Ek voel soos ‘n drenkeling, een wat nie te diep in die see in is nie, wat nog so nou en dan die sand onder my voete voel, net om deur die volgende golf van balans gebring te word.
Ek het al vertel dat 2025 rof begin het, net manlief wat sy voet op die eerste dag van die jaar gebreek het. Terwyl hy probeer het om ‘n weghol sleepwa op ‘n afdraende te keer. Wel, hy het die waentjie gered, sy voet het in die slag gebly. En ses weke lank moes ek die bestuurwerk doen, met hom as my navigator. Ek weet nie of ander mans so is nie, maar hy is ‘n voorste sitplek bestuurder as ek bestuur. Toe stel ek hom maar as navigator aan omdat hy ‘n besonder onaangename passassier is as ek bestuur. Hy het die taak goed opgeneem en so het ek ‘n baie oulike navigator gehad. Ek kan hierdie plan aanbeveel – ‘n kritiserende passassier word ‘n gemaklike een as hy saam aan die verantwoordelikheid dra …
Februarie val my (90) pa by die hulle huis toe hy op ‘n swaaibank buite wil gaan sit en breek drie ribbes. Loop so vir ‘n dag lank want ‘n ‘hoogsopgeleide’ verpleegster het op grond van ‘n foto besluit dat my pa niks gebreek het nie. Ek word eers die volgende dag ingelig, my pa voel baie sleg. Die ‘verpleegster is op pad om te help om hom in die kar te laai om dokter toe te gaan. Toe ek daar kom, besef ek dit is ernstig, kontak die paramedici wat vir my ouers ‘n telefoon oproep weg is, om hom so vir twee weke aan die genade van geldwolwe oor te laat. As jy eers in die kloue van hospitale is, laat hulle jou nie vry nie. En dan laat hulle jou eers in die sorg van ‘n stepdown, wat jou ook gevange hou. My pa is nie ‘n goeie pasiënt nie, hy wil tuis wees en roep die hele tyd na sy gesin.
So moes ek tussen besoektye in die hospitaal ook sorg dat my eie beseerde man versorg word. Hy en my pa praat al ‘n dekade of twee nie met mekaar nie. Maar, hy keer my ook nie om my ouers te besoek nie …
Daarna was my pa drie keer in die hospitaal en kom hy elke keer swakker en swakker daar uit. Junie-maand is ons ingeroep, oupa se hart is swak. Ons moet kom groet. My pa herstel en word na die week in intensief eers in Care@Midstream gereed gemaak om huis toe te gaan. My arme ma (85) het ‘n jaar van hospitaalbesoeke agter die blad. Desember word ons weer ingeroep, julle moet oupa kom groet. My pa oorleef egter en is tuis vir kersfees. Net om die oggend van die 27ste Desember ‘n massiewe beroerte te kry. ‘n Skaars ene, dit is by die stam van die brein. Hy is regs verlam (arm), kan nie sluk nie en is vir die eerste maand deur die neus gevoer, en hy kan nie praat nie. Later het hulle besluit my pa kan dit oorleef en het hy ‘n PEG in die maag gekry.
Na twee en ‘n halwe maande word ons ingelig dat my pa huis toe moet gaan om te sterf. In vrede, by sy mense. Twee maande waarin my pa ‘n naald met kos en medisyne in die nek gehad het, ‘n kateder vir die jy weet wat. My ma vat die taak op haar, reël carers en vat die verantwoordelikheid om sy kos te maak, wat fyn gemaak moet word om deur die dun pypie te gaan. Ons was dankbaar, my ma het elke dag 30 km na Groenkloof hospitaal gery, die hele dag daar gesit en saans in die verkeer teruggegaan huis toe. Sy kon nou rus.
Terloops, ek woon sedert September 2025 in Fochville, ‘n piepklein dorpie in Gauteng. Interessant genoeg het ek na my wortels teruggekeer, ek het op ‘n plaas nie te ver van hier grootgeword. Iets soos ‘n vol sirkel, behalwe dat ons plaas nie meer ‘n plaas is nie. Die myne het oorgevat en verwoes. Daar is net ‘n murasie en ek kan nie eens draai gaan maak nie. Die hek is toegespan. Alhoewel ek net een keer by die dokter op die dorp was, was ek nooit in die dorp nie. My pa was egter ‘n blokman in die dorp, vind ek eers uit toe ek hierheen trek.
