Gepubliseer in Joernaal

Manlief en Willys Jeeps …

Manlief is van daardie mans wat ‘n ding het oor Willys Jeeps, want dit laat hom aan die weermagdae herinner. Nie dat hy ooit oor daardie dae praat nie …

Maar die Wyllis Jeep is een van die dinge wat hy sal koop. Ons het eers een gehad wat so bloubulblou geverf is, juis omdat die Blou Bulle sy gunsteling span is.

Die Jeep het jare gestaan en stof opgaar by die rivier, en toe verkoop ons dit op Telegram groepie. Ek was soooo dankbaar.

Maar toe begin die soektog agter die skerms. Hy soek ‘n nuwe ene. Nie nuut nie, nuwe speelding vir hom. Toe ek weer sien, gaan kyk ons na een naby die lughawe en ry hy agter my aan terug huis toe.

Teen 70 km ‘n uur moes ek stadig ry en plek maak vir hom om bane te ruil. Met die gevolg dat ‘n hele paar bedingesdes my amper van die pad gery het omdat ek so stadig ry. Vir hom het hulle vergewe, maar ek in my Tiguan was ‘n ander saak.

O ja, die Jeep is Springbokgroen en goud. Dus hou ek nie veel daarvan nie, die Bokke is lankal nie meer my gunsteling span nie. Sedert 2010 toe oom Jean de Villiers saam gaan op wêreldbeker, stukkend en beseer, maar ‘n kaptein word mos vir altyd gekies. Niemand kan die man se plek volstaan nie. En hy kon nie sy plek regverdig nie, nie eens op die reserwe bank nie. Net soos die huidige kaptein, dié is mos Frankryk toe om daar geld te maak. Dié klub is ontevrede met sy speelwerk, volgens die voorsitter is hy oorgewig en was hy onsigbaar op die veld toe hulle ‘n einstryd verloor. Maar, hierdie onsigbare, oorgewig man is goed genoeg om die Bokke se kaptein te wees! Nie een van die twee ou mans sou my span haal nie.

Elk geval!

Kleinseun is mal oor oupa se Jeep! Elke liggie en dingetjie moet ondersoek word!

Toe ons weer na rit tuiskom, wil die Jeep nie weer aan die gang kom nie, dus is dit ingesleep om die probleem te herstel. So sleep ons die Jeep al die pad see toe, met ‘n paar ongelukkige oomblikke langs die pad.

Toe ons by Kroonstad by die 1-stop indraai, draai sy wiele skeef en sleep hy die skreeuende kar tot stilstand. En so kom een van ons Suid-Afrikaanse akteurs aangestap om te kyk. Wonder of hy ook in die weermag was. Ons het mekaar gereeld langs die pad raakgeloop, gestop en gesels …

Wiele reggedraai kan ons verder ry, maar ek is op. My senuwees altans. Die wiele bly reg tot by Graaff Reniette, waar dit weer skeef draai en skreeuend agter ons aantrek, een massiewe lawaai. Gelukkig, anders sou mens nie geweet het nie.

Want die Amarok vat nie nonsens van kabouters nie. Dit trek die Jeep net waar manlief dit wil hê. Weereens word die wiele reggedraai, ook toe dit skeef trek toe ons by ‘n garage intrek. En my senuwees is aan rafels. Ons moet nog deur die passe by George gaan, sover was die pad maar plat en gelyk.

Biddend ry ons verder, die Jeep moet ons nou nie in die passe in die steek laat nie. En so gaan ons veilig deur die passe, deur George tot by ons seehuis so uur en ‘n half verder suid.

Hier ry ons strand toe, gaan dorp toe. En manlief laat die Jeep ekstra brul as hy toeskouers het. Dit het ‘n V-6 enjin wat graag hard lawaai. Ek kry skaam, wil net ry en geniet sonder om aandag te trek. Die groen Willys hou van aandag.

En toe weier die clutch om reg te werk. Die Jeep word na ‘n garage gery waar dit reggemaak kan word, met my in die Amarok agterna. Ek noem dit sommer die skip. Genugtig, dit is massief. Maar, agter die stuur voel dit nie so nie.

En toe besluit ons gister om uit te ry Jongensfontein toe om die Jeep te toets. Maar ook om my skulpe aan te vul. Ons het ‘n Skulpiesbaai naby, maar dit is lagwekkend, Daar is net stukkende skulpies, sommer baie. By Jongensfontein is massiewe rotse, en groot skulpe wat ten spyte daarvan veilig tot op die strand uitgespoel word.

