Gepubliseer in Joernaal

Gebou in Astana brand …

Ek kyk vanoggend op Instagram na video’s en daar is een in agterste voor aksie wat my aandag trek. Dit lyk asof ‘n sandstorm by ‘n gebou in Astana ingetrek word.

Brand in gebou in Astana

Natuurlik is dit onmoontlik, maar die begin van die video trek my soos ‘n magneet. Die gebou is langs die winkelsentrum wat soos ‘n tent lyk!Ek aanvaar egter dat dit eerder ‘n brand is, daarom soek ek op die internet na gebou wat in Astana aan die brand is en kom met ‘n skok agter dat dit inderdaad so is. ‘n Gebou in Astana het Saterdag aan die brand geslaan.

En dit is naby die winkelsentrum, Khan Shatyr, wat soos ‘n tent lyk.

Ons was op my verjaarsdag, en dus op 17 Augustus, 2019 in die winkelsentrum. Daarom is ek na my foto’s toe om foto’s van die sentrum te soek.

Nie dat ek gedink het dat ek ‘n foto van die spesifieke gebou sou kry nie. Want Astana, die huidige hoofstad van Khazahstan, het baie geboue wat baie hoog is. En almal lyk soos glaskastele, dus is dit onwaarskynlik dat ek die spesifieke een sou afneem. Veral omdat dit ‘n residensiële gebou is. Die plek wemel van indrukwekkende hemelbesems.

En sowaar, daar staan die gebou in al sy glorie op een van my foto’s en pryk!

Geneem op 17 Augustus 2019.

Die hoogste een van die twee geboue links van die winkelsentrum. Ek kan sowaar sê dat ek die gebou bykans vyf jaar gelede afgeneem het. Nie doelbewus nie, meer toevallig terwyl ek die winkelsentrum afgeneem het.

Hierdie sentrum is indrukwekkend. ‘n Nagemaakte see hang in die lug aan die bokant van die sentrum, binne die tent.

Daardie glasagtigheid wat op die advertensie gesien kan word, is die tent! Daar is selfs waterglybane.

En dan tref dit my eers.

Regtig! Die berigte noem die stad vyf jaar later steeds Astana. En nie Nur-Sultan nie. Astana beteken hoofstad, en die naam is so verander toe die hoofstad vanaf Almaty na Astana verskuif is. Dit het egter gepla, al was selfs die naam van die nasionale lugredery Air Astana. Dus is die naam in 2019 na Nur-Sultan verander. Nur-Sultan was die eerste president van Kazakhstan na onafhanklikheidwording. En daarom is die stad na hom vernoem toe hy 30 jaar later in 2019/20 uitgetree het.

Dus soek ek weer foto’s van die brandende gebou, maar die keer met Nursultan as die verwysing en nie Astana nie. En daar kry ek meer foto’s en video’s wat bewys dat dit wel die gebou op my foto is!

En nog ene, waarin aangedui word dat die “cladding” van die gebou waarskynlik aan die brand geslaan het. Dit lyk nogal so?

Daar is maar min berigte oor die brand, selfs al gebruik ek Nur-Sultan as soekterm. Dalk omdat dit Saterdag gebeur het? Dalk omdat Kazakhstan nie veel daaroor skryf nie?

Dit voel net so onwerklik om te besef dat ek die spesifieke gebou afgeneem het. Dat ek dit raakgesien het tussen ander hoë geboue, nie die foto kleiner geneem het om dit uit te skakel nie.

Dit was werklik ‘n besonderse verjaarsdag, vyf jaar gelede in Kazakhstan. Die winkelsentrum is basies onder die grond, dit is massief. Al wat mens van buite sien, is die toring gedeelte waar die nagemaakte see is.

Het jy geweet dat hierdie massiewe land basies ‘n binnelandse land is? Dit het slegs aan die noordwestelike hoek ‘n puntjie wat aan die see grens. ‘n klein puntjie wat dit mag gee om oor olie in die see te onderhandel! Dus is dit nie verrassend dat dit ‘n nagemaakte see in ‘n gebou het nie.

So stuur ek vanoggend boodskap aan my drie Kazahstan vriende, twee Kazakhs en een Rus. Weet hulle al wat daar gebeur het?

Die Kazakh bevestig dat hulle dink dat die goed wat die gebou bedek aan die brand geslaan het. My Russiese vriendin, Elena, help my reg. Astana staan weer as Astana bekend, dit is nie meer Nur-Sultan nie!

Dus is my foto ook verouderd, of dalk bewys van deel van Kazakhstan se geskiedenis? Hier is die foto met die Nursultan naam …

Ons altwee het so ‘n foto geneem waar ons voor die naam geposeer het, dink dit is op manlief se foon!

Nou ja toe, ek lief die naam Astana! Wonder wat die eerste president sê?

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

3 gedagtes oor “Gebou in Astana brand …

  1. Dis sleg as sulke geboue aan die brand raak (ek dink altyd aan wat verlore gaan … om nie eens te praat van mense verlies nie, maar ek sien jy noem daar was nie ongevalle nie … dis nogal verbasend as mens kyk hoe ernstig die brand is). Dankie vir die deel van die geskiedenis. Interessant dat hulle die ou naam weer terug geneem het —- ek dink nie dit sal sommer hier in SA gebeur nie.

    Like

Lewer kommentaar op wetanddustyroads Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.