Dit is ‘n vreeslike tyd van my lewe, om my pa so te sien. Dié pa wat Desember nog baie lang gedigte, soos Driesie van die Binneland kon opsê, kan nie praat nie. Woorde en gesels was sy superkrag, dit is met een bloedklont van hom weggeneem.
Tog leef my pa, kan ons gaan sit en by hom in sy huis gesels. Die hospitaal het hom vir bykans drie maande van ons weggehou, hoe gemeen is dit om ‘n ou, siek mens, wat sy vrou dag en nag gesien het, vir meer as 66 jaar, van sy vrou weg te hou. Haar slegs ‘n uur per dag by hom toegelaat toe hy in CICU was. Ek sukkel om te vergewe, ek sukkel om te verstaan hoe mens so gevolloos en gemeen kan wees. Ek sukkel om te verstaan hoekom my pa so verinneweer is – in ‘n hospitaal!
My pa, was kastig huis toe gestuur is om te sterf (dit is so aan ons oorgedra tydens ‘n familievergadering) oorleef by my ma. Hy het geen naalde en pype en kateders in sy ou lyf nie. Hy het nie dik suurstof pype in sy neus nie. Inteendeel, my pa is van suurstof af, kry soggens so bietjie as die suurstof af is.
Ek het ‘n vreeslike wrewel in my teenoor hospitale, maar veral teenoor diegene wat hulle lywe rondgooi – “ek sal dit nie in my saal (sê maar so) toelaat nie. Alle mense word dieselfde behandel. Ek het net een wens vir daardie stem wat ek oor die foon moes hoor: Ek gun haar presies wat sy aan my pa gedoen het met haar besluit. Niks meer nie, presies met dit as sy in ‘n kritieke toestand in die hospitaal lê. Nie dat ek dink dat dit ‘n probleem sal wees nie, ek kan nie glo dat so ‘n hartelose mens enigsins anders by haar huis is nie.
Ek het so mooi gevra dat ‘n 85-jarige tannie nie in spitsverkeer ingestuur word nie. Sy het rang getrek …
Maar, hoe kan ek kla?
Die Here beskerm my pa. Hy is lewendig. Alhoewel hy nie kan praat nie, is sy brein wakker. Verstaan hy ons.
My liefste Pa!
Ek wens ek kon gaan oorlog maak, noudat hy veilig uit die geldwolwe se kloue is …
My ma is die beste verpleegster vir haar baie siek man!
Sterkte vir jou en ook jou ma wat als gee wat jul kan in tye soos wat jy hier vertel. Tog is daar n liewe Vader wat ons altyd bystaan.
LikeLike
Dankie vriendin, my pa word so mooi beskerm. Die Here bewaar hom so mooi.
LikeLike
Christa! Ek het lank al gewonder wat met jou gebeur het en is so jammer dat julle deur so ‘n erg tyd geleef het. Tog is ek bly jy het vir ons vertel – ek dink aan jou!
LikeLike
Dankie, Anne, en hier kry ek die simpatie of empatie wat ek so nodig het. Moes lankal my hart kom uitstort het. Baie dankie.
LikeLike
Ai Christa! Ek voel vir jou en ek kan ook nie verstaan hoekom die hospitaal hom so moes verrinneweer nie! En, hoekom jou ma nie toegelaat is nie – op daardie ho-e ouderdom sou mens dink hulle het simpatie en empatie met mense! Dit klink meer na ‘n spul gevoellose mense in daardie plek! Ek kan al my een sus (wat al haar lewe ‘n verpleegster was – meestal in die kinderafdeling en Intensief) – hoe sy tekere sal gaan as sy dit moet weet. Sterkte daar! Jou pa is ‘n sterk man! Jesus kyk na hom! Ek dink aan julle.
LikeLike
Baie dankie, Nikita, ons harte is stukkend. Ek waardeer die empatie.
LikeLiked by 1 person