Gepubliseer in Resensies

Nêrens – Noord-Kaap – resensie

Kyk, ek het nie daarna uitgesien dat Spoorloos 3 ten einde loop nie. Maar ek moet erken, die nuwe reeks wat in sy plek is, is opwindend. Die naam het my natuurlik soos ‘n magneet getrek. Nêrens, Noord-Kaap.

Ons het mos agt maande in die Noord-Kaap gaan woon. Kathu vir twee maande en toe in Kuruman vir ses maande. En ek kan maar ruiterlik erken. Ek het ‘n liefde vir die Noord-Kaap met sy uitgestrektheid ontwikkel.

Natuurlik moet ek ook skryf dat ek nie die landskap herken wat in die nuwe reeks Nêrens, Noord-Kaap uitgebeeld word nie. Want ons het in La Nina tyd daar gewoon. Dit het bykans elke dag gereën en op plekke erg oorstroom. En die Noord-Kaap, wat volgens alle bronne ‘n rooi woestyn is, was tydens ons verblyf daar ‘n pragtige landskap met baie lang, welige gras.

Ek sou graag die woestyn wou sien en beleef, maar ek gun die boere die wonder van reën wat so lank die plek in ‘n lowerhof omskep het. Die beeste se pense was in die gras weggesteek, so lank was die gras. Die bokke moes op die wildsplase gesoek word. Ek is ontsteld om te lees dat soveel plase in daardie distrik onlangs afgebrand het.

Ons het in verskillende rigtings die landskap en dorpe om Kathu en Kuruman verken. Van Kathu tot by die Augrabies, oor Upington. Van Kuruman tot in Kimberley. Van Kuruman tot by die grens met Botswana, nie te ver van Hotazel af nie. Vanaf Kuruman al die pad na Vryburg en Gauteng. En in al hierdie rigtings het ons net grasvelde gekry. Geen woestyn met rooi sand nie.

Maar ek wil eintlik oor die reeks gesels.

Dit het my aandag vanaf die eerste oomblik af getrek. Dus weet ek sommer dat ek ‘n getroue kyker gaan wees. ‘n Pa wat met behulp van ‘n huishulp drie seuns moes grootmaak toe die ma dood is. Patriarg, sy woord is wet. Ek het so half die idee dat die ma dalk nie dood is nie, dat sy dalk weggeloop het omdat sy na haar vaderland – Nederland – verlang het. En dat die seuns gemaak dink is dat sy dood is. Maar dit is ‘n teorie gebaseer op ‘n woord hier en daar. En sy het nie siek gelyk nie, maar ek kan baie verkeerd wees.

Van my gunsteling akteurs en aktrises vertolk rolle in die reeks.

Frank Opperman (Dominee Tienie, G.I.L., Pandjieswinkel) is Pa Lourens. Hy verras my, want dit voel al vir my of hy in elke fliek en reeks dieselfde klink. Soos Frank of Ouboet in Orkney Snork Nie en nie soos die karakter wat hy vertolk nie. De Klerk Oelofse (Kyk Wie Praat, Hotel, Die Boekklub, Fynskrif), Albert Pretorius (Slot, Johnny is nie dood nie, Die Seemeeu) en Geon Nel (Die Boekklub, Die Seemeeu, Vallei van Sluiers) vertolk die rolle van die drie Adendorff-seuns, Andries, Ronnie en Frans.

Dean Balie (wat vroeër vanjaar ‘n kykNET Fiësta Sinjatuur-toekenning ontvang het as opkomende kunstenaar) vertolk die rol van Jan-Jan (die voorman op die plaas) en Ilse Klink (Stroomop, Skemerdans, Arendsvlei) vertolk die rol van Maggie, wat ‘n integrale rol in die grootmaak van die drie Adendorff-seuns speel. Sy het die mamma belowe sy sal mooi na die seuns kyk.

Tinarie van Wyk-Loots (Fynskrif en baie ander stories) is die ma, Marion Holm, Gideon Lombard, Ludwig Binge, Patricia Baadjies en Melissa Willering maak ook deel uit van die top klas-rolverdeling. Ek is baie erg oor Tinarie, sy kan enige rol haar eie maak. Hier praat sy Nederlands en ek geniet haar spel vreeslik baie. Al was sy min te sien in die eerste episode.

De Klerk Oelofse is weereens in sy element. Ek geniet sy spel. Sy ma het hom van die wêreld vertel. En daardie wêreld wil hy gaan verken. Met geld wat sy broer moes gee. Hy wil nie op die plaas wees nie.

Shana Mans, wat die rol van Lorrie Willemse vertolk, is vir my ‘n pragtige nuweling. Sy het blykbaar die rol van Izette in Suidooster vertolk, maar dit was moontlik toe ons in Kazakhstan was. Ek herken haar nie heeltemal nie, maar ek hou baie van haar.

Nêrens vertel die hartseer verhaal van boere met seuns. Seuns wat nie op die plaas wil aangaan nie, dit was pa se droom, nie myne nie. Veral as die plaas droog is en regtig in die middel van nêrens. Die pa het gewerk en geswoeg en gesweet. Verniet, so wil dit voorkom. Behalwe as hulle op een se gevoelens kan speel om die plaas oor te neem en nie te gaan studeer nie. Ek kan dit nie verstaan nie. Gee die man eers sy geleerdheid en dan die plaas. Maar hulle redeneer anders. Wat van die plaas as hulle sterf?

Ek kan die reeks aanbeveel, sien klaar uit na volgende Dinsdagaand.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “Nêrens – Noord-Kaap – resensie

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.