Ons het mos eers vir twee maande in ‘n woonstel in iemand se erf in Kathu gebly. Belaglik duur, elektrisiteit uitgesluit en water net elke tweede dag. Soms vir 4 dae aanmekaar net saans water, hulle maak pype iewers reg. Voeg daarby ‘n pad vol slaggate, wat by die dag erger geword het en ons het rede gehad om Kuruman te wil aandurf.
Aandurf? Wel ja, dit is blykbaar baie gevaarlik om in hierdie dorp te gaan stap. Ek wou weet of hier ‘n materiaalwinkel is en die antwoord was, hier is. Maar neem sekuriteitswagte saam met jou as jy soontoe gaan. Bid jou dit aan? Ek moet ‘n lyfwag huur as ek wil gaan materiaal koop? Dan bly ek maar sonder materiaal totdat ek na Metro by Menlyn kan gaan. Ek vermy juis klaar die een naby die Reserwe Bank. Dit is nie goeie area om in te beweeg nie. Waarom sal ek dan materiaal hier kom koop as ek ‘n lyfwag nodig het?
Sover ek kan sien, is hier twee winkelsentra. Kuruman Mall en die een waar Dischem is. Ek sal sy naam moet gaan opsoek, dit is nou uit my gedagtes uit. By die Dischem Mall is ‘n karwas, Dischem, ‘n baie groot Spar en West Pack, waar ek alles kan koop wat ek nodig het. Die ander winkelsentrum is vir my een om te vermy. Daar is Checkers, Mr. Price Home, klerewinkels en so aan. Ons gaan maar Kathu toe ry as ons klere en so aan wil koop.
Die eerste keer toe ons daar was, staan drie lieplappers teen die glas van een van die winkels. En toe ‘n vrou verby kom, sê die een vir die ander: “Ek is nou so djakkalas.” Ek gaan nie verduidelik wat dit beteken nie, maar daar is geen manier waarop ek in ‘n winkelsentrum gaan rondloop waar lieplappers tyd het om teen vensters te staan om sulke aanmerkings te maak wanneer ‘n vrou verbystap nie. Gister was die sentrum so vol dat mense teen mekaar skuur. Ek sien nie kans vir sulke plekke as ek die hele tyd gewaarsku word om my handsak vas te klou nie.
Dankie, maar nee dankie, Kathu is naby genoeg vir inkopies.
En nou bly ek al ‘n paar dae in Kuruman. In ‘n huis, op my eie erf.
Dit is salig om soggens sommer in my pajamas uit te gaan om die honde te laat piepie. Niemand wat my kan bekyk nie. My doen en late traak die bure blykbaar niks nie. Wat ‘n saligheid. Hopenlik?
Ek gaan nie die huis beskryf nie, dit is enig in sy soort. As ek beskryf, sal ek my presiese adres weergee. Maar ek kan wel skryf dat ek heerlik bly.
Ons koop nou kos by Spar, Dischem is naby genoeg, maar lewer gratis af. Hoe lekker is dit nie?
Manlief gaan uiteindelik sy kar gewas kry. Dit wil gedoen wees. Hy haat ‘n vuil kar. Ons het in Kathu by drie plekke gestop vir ‘n karwas, dit het nie een keer gebeur nie. ‘n Uur voor sluitenstyd word hy weggewys, hulle kan nie nog ‘n kar vat nie. Hulle werk nie Sondae nie, en Saterdae maak hulle te vroeg toe dat hy sy kar kan laat was.
So terloops, ek hou van die Noord-Kaap.
Anders as in Kazakhstan, verstaan almal my as ek Afrikaans praat. Gister in Checkers staan ek verstom en luister na die aankondigings en advertensies. Dit is in Afrikaans. Hoe lekker is dit nie? Ek trek sommer vir altyd hierheen, sal net ‘n veiliger dorp soek.
BB moet veearts toe. Sy loop vandat ek haar ‘n week gelede gekry het op drie beentjies, hou die een in die lug. Gedink dit sal verby gaan want sy kla nie as ek op enige plek aan die beentjie druk nie. Maar nee, sy bly so hardloop. Sy loop wel op al die bene. Ek vermoed haar voete het seer geword van die baie nat as gevolg van die baie reën in Pretoria. Kan nie afspraak voor volgende week kry nie, die veearts is so besig. En hy is vandag op ‘n plaas, nie by die kliniek nie.
Google help baie, baie min in die Noord-Kaap. Ek kry bykans geen besigheid wat ek soek nie. Sal plan moet maak, hier in die Noord-Kaap. Google so bietjie help.
Die dierekliniek verwys my egister na Crazy Store by die gevaarlike winkelsentrum om ‘n kussing/mandjie vir my woewe te koop. Hulle s’n lê mooi by die rivier en wag, die bakkie was te vol. Die trok was nie in my gedagtes nie, dit kon maklik daar inpas. Kan mos hier koop? Uiteindelik het ek keuse by Crazy Store gehad. Nou kan hulle saggies slaap.
