Vandat ons na Kuruman getrek het, waarsku die manne op die myn. Hou ‘n oog oor die vrag op jou bakkie as jy deur Vryburg ry. Die meeste bly in die stad. En ry elke tweede naweek huis toe. Tot nou was ons gelukkig.
Ons het nou al ‘n hele paar keer deur Vryburg gery – op pad na Kathu en oppad terug na die stad toe. Geen voorvalle nie en ons het dit sonder ‘n kappie gedoen.
Die bakkie het verlede week ‘n kappie gekry, die myn het dit noodsaaklik geag. Omdat die mynmanne besteel word soos hulle deur Vryburg ry.
Laat ek nou net eers hier duidelik stel: die hoofstraat van Vryburg is ook die N14, met ander woorde ‘n nasionale pad. Die pad gaan egter deur die kern van die stad. En dit is hier waar rampokkers by robotte gereed staan om bakkies te besteel.
Woensdag is ons so teen halfses se kant deur Vyburg. Helder daglig, die son sak mos later daar. Skielik gee manlief ‘n vloek, twee swart mans staan agter die bakkie en hulle het die kappie oopgemaak terwyl ons by die robot staan.
Ons is op pad huis toe, ons trek Maandag in ‘n huis in Kuruman in. Die bakkie is volgepak, ons het die gemeubileerde woonstel in Kathu leeggemaak, alles moes maar saamkom huis toe vir die trek. Alles is in die kappie gepak. Sakke vol kos, tasse, gholfsak, ons tasse met klere, skoonmaakgoed, en ekstra goed wat ons vir die woonstel gekoop het.
Manlief vlieg uit die bakkie, vlieg om, kry iets in sy deur en ek vlieg ook maar uit. Hy kan die gevaar nie alleen aandurf nie. As mens nou daaraan dink, wonder ek of ek sou kon help? Hulle kon ons bakkie gesteel het!
Ek is net betyds om te sien hoe die twee doodluisters wegstap, asof hulle niks gedoen het nie. En hoe manlief buk om iets op te stel om hulle mee te gooi. Dit het gelukkig vasgesit, hy kon nie gooi nie. Want daar sou beslis bloed gewees het.
Ek dink dit is regtig baie dom van ons om uit die veiligheid van ons motor te klim.
Ek dink as ek agter die stuur was, het ek die kar in trurat gesit en hulle omgestamp. En dan was daar twee lyke op my hande. Dus is ek maar dankbaar dat dit nie ek was nie.
Hulle kon gelukkig niks vat nie. Die goed naaste aan die deur was goed soos vuilgoedsakke, skottelgoedseep, wasgoedseep, blikkies kos en so aan.
Die probleem is dat manlief se hart baie lank daarna steeds te erg geklop het. En ons het nog lang pad huis toe gehad. Ons het by die garage buite Vryburg gestop, en toe sien ons dat die kappie nie mooi pas nie. Die slotte druk nie goed in hulle gaatjies in nie, dus kon hulle dit oopruk.
Ek het die gedagte dat hulle weet dat hierdie soort kappies swak gemaak is. Ek sal na die naam moet kyk. Dit pas op Toyota bakkies, dubbelkajuit soort.
As jy dus ‘n Toyota bakkie ry, moet jy maar kyk of jou kappie se deurtjie mooi teen die kante van die kappie las. Ons s’n doen pa bo mooi en ondertoe nie, dus kon hulle oopmaak en loop.
Gelukkig was ons in die kar en het ons dit gesien. Anders sou mens nie weet hoe jou goed uit ‘n toegesluite kar gesteel is as jy by ‘n winkelsentrum stop nie.
Dit is sulke tye wat ek Kazakhstan mis.
Daar los mense jou goed uit. Staan hulle nie en wag om jou te beroof nie.
Daar sou die diewe lankal in die tronk gesit het. En soos ek verstaan, wil niemand in Kazakhstan in ‘n tronk wees nie.
Ewenwel, die Here het ons beskerm. Ons kon vandag in groot moeilikheid gewees het as die boewe nie weggestap het nie. Ek kan net sê:
Dankie, Vader, ons was dom. Dankie vir die beskerming vandag.
En die motor agter ons?
Dit was ‘n rooi kar. Het gemaak of hy niks sien nie, ons nie eens gewaarsku nie. Ek sou toeter geblaas het, gehelp het.
Nie hulle nie. Vir al wat ons weet, het die twee uit die kar geklim om ons te probeer besteel. Daarom dat hulle stadig weggestap het?
Mthatha is net so erg.
LikeLiked by 1 person
Dit is onaangenaam, Anne, mens wil tog die mense om jou vertrou. Ek het groot geskrik.
LikeLike
Goeiste Christa, julle het seker omtrent geskrik!
LikeLiked by 1 person
Una, veral as mens daarna dink aan wat kon gebeur het – soos hi-jack terwyl ons uitspring …
LikeLike
Baie groot en nou wil ons nie die bakkie iewers los nie. Dit maak die lang pad baie sleg …
LikeLike
Gladnie lekker nie.
LikeLiked by 1 person