Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Reisjoernaal

‘n Motorwassery in Öskemen

Toe ons na Öskemen, ala Ust’-Kamenogorsk in Kazakhstan getrek het, het ons aanvanklik motorloos gegaan. Daar koop mens ‘n motor kontant, dus moes ons eers spaar om ene te kon bekostig.

Dit was egter vir ons opvallend dat ons geen motorwassery gesien het nie. Dit is wel waar dat baie mense nie motors het nie, want hulle stap oral heen. Of gebruik ‘n taxi’s. Of ry trem of busse of trein. Maar, daar is ook motors. En waar word hulle gewas? Want ons het nie motorwasserye gesien nie.

Toe vra ons vir Sergei, manlief se Russiese kollega. En hy lag en sê dat daar baie is.

Toe ons ons eie motor koop, het ons vir Ruslan, manlief se tolk – ‘n Kazakh – gevra waar ‘n motorwassery is. En hy stuur toe vir ons ‘n PIN na die een wat hy gebruik.

Ons het in Dusty gespring, die kaart op haar ingestel en gaan soek.

Sy het vir ons beduie om by ‘n stegie in te draai. En ons het gedink sy is koekoes en het verby gery. Sy was egter seker van haar saak en ons moes maar omdraai en indraai en gaan kyk.

Om hierdie plek te ontdek.

Ons het haar die eerste keer in Julie 2019 daar gaan was. Jy stop buite, betaal by die kantoor en wag in die wagkamer. Wat natuurlik met handgebare gepaard gegaan het want ons kon die taal nie praat nie.

Dan roep hulle manlief om haar in te trek en word sy gewas. Bykans elke keer het Kazakh vrouens ons kar gewas. as hulle klaar is, word jy geroep om haar weer uit te trek en te gaan.

Dit was vreemd dat ons motor binne-in ‘n gebou gewas word. Hier is karwasserye hoofsaaklik in die buitelug, met glas of seil afskortings. Net om die wind uit te hou.

In die winter het ons verstaan waarom karwasplekke in geboue is. En nie buite in die opelug nie. Die water sal op die vensters vasvries as dit so koud is. En die arme mense wat in die koue met water moet werk, sal ook hulle vingers kan verloor as die -38 grade Celsius buite is.

Die foto is op 16 Februarie 2020 geneem, nog voordat die pandemie inperkings veroorsaak het. Ons het nog lekker rondgery, was nie meer beperk tot die stad self nie.

Maar ek wil eintlik oor die foto gesels.

Kyk die lang ysswaarde wat van die dak afhang. Ek was altyd versigtig om onder hulle deur te loop, want as ene val, kan hy deur jou steek!

Die ysswaarde wys dat dit al warmer geword het en dat sneeu op die dakke begin smelt het. Om hierdie stalaktiete te maak.

Dit was interessant om in die wagkamer tussen die Russe en Kazakhs te sit. En Afrikaans te praat omdat mens dan doodseker is dat niemand jou verstaan nie. Omdat Afrikaans en Russies so na aan mekaar is wat uitspraak betref – veral die r wat so hard soos ons s’n uitgespreek word, het die mense verras opgekyk as hulle ons glad nie verstaan nie.

Ons albei het teater, spreek dit selfde uit, maar hulle spel teater as teatr, sonder die e tussen die t en die r. Apteek is ook na aan ons apteek. En daar is vele soortgelyke woorde.

Maar, daar is ook ‘n woord wat ons nooit voor die mense moes gebruik nie.

Goeie.

En dit was moeilik.

Want ek sê maklik:

  • Goeie môre
  • Goeie dag
  • Goeienaand
  • Goeie Vrydag is ‘n spesifieke vakansiedag wat hulle ook vier
  • Goeie genugtig

Kan ek aangaan met my goeie woorde?

Wel, in Russies is dit ‘n woord wat mens nie in goeie geselskap gebruik nie. Dit is ‘n plat woord vir die manlike geslagsorgaan.

En in ‘n land waar mens nie die taal van die mense kan praat nie, gebruik jy die woord dan nie. Want hulle kan dink dat jy hulle erg beledig.

So het die man op die myn op die harde manier uitgevind.

Die vrouens het gekla dat hy hulle elke liewe dag vloek.

Dit is ondersoek en die arme man het nie.

Hy het hulle gegroet met:

Goeie môre!

Dit is natuurlik lekker herinneringe aan ‘n vervloë tyd.

Wat ek met foto’s kan vasvang vir eendag.

Want mens vergeet so maklik die detail, tot jy na jou foto’s kyk en stories onthou.

Terloops, dit lyk soveel mooier as wat ek dit onthou. Dalk het hulle geverf voor die winter? Ek sal na ander foto’s moet soek.

Kyk na die gebou links bo agter die gebou. Dit is hoe die meeste geboue in Ust lyk. En kan mens hulle kwalik neem as die temperatuur vir maande lank sub-zero is?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “‘n Motorwassery in Öskemen

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.