Gepubliseer in Joernaal

Ek kyk vir ouma se boude …

San, een van my blogvriendinne, vra dat ons skattighede van ons kleinkinders deel, die meeste van my bligvriendinne is reeds oumas. Daar is soveel skattighede, ek het geen idee waar om te begin en wat om te kies nie. Ek is darem al tien jaar ouma en met vier seuntjies is daar baie skattighede.

Maar as ek vandag moet kies, kies ek die een van die twee weke gelede toe ons die laaste goed in die huis gaan pak het. Wat my eers laat bloos het en toe laat skater het van die lag.

Ons gesin was mos uit tuin toe, want ek wou foto’s van ons kleinkinders by hulle roosbome neem wat oupa en ouma en hulle geplant het. ‘n Hele paar jaar gelede. Daar is ‘n boom vir oupa, een vir ouma en een vir elke kleinkind wat dollatjie vir ons gegee het. Kleinkind aan seun se kant gaan sy boom by ons nuwe plekkie kry, waar die ander drie weer elk ‘n boom sal moet kry. Sodra hulle kom kuier. Hierdie laaste kleinkind van ons ken nie regtig ons stadshuis nie.

Soos gewoonlik neem ouma die foto’s. Begin by oudste wat vinnig gereed gestaan het. Sy boom is agter langs oupa s’n. Dus staan ek rugkant na middelste kleinkind toe omdat die bome soort van in ‘n sirkel geplant is. Gebukkend na oudste se hoogte toe om ‘n mooi foto van hom te neem.

Dink glad nie aan dit wat die mense agter my sien nie.

Ek haat dit as manlief my van sy hoogte af afneem – lyk soos platgedrukte koekie. Dus daal ek na my teikens se hoogte toe, iets wat ek ook nou tydens die lesings leer wat ek tans bestudeer.

Toe ek net mooi mik om te neem, laat middelste hoor:

“Ouma …”

En toe ek ja antwoord, kom dit:

“Ek kyk vir ouma se boude!”

Ek het opgevlieg en blosend gewonder waarom die klein klits so iets laat val. Is my broek vuil? Ons is besig om te pak en skoon te maak.

Skoonseun en my dollatjie het lekker gelag. Eitnlik geproes. Ek is seker my wange het gevlam, al was dit nogal koud.

Dit was een van die snaaksste oomblikke van my lewe, al het ek gebloos.

Maar ek sal eers moet verduidelik dat jy verstaan waarom ek gebloos het.

Ek het geen idee waarom die klein rakkertjie dit gesê het nie.

Maar dit gebeur wel in my gesin dat ek kommentaar oor my boude aanhoor en mishoor. Let wel: Mishoor want ek gaan nie ‘n deel van my anatomie bespreek wat ek nie self kan sien nie. Ek sien dit mos nie self nie, dit is agter my …

Tog word dit soms ‘n besprekingspunt.

Seun – sy oom (en my seun) het – toe hy baie kleiner was – te vertelle gehad dat ek nie boude het nie. Dit is plat. Asof plat boude nie ook boude is nie, maar ek het liewer stil gebly. Plat boude pas mooi in rompies in, dus is ek heel tevrede met plat. Of dit nou as boude beskou word of nie.

Toe ek onlangs noem dat ek plat boude het, het seun gelag en gesê dat ek plat boude GEHAD het. Ek het maar weer geen kommentaar gelewer nie. Ek sal maar raai dat ek boudspiere ontwikkel het nadat ek en manlief op ‘n heelwat later ouderdom vir maande lank bergfiets gery het. Of dalkies is daar ander redes?

Wat ek wel weet, is dat daar geen manier was waarop ek vir kleinkind sou vra waarom hy vir my boude kyk nie. want sien, ek vermoed hierdie ouma het dit op sy hoogte geparkeer? Dat hy nie kon sien wat ek afneem nie. So terloops, hy hou niks van foto’s nie.

Maar ek het nie gevra nie. Ek het met my eie kinders geleer dat verdere vrae slegs gevra word as daar nie ‘n gehoor is nie. Netnou hou ek nie van die antwoord nie.

Tog vang ek myself dat ek giggel as ek my jeans optrek, want dalkies het my stêrre nog groter geword?

Toe ek sy gesiggie sien omdat ons almal lag, het ek baie vroom om verskoning gevra vir die boude in die lug – wat sy sig dan so versper …

Want hy het so skaam gekry omdat almal vir hom gelag het.

Ouma kan die pak vat.

Dit is ‘n ouma se werk …

Wat my natuurlik weer laat skaterlag. Want skoondogter gaan my nie sommer laat vergeet hoe skaam ek Desember was nie. Die keer was dit dollatjie se jongste (toe 4) wat die ouma laat bloos het.

Ons het vakansie by die see gehou, al die kinders en kleinkinders was saam – ouma en oupa se bederf. Ons is terug uit Kazakhstan na lang inperkings.

So nooi ons vriende oor om by ons te kom braai. En almal sit aan tafel en gesels, die kleinkinders ook. Die kleinste enetjie op ouma se skoot. Ek het ‘n bloes aangehad wat oor die borsgedeelte vasgeplakte steentjies gehad het.

En glad nie besef dat kleinkind terwyl hy oor die steentjies streel, eintlik ook oor ouma se bors streel nie. Tot ek die lag in die mense aan die tafel se oë sien en besef hoe dit vir ander moet lyk!

Die deel waaroor skoondogter giggel, is my reaksie. Ek het gevra of hy van die steentjies hou, dat mense sien dit is wat gestreel word. En so half ongemerk die bloes van my lyf weggetrek dat die streel op die materiaal is.

Die kleinkinders is nog so onskuldig, ouma kan mos nie vir hulle vertel waarom dit my ongemaklik maak nie?

So San, ek hoop jy het saamgegiggel. Ek gaan hierdie drie seuntjies baie mis as hulle in die week Kaap toe trek, maar ek weet dit is vir die beste om na ‘n plattelandse skool te gaan. En dit is nie naastenby so ver soos Kazakhstan nie …

Hoofoto: die deel van die tuin waar ons roosboompies geplant is. Links is oupa en oudste se boompies.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Ek kyk vir ouma se boude …

  1. Ek het lekker geglimlag hieroor, Christa. Bêre die stories en vertel dit vir hulle as hulle eendag groot is. Dan sien jy hoe hulle bloos. Dis so opreg gesê, nes ń kind dit maar kan doen.

    Liked by 1 person

    1. Dankie, Appeltjie. Nee, glad nie. Hulle is amper dadelik weg omdat manlief moes ry om meubels te gaan aflaai. En toe raak ons so besig dat ek soos ‘n weeluis moes kophou omdat die nuwe eienaar 4 uur wou intrek.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.