Gepubliseer in Joernaal

Hoe gesels jy aanlyn?

Ek is op die oomblik so kwaad dat ek eerder hier skryf as om die betrokke persoon te antwoord, of om weer met die persoon te gesels. Dus gaan ek my saak eerder hier stel …

Dit is nou die verskeie kere wat ek vir hierdie persoon ‘n WhatsApp boodskap stuur. En – in plaas van ‘n lekker gesprek – getrap en vertrap word omdate ek – volgens die persoon – ‘n les in “goeie” maniere geleer moet word …

Maar, laat ek begin by die begin …

Ek begin nie WA-boodskappe aan vriende en familie met die volgende nie:

“Goeiemóre (middag of wat ookal) [naam]. “Hoe gaan dit met jou ….” nie.

Vir my is dit een lang gesprek en ek gaan net aan waar ons laas gesels het, of dit nou so pas of twee jaar gelede is. Behalwe natuurlik as ek weet dat dit nie met die persoon goed gaan nie. Dan vra ek: :Hoe gaan dit met jou?” Goeiemôre, goeiemiddag is belaglike manier om ‘n aanlyn gesprek te begin, want WA boodskappe word gelees wanneer die persoon tyd het. Dus is goeiemôre nie die regte vorm as dit al goeie nag moet wees nie. Ek lees bo-oor dit, dit pla my nie.

En ja, daar is regtig familie waarmee en so lanklaas op WA gesels het. Bande is mos maar iets wat in stand gehou moet word, so bewys my sosiale netwerk analise navorsing telkemale. As ek nie ook gekontak word nie, hou ek op om kontak te maak.

As bande nie in beide rigtings ontwikkel nie, hang dit aan rafels en kan dit selfs verbreek word. In persoon het ek nie eens geweet dat ek so lanklaas kontak gemaak het nie … dit is maar sosiale media soos WA wat ‘n dag en datum stempel op gesprekke plaas.

Aangesien ek nie my WA stel dat dit boodskappe na rukkie uitvee nie, sien ek dus die laaste deel van die vorige gesprek. En gaan ek daar aan wanneer ek weer ‘n boodskap stuur.

So kry ek gister ‘n boodskap van ‘n persoon, ek het haar Sondag gebel en nie antwoord gekry nie. Ek het nie ‘n boodskap gelos nie want dit was onnodig. Sy het die “missed call” gesien en vra waarom ek haar gesoek het.

Onthou nou, ek het gebel, sy het geWA.

My ma kuier by my, ek maak haar romper kleiner en ek sukkel met die gare deur die naald. Dus is my nerwe maar dun, die gare deurtrekker van my Elna werk net wanneer sy lus is …

Tog stop ek, en antwoord dat ek wou weet of sy ook na ‘n spesifieke plek gaan.

Om later die dag te sien dat sy weer geantwoord het.

Maar, toe vererg ek my uit my kassie uit.

Sy begin die antwoord met:

“Goeiemōre, Christa. Hoe gaan dit” en vervolg met “Waar is my maniere?”

Ek besef dadelik waarmee sy besig is, want sy het my al ‘n vorige keer daarop gewys dat ek my gesprekke met haar so moet begin … dit is nou my WA gesprekke. Die maniere deel is omdat sy nie die eerste vraag so begin het nie …

Ek antwoord dat ek so skryf, ek gaan aan waar ek laas opgehou het. Verduidelik dat dit vir my een lang gesprek is en dat ek nie so begin of gesels nie. Neem aan dat dit haar sal paai. Maar toe nie …

En ek moet hoor dat sy met mense van alle “walks of life” werk, en dat almal maniere het – behalwe natuurlik hierdie “low life?” My gebrek aan maniere word gekoppel aan die manier waarop ek gesprekke begin … Op die “walks of life” gaan ek nie eens antwoord nie, ek kan raai waarom sy dink dat dit ‘n goeie steek sal wees …

Ek het nog een keer probeer, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking gehad. En daarvoor het ek werklik nie krag nie. Die boodskappe lê ongelees in my WA, ek gaan nie oopmaak en verder lees nie. Dit is werklik nie goed vir my gesondheid of vir die mense om my nie …

Ek besef net weereens waarom ek nie meer moeite doen om kontak te behou nie. As ek met mense gesels, wil ek graag sonder maskers en aansitterigheid en aanstellerigheid en aandoenerigheid gesels. As ek beoordeel en veroordeel word op grond van die aanhef van my gesprek en my kwalifikasies duidelik vir die persoon ‘n steen-des-aanstoots is, blus die die lus om weer kontak te maak.

