Ons het twee Sondae gelede gaste vir koffie gekry. Toe koop ek drie kussings – kleur iets tussen rooi en maroen – om op die bruin leerbanke te sit. En ‘n muurhorlose om daarby te pas. Om die groen van die gordyne en die bruin van die leer aan te vul.
Ek kon seker self maak, maar ek het al vertel dat ek aangeraai word om nie na die materiaal winkel te gaan nie.
Vanmiddag los ons die drie vierbeenkinders in die huis om gou vleis te gaan koop. In sulke gevalle word hulle eers uitgevat om te piepie, want hullle mag nie in die huis die ding doen nie. En as ek nie sorg dat hulle wel die nood verlig nie, is dit mos my eie skuld as hulle mors.
Die kinders is soet, geen glipsies in die huis nie.
Maar dit beteken nie dat hulle soet is nie.
Toe ons in die sitkamer kom, lê twee van die kussings op die vloer. Eerste keer wat so iets gebeur.
En ek weet dit is nie ek nie, want ek sit die kussings nie op die vloer as ek skoonmaak nie.
Ek kyk vir manlief en hy kyk vir my … is die kinders op die bank as ons nie hier is nie?
En ja, ons hoef ook nie ver te soek nie.
‘n Voetafdruk is nog mooi ingedruk op die bank.
Die enigste een met so ‘n groot afdruk is … Shilo!
Ek wens ek het ‘n kamera in die TV-kamer om te sien wat gebeur het.
Ek skat BB het eerste opgeklim met; ” Watse nonsies is dit hierdie? Ek gaan bo lê, dan kan ek by die venster uitsien wanneer hulle kom. Sy wou mos die voordeur sluit, anders kon ek op die stoep agter die tralies vir hulle aanmoedig om vinnig in die huis in te kom.”
Shilo sou sê: “Ma, so ‘n bek moet jam kry” en by haar op die bank kom lê. Of nee wag, hy sou ‘n hele sitplek vir homself vat.
En Bekka?
Wel Bekka sou nie op die bank wees nie.
Of sou hy?
Want Bekka kan nie op beddens spring hy. Hy staan en spring-spring so by ‘n bed, maar kan doodeenvoudig nie op nie. Dan kry ek daardie jannie-jammergat kyk. Iets soos: “Moenie vir my staan en lag nie. Help my op!”
Hulle mag nie op my banke sit nie, nie omdat ek nie van hulle hou nie. Ek dink almal weet ek is gek oor hulle.
Ek wil net nie krapmerke van toonnaeltjies op my banke hê nie.
Mens raak seker maar so as jy al redelik oud was toe jy eers besluit het om in ‘n baie duur bankstel vir die TV-kamerte belê. Dit het nie in ons skoot geval nie.
Ek is ook kwaai met my kleinkinders oor die banke. Hulle kan daarop sit, lê, loop, en staan. Sonder skoene.
Maar spring is uit. En hulle mag ook nie op die bokante sit nie, want die kussings kan van die agterkant af skeur. En ouma gaan nie weer so ‘n stel kan koo- nie. Pas dit op.
My vierbeenkinders is blykbaar die Mekkies van die Plekkie as ons nie hier is nie.
Botter kan nie in hulle monde smelt nie.
Van links na regs : Shilo, BB en Sobek sit vir ‘n gesinsfoto.
As ek maar ‘n vlieg teen die muur kon wees …
As jy weg is moet hulle hulleself troos met iets lekkers- soos om op die bank te speel, daar waar hulle nooit mag speel nie
LikeLiked by 1 person
Presies, Seegogga, en dit het alte jolig gegaan, die kussings is afgespeel. Gelukkig nie gekou nie. Dit doen Schnauzers mos nie sommer nie.
LikeLike
Ai die hondekinders. Ons s’n mag nie in die huis nie, veral die grotes. Voorheen het my groot honde in die huis geslaap, tot hulle eie banke gehad. Nou sluip hulle in wanneer hulle die kans kry en gaan lê amper weggesteek op die bruin leerbanke. Wanneer jy raas, trek die ore plat en die oë word weggesteek, maar eers wanneer mens dreig, klim hulle traag af.
LikeLiked by 1 person
Net so, ek kan elke keer sien hulle wil so graag hoor hulle kan bly. Hulle is mens se kinders, Positief, ek geniet hulle so baie.
LikeLiked by 1 person
O ek ken ook van. Trompie is ook een van die honde wat nie sommer op bed of sitplekke kon spring nie. Moes hom help deur hand onder boudjies te sit en hom op te lig. Hy het op einde darem geleer om sonder hulp op te klim. Hy sal ook sommer net met voorbene hang as om op te spring.
LikeLiked by 1 person
Dit is presies wat Bekka doen. Hy hang half in die lug, verstaan nie die voorpote moet help nie. Ek sal so vir hom.
LikeLike
Haha, daar is sekere dinge wat die honde by hul ouers en boeties moes geleer het wat hul nooit gedoen het nie. (Dis maar my idee en hoe ek dit sien. Ek het Trompie ‘n hele klomp dinge moes aanleer. Hy kan bv nie sommer ‘n deur oopstoot nie)
LikeLiked by 1 person
Ag oulik, Scrapy. Seker nê?
LikeLike
Ek geniet dit nog steeds om te sien hoe hy reageer op dinge wat hy nie ken nie.
LikeLiked by 1 person
Ek ook!
LikeLike
Kyk hoe soet sit hulle.
LikeLiked by 1 person
Hmmm, ek moes paar keer neem voordat almal gekyk het. Soet kinders van my.
LikeLiked by 1 person
My Dawiehond kan maar net nie snags buite gaan piepie nie. Ek maak oggend vir oggend plekkies droog
LikeLiked by 1 person
Ek gooi asyn op die plekke as hulle glips kry. Soos eergisteraand. Dit het hard gereën en hulle het geweier om in die reën iit te gaan. Ek was ook nie lus om nat te reën nie. Daar is goed wat kens kan koop, ek sal na naam soek. Hulle gaan nie weer na die plek toe nie omdat dit vir hulle stink. Ek ruik dit glad nie.
LikeLike
Sal daardie naam waardeer
LikeLiked by 1 person
Ek sal gaan soek, ek weet dit is op winkelrakke en het iets soos ‘n groot OFF as die tweede deel van die naam. Asyn werk ook, maar nie so goed nie.
LikeLiked by 1 person
Maar, hulle kry nie glipsies nie. Hulle maak my wakker, staan teen my bed en trap teen die bed totdat ek wakker word.
LikeLike
Appeltjie, ek wil nie slegte boodskap oordra nie, maar ek verstaan van baie van my vriende dat Dawie se soort woewe nie sommer geleer word om nie in die huis te piepie nie. Ek gaan een vra wat met hulle geboer het, dalk het sy raad.
LikeLiked by 1 person
As die kat weg is, is die muis(hond!) baas.😄
LikeLiked by 1 person
Daardie banke lyk net té aanloklik. Slim van hulle om te weet wanneer is die regte tyd om daar te gaan lê! 😀
LikeLiked by 1 person
Dit is waar, is dit nie? Eerste keer wat ons tuis kom en die idee kry dat hulle op die meubels was. Dalk word die lyfies oud, soek hulle sagte kussings …
LikeLike
Gelukkig weet ons nie wat agter toe deure gebeur as mens jou 4poot kids daar los nie.
LikeLiked by 1 person
Gelukkig nie. Stoute kinders vn my, ek wil tog sien wat hulle doen ….
LikeLike