Gepubliseer in Joernaal

Seksuele teistering

Vandag wil ek sommer oor hierdie belangrike verskynsel gesels – iets waarmee baie vrouens saamleef. En iets wat ek gister beleef het.

Ons moes mos ons spinternuwe garage deur vervang. Iets waaroor ek eers sal skryf as ek nie meer so kwaad daaroor is nie. Want – ek moet bieg – daar is min goed wat my kwater maak as kommentaar dat ek dalkies net oorreageer.

Vandag gaan ek wel my mening oor seksuele teistering lig – al is ek steeds smoorkwaad. Veral omdat ek nou een van daardie vrouens wat liewer gaan stilbly as om die saak volstoom aan te vat. Vandag gaan ek wel insette wil vra terwyl ek so kwaad is, al weet ek dit gaan nie my besluit verander nie.

Gister kom die bakkie van die maatskappy wat die ou deure – gekrap en al – terugsit. Toe ek die deur vir hulle oopmaak, is die opsigter van die kompleks ook by die garagedeur.

Ek het kleinseun aan die hand, want hy is ‘n besige mannetjie, ek moet hom die hele tyd dophou om seker te maak dat hy nie by sy ouma seerkry nie. Want daarvoor sal ek myself nooit kan vergewe nie.

Die man – seker jonger as ek – het van die begin af iets aan hom waarvan ek nie hou nie. Maar dit het tot nou toe vasgesteek.

Toe ek die dag nadat ons ingetrek het na hom gaan om ons kontakbesonderhede op die sisteem te sit, het ek aan die ander kant van die eetkamertafel gaan staan. Hy het egter aangedring dat ek agter hom moet kom staan dat ek seker maak dat hy ons besonderhede reg intik. Dit was toe nie vir my ‘n vreemde versoek nie, ek was haastig en dit het sin gemaak dat ek sommer self seker maak dat dit reg gedoen word.

‘n Ander keer het ek op die groepie vir die kopmpleks gekla omdat ons sonder krag was. Hy het vir my ‘n boodskap gestuur dat ek daar by hom kan gaan sit en werk. Maar ek het dit vriendelik van die hand gewys, nie omdat ek toe gedink het aan seksuele teistering nie, maar eerder omdat dit nie sin maak om daar te gaan sit en werk nie. Ek het baie ander werk wat nie van elektrisiteit afhanklik is nie. Ek was net vies omdat ek skielik sonder krag was. Ook maar goed, by nabetragting.

Nog ‘n ander keer het hy in die groepie oor kragomskakelaars (inverters) gesels. Ek het besonderhede gevra en hy het voorgestelm dat ek sommer daar gaan kyk hoe dit lyk. Hy was gaaf en het dit vir my gewys. En ek was nie ongemaklik nie omdat hy niks gedoen het wat my ongemaklik kan maak nie. Maar ek het gekyk en geloop.

Soos ek geskryf het, kom hy toe gister saam met die garage manne by my huis aan. Hy wil weet waarom ons die deure terugsit, want hulle het ‘n vergadering gehad waartydens die nuwe deure goedgekeur is.

Hy lyk vir my egter vreemd, so amper asof hy blare ingekry het. Op die wolke loop of iets.

Hy bied toe aan dat die verwers – wat gister in die kompleks was om windskade te herstel, sommer ook die stukkies van die pilaar verf wat geverf moet word.

Ek sê dankie en toe sê hy dat ek met my lyf sal moet betaal.

Ek was nog nooit in my lewe so tot stilstand geskok nie, en het net “Ekskuus?” hard en kwaad uitgekry. Met ‘n kyk wat enige stout skoolkind tot in sy spore geskok het toe ek nog ‘n juffrou was.

Die implikasies van sy woorde het my nog kwater gemaak.

Het hy bedoel ek moet die verwer met my lyf betaal? Wat ‘n walglike voorstel!

Of vir hom? Wat net so ‘n walglike voorstel was.

Hy het gelag en gesê dat hy ‘n grap maak.

Ek het kortaf gevra of die verwer gaan kom verf of nie en gesê dat ek en kleinkind ingaan.

Hy het ja gesê, maar later vir my ‘n foto van die blik verf gestuur. En geskryf dat dit by Chamberlains beskikbaar is.

Gister vertel ek vir skoondogter en sy raai my aan om dadelik ‘n saak te maak. Ek het egter gedink dat ek die vuil voorstel net wil vergeet en maak of dit nooit gebeur het nie.

Gisteraand vertel ek vir manlief toe hy van die werk afkom. En hy is kwaad. Wil die saak na die bestuur van die kompleks neem want dit is seksuale teistering.

Ek het gesê dat ek dit liewer net wil vergeet. Want die vrou word as die oorsaak uitgemaak en die man kom skotvry daarvan af.

En wie sou die lydende partye wees?

Ek en sy vrou.

Vandag voel ek steeds so. Ek wil dit net vergeet.

Die ding is dat dit in mens se kop woel. Ek trek nie so aan dat die man verkeerde gedagte kan kry nie, ek lok hom nie uit nie. Ek toon absoluut geen belangstelling in hom nie.

Waarom dit vir my sê?

Is ek die enigste vrou vir wie hy so iets sê?

Is dit die regte besluit om dit nie verder te vat nie?

Onder die huidige omstandighede dink ek wel so. Want ons gaan binne die volgende twee tot drie maande trek.

En manlief werk van die huis af.

Dit pla my egter steeds:

Is dit die regte besluit?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

32 gedagtes oor “Seksuele teistering

  1. ‘Ek sê dankie en toe sê hy dat ek met my lyf sal moet betaal.’
    Beslis onaanvaarbaar. Wel, jy kan nou dalk stilbly, maar ENIGE vreemde opmerking van sy kant af in die toekoms, moet jou man hom dalk aan sy oor gryp. Beslis nie ‘n grap nie. Glad nie.

    Liked by 3 people

  2. As geskeide vrou moes ek dikwels aanmerkings van (getroude) mans verduur. Ek het hulle as slegte ervarings afgeskryf. Een keer het ek wel n aanmerking gemaak en toe is ek ook gevra of ek nie n grap kan vat nie. My antwoord was iets is net snaaks as almal saamlag.
    Maar as dit kom by vatterigheid, no go. En as dit weer gebeur het jy en jou man die reg om hom aan te kla

    Liked by 2 people

  3. Dit is nou tipies hoe sulke verpestelike mans dit doen. Hul weet jy gaan dit nie as n grap sien nie. As jy man hom aanspreek moet hy hom sommer n paar mooi dinge vertel, dis verregaande en sommer moedswillig. Ek was self ook al in n paar situasies wat regtig baie ongemaklik is. Gelukkig kon ek elke keer kophou en wegkom ongelukkig het ek nie iemand gehad wat my kon dek en bystaan nie. Hou niks van sulke goed nie.

    Liked by 1 person

  4. Is goed jy het nie stilgebly nie. Ek kan sulke aanmerkings glad nie hanteer nie en was ook self te veel in my lewe in situasies waar ek as allenlopende vrou met sulke aanmerkings gepeper was, en dit soms deur mans wat jy dink jou vriende is…….

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.