Ek gesels gister op WhatsApp met een van my vriendinne in Ust’-Kamenogorsk ala Öskemen. En word tot in my tande geskok.
Die eerste sneeu het in Ust geval. Meer as 35 dae voordat die eerste sneeu verlede jaar geval het. Want, die eerste sneeu het op 12 November 2019 geval.
Sy sê ek is seker baie bly dat ek nou in sonnige Suid-Afrika is. En ek antwoord dat ek lief was vir die sneeu, die stad en ook vir haar. Die Kazakhs is nie agteraf mense nie. Hulle is vir altyd jou vriend as hulle vriende gemaak het.
Maar, ek kan nie help om bly te wees dat ek nou baie, baie ver van die sneeu af is nie. Die laaste sneeu het nog in Mei vanjaar geval, wat beteken dat die stad vir 6 maande lank onder sneeu gelê het. Wat beteken dit dan as die eerste sneeu reeds vroeg in Oktober val?
Dat die lente/herf/somer van 2021 in vyf maande gaan moet inpas? Onthou net, hulle lente en herfs vergelyk met ons winter. Jy loop steeds met dik jasse, skoene met wol binne, wolkouse, serpe en mussies die grootste deel van die lente en herfs.
Dit beteken dat dit lekker warm in die huise is, want die sentrale verhitting werk in die herfs en lente ook. Maar – dat dit onmenslik koud buite is.
Dat jou tone maklik te koud kry terwyl jy op die sneeu loop. Dat jou vingers se punte vries, selfs al het jy dunner handskoene onder jou dik, gestopte handskoene aan.
Dat jou ooglede lank nadat jy in die huis is, steeds die koue oogballe voel as jy hulle toemaak. Wat my laat wonder hoeveel skade dit aan oē doen? Of het dit my oē gepreserveer? Dat hulle langer hou?
Dat mens, anders as lêhenne in ‘n eierfabriek, verkies om in jou woonstel te wees. Ver bokant die aarde. Want daar kan jy met kaal bene en kaal arms alles maklik doen. Buite rem die jas en skoene en dik kouse jou bewegings. Nie baie nie, maar tog.
Ek mis nie die koue nie.
Ek mis nie die sneeu nie.
Die laaste sneeu het eers teen Junie in Ust-Kamenogorsk gesmelt. Drie maande later het die eerstes gister weer geval. Lief soos ek vir die sneeu is, gaan dit met onaangename uiterste temperature gepaard. Val dit maklik bedags na -38 grade Celsius.
Ek is dankbaar dat die Here ons veilig huis toe gebring het. Na ‘n land waarvan die temperatuur selde sub-zero word. In sommige dele vn die land sommer glad nie.
My vingerpunte juig dankbaar dat my lyf die afgelope week in Suid-Afrika koud kry. Maar dat hulle nie wil af al van die koue nie.
Jinne, daar het ek dit gesê.
Oeps.
Ek het my vriendinne so geterg as hulle sê dat dit koud is in Suid-Afrika. Kom voel -38 grade Celsius het ek geterg. Wel, ek kry koud. Loop met onderbaadjie oor my dun somershemde. En dit is 18 grade Celsius, nog baie ver van subzero af.
My lyf kry koud. My arms en bene is heel tevrede. My vingers en tone ook. Hierdie koue ken ekke.
Maar my lyf kry koud. En as ek snags tussen my blaaie koud kry, kan ek maar weet dat ek verkoue gaan kry. En dit mag ek nie. Die kinders kan eers oor ‘n week en ‘n half gesien word. En ‘n ontydige verkoue kan hulle laat dink dat ek die “virus” op die vliegtuig gevang het.
En wie wil nou onder so ‘n wolk leef?
Ons huise is mos heel anders gebou as die huise in Kazakhstan. Daar het ek met my nuwe hidrometer agtergekom dat ons woonstel ‘n hele 10 grade warmer was as buite.
Weens die dubbele glas waarvan ruite gemaak word. Hulle noem dit “dubble glazing” ek het geen idee wat dit in Afrikaans is nie. En die super dik buitemure. Maar ek moet bieg, ek mis die dubbele ruite nie. My oë het daaroor begin kla. Mens sien anders as wanneer jy deur enkele glasruite kyk. Veral as jy nie reguit uitkyk nie.
Ek is dankbaar dat ek terug is in my eie land. Die een waarin my lyf die gevare van buite ken. Ek kan dehidreer, maar ek kan nie sommer hier verkluim as ek bedags buite is nie.
Dus luister ek na haar vertelling oor die eerste sneeu wat geval het.
