Ons het ewe skielik ‘n massiewe probleem met muskiete. Piepklein goedjies wat klink of hulle turbo-enjins het.
En glo my, my arm, been, ooglid, wang, been, maag en wat ookal uitgesteek het, word so seer gesteek dat ek wakker word van die pyn. Dit is nie net lus om te krap waar dit jeuk nie, dit is pynlike ervaring.
Die kolle swel so vinnig op, en word veel groter as die vervlakste muskiete. En daar is soveel knoppe langs mekaar op my bo-arm dat mens eerder dink dat vlooie my gebyt het as dat muskiete my gesteek het.
Wel, dit is muskiete en hulle het geen genade nie. Inteendeel, hulle is nie eens veel gepla as ek een doodslaan, -spuit of op ander maniere die ewigheid inhelp nie. Nee wat, daar is miljoene waar hulle vandaan kom – en daai miljoene weet presies waar ek slaap.
Gisternag staan ek deur die blare op, ontdek die Tabbard in die gangkas, spuit deur die blare en gaan lê weer. Om twee ure van rus te ervaar.
Slegs twee ure skietstilstand, toe is hulle weer op die oorlogspad.
Ek dink dit is Leipold wat gedig het dat hy die vabond nog gaan kry. Wel, ek ook. Maandag rook ek my kamer met ‘n muskietstok wat eintlik vir buite is, maar binne gaan dit werk. As ek daarna vensters wyd oopmaak om vars lug in te kry voor ons gaan slaap.
Dit is baie irriterend dat die vyand so piepklein is dat ek dit skaars kan sien …
Toe kom vlieg een massiewe een gisteraand voor my neus verby. Massief, soos spinnekop. En toe kan ek nie slaap nie, want ek sien hom nie. En sě nou maar dit is spinnekop?
Terloops, ek lees hierdie boererate raak:
* Sny suurlemoen oop en steek naeltjies in en los in kamer – ruik lekker en muskiete haat dit
* Los bak met skuimwater in kamer, hulle sit op borrels en verdrink so.
* Iets met knoffel te doen.
* Iets met plante te doen wat muskiete verjaag.
Watter raad het jy?
Spinnekop? Nee wat, dan word ek liewer gesteek. Ek en spinnekop gaan nie in een huis woon nie …
Ek is allergies vir muskiete – ek krap en krap en dan word dit later ‘n waterblasie wat sukkel om gesond te word. Ons het van daardie muskiet masjientjies wat mens by ‘n kragprop indruk (wat natuurlik nie werk as daar ‘load shedding’ is nie) en ek smeer my ook tabbard van kop tot tone (het nou die dag ‘n tabbard roll-on gekry, dis amper beter as die groen stafie). Gelukkig is hier nie baie muskiete nie (alhoewel ons naby die rivier bly).
Ek het ook gehoor van die suurlemoen en naeltjies (dit help vir vlieë ook). O ja, en Berto sê jy moet gin drink of pomelo eet … dan’s jou bloed glo bitter en muskiete sal nie aan jou wil knaag nie 😁. Ek kan egter nie bevestig of dit die waarheid is nie!
LikeLiked by 1 person
Gin gaan ek nie waag nie, dan is ek slap knieë, maar die pomelo kan handig te pas kom! Ek is jammer hulle byt jou so sleg, vir my geniet hulle dit om my op die oë te klits! Dan lyk ek of ek geslaan is …
LikeLiked by 1 person
😅, wel hopenlik laat slaap die gin jou en dan weet jy nie eens van die muskiete nie! Oee, dis erg as hulle naby jou oë steek. Dan moet jy maar komkommer (of rooibos tee sakkies) opsit, dit sal help vir die swelsel en as dit jeukerig is! Nee, gaats sterkte daar vir jou ook!
LikeLiked by 1 person
Goeie raad. Ek spuit tans oral met Tabard, ruik soos fabriek
LikeLiked by 1 person