Gepubliseer in Reisjoernaal

Julle verkrag die vleis …

Ons wou vandag weer wors maak. En daarom moes ons eers mark toe om die vleis te koop.

Ons het weer ingestap en ver om die rye tafels beweeg. As jy te naby kyk, los hulle jou nie en ons verstaan hulle nie.

By die eerste tafel kyk manlief die vleis so, kyk vir die vrou met ‘n glimlag op die gesig en sê: Julle verkrag die vleis.

Nou moet ek dit eers verduidelik.

Ek het al vertel dat vleis koop hier ‘n problem is. En dat mens vark, bees, skaap en perd op die mark koop. Basies in twee snitte. Opgekap met ‘n byl.

Ek het ook al vertel dat manlief vir rou vleis gril. En nie maklik daaraan sal vat nie. Nou pla die splinters van been op die vleis ook.

Daar is regtig min splinters. En mens kan die vleis nie afwas om die splinters af te kry nie. Ek krap dit met kant van mens af voor ek die groot stukke vleis verder verwerk. Maar manlief is steeds vies vir die splinters wat op die vleis kan wees.

Maar, die krake en happe wat die byl op die been veroorsaak, pla hom vandag baie meer! Hy sien nie die vleis raak nie, net die ronde been wat soos ‘n rots met punte staan. Ons ken netjies gesaagde been.

Dus kan mens manlief se Julle verkrag die vleis verstaan. My hart het in my keel gesit. Al weet ek sy verstaan dit nie.

Wat ons twee nie verwag het nie, is hoe die Qazaq vrou daarop gaan reageer.

Ek het mos al vertel dat ons kommunikeer soos in ‘n karakterballet!

Sy sit haar hand op haar bors, daardie gebaar wat ballerinas maak as om baie, baie dankie oor te dra. En ek staan versteen!

Toe glimlag sy mooi. En sê спасибо (dankie). En my man herhaal sy stelling met, Ja, julle …. En die twee glimlag vir mekaar!

O my genade, ek wou my slap lag. Sy het seker gedink hy sê daai stuk vleis is baie mooi!

Die giggel het opgeborrel. En ek moes wegstap, want ek het ook al vertel dat ek soos ‘n heks lag as ek dink iets is baie snaaks. En dat my kleinkinders dan vir my sê dat ek snaaks lag.

Dus moes ek op ander goed konsentreer om van daardie stuk vleis te vergeet!

By ‘n ander tafel die stuk gekry wat perfek vir wors sou werk.

Soos ons stap, het ek vir manlief gepreek. Jy kan nie sulke goed sê nie. En hy lag dat die plooitjies so om sy oë saamtrek. Hulle verstaan my nie!

Dit is waar. Ons is van die eerste Afrikaanssprekendes in hierdie stad. Bykans niemand verstaan Engels nie, dus is die kans bykans 100% dat niemand hom verstaan het nie.

Maar … ek het ook al vertel dat daar Russiese woorde is wat baie soos Afrikaanse woorde klink. En natuurlik ook selfde betekenis dra.

Mens moet tog maar versigtig wees.

Foto: So 30 km van Ust se kant af op pad na die 5 mere, verwonder ek my elke keer aan hierdie koppie wat vir my soos ‘n gorilla lyk.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Julle verkrag die vleis …

  1. Dit is vir my verbasend dat die vleis sommer met ‘n byl gekap is. Dit sal interessant wees om eendagdaardie tafels vol vleis te sien.

    Like

  2. Ek het ‘n rukkie gelede op YouTube gesien hoe ‘n Russiese man ‘n hele skaap verwerk met net ‘n byl en ‘n groot mes. Hy het sommer gewys hoe hy potjiekos kook en kebabs braai ook. Baie handig. My mond het oopgehang.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.