Gepubliseer in Joernaal

Kleinseuntjie probeer Bekka aan die leiband lei …

Ons jongste kleinkind en enigste van seun kuier elke week Mandag en Vrydag by my. Soms korter en ander kere langer, maar van nous af bly hy die hele dag by ouma, want mamma moet twee dae ‘n week teruggaan werk toe.

Hierdie twee dae is ouma se kosbaarste tyd, ek kry pêrels vir my onthouhalsnoer elke liewe dag, meer as een keer per dag.

Hy het so pas 19 maande oud geword, maar hy dink hy is baie ouer. ‘n Klein grootmensie soms. Ander kere weer pure kind, wat sowaar ‘n vloermoer kan gooi. Ek wou dit nie regtig glo nie, maar ja, hy is op pad na twee toe. En dit is wat tweejariges doen.

Vir my is daar elke liewe week iets waaroor ek giggel. En ek dink ek moet dit boekstaaf, dalk lees hy dit eendag self?

Ek moet eers iets anders vertel, sal later daarop uitbrei. Ons het toe binne drie maande besluit ons huisie is nie ons aftreehuisie nie, dit is in die mark gesit en ons het reeds aanbod op ander plek gemaak. Ek sal later daarvan vertel, nou is dit net nodig om te vertel dat ‘n koper Maandag na ons huisie wou kom kyk.

En ek en manlief – wat by sy nuwe werk van die huis af werk, het planne gemaak met die woewe van my omdat hulle so luidrugtig is as hulle vreemdelinge sien. Ek sit hulle bandjies aan en gaan stap in die kompleks. En manlief hanteer die agent en die kopers. Woensdag het dit mooi gewerk. Maandag sou perd van ander kleur wees, want kleinseun is ook by my.

En daar is bouers wat die pilaar by die garage bou. Nog ‘n storie vir ‘n ander dag …

Die voornemende kopers wil die plekkie 11 uur besigtig – ‘n moeilike tyd omdat dit ook baie naby aan kleinseun se middagslapietyd is. Hy kap gewoonlik so teen halftwaalf om.

Nie dat mens dit omkap kan noem nie, want hy hou daarvan om soos ‘n apie om my heup te sit, met sy koppie teen my nek tot hy aan die slaap raak. Terwyl ouma hom liggies wieg. En krakerig The Wheels on the Bus Go Round and Round sing.

Dit is darem nie bederf nie, want sy mamma maak hom ook so aan die slapies.

Ewenwel, ek wou van kleinseun en Bekka vertel.

My woewe het mos elkeen ‘n nuwe harnas en bandjie gekry vir die lang reise tussen Kuruman en Johannesburg. Alhoewel ons nie meer daar bly nie, dien die bandjies en harnasse hier ook ‘n goeie doel want ek gaan stap so met my woefkinders.

Hy staan en kyk hoe elkeen sy harnas aankry en toe ek die leiband aan Bekka s’n vasmaak, tel hy die bandjie op om Bekka te lei. Gelukkig in die huis, want Bekka het net besluit hy stap teen ‘n spoed, en trek kleinseun agter hom aan.

Maar ek moet die prentjie eers mooi beskryf voordat ek die res kan vertel.

Ek het reeds kleinseun se pet op sy koppie gesit, maar hy het sy eie manier van dra. Trek dit laag oor sy ogies en dan loer hy onderdeur.

Hy het ook sy skoentjies aangehad, want dit was warm buite. En oupa sou saam met hom buite sit terwyl die vrou en die voornemende kopers deur die huis stap.

Terwyl ek Shilo se bandjie aanknip, hoor ek net ‘n vinnige stamp-stamp-stamp-stamp (stampede in Engels) agter my soos kleinseun vir al wat hy werd is moes stap om by Bekka te bly.

Hy kan nie sien waarheen hy gaan nie, die pet is mos oor die ogies. En hy kla steun en been terwyl hy so vinnig moet stap.

Hy laat los nie en ek raas met Bekka dat hy moet stop.

Hy stop en kleinseun stop gelukkig saam sonder om omgetrek te word.

‘n Moontlike besering betyds gekeer …

Toe ek weer sien, is Bekka weer op pad, met kleinseun klik-klak-klik-klak agterna. En weereens moet ek stop skree dat Bekka kan stop en kleinseun nie seerkry nie.

Ek ruil hom toe liewer met BB se bandjie, want sy is nie so vinnig soos Bekka nie, het ook beter maniere. Maar hy wil vir Bekka lei want BB staan stil.

Ek verduidelik dat BB beter maatjie is en lei vir Bekka en Shilo terwyl hy en BB volg …

Al deur die tuin, waar mens sagter kan val as een van die honde wegspring teen ‘n spoed. Want kleinseun vat die leiband eerder vaster as om dit te los.

Die hele naweek was ek elke keer die ene lag as ek aan die voorval dink.

Dan wil manlief weet waarom ek so lag.

As ek dan my voete so stamp-stamp-stamp-stamp teen die vloer, lag hy net so hard saam.

Tog kon ek eers lag toe hy nie seergekry het nie.

Die vasklou vir al wat hy werd is aan die leiband laat my aan een van my Voortrekkerseusn dink. Ene wat nie wil verloor nie, dit is buite sy woordeskat.

So is ons een naweek by die rivier met die Voortrekkerspannetjie waarvan seun ook ‘n lid was. My spannetjie, hulle was so iewers in graad 11. Seun ski teen daardie tyd al goed en Nicohan wil ook leer ski.

Ons verduidelik alles baie mooi en toe is hy in die water, gereed om te leer ski.

Hy kon nie opkom nie, maar hy het die skitou ook nie laat los nie, sodat hy soos ‘n vis of walvis agter die boot aangetrek is. Die koppie net bokant die water.

Ons moes vinnig stop om te keer dat die kind homself verdrink eerder as om te laat los. Want, om een of ander rede het hy gedink dat hy wel sou kon opkom, as hy net aanhou probeer!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

33 gedagtes oor “Kleinseuntjie probeer Bekka aan die leiband lei …

      1. I used to bang my head on the carpet. We don’t seem to have any nonsensical phrases for tantrum other than its similes. ” fit,hissy fit, outburst, hissy, animosity, anger, conniption, huff, scene, temper-tantrum, sulk and rampage.

        Liked by 1 person

        1. Afrikaans is a language that creates new words all the time. Vloermoer is actually not a nice word as the word moer is used in this word as meaning to throw things on the floor. I won’t use it when I talk to the priest

          Like

          1. Yes, I understand – they say that English is also a living language – there have been many new words added to our dictionaries. It seems that it is mostly the young who assist with this.

            Liked by 1 person

  1. Ek onthou hoe ek ‘n tweejarige gehad het. Hy was so ‘n handjievol, dit was so vermoeiend toe sy broer daar aangekom het, minder as 2 jaar later.46 jaar lyk ‘n ouderdom wanneer ek terugkyk op dit.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.