Gepubliseer in Reisjoernaal

Rok vir ‘n Kazakh-troue (2)

Ek het gister van die gesoek na ‘n rok vir die troue vertel. En sommiges van julle het gevra dat ek vertel of manlief toe die Aspoestertjie rok vir my gekoop het. Ek vertel verder.

Ek het gewonder oor die rok wat my hart gesteel het. Toe onthou ek dat ek ‘n mooi swart bandjies toppie en ‘n lang swart romp saamgebring het. Ek pas toe die twee saam aan en besluit dat ek net skoene nodig het. Dit lyk mooi saam. En deftig.

Die skoene kon later gekoop word, manlief is siek. Hy het die oggend gesê dat ons na werk na die rok kan gaan kyk, maar hy was teen middagete baie olik.

Tuis gekom wys ek die stel klere vir hom. Net om ‘n besliste nee te kry. Ons gaan nie na ‘n begrafnis toe nie. Hy was siek, dus was ek verras toe hy daarop aandring dat ons na die winkels stap. Om die rokkie te koop.

Ons moes stap, want ‘n lawwe Rus het vir Dusty vasgeparkeer. Op pad daarheen sê ek vir hom dat ek nie seker is oor die rokkie nie. Dit is nogals duur. Ek sal aanpas en dan sê hy of hy daarvan hou en dan sal ek die volgende dag verder soek.

Hy het net gehmmm-mmmmm, net soos die Kazakhs maak. Want sien, ek het my dragon hier in Qazaqstan getrain. Ek het my baie keer lelik vererg as hy huuuuh! as ek met hom gesels. So harde een, asof ek hom irriteer en moet stilbly. Hy was dan uit die veld geslaan, hy wys hy luister. Hy het nie geweet hy mag antwoord ook nie. En toe ontdek ek die Kazaks se hmmm-mmmmm!

Ek kan dit nie mooi beskryf nie. Dit is ‘n sagte geluid, so asof mens nie kan wag om verder te luister nie. Ook asof mense gerusstel, troos of wat ookal. Dit is die mooiste positiewe saamgesels geluid wat ek ken. En hy gebruik dit nou gereeld.

So stap ons by rok 1 se winkel in. Ek haal die rokkie van die reëling af en hy skud sy kop net met ‘n besliste nee. Ek het darem ook getwyfel, het dit nie die eerste keer aangepas nie en sou ook nie nou kon nie.

Uit by die winkel en nie met die trappies op na die tweede keuse toe nie. Ek het gister gesê dat ek daar ook nie gepas het nie. Die bloesie was te ma-van-die-bruid met sy sagte pienk. En manlief het klaar besluit my romp gaan nie swart wees nie.

Uit die gebou na die een langsaan, trappies op na bo. En die winkel is toegesluit. Dit is onmoontlik om die rok vir hom deur die venster te wys, maar ek probeer tog. En toe daag die vrou op, vol glimlaggies, ek het toe regtig teruggekom.

Ons speel weer stomstreke want ons verstaan mekaar se tale nie. Sy onthou watter rokke ek gepas het en bied die korter weergawe aan. En sê net Njet en wys na die langer maatjie agter hom. Daai een is nie my keuse nie ek soek die een wat sy gister vir my gekies het.

My hart sak in my skoene toe die rokkie verskyn sodat manlief kan kyk. Hy gaan dit nie koop nie, dit is baie nader aan swart as grys. Ek het dit as grys onthou. Ek draai om om te sê dat ek die volgende dag verder sal soek, hy is siek.

Sy gesig is egter opgehelder. Ek vra of ek moet aanpas dat hy sien en hy sê ja. Nou kyk, manlief lees nie my blogs nie en ek het nie van die aanpassery in die winkel vertel nie. Ek ken egter nou die ritueel.

Kies weer die hokkie met die rooi hemelhoë polvye en buk om gou ‘n steelfoto te neem.

Romp en bloes uit, anders gaan my romp weer ‘n kring om my voete maak. En die rokkie gly weer gemaklik oor my lyf. Ek gaan uit dat sy die ritssluiter optrek, nou al daaraan gewoond om so uit die aanpashokkie te stap

Draai om dat sy dit optrek en kyk weer hoe Aspoestertjie in die spieël in ‘n storieboekprinses verander. Wil so op my tone na manlief loop want die rokkie is baie lank. Sy roep terug, Njet, die rooi skoene moet aan.

Ek gehoorsaam weer soos ‘n skaap ter slagting. Maar sy beduie ek moet kyk. En wys met haar hande dat ek nie die agterste deel moet oortrek nie, dit moet platgetrap word.

En ek lag ongelowig. Het ek reg verstaan? Maar dit verklaar baie. Dit is waarom die agterste deel so sag gebrei is. Enige grootte voet word in daai rooi polvye ingewurm. Ek maak maar so, maar my siel kry seer. Mens doen dit darem nie aan skoene nie? Ek trap plat en vra met die gesig So? En sy lag omdat ek verstaan, да-ла-ла (ja, ja, ja).

Het al al vertel dat die Kazakhs dit mooi gebruik, die drie keer herhaal van ja of nee? Dit is nie ongeduldig nie, dit is eerder iets soos aansporing. Dit is sag en positief.

En toe wys sy met haar arms wat langs die sye swaai dat ek nou mooi moet balanseer. Gister was ek bekommerd dat die hoë hakke hulle laaste swanesang gaan gee. En dat ek my nek gaan breek. En dat manlief nie weet waar ek is nie.

