regs: Louis Luyt wat Transvaal (tans die Leeus) na nuwe hoogtes gelei het. Wie is die tweede ou? Leon die grootbek. Kan dit Hansie Cronje wees? Ons krieketkaptein wat homself in die skande gedompel het omdat hy by wedstrydknoeiery betrokke was. En wat veroorsaak het dat ek nie meer krieket kyk nie. Omdat ek daardie tyd tydens swak spel gesê het dat hulle seker omgekoop is om te verloor. Toe was hulle regtig. Nelson Mandela wat al lankal die tydelike met die ewige verwissel het.
Ek verstout my om te dink dat die gorilla daaragter ‘n spesifieke Max is, een wat dink dat hy ‘n goeie joernalis is …
En ek grynslag vir die klein FW de Klerk wat op die fiets trap. Wat met sy laaste brief op sy sterfbed ‘n nuwe bom ontketen het. Siestog. Asof ek enige iets sal glo wat by die mond (of pen) uitkom van ‘n man wat sy vrou verlaat het om met ‘n huisvriendin te trou. ‘n Vrou wat deur sy eie vrou bederf is terwyl die twee die intiemheid daarvan gebruik om die kat in die donker te knyp. As mens nie eens in die binnekring van jou eie huis vertrou kan word nie, is jou woord niks werd nie. Oor hom wil ek liewers nie praat nie …
Vir my Engelse lesers:
Die woord Gautvol is ‘n eie skepping – Gauteng en Gatvol saamgesmelt. Gauteng is ‘n klein maar ryk provinsie soort van in die middel van die land, met Johannesburg en Pretoria as die bekendste stede. Voor 1994 was dit deel van die Transvaalprovinsie wat na 1994 in vier dele verdeel is, naamlik Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes.
En gatvol is ‘n lelike woord wat mens nie in goeie geselskap gebruik nie. Alhoewel dit presies vertel dat mens nie meer lus is om te sukkel nie.
Paradise sal julle ken.
Vir ons is Gauteng wel ‘n paradys omdat seun, skoondogter en kleinseun naby my bly. En ook my ouers …
Ek het lanklaas vir Leon Schuster gehoor. Ons moet deesdae meer versigtig wees, maar moet met die lewe aangaan. Hierdie is ook ons land en hier gaan ek bly 🙂
LikeLiked by 1 person
Jy som dit perfek op, Anne, ek ook.
LikeLiked by 1 person
Dit is so, Christa, slegte dinge gebeur kort-kort om ons, maar in ons geboorteland sal ons bly.
LikeLiked by 1 person
Net so Una, hier gaan ons bly. Ons voorvaders het erger probleme oorkom.
LikeLike
Ek dink die gesig tussen Louis Luyt en Leon is Mark Fish die sokkerspeler.
Hou van jou skryfsel!
LikeLiked by 1 person
Ek dink jy kan reg wees, hy voel vir my bietjie rond in die gesig om Hansie te wees. dankie vir die saamgesels.
LikeLike
Ja, ons moet in geloof in God se beskerming aangaan. Ek dink dit is seker baie moeilik daarsonder!
Tog is dit vreeslike realiteite waarin ons leef. Ter wille van almal wens ek dit was anders!
LikeLiked by 1 person
Jy verstaan wat ek bedoel, San, ek wens ook dit kon anders gewees het, dat my kleinkinders so vry en veilig soos ek kon groot word. Nou is mens die hele tyd bedag as die kindjie saam met ons is.
LikeLike