Gepubliseer in Joernaal

Maaier-Maandag

Verskoon hierdie storie. Dit is die eerste keer in my lewe wat so iets met my gebeur. En ek het so gesukkel om daarvan ontslae te raak, dat ek dit net moes neerpen.

Verlede week Vrydag was baie warm. En ek moet bieg, ek het ‘n brommer by die asblik gehoor. Maar ek was haastig, manlief is vroeg by die huis, ons gaan rivier toe en ek het nog baie om te doen. Dus spuit ek nie soos gewoonlik as ek vermoed dat brommer daar gaan inklim gif in die sak nie.

Sit die sak net in die garage neer dat dit Maandag in die straat gesit kan word.

Wat ‘n fout!

Sondag wil manlief die sak gou buite sit toe ons by die huis kom.

En hy wys kwaai vir my dat die sak wit is van die maaiers aan die een kant. Die brommer het sy eiers aan die buitekant van die sak gelê en die maaiers het uitgebroei en larwes gevorm.

In die garage, wat deel van die huis vorm.

Ek is kwaad vir myself, spuit die blik Doom bykans leeg waar die sak gestaan het. Ek vermoed dit is onmoontlik dat ene daarna lewendig kan wees.

Toe nie.

Toe ek vanoggend in die garage kom, het die maaiers begin stap, al oor die vloer van die garage. Gelukkig is dit teëls, ek sien elke een wat stap. Vee hulle op ‘n bondel en spuit die ander helfte van die Doom op hulle uit.

Gaan werk eers weer om die dooies later op te vee as die Doom droog is.

En so wraggies, toe ek daar kom, het ‘n paar steeds oorleef, stap hulle weg van die hoop waarop hulle gevee is.

Dit sous buite, dus het ek geen idee wat om met die goed te maak nie.

Behalwe dat hulle beslis dood moet wees.

Nou wonder ek?

Verander hierdie wit larwes in swart brommers?

En eers moet ek gaan opsoek.

Goeie genugtig.

Maaiers vervel drie keer voordat hulle papies word. En uit die papies kom brommers te voorskyn. As ons langer weg was, het ons ‘n garage vol brommers gekry. Dit vat net vier dae van eier tot brommer.

Ek moet bieg, ek sou dit verkies dat die goed reeds brommers moes wees.

Brommers kan immers met Doom doodgespuit word. Hierdie maaiers is kanniedoods.

Ek het ‘n ou skoppie gaan haal. my byna doodgegril om so naby aan die goed te wees en hulle opgevee en in die toilet gaan afspoel.

Ek hoop maar dat dit nie ‘n groot sonde is nie, want dit was al manier hoe ek kon weet hulle is weg.

Baie ver weg.

Net vir die wis en onwis ook toeiletreiniger ingegooi nadat ek die goed weggespoel het.

En so word my Maandag ‘n maaier-soek-dag.

Elke ding word geskuif, oral word gesoek, nie een van hierdie goed kan toegelaat word om uit te broei nie.

So lees ek dat maaiers weer! in hospitale gebruik word om wonde skoon te vreet. Soos gedurende die tweede wêreldoorlog. En dat niemand die gebruik van larwes weier nie.

Wel, dit is seker maar net omdat ek dit nog nie nodig gehad het nie. Want glo my vry, dit sal ek nie doen of toelaat nie. Dat wurms aan my vreet terwyl ek lewe. As ek dood is, sal ek seker nie weet nie? Sal ek?

Iedergeval, die goed is toeriste, hulle het die hele garage deur getoer. Op my lyf gaan hulle nie toeriste wees nie. Nie met my toestemming nie.

Wat my natuurlik ook by die ding bring waaroor ek amper nie wil skryf nie.

Ek gril my op.

Ek het iewers gelees dat daar mense is wat maaiers eet.

Daar is geen manier wat ek die goed sal eet nie.

Ook nie enige ander gogga nie.

Dit is die eerste keer in my lewe wat so iets met my gebeur. En definitief die laaste keer. Ek weet nie wat dit veroorsaak het nie, maar ek gaan beslis nie weer vergeet om in die swart sak te spuit as ek enigsins vermoed dat ‘n vlieg of brommer naby was nie.

Of nee, nog beter, ek gaan in elk geval spuit. Vir die wis en die onwis.

Ek lees nou dat gif die vlieg/brommer doodmaak of die larwe/maaier.

En dit glo ek goed, want Doom wat dodelik vir ‘n vlieg is, doen nie veel aan die maaiers nie.

Ek moes die kruipende goed een vir een soek en van die gras af maak.

Toe manlief tuis kom, word hy opgekommandeer, hy moet help skuif en soek. En so wraggies kry ons ‘n paar wat steeds lewe – en ander wat papies geword het. Gereed om as brommers uit die kokonne te klim!

Die garage is nou skoon, vanoggend weer gaan seker maak daar is geen wandelende wurm nie.

Ons het die eiers en die brommer genadiglik gemis, die larwes en papies is uitgewis. Dat een vervlakste brommer soveel werk kan veroorsaak!

Foto: http://www.mieliestronk.com/vlieg.html

Wat ‘n onaangename, grillerige, besige Maaier-Maandag!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

24 gedagtes oor “Maaier-Maandag

          1. Spuit AK47 vir die vlieë (enigste goed wat werk) en rotgif vir die rotte. Ek weet van die uile, maar die groen goed wil nie werk nie, so ek hoop maar hulle gaan dood waar die uile hulle nie kan in die hande kry nie

            Liked by 1 person

  1. O genade Christa, ek voel vir jou met die vlermuise en nou dit ook! Ek sal my dood gril vir die goed! Ek kan nie eers vir hulle kyk nie. Brommers, vlie-e en kakkerlakke! Daardie drie goed verafsku ek tot in die dood. Ek hoop die laaste een het nou styftrekkings gekry – vir jou part!

    Liked by 1 person

    1. Ek voel soos die Terminator, elkeen is dood. Weet jy wat is die ergste, hier is geen vlieg of brommer wat pla nie. Een moes saam met die ou wat oorkant ons bly van die plaas afgekom het, en toe kom deel sy haar gene in my garage.

      Like

    1. San, dit was vir jou ‘n gedoente hoor. Die eerste keer in my lewe wat dit met my gebeur. Ergste van alles, ons het nie ‘n probleem met vlieë nie. Nul/zero/geen. Geen idee waar brommer vandaan gekom het nie, vermoed hy het saam met die jagbakkie oorkant die straat gereis. En by ons ingevlieg. Ek het dit geskryf omdat ek die vervlakste brommer gehoor het, maar my aandag was op ander plek. En toe gee hy vir my meer werk as wat ek op ‘n Maandag wil doen. Ek was siek elke keer as ek een vn die goed sien.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.