Ek dink jy weet teen hierdie tyd al baie goed dat ek vir spinnekoppe bang is. Maar, ek moet eers vertel, ek is in die laaste tyd nie so bang nie.
Die spinnekoppe het al weer hulle pad na ons rivierhuis gevind, lankal vergeet dat dit onlangs bykans 2 meter diep in die water gestaan het. Ek dink hulle het net so bietjie aangepas, want ek dink hulle is nou groter.
Tog vind ek dat ek nie meer so baie bang is vir hulle nie. Of dalkies is dit net omdat ek nie die splinternuwe blindings met hulle bloed en derms en so aan wil bemors nie.
Gewoonlik sou ek die blindinge net oprol sonder om te kyk. Nou begin ek rol, en dan spartel twee of drie groot spinnekoppe aan die bokant van die blinding om nie saam te rol nie. Dan stop ek, so naby as wat ek aan hulle staan, ek draai stadig, dat hulle kans kry om weer bo te kom. Tot alles opgerol is.
Of, ek roep die wag, dan vee hy hulle liggies met die besem af. Maar dan moet hy doodmaak, ek kan nie vir een oomblik saam met ‘n groot spinnekop op een vloer staan nie.
Dalk is ek net banger vir die vervlakste vlermuise. ‘n Hele klompie het gevrek tydens die oorstroming, waarom weet ek nie. Maar, daar is weer vlermuise. Ek verpes die goed. Slaap saans onder ‘n muskietnet, as een op my land, of sy uitwerpsels (pie en poe) sal ek dit nie maak nie.
Maar, hier by ons huis in die stad is min spinnekoppe. Eitlik geen, maar kleinseun en sy ma het al spinnekoppe opgespoor. Ek nog nie.
So gaan koop ons vandag eiers en ek pak dit nie dadelik weg nie. Toe haal ek vanmiddag die eierrakkie uit die yskas om die eiers oor te pak. Mens doen dit mos so effens outomaties.
Hand uit, vat eier vas, lig uit en sit saggies in die eierbakkie vir die yskas in. Toe ek die derde eier vat, vat ek aan iets sags en al wat my brein vir my vertel, is dat dit ‘n spinnekop is.
Ek wil gil, ek wil gooi.
Toortsie gaan dit die beste verstaan. Ek vergeet skoon dfat ek die naweek gedink het dat ek nie meer vir spinnekoppe bang is nie.
Hoe de ongeluk kan ‘n spinnekop in die eierbakkie wees?
En al die pad van die winkel af onder my een eier wegkruip?
Gooi kan ek nie, want eiers het baie duur geraak. Teen R4.00 en meer per eier kan ek nie gooi nie. Maar, noudat ek daaraan dink, ek wil ook nie gooi nie. Wat is slegter om skoon te maak as ‘n eier wat geval het?
Die grillerige wit, die loperige geel. Die plakagtigheid daarvan is vir my baie erger as om my hond se naarwees skoon te maak. Of is dit? Nee gits, ek moet iets anders kies. Ek kan die naarwees skoonmaak as dit nie meer warm is nie. As ek my neus toedruk. Maar, as dit warm is, moet ek self keer om nie ook naar te wees nie.
Tog, is dit vir my erger om gemorste eier skoon te maak, daardie blink wit strepe wat dit trek maak my in elk geval ook naar. En … ek kan glad nie daaraan vat nie. Hoe iemand dit rou insluk, gaan my verstand te bowe. Dit sal nie by my inbly nie.
So, ek het nou weer afgedwaal, ek het vertel ek het iets sags gevoel.
Iets wat onder my vingers lewe.
En wat kan dit nou anders wees as ‘n spinnekop?
Toe nie.
Dit was ‘n enkele rooi veer.

Dit het nie so oop en bloot gesit nie, dit was aan die onderkant van die eier. Ek het goed geskrik.
Maar …
Hoe hemels is dit nie?
Dat die veertjie saaam met die eier juis by my moes uitkom.
Amper soos ‘n engelvlerkie.
Ek het dit so in die yskasbakkie gelos, dalk verwonder my man hom ook aan die enkele rooi veertjie, van ‘n rooie hoendertjie …
Hy sal dit darem sien, en nie wil gooi nie.
Dit is een ding waarvoor ek bykans altyd stop as ek gaan stap. ‘n Enkele veer op die gras, of grond. Ek moet net stop en neem.
En hier kom die rooi veertjie na my toe in my huis.
Om my eers baie groot te laat skrik.
En toe in verwondering te laat gryp na my kamera.
Eish, mens se verbeelding en vrese kan darem parte speel met mens
LikeLiked by 1 person
Net so.
LikeLike
Al ons pakkies eiers hier het ‘n veer binne. Ek dink dit om te wys hoe ‘vars’ hulle is 🙂
LikeLiked by 2 people
Ag oulik, dink jy dit is die eerste keer wat ek dit net raaksien? Die rooi veer het my laat skrik.
LikeLiked by 1 person
Dis eintlik baie mooi foto’s wat jy daar geneem het Christa (al het jy jou eers buite weste geskrik 🙂). ‘n Veer in ‘n eier houertjie – dis eintlik so oulik. Dalk is dit soos Anne se, net ‘n ‘bewys’ dat die eiers plaasvars is!
LikeLiked by 1 person
Ek dink dit kan net die ding wees, en dat ek dit nog net misgekyk het – tot ek geskrik het. Baie dankie!
LikeLiked by 1 person
Vere is my en Liewe Jesus se “ding”
LikeLiked by 1 person
Ek stem saam, daar is iets hemels aan vere.
LikeLiked by 1 person