Vandag onthou ek hoe dit klein tyd gevoel het as ons my ma se te groot skoene aangetrek het om mevrou-mevrou te speel. Ons het gewankel en baie keer geval, want die hak kry dan sy eie lewe. Word nie netjies platgetrap nie. En my ma se hakke was nie so hoog nie. Vandag kan ek wel my nek breek. Voor hom. Want die skoene sit te los met die platgetrapte agterkante wat soos die bek van ‘n platgetrapte grootbekpadda aan die kante van my hakke uitpeul.

Manlief is tevrede. Dit is die rok vir sy vrou. Ek het al vertel dat ek vir myself groter op manlief se foto’s lyk as wat ek dink ek is. En dat dit my weer laat stap het. Tog vra ek dat hy ‘n foto neem.

Hy is ongemaklik. Ek het dan gesê hy moet nie weer nie. En ons kan dit mos tuis neem. Ek sê nee, dit is vir my blog. En die keer is hy soos ‘n skaap wat ter slagting geneem word. Maar hy neem die foto. Vir julle wat gevra het dat ek moet deel.

Manlief vra nie eens wat dit kos nie. En dit was ook nie op die 50% afslagreëling nie. Staan net op en wys dat hy tevrede is.

Maar sy is nie met my klaar nie. En speel verder stomstreke. Maak of sy sykouse aantrek met lang hale en wys dan met draaibeweging oor haar maag en trek haar maag in. Ek verstaan, my dogter het jare lank ballet en ek kan lyftaal lees, maar ek verstaan nie.

Kry mens sykouse wat jou maag platdruk? Ek sê net dankie, ek verstaan die maag moet beheer word en manlief is haastig. Ek sal gaan soek.

Maar sy is steeds nie klaar nie. Vat haar lang hare vas en wys na myne. Dan vat sy dit agter op.

OK, ek verstaan dit ook. Ek het my hare vandag nie in ‘n poniestert nie, dit is skoongewas en blink gestryk. Wou sien hoe dit saam met die rok lyk as ek pas. Maar dit is nie goed genoeg nie. Ek wys ek verstaan en ons betaal.

Buite is manlief steeds lus om die winkels in te vaar. Op soek na skoene vir die rok. Ek sê ek soek blink sandale, hy sê hy wonder of dit aandrag is. Ek dink aan die sykouse wat ek moet gaan soek om my maag plat te druk en stem saam, polvye gaan beter werk.

Hier is ‘n baie goeie skoenwinkel in Цум (Tsoem), met die Engelse naam Respect. Hulle is duur, maar die skoene is van hoë gehalte. En daar kry ek die perfekte paar skoene vir die rok.

Hoog, maar nie hemelhoog nie. Hakke gemaak vir hierdie omgewing om vastrap maklik te maak. En ‘n oulike knopie waarmee die skoen vasmaak. Ek pas en manlief is tevrede, kies vir homself ook ‘n mooi paar skoene.

Ons stap na die kassier om te betaal en daar kan ek my oë nie glo nie. Mens kry sykouse met ingeboude panele om ‘n maag in toom te hou. Presies soos sy vir my verduidelik het.

En nou weet ek ook sommer hoe die groottes werk. ‘n Twee is klein (s) en ‘n 3 is medium (m). Ek wil nie ongeskik wees nie, maar wie kies so ‘n naam vir sykouse?

Nou net vir die hare, as ek die verkoopsdame in die rokwinkel mooi tevrede wil stel. En ek gaan dit seker moet doen, die mannekragbestuurder het ook so gesê, soos ek gister vertel het. Die probleem is dat my hare nie vir ‘n haarkapster luister nie. Sal ek die kans waag?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

34 gedagtes oor “Rok vir ‘n Kazakh-troue (2)

  1. Ag man…dis die mooiste rok maar…..daai swart skoene is freakin awesome verby!!!! Waar is my hakskoendae tog???? Ek weet jy sal vir ons van die troue vertel..kan nie wag nie. Maar onthou die foto van die hele prentjie, hoor!!!! Geniet hierdie blog vreeslik baie…

    Like

  2. Jammer om te hoor manlief is olik en ek hoop hy is darem al beter. Dis nie lekker as hul siek raak.

    Hahaha! Daai huuuh! ken ek ook en lyk my ons train ons dragons maar gereeld. Die Kazaks hmmm-mmmm klink baie beter. Die mans leer mooi né? 😀

    Genade, maar daai polvyne is rooi en hoog en dan nog blommetjies ook! Ek lief ook my hoëhakskoene maar kan nie meer. hahahah.

    Wow! Die rok is pragtig hoor en kyk hoe sexy lyk daai mooi lang bene van jou in daai hoë polvye! Ek is bly manlief het gesê jy moet die rok vat. Dit lyk regtig pragtig by jou hoor! 😀

    Daardie swart skoene is net so pragtig en sal baie mooi pas by jou rok en jy gaan omtrent deftig lyk hoor! 😀

    Ek ken daai sykouse. hahaha! Het dit al ‘n paar keer aangehad en dan voel mens sommer mooi maer. 😀

    Jou hare is pragtig nes dit is. Dalk kan jy dit krul as jy lus het, maar vir my lyk dit pragtig net so lank en los.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.