Ek onthou hoe mooi dit is as die wit vlokkies grond toe val. Ek vra egter nie foto’s nie. Ek ken dit. Ek onthou hoe ek my verkyk het aan die vlokkies wat teen my ruite opgedam het as die sneeu val. Hoe wit alles geword het, telefoondrade ingesluit. Hoe sprokiesmooi die bome met hulle wit gewaad lyk.
Maar ek wil nie teruggaan nie. Ek dank die Here dat ek dit kon gaan beleef. Dat ek kon lag in die hysbak vir die sneeu op my en manlief se pette. Dat ek in die sneeu kon stap sonder om in ‘n yspilaar te verander. Dat ek kon gaan uitvind dat kens wel in die vrieskas sal kan oorleef – as daar suurstof is en jy beweeg. En as jy reg aangetrek is.
Maar ek geniet die onthou. Ek is bly dat ek baie foto’s geneem het. Dat ek nog baie daaroor sal kan vertel.
Maar dat ek dit ook vanaf die veiligheid van die temperature van my eie land kan doen.
Met my drie liefste woewe wat om my voete saamdrom. Oral gaan waar ek gaan. My soos ‘n skaduwee volg. En ek besef eers hier hoe ek my hart toegemaak het teen die seer van onthou van my woewe.
Hoe sē manlief gister?
Die Here het ons toegelaat om vir 18 maande in die vreemde tussen vreemdes te gaan bly. Om ons te laat verstaan dat ons hier hoort.
In ons eie land. Met temperature wat mens toelaat om heel jaar buite te leef. Tussen ons eie mense.

Foto: Die mooie bye by die verkeerslig op pad na Metro in Ust-Kamenogorsk.
Hooffoto: Sneeu wat opdam teen ruit van woonstel in Ust.
So mooi geskryf, Christa. Dis lekker om te weet julle is terug, en dat jou hart weer vol word met jou woewe om jou.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Una. Sodra die twee weke om is, gaan ek kerm dat ek en manlief jou en jou manlief by die dam gaan ontmoet. Ek sien al die mooi raak, is sommer spyt ek het nie lankal begin om oor die mooi in my eie land te skryf nie.
LikeLike
Ek sien uit na ń kuier, Christa. Baie. Dis te lekker om te lees hoe jy die klein dingetjies hier van voor af waardeer. Dit laat my ook weer besin.
LikeLiked by 1 person
Ek gaan nog baie vertel, Una, ek sien net die mooi in die land raak. Ek bedoel om my. In die land treur my hart oor die terreur op die platteland.
LikeLike
Jy mag nog baie skryf. Oor die mooi in Kaz en die mooi hier. 😊
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, Toortsie.
LikeLiked by 1 person
Christa,jy druk jouself so mooi uit! Koester jou kosbare herinneringe en welkom terug.
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, Letty-Ann, dit voel of my hart te vol is om alles te vertel.
LikeLike
Ek onthou daai Minus 38 op IG. Dis amper drie keer kouer as waar ek al was en, nee, dis nie piekniekweer nie.
LikeLiked by 1 person
Allesbehalwe, maar oorleefbaar as mens moet.
LikeLiked by 1 person
Mens kan enigiets oorleef as jy moet, al is dit soms baie onsmaaklik. Ek is juis nou in so ‘n tergende oorlewing gewikkel.
LikeLiked by 1 person
I wouldn’t say it has started to snow yet. We had a rather freak snowstorm on Tuesday and by 13:00 midday everything had melted. I’m wearing my winter jacket and today I realized it’s too warm for this. I’m sweating all the time. So ya… winter is still to come I think.
LikeLiked by 1 person
It started like that on 12 November 2019. The one day it snowed, the next day the snow has melted. And yes, then we also could wear thinner jackets, but a week or two later, the snow did not melt anymore. And that, I think, is weird. My Kazakh friends says the snow has begun. And I tend to believe them.
LikeLike
Welkom terug!
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, ek is so dankbaar ons mis die winter daar.
LikeLiked by 1 person
So lekker om die klein wonderwerkies om ons raak te sien. Dit maak mens so dankbaar. Laat mens besef hoe mooi die lewe is. Jou beskrywing is pragtig. Baie welkom terug.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie San, ewe skielik is ek weer lus om te skryf.
LikeLike
Laat waai. Ek kan nie wag nie.
LikeLiked by 1 person
Dis pragtige herinneringe. Sprokiesmooi. Ek is bly julle is terug. ❤️
LikeLiked by 1 person
Ekke ook. Dit raak koud daar.
LikeLiked by 1 person