Gepubliseer in Joernaal,Tegnologie

Huur my gerus om kluise oop te maak

Spot ek nou sommer lekker oor die huurgedeelte, want, ek het so pas ontdek dat ek ‘n kluis maklik kan oopmaak, sonder om dit te beskadig.

My kluis is kleinerig en het ‘n kombinasie slot. Dit kan digitaal oopgemaak word, maar ook met ‘n sleutel as die battery pap is. Natuurlik is die battery lankal pap en het ek dit nog nie vervang nie. Want … ek het mos ‘n sleutel!

So maand gelede besluit ek om my kluis se sleutels beter te bêre. Lees wegsteek, want dit is wat ek eintlik doen. Dit was jare lank in een van my baadjies te binnesakke, ‘n plek waar lyk my nie gesoek word vir sleutels nie.

Toe kry ek die baadjie nodig en steek (ek bedoel bêre) ek dit op ‘n ander plek. Ek weet ek het nog na die plek gestaan en kyk en besluit om ‘n algemene foto te neem, as ek vergeet waar, dat ek darem net op een plek kan soek. Maar, nee, daar is nie so ‘n foto tussen my foto’s nie …

So twee weke terug is daar iets wat uit my skoonmaker se sak steek en wat sy probeer indruk, maar nie regkry nie. Ek het opgelet, maar nie ag geslaan nie.

Tot ek nuwe juwele wil aansit en die sleutel nêrens kan kry nie. Die soektog dra wel daartoe by dat ek my kaste en laaie regpak – en hopenlik netjies gaan hou na hierdie soektog, maar geen sleutels nie.

Soos jy my seker al leer ken het, kan my brein mos die ergste scenarios uitdink, soos byvoorbeeld dat ek nie gaan moet kwaad wees as dit my juwele se beskermsak is wat uit daai handsakkie gesteek het nie. Want ek kon vra om te sien wat dit is, en ek het nie.

Interessant hoe ek haar toelaat om my hele huis om te keer, maar myself glad nie toelaat om in haar goed te krap nie. Ook nie eens toe ek ‘n inwonende werkster gehad het nie.

Manlief het al gaan soek, want dit was verdag. Ons het rivier toe gegaan met crackers vir kersfees en toe ons dit op die kerstafel wil sit, is daar niks, dit was weg en hy was reeds huis toe.

Toe gaan kyk hy in sy kamer en kry die crackers, almal oopgemaak, die papiere op die grond. Die inhoud weg. Nodeloos om te sê was ons almal baie ongelukkig, dit was te laat om dorp toe te gaan om nuwes te koop. Buitendien, klein dorpies is op kersdae toe.

Gisteraand Google ek. Hoe breek mens ‘n kluis oop as jy die sleutel verloor het. En daar is sowaar ‘n Wiki met raad oor wat om te doen. Toe dag ek nou so, vanmiddag as manlief van die werk af kom, gaan hy dit vir my oopmaak, en as die onskadelike metodes nie werk nie, gaan hy doodeenvoudig die ergste moet doen – naamlik om in die slot te boor om die slot oop te breek.

Gisternag kan ek nie slaap nie. Die kluis moet oop, ek moet weet of my goed steeds daarbinne is. Want, ek kan die sleutel steeds nêrens opspoor nie.

Een van die voorgestelde metodes is om ‘n mes met ‘n skerp punt in die slot te druk, en rond te beweeg tot die slot oop is. Dit werk toe nie. Die slot bly toe.

Maar, ek gee nie op nie en soek my piepklein skroewedraaiertjies, wat ook net vir my lag. Dit druk sommer dwarsdeur sonder sukkel.

Steeds gee ek nie op nie, maar weet nie wat om te gebruik nie. Terwyl ek later koffie maak, trek my langsteel teelepel se hef my aandag. (Is dit ‘n hef? Of eerder handvatsel?

Terug kamer toe druk ek die hef in die slot, wikkel dit so bietjie en voor my oë beweeg die handvatsel van die kluis … toe ek daaraan draai, is die slot oop.

Met alles nog mooi in die kluis!

Ek het verniet pyn op my maag van al die stres dat die sleutel in verkeerde hande beland het. Aangesien die sleutel steeds missien is, het ek dit geskuif na ‘n ander kluis. Een waarvan ek presies weet waar sy sleutel altyd is. Al is dit weggesteek, want ek moet gereeld daar in en dan sien ek dit.

Ek weet ek wou die sleutel daar bêre, maar ek het blykbaar nie. Ek verbeel my ek het dit in my kopspeldblikkie gesit omdat ek gereeld daarmee werk. Die blikkie is nêrens, het saam met die sleutel spoorloos verdwyn.

Maar, ek weet nou ook dat ek die slot kan oopmaak sonder dat enige iemand iets kan vermoed. Dit is toe nie so moeilik soos in flieks dat mens die slot moet oopskiet nie. ‘n Gewone teelepetjie se vashoukant maak dit tjoef-tjaf oop …

En daarom kan ek dit nie weer daar bêre nie.

Is dit die les wat ek uit my vergeetagtigheid (of is dit nou agtelosigheid) moes leer? Nie hoe om kluise oop te breek dat mense hulle goed kan kry nie, maar eerder dat my kluis nie veilig is nie.

Ek kan dit oopmaak, vir ‘n boef gaan dit mos makliker wees. Hulle het lank geoefen.

Ek hoop daar is nuwer modelle op die mark wat nie so maklik oopmaak nie. Sal ek my teelepel saamneem en toets voor ek ‘n ander ene koop …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Huur my gerus om kluise oop te maak

  1. Kan jy jou die gesig van ‘n verkoopsman indink as jy met ‘n teelepel opdaag wanneer jy ‘n nuwe kluis wil koop 😄. Ja, dis eintlik verbasend hoe maklik dit is! Maar gits, nou wonder jy seker nog steeds waar die ander sleutel is … jy’t dit dalk net baie goed weggesteek (ek bedoel, gebere).

    Liked by 1 person

    1. Jy is baie oulik, jy verstaan ek steek my goed so weg dat ek dit nie weer kry nie. My brein bewe al as ek net wil wonder waar om nog te kyk. Jy weet, ons huis is klein, daar is net so baie plekke waar ek kan soek. Gelukkig is dit nie die stoor op dieplaas nie …

      Like

        1. Ai vriendin, dit is nie lekker nie. Sy gaps niks, en werk nou lank vir my en my seun. Maar ai, as mens jou sleutels ver weg gesteek het en nie gekry het nie, dan worder mens. Ek voel skoon skaam nadat ek vanoggend se leesstuk gelees het – ek dink baie aan die ergste scenarions, het skoon maagpyn gehad – en borspyn – en daar is alles steeds veilig in my kluis – nou in ander een, ek vertrou daardie ene nou niks nie. Kan jy jou voorstel boef vra sleutel vir my kluis – en ek maak dit sommer met teelepel oop … Hahahahahahahaha

          Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.