Die probleem is dat ek nie mense blok om weer met my kontak te maak nie. En die probleem moet opgelos word.

My oplossing op die oomblik was om die naam van die persoon te verander na Pasop, het jy krag?

Want dit is wat ek nodig het voordat ek die boodskap oopmaak en lees. Natuurlik ook om die gesprek na my argiewe te stuur, en dit so te stel dat ek nie ‘n kennisgewing kry wanneer ‘n boodskap van die persoon inkom nie. Ek wil net nie meer weet nie. As daar aan haar kant fout is, sal ek dit wel by my uitkom, ons word deur verskeie bande met mekaar verbind. Maar ‘n direkte band is nie goed vir my nie.

Dit is wat ek op die oomblik nodig het om rus vir my siel te kry.

Maar, nou wil ek weet:

Begin jy elk WA gesprek so?

Ek doen nie, en ek gaan ook nie nou begin om my gesprekke met die persoon so te begin nie. Dit is aansitterig, plasties, en sy sy gee nie eens om of dit wel goed gaan nie. Sleg gaan bespreek ek nie met mense wat nie omgee hoe dit gaan nie, want dit is eintlik waaroor dit gaan. As sy omgegee het, sou sy my meer gekontak het … steke vir haarself gehou het en my verduideliking aanvaar het …

Ek gaan veel eerder kontak vermy.

Hoe het die ou mense gesê?

‘n Toe bek is ‘n heel bek …

Myne het na gister bottoe geslaan, so toe soos ‘n kleios se gat, soos my pa gesê het toe ons nog kinders was.

Ek wil nie meer geboelie word nie, dit is nie vir my lekker nie …

Ek skryf dit nie eens neer om ‘n drukkie te kry nie, nie eens om my saak te stel nie. Ek herinner myself eerder daaraan dat dit nie die moeite werd is om die band te behou nie.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Hoe gesels jy aanlyn?

    1. Net so vriendin, net so. Verduideliking help nie, inteendeel, dit is olie op die vuur van plastiek, aansitterigheid, aanstellerigheid en ek weet nie wat alles nie. Sy is toevallig nie in die onderwys nie, en het ook nie kind of kleinkind in die huis wat maniere geleer moet word nie. As ek so aanstellerig met iemand moet gesels, los ek dit sommer heeltemal uit. Dankie vir die ondersteuning, ek is dan nie die enigste mens wat net aangaan waar ek laas gesels het nie.

      Liked by 1 person

  1. My jinne 👀. Jou post het my onmiddellik na my foon laat gryp (ek kon nou nie eens onthou hoe ek my WA boodskappe begin nie)! Ek begin (meestal) met ‘n ‘hallo daar’ as ek lanklaas met die persoon gesels het. Maar ek sal nie enige iemand anders vreemd aankyk as hulle dit nie doen nie.
    Sosiale media het eintlik ‘n afgryslike ‘tool’ geraak om te boelie. As iemand so te kere gaan op WA, FB of enige ander sosiale platform, wonder ek altyd by myself of die persoon dieselfde goed sal sê wanneer hy/sy voor daardie persoon staan wat hulle nou so aanval. Nee wat Christa, my ouma sou nou vir jou gesê het: “Moet jou nie moeg maak met hierdie persoon nie”.

    Liked by 1 person

    1. Ek is sielsmoeg en sien nie kans om so ‘n band in stand te hou nie. As ek wil gesels, glip my vinger vanself vrby haar nommer, na iemand wat my aanvaar net soos ek is. Iemand wat wil gesels, wil leef en laat leef. Terloops, as ek die ges-rek begin, sal ek wel Hallo, of Hi skryf. Nou sien ek net nie meer kans nie, ek het regtig nie beledigings op ‘n nugter maag nodig nie. Sy kan haarself mos maar op die skouer klap oor die aansitterigheid en plastiese gedrag. Want, dit hou nie lank nie .l.

      Liked by 1 person

  2. Weet jy, as ek soms klaar die send knoppie gedruk het besef ek dat nie eers gegroet het nie….want ek antwoord dadelik n vraag wat gevra word of gaan ook net aan. So dan voel ek nou beter om te weet ek het ook nie eintlik maniere nie🤣

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.