Dit is koud, Bekka kry koud en wil net op my skoot sit. En toe besluit manlief hy wil roomys eet. As dit in die lyf koud is, sal hy nie so koud kry nie. Ek wil eerder koffie by Drie Pikkewyne kry.

Ons sit op die strand, eet roomys en drink koffie, met die groen monster agter ons, reg voor die eetplek gestop. Toe ons inklim weier hy volstrek om weer aan die gang te kom.

O ja, dit het al hier by ‘n garage gebeur, toe stoot die joggies die kar aan die gang. Ek wil nie probeer nie, dit het ek gedoen toe ons pas getroud was.

Ons het so vaal Toyota gehad. En ons het oorkant die stasie in ‘n eenmanwoonstel gebly – op ‘n hoogte. Manlief het elke dag klas gehad, ek nie, ook nie heeldag soos hy nie. Gevolglik is hy dikwels te fiets kampus toe terwyl ek later met die karretjie sou gaan. En dié karretjie het net aan die gang gekom wanneer hy lus was!

So stoot hy dan die kar aan die brand, met my agter die stuur om die petrol te los of so iets. Ek kan nie meer onthou hoe nie. En dié laaste keer stoot hy, ek probeer en niks werk nie. Dan stoot hy, en ek probeer, met niks wat werk nie. Dan stoot hy, slaan op die kattebak dat ek my boude afskrik en ek probeer en niks werk nie. Tot heel onder die baie lang afdraende. Toe eers klim hy moedeloos in die kar. Om te ontdek dat ek dit nooit aangeskakel het nie. Daarna het ek geweier om die aan-die-gang-kryer te wees. En aan-die-gang-stoot dié kan ek nie. Ons het toe maar wiele gekry wat self aan die gang kom.

En nou dit!

Ek bekyk die omgewing om my, die pad is plat soos ‘n pannekoek, of dalk so effens skuins na die een kant, maar baie effens.

Stoot gaan ek wraggies nie kan nie, al gim ek nou met gewigte. My arms kry so knoppie soos dié waarmee die kleinseuns spog. Ek wil in die aarde insink oor myne, dra nou net langmou bloese.

Aan-die-gang- kry gaan ek nie probeer nie, al is dié episode waarvan ek vertel het sowaar 42 jaar gelede. In al daardie jare weier ek om weer te probeer, al was ek gesout in die ding. Nee gits, ek onthou net ‘n doodmoeg manlief, moedeloos gesukkel en geskok in sy vrou wat hom verniet laat stoot het.

So is ek na die roomysstalletjie, maar niemand is in sig nie. En toe kom die vroutjie aangehardloop, maar ek vra net of hulle nie werkers het wat ons kan help stoot nie.

Toe ek binne was, het twee mans by die toonbank gesit en koffie drink, en sy loop in hulle vas op pad binnetoe, verduidelik ek soek iemand wat kan help stoot, die Jeep wil nie vat nie.

Tot my skok kom die twee aangedraf, hulle sal stoot. Dit is nou mans manlief se ouderdom. Een man kom oor die straat gestap, los sy vrou net daar en stoot saam. Laggend spot die mans oor die weermagdae.

Die Jeep vat gou, manlief stop en ek en Bekka spring in.

Ok, klim in, dit is ‘n hele proses! Daar is nie trappie nie, die opening is mos hoog!

En toe kliek ek eers waarom die mans so gewillig kom stoot het!

Terugflits na die weermagdae!

Hulle het ook ‘n ding vir ‘n Willys Jeep!

En ekke?

Ver gaan ek nie saam ry nie.

Naby moet ons op ‘n hoogte stop. Dat manlief handrem kan losmaak, uit rat kan haal en dit kan toelaat om self spoed te kry om die clutch te los dat die Jeep kan vat!

O my genade?

Ek het nou net geskryf, sonder om te dink. Maar, ek dink dit is hoe dit werk? Hoe mens die kar aan die gang kry met ‘n stoot?

Ek dink 42 jaar het so pas weggeval!

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Manlief en Willys Jeeps …

  1. Dit lyk my ons het maar almal as jong getroudes op een of ander stadium ‘n motor aan die gang moes stoot – of agter die stuur sit terwyl manlief agterna moes kom! Ek het jou storie baie geniet … en ook weereens besef dat mans en Willys Jeeps beste maats is (al laat die ryding hulle in die steek)!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.