Gepubliseer in Bloguitdagings,Joernaal

Afpak by Rebusfontein

En hier staan ek vir die eerste keer in ‘n baie, baie lang tyd op die stoep van my yurt by Rebusfontein. Toe ek die plekkie opgerig het, het ek nog in Kazakhstan gewoon. Of was ek dalk net-net terug in Suid-Afrika? Ek kan nie nou onthou nie, sal moet gaan soek wanneer ek die yurt gebou het.

Nou ja toe! Ek was al bykans ‘n jaar terug in die land. Ek is nogal verras dat ek juis toe besluit het om my huisie ‘n yurt te maak. Maar, nee, ek is nie. Ek het steeds net die mooiste herinnering aan hierdie pragtige land van ys. As ek so warm kry soos vandag, sal ek maklik weer daar gaan bly. Maar nee, gits, liewerste nie. Ek sien sowaar nie weer kans om so koud te kry nie. My lyf vertrou my steeds glad nie, as dit naby zero kom, begin sy al bewe. Dan moet ek ‘n baadjie aantrek. Ek loop juis ‘n week gelede met ‘n verebaadjie in Stilbaai. Die mense het my skeef aangekyk, maar my lyf het nie gedink sy gaan oorkook nie. Inteendeel! Stel jou net voor wat sy sal doen as ek haar weer in sub 30 grade Celsius (-30 grade Celsius) gaan loslaat! Sy gaan net daar verkluim.

Iedergeval, dit is nie waarom ek vandag op my stoep kom staan nie. Ek weet Seegogga is al hier, sy is nogal omgekrap oor die bed waarop die meermin in my storieboek slaap. Daardie skets moet nog opgedateer word. En o ja, die haai is beslis ook verkeerd. Dit moet ook nog vervang word. Daarvoor sien ek net nie op die oomblik kans nie. Jammer, Seegogga, ek sal daaraan werk wanneer ek met die bloemlesings besig is. Nie nou nie.

Ek is moeg.

Ek het my lyf die afgelope twee weke met werk gestraf. Min geslaap, soms niks. Deurnag gewerk by die see, met vakansie. ‘n Heel nuwe manlief ontdek. Een wat al die etes maak, wasgoed was, skoonmaak, skottelgoed was. Dat ek die werk kan klaarkry.

Nie aan my eie werk wat nie klaar gekom het nie. Nee, ek het iemand anders gehelp om klaar te kry. Ek was tien dae by die see, net 20 minute op die strand. Die res van die tyd agter my rekenaar. Ek het op ‘n punt halt geroep toe my enkels soos poffers gestaan het, die lyne op my voet weg was, my voet een vet poffer. En toe sit ek maar op die bed en werk, dat my voete nie so hang nie. Deurnag, meer as een nag. Dinsdagnag 0:00 die laaste storie ingedien. As seun en skoondogter nie gehelp het nie, was ek in my verstand in. En sou twee hele stories nie klaar gehad het nie. Hulle is sterre.

Toe moet ek 03:00 op om die lang pad terug huis toe te vat. Ek was belaglik moeg. Ons was sesuur die aand in Bothaville by die rivier en het Saterdag weer Pretoria toe gekom. Om Sondag weer Parys toe te ry vir gholf! Die lekker was dat dit saam met kleinkind was. Gits, hy is oulik verby.

Maar, ek is moeg.

Ek is moeg. Tot die dood toe moeg.

Ek moes vlug. En vinnig ook. Om op Rebus te kom lafenis soek vir my siel.

Daarom dat ek nou hier kom staan.

Alleen, manlief moet maar tuis opsnork. Dit is nie asof hy my nie alleen los wanneer hy gaan gholf speel nie. Ek gun hom dit, hy geniet sy gholf. Ek gaan nie baie uit nie, hou van my eie huis. Buitendien, ek weet mos nou hy kan kook en wasgied was en alles. Hy gaan nie ‘n probleem hê nie.

Maar, nou druk die huis. Ek wil weg, ver weg. Want, ons staan voor krisisse, ons het mense geglo, ons het ons drie jaar lank aan die neus laat lei en nou erken die man op die einde hy is bankrot. Hy gaan nie meer die rivierhuis oorkoop nie. Nie omdat hy nie wil nie, hy het net geen geld nie. Hy skuld te veel, hy is insolvent.

Ergste van alles is dat ons nie kan kla nie. Hy het die huis so mooi uitgeverf na 2023 se oorstromings. Dit lyk so mooi, ons kan net in die mark sit. Die kind het self baie skade gelei noudat hy nie meer kan koop nie. Ek kry hom jammer, ons kry hom jammer.

Maar, ons het die boot verkoop. Ons het die quads verkoop.

En nou is die rivierhuis weer ons huis! Sonder boot, sonder quads. En ons gaan nie weer kan koop nie.

Ek het gelukkig blogvriendinne wie se kinderstories ek kon gebruik om die bloemlesings te maak. Hmm, dit is nog iets wat ek moes doen. Twintig stories per graad, drie grade se bloemlesings. Met vrae en antwoorde, sketse en als! Binne vyf dae gedoen. Dankie Toortsie, Adri, Seegogga, San, Woordnoot en Aalsie. Ek kon my eie blogstories vir kinders ook gebruik en my seun het twee gedigte geskryf en twee stories met ‘n les. Ek is vrek trots op hom, hy sit net en skryf. En dan is dit baie mooi! San het vyf goed gedoen, eintlik ses, want ek het twee gedigte saamgesit. Sy het dit spesiaal vir my gedoen.

En nou wag ek dat die ander kom. Ek het laat val dat ek kom, maar ek het hulle so bietjie afgeskeep die laaste tyd. Dink ek het hulle baie afgeskeep.

Kom ons kyk wie kom saam kuier …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Afpak by Rebusfontein

  1. Christa, ek draai al om my eie as! Rebus is nét wat die dokter voorgeskryf het.Dankie dat jy met mý 2 stories ook gewerk het.Jy verdien baie beslis ‘n blaaskansie en ek kom saam. Tommie kom agter hier kom ‘n ding en hy kom beslis saam.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.