Google se nuwe tegnologie, Speak to Go, maak dit tans moontlik om in die gees na plekke te gaan waarheen die vlees nie kan gaan nie.
Sit net Virtuele Realiteit (VR) kopstuk op, sê die naam van die plek waarheen jy wil gaan en voila, jy is daar! Hierdie tegnologie kan baie effektief in die klaskamer gebruik word.
Speak to Go word deur jou stem geaktiveer. Jy plaas jou foon in ‘n virtuele-realiteit-kopstuk, soos byvoorbeeld Google Cardboard, om in die gees na ander plekke geneem te word. Ek het ‘n goedkoop een (R35) opgespoor. Jy hoef net die naam van die plek, waarheen jy wil gaan te sê, dan wip Google Street View op om jou deur middel van jou foon of rekenaar se blaaier na die plek te neem. Net soos in die geval van Google Maps en enige ander kaarttegnologie, moet jy spesifiseer waar die plek is waarheen jy wil gaan, anders land jy dalk in die Suid-Afrikaanse Parys en nie die Europese ene nie.
Maar, jy is nie uitgesluit as jy nie ‘n VR-kopstuk het nie. As jy die Chrome-blaaier gebruik, moet jy toestemming gee dat jou mikrofoon gebruik mag word en dan kan jy sê waarheen jy wil gaan. Dit is beslis nie so indrukwekkend soos wanneer jy die plek in virtuele realiteit beleef nie, maar dit is beslis indrukwekkend genoeg om in die klaskamer te gebruik.
Indien jy nie toestemming verleen nie, veral omdat die plek waarheen jy wil gaan nie gehoor kan word nie, kies Speak to Go vir jou ‘n plek. Jy word dan aangemoedig om op die spasiebalk te kliek sodat Google namens jou kies. Ek het dié keuse gemaak en Google het my Sjina, Santa Clause Village en Antarktika toe geneem. Ek deel die Eiffel toring-ervaring hier (Sien video).
Die lekker van ‘n virtuele kopstuk is dat jy die plek kan ervaar sonder om knoppies te druk of bevele in te sleutel.
Toets dit gerus self deur die Speak to Go webwerf te besoek. Dit is nog in eksperimentele fase, maar ek dink dit kan wonderlike leerervarings in Geografie en verskeie ander klaskamers skep.
- In die Geografieklas sou ek dit gebruik om verskeie temas te illustreer, maar ek dink veral dit kan help om lugfoto’s beter te verduidelik.
- In die taleklasse kan leerders aangemoedig word om te verduidelik waarheen iemand moet draai of stap, en selfs hoe om van die een plek na ‘n ander te stap.
- In die kunsteklasse kan leerders aangemoedig word om te teken wat hulle sien
- In tegnologieklasse kan leerders aangemoedig word om verskeie soorte tegnologie te identifiseer en bespreek.
Ek is seker jy kan baie ander moontlikheide dink. Vir nou moet ek Google weereens gelukwens met die beskikbaarstelling van ‘n baie bruikbare gratis tegnologie.