Manlief het heeltemal vergeet dat die woewe volgens hom in die motorhuis moet slaap. Hulle slaap by pappa en mamma in die kamer. Hy staan selfs op om hulle uit te vat vir ‘n piepie! Ek moet natuurlik saamgaan, anders kom haal Shilo en Sobek my. Hy sal my nie tuis kan los as hy weggaan nie. Hulle klim eers in as mamma ook by die kar is …
Dit is heerlik om my honde by my te hê. Dit voel soos lewe, geliefd wees, alles in een. Ons moet natuurlik weer maniere leer, hulle het mos nou lank buite geslaap. Dus het hulle twee glipsies in die huis gehad. My skuld, ek het hulle nie gereeld vir ‘n piepie uitgeneem nie.
Asyn op die plekke doen die wonderwerk. Dit vat die reuk weg en hulle piepie nie weer daar nie.
Hulle is nou weer in roetine, weet nou binne is vir bly en slaap, buite vir die toiletsake. Ek het ook gewaarsku: “Piepie weer in die huis en julle slaap buite.” Dit verstaan die drie baie goed. Van buite slaap ken hulle, van binne se lekker ook.
Shilo praat mos terug as ek raas. Sobek sit met net met sy jannie-jammergat houding en uitkyk. En BB vra: “Waarom raas ek, sy piepie nie so nie. Praat met die manne, ek is onskuldig …”
Ewenwel, dit is sover baie lekker in Kuruman. In my eie huis.
Ons gaan waarskynlik nie lank hier bly nie. Daarom wou ek met minimum trek. Nou is ek dankbaar oor die meubels wat manlief gelaai het. Ek was bekommerd dat die leerstel gaan seerkry, maar alles is mooi afgetel, opgelaai en hierheen gebring. Dit is lekker om op my eie meubels te sit en slaap.
Die son kom soos in Kazakhstan op. Aan my linkerkant as ek by die kombuis uitstap. Voel goed verkeerd, want dit beteken ek kyk dan suid. Ook omdat die son in die stad aan my regterkant opkom as ek op die stoep uitstap. En gaan links onder. Ewenwel, dit voel baie verkeerd dat suid, net soos in Kazakhstan, voor my lê as ek uitstap. Baie verkeerd. Omdat dit twee verskillende halfronde is, die een ‘n spieëlbeeld van die ander een. Dit is wel salig dat die son oor die huis se dak opkom en ondergaan. Nie direk in die huis inskyn soos in Kathu nie. Dit maak die huis aansienlik koeler in die somer, ek neem aan dit gaan baie koud wees in die winter …
Ons sal dus sien wat die toekoms inhou.
Ek gaan geen datum aan die blyery sit nie. Want ek lees dit vanoggend weer in die Bybel raak. Hoe kan ek sê hoe lank ek in ‘n ander land (plek) gaan bly om geld te verdien? Ek kan net sê, as dit die Here se wil is. Ons val maklik in by Sy besluit. Hy was nog elke keer reg, het ons nog elke keer weggelei as ons verkeerd besluit het.
Hooffoto: My kinders op die stoepie, dit is lekker dat dit tralies het. So hou ek hulle weg as iemand ‘n werkie moet kom doen.
Ag ek is bly dat jy weer kan asemhaal. Geniet jou tyd daar. Dit is hartseer dat die dorp ‘n ‘gevaarlike’ naam gekry het.
LikeLiked by 1 person
Is dit nie, Toortsie. Dit is jammer, mens kan blykbaar nie eers in veiligheid na die Oog toe gaan nie. En dit is in die dorp, reg in die hoofstraat.
LikeLiked by 1 person
Kyk, leeglêers kry jy maar, maar regtig, dat jy onveilig moet voel om winkel toe te gaan is hartseer.
LikeLiked by 1 person
Kan jy jou voorstel? ‘n Lyfwag saam met my? Ek het tyd nodig as ek in ‘n materiaalwinkel is. Sommer baie. Ek wil nie oor my skouer loer wie my wil besteel nie. Dit is baie hartseer vir plaaslike besighede. Maar goed vir my sak … ek kan nie uit ao ‘n winkel loop sonder om te koop nie.
LikeLiked by 1 person
Dankbaar dinge het uitgewerk!
LikeLiked by 1 person
Dankie, dit werk uit. Ek leef heerlik.
LikeLike
Jy kan nie stry nie….jy beleef darem baie meer opwindende goed as wat jy ooit gedink het! Hoop jou bly in Kuruman gaan lekker uitwerk…. en dat jy in jou jamies in jou eie erf kan loop!
LikeLiked by 1 person
Dankie, Woordnoot. Nee ek kan nie stry nie. Wie sou kon dink fat ek al die K lande (Kazakhstan) en K-dorpe (Kathu, Kuruman, Krugersdorp) in die wêreld wil uittoets.
LikeLike
Haha…..dis skerp
LikeLiked by 1 person
Dit is wonderlik om ‘n huis te kon kry. Met die woewe en jou meubels om jou moet dit soos ‘n tuiste voel! Lekker skryf!
LikeLiked by 1 person
Dankie San, dit voel soos ‘n tuiste. Ek geniet dit om my eie meubels om my te voel.
LikeLike
Dit klink sommer lekker daar in Kuruman, in jou eie huis met jou kinders by jou
LikeLiked by 1 person
Dit is, Positief, dit voel soos tuiskoms.
LikeLiked by 1 person